Noudat die Polisiekarre semi-gefXkof het en voordat Battery 9 onlangs die eerste keer in die Durbanville Kunskafee opgetree het, het vier prefekte van onsaamsingbare musiek soos hittegeleide missiele heelpad van Observatory na die noordelike voorstede gereis, skryf LE ROUX SCHOEMAN.

Die band heet The Buckfever Underground en strategiese bemarking het toegesien dat hulle ’n spesiale noordelikevoorstede-uitreikingsgeleentheid vir hul derde CD, Saves , gereël het.

Die venue
Soms dra hulle die meubels uit dié venuetjie om mense in te pas, kordon die straat af deur middel van munisipale vrypas en kry ’n buitelugdranklisensie as lubrikant. Maar vanaand flonker kersies op 12 tafels. Eenkant sit Buckfever saam en eet; soos ’n gesin. Hul instrumente is lank reeds oorgehaal, hulle het drie ure voor die gig opgedaag.
Teen die muur pryk ’n eensame koerantberiggie oor die lot van dié suburbs se bekendste rockeksponente, Fokofpolisiekar, wat steeds bestaan, maar ietwat luier.
Is daar dus ’n noord-suid-voorstad-stryd aan’t broei? “Ons tuisveld is dalk Observatory (in die suidelike voorstede), want Gil (Gilad Hockman, baskitaar) besit die Armchair-teater. So, ons speel gereeld daar. Maar ons speel op Stellenbosch, ons speel hier...
Bloemfontein, Johannesburg, Pretoria... Ons is uiteraard nie ’n punkrock-band wat op en af spring en bier in die crowd in spoeg en befXk raak nie,” verduidelik Toast Coetzer, skrywer-voorleser.
“Ek dink party (van FPK se) fans het ons genuinely gehaat,” voeg hy egter by oor ’n geleentheid waar hulle venues moes deel. Tog, voel ’n mens, is hierdie wyk iets van ’n bierspoegsetel, met sy swetterjoel energieke skool-bands is dit min of meer vir FPK wat Seepunt vir die DA is. Maar tyd sal leer.


Die band
Trom, kitaar, baskitaar, hier en daar ’n rateltjie en veel meer woorde as akkoorde kenmerk Buckfever-musiek. By die mike lees Toast hand in die sak sy eksistensiële essays van los A4-blaaie af. Tot redelik onlangs had hy ’n eeufeesbaard, nou, met slegs ligte stoppel, lyk hy meer na Clark Kent as Superman, maar hy is steeds so diep soos daai sinkgat langs Tygervallei en oënskynlik die kreatiewe spil waarom die res koorsagtig draai.
“Ons hou almal van musiek wat nie eintlik mainstream is nie; jy vind die band, en kan nie verstaan hoekom hulle nie die grootste band ter wêreld is nie,” verduidelik Gil voordat hy tot dié gevolgtrekking kom: “Ek dink nie ons is vir mass-kultuur gemaak nie...ek dink ons is mass, miskien, vir die mass-subkultuur gemaak.”
Sela. Tussen Toast se gedigte en Buckfever-kenwysies is daar seker ’n ratio van so 100:1, maar sy musikale agterryers is stylvol en bekwaam. Naas Hockman is daar Stephen Timm op tromme en die behendige Righard Kapp op kitaar.
Nie baie mense kan wegkom met lirieke soos “Prys die Here vir Megan Mckenzie, jubel Sy naam vir hadekoolhout” nie, maar ds. Toast, hoofsjamaan oor honderd, tel onder hulle en verdien stellig nog ’n string dissipels.

(uit: Burger/ JIP online blog - Oktober 2007)