hy trek sy broek op en trek die ketting. dis nou al dae lank stil en selfs die geritsel van die kakpapier is oorverdowend. ‘n ridder met ‘n paper-cut. dit bloei tipies groen in een of ander absurde stupid song.
voor die spieël krap hy sy ken waar sy baard soos astro-turf terugveg, maar hy is die mowing gang-at-work-voorman. wen altyd. hy leun vooroor en kyk na die padkaart wat soos die oranjerivier ontspruit uit sy traankliere. soos lesotho. sy swart oë traan vinniger as erosie. hy’t maande laas gerook. daar’s iets in die lug. besoedeling is nie grappies nie. vandag gaan niks gebeur nie.
by die agterdeur grom sy teef-hond en haar twaalf welpies vir hom. hulle lyk almal dieselfde, dis asof hy die kopiereg op klein hondjies besit. met ‘n outomatiese beweging skop hy die asblik net hard genoeg om oop te spring en net sag genoeg dat dit nie omval nie. uit sy hande val die blou oorblyfsels van ontbyt.
in die sonlig met kneukels wit om sy tas en knieë vol koffie knip-knip sy oë soos in ‘n tonnel wat wyer raak voor jy dit verwag. daar was gesinsmoord in die cul de sac laasnag, en dit lyk asof die tuinier besig is om iets sag soos ‘n teddiebeer in die swartsak te stop.
in die kar op sy radio gly die knop tussen stemme wat iets sê van teel-uitverkopings dan iets oor pêrels dan iets wat klink soos ‘n groot onmeetbare tenk vol petrol waarin die enigste klank die eggo van ‘n zippo lighter is wat oopflick, opflikker en dan verdwyn.
hy tik-tik sy kop teen die voor-ruit, wonder of daar email in die hemel is of liz hurley al pregnant was of sy suster al ‘n blowjob uitgedeel het en of hy die voordeur gesluit het of nie. (het hy daai voordeur gesluit? kannie onthou of hy daai voordeur gesluit het nie.)
liewe jesus speel kaart en vergeet van ons. dis kanesta-aand by die ouetehuis. steeds tiktiktiktik hy sy kop teen die voorruit sy radio ritsel in die gras.
die lig is groen en sy petrol-liggie gaan aan.
(waar’s liewe jesus? liewe jesus speel kaart.)