track 2

(nota: Die songs op die live CD het nie titels nie, want hulle bestaan dikwels uit meer as een stel lirieke. Die lirieke hier is so 90% korrek, baie daarvan is on the spot opgemaak en ek kan dit eintlik glad nie onthou nie... Hierdie is soos hulle op ons lyricsheet staan.)

ons praat met: goedkoop jerepigo op ‘n trein

dis koud
die energie is saamgepers
ingrid jonker se woorde
in chris chameleon se mond
skeer donkerblou
deur die gras die vlaktes die koppies
(so vertroud is ek daarmee ek hoef skaars by die venster uit te kyk
maar ek kyk nogtans net vir die lekkerte)
skurwe kennebakke kathare rys
die spoor trek ‘n slangruggraat
diep gekonkel deur die bo-karoo
langs ‘n wit skuur met sinkplaat
en ‘n jaart vol turksvye
brand ‘n vuur ‘n meter hoog
mans draai om en wuif
dis asof ek die ontdekker is
van hierdie plek
wil ek geheim hou
net vir my
en my girl
kyk ons wil
spore doodvee met baarde
vingers in die aarde
ons koppe die son laat volg
koeltes bou met tente
padskraap met ons tande
kaalnael deur mielielandstoppels
vonke dooddruk met ons duime
kyk die hadeda lê gesmelt op die gras
die hond lek hom nou op
gooi ‘n oog in die lug op
vir nog dalk
die valke droom van banjos
die pm9’s hou hulle warm
streel hulle ore
met ‘n sein uit auckland park
langsamerhand sug die mense soene
een-een straat af
mangosap wat drup
uit jou lag se middelblad
‘n uitvouplakkaat van musiek
en 36DD’s en bikini
die stukke van die vastelande
dryf uitmekaar
vinnig
soos populierblare in die fonteinvoor
môre het ons nuwe bure
indiërs en argentyne pakistanis bangladeshis brasilianers chileane
son elders in die ruim
karavane van die vakansies
oopgeslaan soos neute
op die warm stoep

oormag (aka sonsverduistering)

hoe sliert die strale deur die klippies-lug, nat serpe van die sterre-slakke, miswolke kruip soos roomys oor die teerpad, waar die wildehonde aflek, traak-my-nie-agtig pis teen hoekpale. oog geknyp teen die dag, ou voue en droë kepe in die hoeke, skilfers in die hare, dik broedersbloed in die are, gekneusde ribbes en knarsende tande. soos die res val hy tussen yster en stof rond, rol warm note tussen vingers, brand gat op karsitplek, spoeg in pisbak, trek labels van bierbottels af, lek suiker van vingers, hengel vir palings so met die krans langs. maar die uitspansel voorspel niks nie, net die gewone uitbuitery, myn-muitery, grondafsmytery, vrou-afvryery, en leepoog-leeglêery. swaar diere sluip met kettings en byle in die nag rond, stel steltoue, maak sommetjies, smee alliansies met dun meisies in pelsjasse en kniekoppe. sodat, eendag, doodluiters, sy weg versper word deur ‘n rooimier, wat verwoed aanval vir twee minute, spoeg en slaan en pik en krap. en dan die aftog blaas en wegknikker op die wind van die ruimte, tot volgende keer, die verbete rol van die miskruierwiel, flou ge-olie, skeef gemoer.