(paasnaweek)
die vlieë hang bleeksig en met lang vingers aan die swaelstertvoeë van ‘n inkswart agtermiddag en hulle blaf traak-my-nie-agtig vir die muskietswerms wat onder hulle maal en tromboon en lawaai grypdiewe gryp die skurke aan die kaak en lem die desibels van smart en selfmoord en koelbloedigheid wyd en syd in die weerkaats en weerga en bodemlose vlak poele van eergister se koerant oormôre se nuus om sewe vandag se paasnaweke wat agteruit eer betoon dan omdraai dan die ysterhonde van voor af bevlieg dan stil en sonder kameras die sonsondergang tot opstand roep.
aan die uithoeke van die koerante en die voorstede vol vindingrykheid
vlinders en kaffervinke staan daar bloot ‘n boom alleen en ongewapen teen
die staalgrys horison wat met elke oortrokke tjekboekhandtekening elke anti-flouride
gorrel elke skurwe duimtellende muntstuk grinnik elke stadige rugslag armhaal
in ‘n olimpiese swembad
ouer word kaler word en paniekbevange roep na die bergkwaggas aan die subtropiese
kant van ‘n bliktregter.
die musiek en die mense is so baie en so gemeen halstarrig en slaphakskeen ingewriemel tussen pooltafels portrette pruilende snoekerposisies dat die algemene geruis alles verdun tot net die meniskusbrekende high-hat se sprinkaanritme verbete veerpyltjies gooi teen die sagte pense van ek en my mense.
wit gras wuif pienk en rotsbruin in die vlakte onder die berg waar die wolke kennis dra neurie bedonderd en wild die wind dryf tot stapelgekheid roomkanne omkeer op rooi teelvloere speel-speel die soepel lywe van gimnaste kuiergaste en gassilinders laat cadacvlam soos vroeë koffie hoort in die herfs so hoort die spur en die spar reg langs die moederkerk so pleister die priester die telefoongehoorbuis toe met potas en ppc sement sodat die anti-semiete buite kan bly en hulle tente kan gaan opslaan in die slaafse tulp-beddings wat in poskaarte kom en in grafte vergiftig word.
voertuie vol aggresiewe hoenderhane en haarlose paashase broei maar lê nie eiers nie kraai maar word nie wakker nie welgeluksalig die wat kennis dra van die vingernaelmerke in die botter die salami-asems teen die ruite die spykers in die glovebox die olielek teen die voorruit die spieëls wat susters se hande neem en in die rondte draai met net lego-gewrigte wat kraakbenerig stut en help en polse wat net pols vir die kwinkslae van polshorlosies.
grendels viro oop daar val vatdoeke uit die kombuisvenster en dit knetter neer met ys en vonke tussen die katte en teelbulle wat spatsels los teen die lang-gesig sugtende susters wat teen die mure sit en pruimtwak spoeg op die sypaadjies en neonmatte ver ver onder waar die daglone nog lonend is waar die bankbestuurders mekaar verraai poker speel met oortrokke landbankrekeninge en elke maand briewe stuur vir die boere wat hulle verder dryf oor die dun skeringdraad van alkahol hoernaaiery en selfmoord.
(lentesneeu)
ek weet nie meer hoekom ons wonder nie, ons’t lankal vergeet van die eensame baardmanne. die lang trane wat hang in my ma se stem, daar’s duimgooiers om te oorrompel, blomstempels om deur die wind te verskiet. en in die koerante kap hulle oumense dood met klippe. omdat ek nie meer langer kan lieg nie, nie lief kan hê sonder sonbrand nie. verwarde emails wat my te beurt val soos noodoproepe van bloedbelope plase waar die rooiwit ambulanse vasval tussen dorings en koeëlvaste modderskerms. vir eers is daar nie meer gratis bier nie, die plesier is oud en gewetenloos, gerig tot ontsnapping en naweke vol dagga. vrouens met silwer stoeihelmets bliksem die ou tv uitmekaar en orals blaf vriendelike wit honde. daarom verval ek eerder teen woensdag, druk my kanse deur ‘n kaasrasper, kyk luglangs vir graeme hart se sneeu. so vreet die leeus kalm aan jou hart, breek die hamerkoproep die donderwolk en wink die toekoms, blinkerig.