The Buckfever Underground
– Limbs Gone Batty (4/5)
Een van die vermaaklikste dele in Nick Hornby se musiekjoernalistiekbundel 31
Songs is waar hy verduidelik hoe hy besluit watter van die honderde CD’s
wat hy maandeliks as resensie-eksemplare ontvang, hoegenaamd beluister sal word.
Volgens Hornby is hy aangewese op ’n verfynde stelsel van geoefende vooroordele
wat hom toelaat om met ’n vlugtige blik na die CD-omslag of persvrystelling
te besluit of hy belangstel – enigiets van ’n simpel hoed tot ’n
Parental Advisory-plakker en ’n haarstyl of simpel titel kan hom finaal
afsit.
Hierdie resensent is uiteraard ook nie sonder sy tydnood en vooroordele oftewel
persoonlike voorkeure nie, maar ek meen ek sou, selfs al het ek nog nooit van
The Buckfever Underground gehoor nie en al was hul vorige album, Saves (2007),
nie my gunsteling- plaaslike album van die jaar nie, steeds hul nuwe konsertalbum
’n luisterkans gegee het. Wie sal nie dadelik wil luister na snitte met
titels soos “I Saw What Warrick Sony Saw”, “I’m On Facebook,
Now What?”, “Teen Maandag is ons dood” en “Die volk
is in die kak” nie. (Toegegee, ’n titel soos “The Anterior-posterior
Patterning Signal” sou my wel laat wonder of die musiek nie effe vermoeiend
is nie.)
En as jy so ver gelees het en reeds besluit het Limbs Gone Batty is niks vir
jou nie, is jy waarskynlik reg. Jou vooroordele is immers net so geldig soos
myne en die Buckfever is beslis nie almal se gedokterde koppie tee nie. As los
jazz-rock vol improvisasie begelei deur kopverruimende lirieke egter jou ding
is, gaan jy ver soek na enigiets soortgelyks. Toast Coetzer, die groep se sangprater-liriekskrywer,
of dalk deadpan rapper, se gebundelde lirieke is een van die beste plaaslike
digbundels wat nog nie verskyn het nie, soos die sewe nuwe snitte op dié
album bevestig. En die musikante – Righard Kapp op kitaar, Gil Hockman
op die bas en Stephen Timm agter die tromme – speel hul instrumente in
dieselfde gees as waarmee die ou ontdekkingsreisigers geseil het.
Limbs Gone Batty sal nie in die meeste musiekwinkels beskikbaar wees nie, maar
bestel dit gerus as jy nog nie jou avontuursin verloor het nie by www.thebuckfeverunderground.com
of gaan laai ten minste die epiese song “The South African” af by
www.rhythmmusicstore.com waar die hele album in MP3-formaat beskikbaar is.
Die Burger/ Beeld. Augustus 2009.