teen maandag is ons dood

met verbysterende vaart snel die seisoene deur die senterpaar van skoonheid en skoon jagsheid by die kroeg waar almal so half vooroor leun om of iemand se cleavage te check, of die barman se aandag te probeer kry of bloot net om te kots tussen die kakhuis en die klein sirkels van jou vriende (geheg in die nag, aanvegbaar in die dag) wat die hekke vir jou oopmaak, die lyne vir jou trek, die bloed so skaam-skaam druk uit die hoeke van jou verstarde oë.

want deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood.

en dis soos ‘n ou flou flat sikloon dat ek weer hier staan, gemaak gemaklik geleun teen die trappe, nonchalant selfs, met my tiere onderwater, my hare onder ‘n sambreel, my hart fyngekou en weggebêre tussen my kiestande en ander vastelande. want ek’t niks hier te bewys nie, net drank om te drink, smalltalk om te eggo en te herhaal en weer en weer te sê. cool. what’s up. sure.

ja, ons soek na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood.

kyk, daar kom nou iemand. sal ons haar van bra-strap tot oulikgeid bespreek en bestreel, sal ons haar hare soos ‘n timotei ad sien wapper in die vroegdag, watervalle reg langs jou bed, kondoom-bedekte bankrowers met budgets vir duur shooters en cheap frills en deur die kak pick-up lines. ons kry tog waarvoor ons vra. of hoe?

maar deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen saterdag soek ons sondag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood.

iemand kom in en bars deur die donker vistenk waarin ons sit en iemand rol ‘n joint vol ou kak dagga en die kers in die middel voel vasgehalter tussen al die bottels en niks en wil-wil brandsteek, kwaaddoen, roosblom en ontplof maar sover as wat ek kan sien is daar niks, niks wat nog ‘n vrydag nie net nog ‘n vrydag gaan los nie.

ja, want deur die weke soek ons na woensdae, gewond maar gelukkig, getrek maar dapper. en teen vrydag soek ons saterdag en teen sondag soek ons sportkanale en warm maaltye, want teen maandag, teen maandag is ons dood (maar gelukkig).

ja ons soek na woensdae. getrek maar dapper. lusteloos. teen vrydag, krieket op die tv. teen sondag, gekookte maaltye. en candice hillebrand se boobs. weer eens. ag fok. want teen maandag is die stasies op, luister, dis nie oor trein nie, hoor. iemand kom in en bars deur die donker vistenk. getrek maar dapper, verlore maar nie weg nie.