Ek & Die Braai

deur Toast Coetzer

(kopiereg voorbehou - lees dit, dont' fuck with it)

Deel 1


1.

Dit was somer en Die Braai het gekom. Soort van net verskyn een dag, en ek was baie bly, want ons’t mekaar vir lank glad nie raakgeloop nie. Toe ek hom laas gesien het, sou hy Johannesburg toe gaan vir besigheid, presies wat kon hy my nie vertel nie. Dit was ‘n jaar en ‘n half terug.

Ek en Die Braai kom al ‘n lang pad saam. Maar selfs nie eers ek kon altyd seker wees van waar hy homself bevind nie. Dis nie dat Die Braai wispelturig was of enigiets nie - wel hy was, maar nie aspris nie – hy’t bloot verkies om sy eie ding te doen. Soms was hy oorsee sonder dat enigiemand weet, ander kere het hy bloot nie sy telefoon geantwoord nie. Ek glo ook nie sy storie dat sy email ‘stukkend’ is nie.

Ek geniet sy geselskap baie, soms dink ek hy’s die enigste een wat my werklik verstaan, maar dis tog onmoontlik. Wat hy baie goed doen is praat en luister. Meeste mense sal jou vertel dat hulle beste vriende goeie luisteraars is, bedoelende dat hulle al hul probleme kan aflaai in hierdie goeie, groot oor waneer dit ook al nodig sou wees. Sattelietskottels, oopgevoude koolblare, die heupbeen van ‘n walvis. Iets in dier voege. Maar dis tog net die helfte van die perfekte vriend. ‘n Vriend sonder goeie stories is soos ‘n priester in die confessions boks - eenrigtingverkeer.

Vir al jou kleinlike probleme en simpel kwessies moet jou vriend ‘n stywe versameling staaltjies hê wat jou eie issues na niks sal laat lyk nie. En as dinge nou effens sensitief raak, moet die vriend ook so paar simpatieke items kan afstof sodat die pyn en lyding tussen julle gedeel kan word. Dan’s almal se juk ligter, al is dit net tot môremiddag wanneer die hangover soos ‘n niersteen ten aansigte van die waarheid oplos, ontdooi en die kamer verlaat, stilletjies en sonder verwyt.

Die Braai is so tipe vriend. Hy’t ontsaglik baie stories, ek weet nie hoe hy dit doen nie. Tog, nes ek dink hy weet alles, dan vra hy weer vir my iets en dan besef ek ons is eintlik maar op gelyke voet. Maar ek’t baie respek vir hom, daar’s iets in sy stem wat, selfs wanneer hy grappies vertel of die instruksies van ‘n boks aflees, elke woord tegelykertyd hartseer en hoopvol laat klink. Ek weet nie altyd of ek moet lag of huil nie, maar dis gewoonlik lag, want Die Braai kan ook baie goed lag, en hy begin altyd eerste.

Ek’s ook maar bly hy ken so baie stories, want ek is nie so goed met praat nie. Ek’t nou wel stories, maar ek’s versigtig om te veel sê, mens weet nooit waar die stories gaan draai nie. Iets moet altyd teruggehou word vir noodgevalle, soos as jy weer moet trou, weer verlief moet raak, iets aan die polisie moet verduidelik of vir wanneer jy droom, dis wanneer die geklassifiseerde lêers handig te pas kom. Op ‘n manier, in elk geval, as jou beste vriend soveel stories het, dan praat hy dikwels namens jou. En as hy jou goed genoeg ken, dan sal hy sonder moeite stories begin vertel wat weerspieël wat jy dink en voel. Dis waar die ware talent lê, mens moet daarmee gebore word. Die Braai is so gebore, mens kan maar sê met die braaivurk in die mond, maar ek sou dit nie voor hom sê nie, want alle grappies was soms op ‘n stokkie.

Ek het hom daai dag in Die Stad raakgeloop. Ek was op middag-ete en net in die straat af van die werk besig om te wag vir my pastei, wat die vrou agter die toonbank met ongevraagde minagting in die mikrogolf gedruk het. Sy’t die tyd op drie minute gestel, ek’t gesien, terwyl sy goed weet ek vra gewoonlik net vir 30 sekondes. Ek het haar geignoreer, maar in my kop het ek haar vasgebind op ‘n kombuistafel, ‘n skurwe stuk ScotchBrite staalwol in haar mond geprop, ‘n blik Illovo goue stroop oor haar lyf laat drup, stadig, sodat dit in al die gate kon inkruip, strokies kaas aan haar kuite vasgeplak met sellotape, aspersies tussen haar tone gedruk, blikkies Bully Beef in haar bra-cups omgedop, haar klere met melk deurdrenk, sardientjies rofweg oor haar gestrooi en toe die huis verlaat, die deure gesluit en op ‘n lang plesierbootreis na die Karribiese eilande vertrek sodat sy in my afwesigheid deur Argentynse miere, huismuise, klaasneusmuise, muf en tyd afgetakel sou word.

Sien, niemand kan ‘n pastei eet nadat dit drie minute in ‘n mikrogolf was nie. Iets gebeur met elke goeie pastei na so twee minute in daai weergawe van hel, daai gemene stukkie wonderlike 80s tegnologie wat skynbaar vir altyd met ons sal wees, bestraling of te nie. Hulle’s nooit weer dieselfde nie, sulke pasteie, hulle verloor wat oor is van hul siele. ‘n Pastei het reeds bitter min siel om mee te begin. Skilferdeeg het omtrent nul siel, maar die vleis leef nog so half, dis ten minste verteenwoordigend van een of ander magtelose bees, hoender of vark wat die finale offer vir die mensdom gemaak het. Ek weet nie hoekom haat daai vrou my so nie. Die venyn. Dalk weet sy ek werk by die koerant, al probeer ek juis so hard om dit stil te hou. Of dalk kan sy my gedagtes lees.

Daar was nog ‘n minuut en ‘n half oor op die mikrogolfklok toe ek Die Braai merk deur die pasteiwinkelvenster waar hy by die robot wag vir die rooi mannetjie om groen te gloei. Ek kon hom net van so skuins agter sien, maar dit was onmiskenbaar hy. Niemand dra soveel hoede soos hy nie, niemand blink en skitter so van die juwele nie, niemand reis met ‘n groter geselskap nie, niemand se hare het soveel krulle en geweefde punte nie, niemand se nek bult soveel stembande nie, niemand se skouers is die beginpunte van sulke pragtige vlerke nie, niemand se bene is so rats en so soepel nie, niemand se voete het soveel chroom om die kante nie, niemand se naels krul so Florence Griffith-Joyner-agtig nie, niemand loop met so brullende dier aan ‘n leisel rond nie, niemand het meer vrouelippe om hul ore nie, niemand het hul eie orkes in ‘n gazebo (op die rûe van bergskilpaaie) met bypassende spuitfontein nie. Die Braai het so geleun teen die geel verkeersligpaal, en uit sy los hand kon ek die ping-pong balle, die herfsblare, die seeumeeukuikens, die kondensmelkblikkies, die sywurm Bybelvers-boekmerkies, die 20 sent arcade games, die kleilat-latte, die aartappelmoere en die goedkoop sekondes sien tuimel - hy was weer besig om mense dinge te help onthou.

Ek’t sommer net uitgeloop en terselfdertyd besluit om nooit weer pasteie by daardie winkel te koop nie, selfs al sou dit beteken dat ek van nou af twee blokke verder moes loop om ‘n goeie pastei in die hande te kry. Party dinge is die ekstra moeite werd. Ek’t hom aan sy skouer getik en hy’t my dadelik herken, al was my hare anders (OK, minder) en my baard so lank. Ons’t mekaar omhels en ek kon aan sy asem ruik dat hy weer begin rook het. Dis nou nadat hy, toe ek hom laas gesien het, al vir ses maande die goed afgesweer het. Die goed sal my nog doodmaak, het hy toe gesê. Ek’t gesê ja, op ‘n manier.

Hy’t natuurlik nog net dieselfde gelyk, ek weet nie hoe hy dit regkry nie. Min mense lyk van nature fiks en gesond, en ek weet vir ‘n feit dat Die Braai nog nooit voet aan treadmill of hand om dumbell gesit het nie. En sy leefstyl is allesbehalwe gesond. Hy eet gemorskos en te veel vleis, hy hou van sjokolade en lekkergoed. Hy drink verskriklik, of dalk drink hy net verskriklik wanneer hy saam met my is, want ek drink verskriklik, en hoe sal ek nou weet wat hy werklik doen wanneer ek nie saam met hom is nie? Sy vel is ook blakend gesond, hy’t die vel van iemand uit die Ooste, soos karamel, en sag, al spandeer hy so baie tyd buite in die son, op die krieketveld, die slagveld, langs die viswaters, in die trope, in die woestyn. Dis asof die son dwarsdeur sy lyf skyn sonder om die vel te beskadig en eerder ‘n dowwe rooi gloed laat waar sy skaduwee behoort te wees, skerp lig deur ‘n groot robyn, in die plek van sy hart.

Dit was ‘n pragtige dag, somer, soos ek gesê het, en ons besluit toe om sommer in die park te gaan sit. Die park was baie besig die tyd van die dag, maar as ons gelukkig was, sou ons ‘n oop bank êrens in die skaduwee kon kry. Dit was van ons altwee se roetes af, en ek sou seker laat terug by die werk wees, maar ek’t nie omgegee nie, en ek’t nog minder omgegee oor wat my baas sou sê. Ek’t vir Die Braai gesê ek wil hom nou nie uit dringende sake hou nie, maar hy’t gesê hy was in elk geval net oppad drankwinkel toe. Ek dink hy’t dit net gesê omdat ek saam met hom was, maar was te bly dat hy lus was vir gesels.

Om ons het die stad net so weer toegevou, soos ‘n warm mango, asof dit niks noemenswaardig was dat ek Die Braai weer raakgeloop het nie. Mense het geglimlag en gefrons, karre het geblink en geraas en in geboue het vensters die dag weerkaats, en het die geheime ratte van hysbakke mense na ander vloere gekarwei. Net voor ons die hoek buite die pasteiwinkel verlaat het, het ek skielik ‘n idee gekry. Die Braai was net die regte kameraad hiervoor. Ek’t hom vertel van my pastei, wat teen die tyd seker al ontplof het in ‘n miljoen sissende stukkies steak en kidney en skilferdeeg, en die vrou. Ons’t tot teen die venster van die winkel geloop en ek’t gewuif totdat die vrou ons raakgesien het. Ek kon my pastei soos ‘n kloppende kleefmyn op die toonbank sien lê, en sy’t daarna beduie en geglimlag asof sy die heks was en ek en Die Braai Hansie en Grietjie. Toe’t ons omgedraai, ons broeke afgetrek en ons kaal boude teen die warm winkelvenster gedruk, asof ons kinders was wat met soetgekoude lippe vassuig aan ‘n opgedraaide karruit. Die donker oë van ons poepholle kon sien hoe haar gesig vervaag van glimlag tot ‘n studie van afgryse en dit het ons baie genot verskaf, al was dit nou eenmaal kinderagtig.

Niemand behalwe die vrou het gesien nie, die winkel was leeg, en die straat agter ons te besig vir detail. Ons’t ons broeke weer opgetrek, weer vir haar gewaai en buite sig geloop. Tot siens pasteiwinkel. www.sienjoulater.com. Die Braai het gelag, en ek was skielik so gelukkig, dit het gevoel asof die nuwe jaar, halfpad deur Januarie, nou eers amptelik begin het.

In die park het dit geleef en gebeef, boemelaars en toeriste het sy aan sy gestry oor die Latynse name van bome, kinders het bont balle geskop en katte bekruip wat duiwe bekruip wat broodkorsies oppik, skoonmakers het hondedrolle bymekaargehark en in sakke gestop, en honde het teruggeveg deur agter hul rue vars, nuwe slagysters te plant, met nuwe, meer hardnekkige stanke en teksture. Selfs al sou die skoonmakers hulle sien, sou hulle nie omgee nie, want sonder hondedrolle sou hulle seker werkloos gewees het. Op van die banke het ou mense gesit, in die son meestal, asof hulle nog glo dat mens ou batterye kan herlaai deur dit op die sinkdak te los vir ‘n paar dae. Ou mense met lapperige voue waar hulle oë moet wees, groot bruin vlekke en moesies in hulle nekke, asof die vel vuil rivierwater is met donker visse wat net onder die oppervlak swem, en plastiekbottels en supermarksakke wat hier en daar uitsteek, die moesies en die groeisels. Hul velle sweet en blink, soos volstruisleer-handsakke wat vir te lank te vol geprop was met allerhande medisynes en lipstiffies en haarborsels en Parker penne en notaboekies en handwapens en kougom en kontantstrokies en serpe en beursies en los munte en sakdoeke en Super C’s, maar nou leeg uitgeskud lê, eenkant in ‘n steeg, asof dit wat daarin was gesteel is deur straatkinders.

Op ander banke was dronklappe uitgestrek in protes teen die algemene samelewing, in protes teen die persepsie dat mens moet werk om te bestaan, in protes teen die mite dat werk self in der waarheid bestaan en van enige waarde is, in protes teen die lewe wat hulle dalk eerder dood sou wou hê, met die reuk van drank, sweet, vuil klere en stof soos grys stuifmeel om hulle, met vlieë en muggies hulle eie suikerbekkies en bye, wat van die een na die ander fladder en zoem, resepte uitruil en sake doen. Daar was ook mense soos ek, uit op middagete, wat met kollegas gesels terwyl hulle gatsbys deel, hoenderstukkies uitmekaar haal met hulle knypers, koeldranke leegsuig met strootjies, verfynde erdvarke. Mense met kantoorklere, dasse tydelik effens losgemaak, dun bene wyd uit mekaar staangemaak, die vasgemaakte strikke en dungeloopte hakke van leerskoene wat stommerig en strammerig ritmes tik op die dik groen gras. Nou en dan kon mens ook eekhorings sien, wat vinnig dinge gryp en dan weer teen bome uithardloop, asof die grond te warm is vir hulle, die senuweeagtige springmielies in die warm pan van die stad. Dalk is hulle bang vir die katte, of die kinders wat die katte bekruip. Wie weet, maar iets jaag hulle.

Ek en Die Braai kon nie ‘n oop bank in die skaduwee kry nie, wat nie verrassend was nie, dit was besig vandag. So ons’t onsself maar tuisgemaak op ‘n stukkie trap, daar waar die park so meter of twee klim na die groot fontein se kant toe, in ‘n groot palmboom se graterige skadu, wat mens net vang as jy mooi sou sit en jou lyf yl hou. Die lug om ons was gevul met die reuk van hitte wat opdamp uit die strate en bome en blomme, en die oorskietkos van mense in asblikke wat orals oorloop en drup soos smeltende roomyscones, ‘Hou Ons Stad Skoon/ Keep Our City Pretty’ hulle verbete leuse. Waar’s Zibi as jy hom nodig het? Die skoonmakers kom net op Donderdae vir vullisblikke. Woensdae was vir hondedrolle opsy gesit. Mens kannie al jou werk in een dag afhandel nie, dan skiet jy jouself in die voet. Daar was ook baie klank, alles hier het skynbaar klanke gemaak, behalwe dalk die bome en die gras, maar selfs hulle moes nou en dan ritsel, soos die swaar lug sy gewig van die een voet na die ander versit, soos laagdrukstelsels om die Skiereiland beweeg, stukkende voetblase, pap selwande, deure in ‘n groot huis wat oop en toegaan.

“Ai, dis lekker in die Kaap,” het Die Braai gesê en teruggeleun op die trap, hande agter die kop inmekaargevou, voete wat lui plek soek, “Kyk net al hierdie mense, kyk net hierdie lekker son, voel hom, kyk al die eekhorings en die duiwe, die kinders en die dinge. Die plesier.”

“Ja,” het ek gesê, so half as antwoord. Dit was stil tussen ons vir ‘n rukkie, terwyl ons seker maar altwee na ‘n manier gesoek het om die gesprek te begin. Toe vra ek maar, “So, wat gaan aan? Wat maak jy deesdae?”

Die Braai se oë was half toe, en hy’t definitief die vraag verwag, dis tog net redelik, en het begin, nie gehaasd nie, maar baie definitief.

“Ek reis maar nog so rond soos altyd. Soms net van dorp tot dorp, maar was ook bietjie oorsee. Mens bly tog maar waar jy ry. Jy weet, die gewone. Amerika, Engeland en ook Mexiko, wat heel opwindend was, en Honduras, burger-oorlog, jy weet. Amerika is maar nes jy sou dink, Walmarts en hiphop sterre, perfekte grasperke en ghettos, hang af van waar jy uithang en wat jou gif is. Die suide is nogals rof, soos die Vrystaat, as dit in ‘n moeras was, en Bloemfontein vol bluesbars. En die noorde, die koue het my goed gedoen, daar om Lake Superior rond, Duluth, die Groot Mere, jy weet. Die ys brand jou kop skoon, jy dink skielik helderder. Mooi wêreld, woude, bewers, eende. Engeland’s maar net dieselfde as wat almal jou altyd vertel. Grys in die dag, maar uitspattig in die nag. Hang af wat jy doen. As jy geld het of op vakansie is, kan dit pret wees, maar as die moltrein jou net karwei van jou bed na jou werk, dan soek jy vir moeilikheid. Ek was nie lank daar nie, te neerdrukkend. Son gesoek. Op pad terug deur Wes-Afrika, bietjie besigheid, maar voor jy weet, burger-oorlog in die Ivoorkus. Was nou nie in die middel van ‘n panga geveg nie, maar genoeg lyke gesien om ‘n ordentlike kerf op my apoko-toerisme program te wees. Jy weet, apoko-toerisme, die soeke na die geskiedenis van die wêreld, soos dit gebeur, in volkleur. Apokalips. Ek wonder wat gaan aan met mense... “

So’t Die Braai begin, en ons sou seker die heelmiddag daar gesit het, maar die kantoor het my so halfdrie gebel op my selfoon, vol vloekwoorde, en laat weet daar’s ‘n brand êrens op die Vlakte, en waar die hel was ek? Ek moes uitgaan op die storie. Ek’t verduidelik en Die Braai het verstaan, gesê hy moet in elk geval ook seker koers kry. Ek’t hom my nommer gegee en hy’t gesê ja, ons moet iets doen een of ander tyd, dalk visvang of sommer net op ‘n roadtrip gaan, miskien Kunstefees toe in Oudtshoorn. Ek’t gesê ja, natuurlik, dit sal lekker wees, dit sal sommer baie lekker wees.

2.

My foon lui so twee weke later, Die Braai praat iets van hengel by ‘n dam naby Stellenbosch êrens. Ja, die naweek is perfek, niks aan nie. Bring ‘n coolbox met ekstra ys, ek sal die drinkgoed bring, sê hy. Nee maar reg, sê ek, en ons maak die reëlings vas.

Ek ry die stad uit laat Vrydag-middag. Die naweek drukverkeer is al amper verby, maar die N1 is maar nog stram hier en daar tot verby die Jip de Jager afrit, dan gaan dit beter so verby Durbanville en uit Kraaifontein se kant toe. Dis al amper 7-uur wanneer ek die Klapmuts-afdraai vat, maar dis nog goed lig, die sonsondergang in my truspieëltjie nog nie halfpad so swierig soos hy nou-nou gaan wees nie. Agter in my Beetle lê my visstokkie, een van daai kleintjies wat jy uitmekaar kan haal, soos ‘n skerpskutter se geweer, dit laat my voel soos die ou van Day of the Jackal. As die polisie my nou stop sal die uniform ingenome met ‘n Bic pen teen die driekwart-afgedraaide ruit tik en sê, Waarheen dink jy gaan jy, mannetjie? Verder is daar ook: skepnet, hounet, viskas, roomys-bak vol pap, emmertjie vol erdwurms, slaapsak, 2 kampstoele, gaslamp, graaf, koelboks vol ys, vyf bottels Tassenberg (750ml), ses quarts Black Label, twee quarts Milk Stout, een bottel tequila (goedkoop), een bottel vodka (goedkoop), twee 2liter bottels Sprite, 2liter water, flits, bondeltjie hout, pak Charcoal, pak Blitz, braairooster, ‘n opblaas-eend, ‘n kettie en ‘n Pick & Pay sak vol ronde klippies wat ek in Desember by Onrus opgetel het, spesiaal vir kettie-doeleindes. Dis die laaste uit my geheime wapenopslagplek (Weapons of Mossie Destruction – wel, ek’t gedink dis snaaks op daai tydstip) onder die voorstoep tussen die leë plastiek potplant emmers en ander goeters wat na ou honde ruik, selfs al het ek nie honde nie. Mens weet nooit wanneer ‘n plek nie goeie kettieklippies het nie. ‘Voorkoming kom altyd te laat’ is ‘n slagspreuk wat ek die laaste ruk gereeld verkeerd bewys.

Die Braai wag vir my by die petrolpomp in Klapmuts, soos afgespreek. Hy leun teen ‘n Coke advertensiebord en kyk anderpad, na waar ‘n paar skoolkinders luidrugtig die naweek inlui met ‘n bietjie sokker in die stof, tennisbal wat soos pinball-albasters tussen die skerp hoeke van hul bene rondwip. Ek’s vyftien minute laat, maar ek’s altyd vyftien minute laat, so hy gee glad nie om nie. Dis besig op Klapmuts, self maar net ‘n glorified kruispad-stasie, met rooi boere wat grys werkers aflaai en oplaai, ou smouse wat warm tamaties en gekneusde vrugte verkwansel, geknakte broodblik busse wat die stopstraat ignoreer en swaar en vinnig in die rigting van die Paarl begin aanleun. Alles gloei nou oranje, die onsigbare sonsondergang wat die lug bo ons vol kom lê, die einde van ‘n warm dag.

Die Braai kyk so na al die items op my agterste sitplek en glimlag.

“Ek dag ek’t gesê ek sal die drinkgoed bring.”
“Mens weet nooit nie,” sê ek, maar toe ek hom sy goed help inpak, begin ek self twyfel. Een appelboks vol Tassenberg (2,5l bottels), drie kaste Black Label (kannetjies), vier bottels vodka (goedkoop), een bottel tequila (duur), twee 5l bokse witwyn (goedkoop), vier halfjacks Mokador en een bottel Jagermeister. Die kar begin swaar leun op sy asse.
“Ja,” sê hy, “ek hoop nie jy hoef Maandag by die werk te wees nie.”

Ek maak weer die Beetle se tenk vol, net ingeval, en dan ry ons in die rigting van die berge. Die Braai vertel hy ken iemand wat ‘n wynplaas daar besit en die ou het gesê hy kan enige tyd kom visvang as hy lus is. Dis nie lank nie of ons kry die afdraai-bordjie, gelukkig is dit nog lig, want anders sou ons dalk skoon verbygery het. Glad nie wat mens verwag van ‘n wynplaas nie, geen imposante ingangshek of pseudo-outydse naam nie, sommer net iets generies soos ‘Boskloof’ geverf op ‘n stuk plank wat al te veel weer gesien het.

‘n Ent die pad op, dui Die Braai aan dat die nood druk, so ek stop sommer net so in die middel van die pad. Ons altwee klim uit en staan wydsbeen op die leiwal langs die wingerd. Opslag-lusern en allerhande grasse en onkruide staan welig om ons voete, die wilde vrot metaalreuk daarvan wat gekneusd ons neuse bereik. Bye wat die laat skof werk styg hier en daar op uit die pers lusernblomme. Op die groot grondpad wat nog sigbaar is laer af in die vallei, volg ons ‘n stofstreep wat haastig deur die draaie vleg en dan oor ‘n bult verdwyn. Ons is nou hoog genoeg om ‘n deel van Stellenbosch in die verte te sien. Dalk Idas Valley, dalk nie.

Alhoewel die son al onder is, is dit een van daai skitterende somersdae wat nog tot na agt gaan lig gooi, met die reuke van die nag en die dag wat so stadigaan begin meng, die koel en die warm, die plante wat uit verleptheid herstel, die warmgebakte grond se groot asemteue amper hoorbaar onder die wiele. Soos ons verder die stamperige grondpad opry, vensters oop en biere vasgeknyp tussen die bene, praat die laaste dagvoëltjies nog uit die wingerd terwyl die een watervoëlswerm na die ander krul en vou soos linte deur die lug oppad na hul slaapplekke toe.

Na ‘n ruk vurk die pad, Die Braai beduie ‘regs’ met sy bierhand, die een wat meer uitgetrap lyk. “Wil net vir die ou gaan sê ons is hier, dat hy nou nie laat vanaand op ons gaslamp begin skiet of iets nie.” ‘n Paar honderd meter verder verskyn die huis tussen die digte bome. ‘n Grasperk lê rofweg vestrooid oor die jaart, nes die blomme, wat groei waar die karre nie ry nie, wit varkoor lelies meestal, maar ook pers agapanthas en een of ander rooi blom. Die huis self is duidelik baie oud, maar geen herehuis soos die wynplase in die reisbrosjures nie, hierdie is nie ‘n skouplaas nie, meer funksioneel. Hulle leuse is dalk iets soos: ‘Ons Maak Wyn - En Dan Drink Ons Dit’. ‘n Lig gaan vanself aan op die hoek bokant die stoep wanneer Die Braai vinning optrippel teen die trappe en ‘n naam uitroep deur die half oop deur. Iemand antwoord skynbaar van binne en hy verdwyn buite sig, die sifdeur wat toeklap agter hom. Dit gee my kans om my bier leeg te maak en die werf te bekyk, of dit wat ek daarvan kan sien. ‘n Groot hond kom nou aangelap van agter af, ‘n ouerige Labrador, jy kan dit sien aan die wit kolle en groot maag. Hy begin so half glimlaggend vir my blaf, maar stop dan skielik en lig sy been teen ‘n koperkraan aan die kant van die stoep, mondhoeke wat so skeeftrek van die lekkerkry. Die Braai se deur staan nog oop, so hy draf daai kant om en loer vir my met ‘n skewe kop, klappende stert en nuuskierige oë. Ek leun oor agtertoe en vroetel rond vir ‘n stukkie droëwors tussen ons verskillende proviand, breek so duim af en sit dit op my hand. Hy’t dit al lankal geruik, maar lyk baie goed geleer, wag eers vir my om my kop so vorentoe te knik soos ‘n koggelmander en dan eers lek hy die stukkie wors van my hand af sonder om my hele voorarm af te byt. ‘n Vinnige sluk en ‘n geklap van kake later draf hy na die agterwiel toe en tik gou ‘n brief. Text messaging prototipe. Microhond Works 2000BC.

Dis nou redelik stil en ek kom skielik agter die radio suis net – natuurlik lankal buite Radio 2000 opvangsgebied, seker al vandat ek van die N1 afgedraai het, maar ons’t so lekker gesels ons’t skaars agtergekom. My radiovingers rol die knop so bietjie diekant toe en daaikant toe, maar niks meer as ‘n paar gebroke woorde en skel tunes kom uit nie, so ek skakel die stel af. Gelukkig het ek ‘n hele paar tapes en my ou tape recorder ingepak, plus ekstra batterye.

Daar’s nog geen teken van Die Braai nie, so ek klim uit om my bene te rek. Die hond is gou by en stamp teen my been vir aandag en draf dan vooruit, terug na waar hy vandaan gekom het. Ek volg hom verby die kant van die huis waar allerhande rankplante teen pale en patiopilare rank, die pers blomme wat soos vet kouse daar hang, die reuk van ou tannie deodorant, maar warmer, meer lewendig as muwwerig. Links onder die bome steek ‘n ou Mercedes by die waenhuis uit. Dis nog ‘n ou klipwaenhuis, met trappies aan die kant wat na ‘n solder lei. Rooivlerkspreeus krap teen die geute soos hulle slaapplek soek vir die nag, hul helder roepe wat soos klein klippies deur die lug suis en dan in diep waters plons. Agter die huis is daar nog ‘n groot stoep, maar op grondvlak, en die gras is weliger, asof dit minder gesny word. Of dalk ry daar net nie karre nie. Die grasperk val weg in ‘n groot swembad, wat donker lyk, mens kan nie seker wees of die water blou of groen is nie. Dit sprankel soos ‘n groot vierkantige oog, die water nie heeltemaal stil nie, asof iemand nou-nou nog geswem het, of dalk is daar ‘n stil Kreepy Krawly wat sy rubberlippe teen die bodem stompstamp. Ek spits my ore, maar hoor niks nie, en sien dan die nat voetspore van waar die trappies uitkom. Ek plaas my skoen langs die nat kaalvoetspoor. Dis kleiner as myne, maar nie veel nie. Dalk ‘n vrou s’n, of so wil ek natuurlik dink. Dieper die tuin in, tussen allerhande wildgroeiende struike en onbekende blomme, staan ‘n gehawende gazebo. Neffens dit lei ‘n toegegroeide voetpaadjie na iets wat soos ‘n tennisbaan lyk, maar dis moeilik om te sien van waar ek staan. Duidelik het Boskloof al meer glorieryke dae beleef. Die hond druk weer teen my en die keer het hy ‘n vuil tennisbal in sy mond wat ek probeer gryp sodat ek dit vir hom kan gooi, maar hy ruk sy kop weg en hardloop weer om die huis. Ek hoor ook dan die deur klap en loop haastig om na waar Die Braai al amper in die kar is.

“Hy sê dis cool. Hy’t blykbaar ‘n partytjie hier aan môre-aand, so hy’t gesê ons kan kom as ons wil, want dit gaan maar rumoererig wees. As ons gedink het ons gaan in stilte visvang.”
“Ons kyk maar hoe byt die vis, as dit byt-tyd is, sit ek daar, rumoer of te nie.”
“Ja, ons kyk. Hy sê een van sy werkers het in Desember ‘n 9kg spieëlkarp uitgetrek hier, so dalk is ons gelukkig. Ook groot babers.”
“Afrika se grootwild, nice.”

Ons praat geesdriftig terwyl ek ‘n wye u-draai maak voor die huis, oor die gras soos ek kan sien al die ander karre maak, en dan ry ons terug na waar die vurk in die pad is en vat die keer die ander tak. Ons is weldra teen so klein stroompie, waar die populierbome dinge heeltemaal vergroei. ‘n Paar groot ou wilgers se lang slap takke sleep ligweg op die grond en streel soms oor die dak van die kar. Die soet reuk van die bome vul die kar, voeg ekstra smaak by elke sluk bier. Dit laat my dink aan toe ek klein was, klein genoeg om aan takke te swaai soos Tarzan. Daai groot wilgerboom in die voortuin waaronder ons altyd tee of koffie gedrink het in die somer. Geelvinke het gedurig die takke kaalgestroop en met morsige entoesiasme nesgebou. Tot een jaar, toe die weerlig die boom raakgeslaan het. Stadigaan het dit begin vrek en later, toe net een tak nog gelewe het, het my pa besluit om dit maar af te saag, voor die wind dit omwaai en die hele spul op die huis val. Ons’t die boom aanvanklik gemis, maar nie vir lank nie, want ons krieketveld het skielik ‘n nuwe dimensie bygekry. Mens kon nou ook na die bykant speel.

Links van ons is nog ‘n stuk wingerd teen die steilte en dan die berg, nou al hoe donkerder teen die lug, die skadukant van die kloof. Die dam is aan die einde van die pad, ‘n groot, vol gronddam wat seker die grootste deel van die plaas se bron van besproeiing is. Die oewer is mooi skoon en begroei met kikoejoegras, met ‘n paar perfek geplaasde skadubome sigbaar.

“Parkeer sommer hier, dit lyk goed,” sê Die Braai en ek ry stadig oor ‘n paar klippe na die grasoewer, “ons kan môre skuif as dit lyk of daar beter plekke is.”

Ons klim uit en begin vinnig dinge gereedmaak voor die laaste van die lig verdwyn. Die gaslamp gaan eerste aan, en die bietjie nag om ons word vinnig verdoof deur die gesis van die lig, wat wit en wyd ‘n sirkel gooi, net ons twee en die kar en die bruin water en die groen gras. Voor ons verder drink of dink aan kosmaak, sit ons ons visstokke aanmekaar, hoeke en sinkers aan, en rol so bietjie pap vas om die hoek. Sodra ons ingegooi het, nie ver nie, sommer net so tien tree in, sit ons elkeen ‘n helderkleurige poliesman aan, draai ons katrolle se brieke los en maak die stokke staan oor mikstokke, wat Die Braai saamgebring het.

Die twee kampstoele word uitgevou en ons plak ons lywe genoegsaam daarin neer, die koelboks tussen ons. Ons sal later ‘n vuur bou, wanneer dit kouer begin raak, of wanneer ons honger is en lus voel om iets op die kole te gooi. Na ‘n rukkie staan ek op om die gaslamp, wat reeds ‘n swetterjoel motte en allerhande goggas begin lok het, af te skakel. Dit vat die nag so paar minute om uit sy dop te kruip, maar dit begin weldra dreun om ons soos die paddas en die insekte begin te roep en te skuur, met naguiltjies, dikkoppe en kiewiete wat kort-kort skel mondfluitjies en toeters blaas uit onsigbare oorde. Dis nou heeltemaal donker en bokant ons lê die lug vol sterre, van die skerp swart rand van die berge tot daar waar Stellenbosch en die stad se ligte dit begin uitdoof na die westekant toe. Daar’s nie ‘n maan nie, maar die landskap om ons is tog effens belig, dalk omdat die sterre so helder is, dalk omdat al die dag se son nog nie verdamp het nie, asof die aarde ligweg gloei van onder sy growwe kors. Tussen die bome deur is ‘n lig sigbaar uit die rigting van die eienaar se huis. Ons is seker amper ‘n kilometer weg van die huis, soos die kraai vlieg. Voor ons strek die dam in die donkerte uit, so 70 meter wyd teen sy wal, en niks meer as 4 meter diep nie. Dalk nog vlakker, afhangende van hoeveel slik hier inspoel.

Die Braai begin te praat terwyl hy afbuk om stekelrige grassaadjies uit sy kouse te trek. Wewenaars. Dit laat my ook afkyk en ek sien myne is ook vol daarvan. Het dit seker opgetel toe ons vroeër langs die pad uitgeklim het. So tussen slukke bier, knyp ons altwee nou met ons vingers om ons enkels rond om dit af te trek. Die verdomde goed is ook orals, sit selfs in die veters vas.

“Ons moet versigtig wees vir bosluise ook,” sê ek en loer na my visstok, “hier tussen die grasse en palmiete sit hulle seker dig teen mekaar.”
“Ja,” sê Die Braai, “ons sal maar Sondagaand met spirits moet afwas. Hard skrop tussen die tone. Of Little’s Dip vir sjampoe gebruik.”
“Lutjet.”
“Dettol.”
“Ja, die gevare van hengel. Kontaksport.”
“Nes jy dink jy’s voor, trek tifus jou neer.”
“AIDS.”
“Ons vir jou...”
“Verworwe Immuniteits-gebrek Suid-Afrika.”

So begin ons die tyd verwyl. Met die visstokke wat stil is en die koelboks vol, praat ons vir ure en ure. Nou en dan staan ons op om ‘n draai te gaan loop of om in te katrol, aas te inspekteer en weer in te gooi. Na ‘n ruk verander ons van aas. Die Braai steek die gaslamp aan en nou ryg ons met baie moeite – bier maak alles stomper en ronder - ‘n paar vet, wriemelende erdwurms deur die hoeke, vee die gronderige slym aan ons broeke af en gooi weer in, dieper die keer. Die sinkers is swaar genoeg dat die plons hoorbaar is bo die geblaas van die gaslamp.

Ek kry die bondeltjie hout en vuurmaakgoed uit die kar uit en bou ‘n klein vuurtjie so vyf meter weg van waar ons sit. Gou-gou brand dit mooi hoog, die natterige hout wat baie vonke maak en sis soos die sap uit die stompe uitbraai. Ek volg die vonke soos hulle in die lug opvlie, so meter of twee, dan wen die nag hulle. Moeg vir bier, kry ek ‘n bottel Tas vir ons elkeen. Ons’t nie ‘n tent gebring nie – die weervoorspelling het goed gelyk – so as dit slaaptyd word, moet ons op binne-aarse verhitting kan staatmaak.

So sluk of wat later roep Die Braai ewe skielik dat ek ‘n byt het, so ek los die hoendervlerkies net so langs die vuur en spring die paar treë na my stok toe. Ja wragtag, dit roer. Die poliesman wip so paar keer hewig, kruip dan laer en laer. Ek maak die briek versigtig vas en katrol die slap lyn in, dan is daar skielik weer ‘n stewige pluk en ek kap dat die vale hel so staan. Die vis voel vas, nou weliswaar nie ‘n baie groot vis nie, maar ek’t so lanklaas iets aan ‘n lyn gehad dat dit sommer baie goed voel. Ek katrol hard maar egalig in en die vis begin eers terugveg hier naby die kant, ons kan hom hoor woel in die vlak water. Die Braai staan intussen nader met die skepnet en die flits.

“Dis ‘n baber. So kleintjie,” sê hy toe ek hom weer wal toe draai. Dan’s hy naby genoeg en Die Braai skep hom behendig uit. Die vis is so 50cm lank, nie meer as so 3,5 kg nie.
“Nee wat, laat hom maar gaan,” sê ek vir Die Braai en hy wikkel die hoek los.
“In die verhemelte ingekap, jy moet versigtig, jy gaan nog ‘n vis onthoof,” sê hy en laat die baber met ‘n ligte spat terug in die dam val.
“Eish, hulle almal tel. 1 – 0. ‘n Vis is ‘n vis.”
“Ja,” sê Die Braai terwyl hy sy hande droogskud en sy bottel weer om die nek vat, “wag maar, die naweek is nog lank.”

Ek sit weer aas aan. Ons weet ten minste nou dat die babers die erdwurms gaan vat. Die Braai het so paar dooie vinke ook saamgebring, wat hy êrens geskiet het vroeër die middag, so dalk gaan ons later vir die groot menere en sit so bietjie vinkvleis aan die hoek. Toe my lyn weer rustig in die water is, keer ek terug na die vuur, wat nou al laag genoeg brand vir ‘n bietjie braai-aksie. Ek pak die hoendervlerkies netjies uit op die klein toeklamp rooster, gooi so bietjie braaisout oor en maak dit staan oor die vuur. Die kole is egter nog te warm, ek kan die vleis hoor brand, so ek soek nog ‘n paar klippe en stel die rooster dan hoër op. Ek bly daar by die vuur, op my hurke.

“Gee bietjie my wyn aan, asseblief,” vra ek Die Braai, wat stil-stil al byna deur sy bottel is. Hy voel rond by my stoel, kry die bottel en gooi dit versigtig na my toe. Ek vang gelukkig raak, maar selfs al het dit geval sou dit nie gebreek het nie, die kikoejoe is ‘n sagte tapyt onder ons voete. Met ‘n mondvol wyn verstel ek die rooster effens, rol die wyn rond tussen tande, oor tong, teen verhemelte en laat dit warmerig in my keel afloop. Die nag is nog nie regtig koud nie, maar die wyn vou weldra soos ‘n elektriese kombers om my. In my skoene rol my tone soos ryp dadels. Darem maar lekker. Wanneer die hoender vir die eerste keer gedraai word, sout ek die kant ook en inspekteer dan met die flits hoe dit vorder. Net reg, so lekker stadige braai, dis nou hoog genoeg. Dis die geheim vir hoender, vat hom rustig.

Na so vyftien minute of wat, sit ons in stilte en vlerkies eet. Al die bier en wyn het ons goed honger, so ons eet tot teen die laaste been. Skielik word Die Braai se stok skoon van sy mikstok afgepluk en begin al so lê-lê aansit water toe. Die briek skree soos hy lyn gee en so tussen hoenderbeentjies wat die donker inwaai en ‘n effe dronk struikel, kap Die Braai dat die spatsels water teen my voorkop sit.

“Vat hom rustig, bra,” sê ek, maar ek kan sien dis ‘n groot vis, hy gee nog skiet en sy arms en skouers leun die stok in sy lies in soos hy beur teen die onbekende massa.
“Hiert!” bokspring Die Braai nou van plesier, “Kyk! Hier kom hulle nou! Kry solank daai skepnet gereed...”

Ek’s reeds op my pos en voel-voel by die braaikole rond vir die flits. Steeds gee Die Braai skiet en die vis hardloop na regs en is oppad om oor my lyn te kruis, so ek gryp gou my stok en katrol in, ek’s gelukkig nie te diep nie, seker ‘n waterskilpad of iets wat my aas ingedra het. Die Braai katrol nou in, maar glad nie egalig nie, die vis wen nog. Die ding is, ons’t baie klein stokkies en ons lyn se breekkrag is maar so 3,5kg, so dis versigtig werk en mooipraat, anders is dit lyn af en basta vis. Maar hy werk hom netjies, voel hom so aan die neus en laat hom maar diekant toe en daaikant toe, dis net as hy dieper wil in dat Die Braai spiere bult en hom terugdraai kant toe.

“Dalk’s dit nou byt-tyd...” bespiegel ek aan niemand spesifieks nie, want Die Braai konsentreer nou hard.
“Wyn!” roep hy nou, “Bring die wyn na my lippe! Ek’s dors man!”
Ek kry sy bottel en skink ‘n blikbeker vol. Ek hou dit uit na hom en hy maak dit leeg in een sluk, klap sy lippe van die lekkerte.
“Dis hy! Maak die bottel leeg! Nog! Aksie!”

Ek kyk na wat oor is in die bottel en maak weer vol. Hy slaat dit ook weg, ek maak weer vol. Ek wil ook nie agterbly nie, so nog ‘n paar bottels kom te voorskyn en ek kyk of ek die helfte van ‘n bottel in een teug kan wegslaan. Ek haal dit amper, maar verstik so bietjie en proes rooiwyn oor die water, waaroor ek nou en dan lig om te sien of die vis al binne trefafstand is.

“Nee wat, hy’s nog diep. Geduld,” kom dit van bo, waar ek nou sien hoe hy die stok met een hand vashou en die wynbottel met die ander. “Die goed,” beduie hy toe hy sien ek kyk, “laat mens onderwater sien. Ek kan byvoorbeeld nou vir jou sê dis ‘n baber, so 15kg, ten minste. Ek voel al hoe kielie sy snor teen my sinker. Hy’s ‘n ou vuilbaard, hy lol met kleuters, parkeer onder afdakke waar hy nie mag nie, suig petrol uit karre, skroef bottels oop met tanne.” Ek kyk weer en sien dis eintlik ‘n tequila-bottel wat hy daar vashou.

“Hei!” roep ek verontwaardig uit, “Jy’t my nie gesê jy’t op die akkedispis begin nie!” Ek laat val sommer die skepnet net daar en strompel teen die vlak grashelling uit, kry ‘n beker en maak hom so half vol. Klap dit weg asof dit flat Fanta is, dit val soos ‘n brandende parraffienstoof in my maag en die slymvlies om my brein los op, maar klonterig, soos Nesquik, moet eers hard roer. Dit laat my ruggraat tintel tot teen my kringspier en terug. Maak weer die beker vol, kap hom weer leeg. My asem blaas uit in sulke helder vlammende hoepels, waardeur groot lomp tonge probeer spring. Hulle trek nogal hulle onderrokke op, maar hulle struikel en val. Tot sulke klein mangels hulle aanpor met hooivurke, dan bollemakiesie hulle sierlik, fluit selfs ‘n deuntjie. Maak beker vol, maak leeg. Tussen die verskillende raampies van Die Braai wat in stadige aksie inkatrol, die lyn wat sing, my hand wat wegwieg van my gesig af en die nag wat nou vol vuurwerke is, kan ek duidelik sien hoe sit die skroewe en stukkies sellotape. So dis hoe hulle die hele gedoente aan die gang hou. Maak vol, slaan weg.

“Jy’s reg, ek kan sien waarvan jy praat. Hy dra ‘n langmouhemp, dis duidelik, met opgerolde moue. En hy’t ‘n liederlike neusring. En bo-burp!-borshare.” Die flits dans in spatterige patrone oor die water, asof vasgehou deur ‘n wangebalanseerde sweefstokarties, maar kom tog te ruste op waar iets nou woel in die water, so 15 meter in. Sulke dik walle water rol ons kant toe, maar nog geen sig van die vis nie.

“Daar’s hy nou, die waterfiskaal van Boskloof! Das Boot!” Die Braai gee die tequila weer aan in my rigting, wat beteken dat ek dit nou net vir hom moes aangegee het, en span weer sy arms met mening, die stokkie krul soos ‘n biesie en die lyn sing seningstyf, rek seker met ‘n meter elke minuut, die katrol die hart agter die hele besigheid, goed geoliede ratte wat maal oormekaar. Draai, knars, draai, knars. Die vis is nou al seker ‘n kwartier aan die lyn en nog is dit het einde niet. Nes hy so vyf meter van die kant af is en hy die vlak water begin voel, dan vat hy weer die lyn, en Die Braai moet maar skietgee, want anders is dit glibberbek verby.

“Jy weet,” begin die Braai nou skielik rustig aan ‘n storie, asof hy beplan om heelnag met die vis te baklei, “dit laat my dink aan eenkeer lank gelede. Ek en die vrou was daar in die Transvaal êrens...” Hy beduie weer vir die tequila, vat ‘n groot sluk, skommel dit rond in sy mond asof hy daarmee gaan gorrel, sluk sonder om sy gesig te trek en gaan voort, “Rust de Winter Dam, jy weet, daar noord-noordoos van Pretoria, neffens die Springbokvlakte. Daar was ‘n ou langs ons - ons was daar oor langnaweek - wat ook saam met sy meisie daar was. Baie stokke gehad, seker so sewe tussen die twee van hulle, maar woeste toerusting, allerhande ase en doepas en dinge. En hulle vang vis links en regs dat die damvlak sommer sigbaar val. Ek en die vrou vang ook, maar sulke klein kurpertjies. Nie hulle nie, dis net 10kg karpe waar jy kyk. Vroeg die Sondagoggend, dit was pas byt-tyd, die son so aan die uitkom, toe kap hy vas daar aan iets wat lyk soos ‘n vyfton trok in reverse. En sy meisie draf rond en gee advies, op en af, met die gaff in die hand, asof sy raad skree langs ‘n netbalbaan, asof haar dogter die Aanvallende Verdediger is. Ons staan ook nuuskierig en kyk, so ent weg, die aksie was ongelooflik. Die vis is nog diep, maar hy’t ‘n groot stok en dik lyn, so hy laat hom maar swem en hardloop, koggel hom so stuk-stuk in, hy weet wat hy doen. En die meisie dra bier aan, OB’s, dan koffie, man, die vis is al ‘n halfuur aan die lyn. So sy steek die skottelbraai aan en begin spek en eiers gaarmaak, plus piesang en tamatie-skywe. En sy voer hom so paar happe ontbyt, en hy katrol so bietjie in.”

Hy trek weer so bietjie, weer hoor ons die vis so paar meter in, maar dan spat dit hewig en Die Braai laat weer hardloop.

“Later is hy moeg gestaan en gaan sit weer op sy stoel. Die meisie kom sit so hier op sy skoot en hulle begin tog te lekker vry. Haar tong so oor sy growwe baard, sy pet wat so agteroorleun en later afval sodat sy deurmekaar kampeerhare wys. Net nou en dan wieg hy haar so van sy bobeen af asof sy ‘n groot, vriendelike hond is, katrol woes, beheer dinge, vry voort. Sy’t haar hande onder sy hemp en wie weet waar, hy katrol so agter haar rug. Ongelooflik, dis nie hoe lank nie... Wag! Hier’s hy nou!” Die Braai steier en ek sien die witte van sy oë soos hy holisties een word met sy stok en die res van die natuur in ‘n een kilometer radius – dinge is duidelik nou ernstig - ek val-val na die water toe, vat die skepnet raak, skitterende hantering op ‘n kritieke oomblik. Die water voor my raas nou soos Augrabies na ‘n groot reën in Lesotho, dis ‘n druisende maalkolk, dit spuit wit waters en skuim, golwe breek om my enkels, die biesies lê plat van die storm, klein paddatjies tol onbeheersd rond in die chaos, reddingsbootjies uit, fosfor blink tussen die tone van die meerminne, dan kloof die water oop, suile water wat opdeins en terugtuimel, meters die lug in, Moses en sy staf, die Rietsee gekloof, Egiptenare en strydwaens, verswelg, watergraf - en in die middel, ‘n lig, ‘n helder kristalengel, wat so met haar vlerke in ons rigting klap, die silwer mottestof wat ligweg ons neusgate bedwelm... dan skep ek hom en die vale hel bars los, die puntige stert klap heeltemaal uit die skepnet, groter as die stukkende retread van ‘n myntrok, net die kop lê in die regte rigting, afwaarts, soos ‘n sementmenger met horings en voelers, ek beur land-in, om grond tussen my en hom en die water te kry, ek hoor Die Braai brul, een of ander opdrag, maar in die kort oomblik van die verbygaande lig van die flits sien ek net die klein glinster van sy oop kake soos hy die laaste tequila uit die bottel in sy keel afskud.


3.

In die wit lig van die gaslamp, wat stadig maar seker ‘n kalmerende, hipnotiese effek op ons uitoefen, kyk ons na die vis. Dit strek voor ons uit soos ‘n donker kontinent. Dit verteenwoordig soveel lewe dat dit heel sigbaar vir die blote oog sulke magnetiese golwe uitpols. Ek kan dit deur die hare om my kuite voel waai, ‘n warm, verwoede gloed, diep uit die vis uit. Stadig trek dit ons nader en laat die gras simmetriese patrone om hom vorm, ystervylsel-kringe, satans-tekens en kriptiese nommers. Onheil is skielik tasbaar in die lug. Iets ruik na swael. Dis ‘n baber, hy dra ‘n langmouhemp met opgerolde moue en ‘n neusring, soos ons vermoed het. Borshare, snor. Ek’s uitasem, Die Braai maak sy hande oop en toe om die seer spiere te laat herstel, vryf so hier om sy gewrigte rond. Draai sy nek asof hy opwarm voor ‘n rugbywedstryd. Vou sy vingers inmekaar en wring sy hande uit sodat die kraakbeen hard kraak. Ons kan ons oë nie van sy lyf afhou nie.

“Hierdie vis, lyk...” begin hy, maar ek weet reeds wat hy wil sê.
“Presies soos Robert Mugabe,” voltooi ek.
“Identies.”
“Op ‘n haar na.”
“Ons moet die wasmuseum bel.”
“So gou as moontlik. Voor daai gloed vervaag.”
“Voor sy cologne verslaan.”

Ek krap in die kar se cubby hole rond tot ek my kamera kry.

“Kom, posseer. Ware Huisgenoot-lewensdrama. ‘Man Vang Mugabe Met Erdwurm – Foto’s Binne’.”
Die Braai gaan sit so agter Robert, wat ons met haatgevulde oë lê en beloer asof ons onbesette tabakplase is.
Die kameraflits verblind Die Braai en hy tas rond na sy stoel.
“Jammer,” sê ek, “hier’s iets om te drink.” Synde die tequila ons skynbaar net verder blind gaan maak, begin ons nou met iets soeters, so na-aksie-satisfaksie Mokador. Tyd vir refleksie, vir nabetragting, wedstryd-ontleding. Met die skaal in my een hand, kom ek versigtig nader aan Robert se gerasperde bo-lip en haak dit deur. Ek beur met alle mag om die baber op te tel, en kry dit darem hoog genoeg vir die naald om op omtrent 17kg rond te wipper.
“Magtig! Robert is ‘n meneer!”
“Vetgevreet. Hy eet seker allerhande watervoëlkuikens wat uit hulle neste val, klein vinkies en so aan.”
“Wat sal ons met hom maak?”
“Ek weet nie. Kom ons hou hom tot môre, dan gee ons dit vir die plaaswerkers. Sal hy in die hounet pas?”
“Ja, miskien, maar nie sy stert nie, die sal moet uitsteek.”
“Dis in die haak, hy sal nie doodgaan nie, baber is tawwe lywe.”

Die Braai krap in sy viskassie rond en bring ‘n gansbektangetjie te voorskyn, waarmee hy die hoek uit die vis se harde verhemelte loswikkel. Robert wriemel so paar keer, die swaar stert wat soos ‘n swart rivier kronkels klap, maar die gras onder sy voete laat hom skielik twyfel aan sy vermoëns. Ek bring die hounet te voorskyn en ons dompel Robert kop eerste daarin, die deurtjie van die hounet spring toe teen sy stert, maar dit lyk heel oraait. Hy sal nie sommer daaruit kom nie. Saam sleep ons hom af water toe en anker die kontrepsie stewig in die vlakwater. Noudat hy weer die water om sy moue voel, spartel hy hewig, maar gee weldra op soos hy besef sy lyf is nou gevange. Ons was die slym van ons hande in die vlak water, skud die druppels van vingerpunte af en trap met nat skoene terug teen die gras. Ek trek my seilskoene uit en pak dit teen die warm klippe waar die kole nog gloei. Die volgende tien minute sit ons altwee nuwe aas aan. Noudat ons weet daar’s groot babers, is dit nie nodig om met erdwurms te sukkel nie, dis nou tyd vir die grootwild. Grofgeskut is nou die aangevraagde wapens. Die Braai bring so sieklike plastieksakkie te voorskyn waarin ‘n paar stywe geelvinklyke lê en stink. Ons spalk nou elk een oop op ‘n klip langs die gaslamp en met die konsentrasie van breinchirurge maak ons die nodige snitte met ons oopvou-messe, so paar repe hier, so bietjie daar, derms vir ekstra geur. Asof ons besig is om die landsvlag te borduur, ryg ons die stukke vink aan ons hoeke vas, met ekstra garing nogals, asof ons weet wat ons doen. Dan gooi ons weer in, probeer raai waar Robert gebyt het en mik vir ‘n onsigbare teiken in die donker. Die swaar aas val soos VN-noodvoorrade met ‘n luide geplons in die verte. Poliesman aan, brieke los, sit ons moeg terug. Al die opwinding. Maak mens net dors. Ek lek die laaste druppels uit die nek van my Mokador bottel. Ek kyk op my horlosie, maar die liggie is stukkend en die gaslamp weer af, so nugter weet hoe laat dit is.

Ons keer terug na die bier, net om beheer oor die situasie te kry. Teen ‘n rustige pas drink ons daar, in die donker, terwyl die dam voor ons lê en kabbel, ‘n ligte windjie wat koel van die see se kant af aanwaai. Ons speel ‘n speletjie, ons kyk wie kan die meeste verskillende klanke uitmaak. Die Braai hoor: water wat kabbel in dam, visse wat spring, krieke, paddas, naguiltjie, veraf geblaf van hond, bloed wat klop deur sy bors, asem wat hyg oor sy lippe, gras wat ritsel onder sy voete, ‘n vliegtuig en die wind wat liggies suis deur die blare van die populierbome verder in die pad af. Ek hoor: water wat kabbel in dam, visse wat spring, krieke, paddas, naguiltjie, veraf geblaf van hond, bloed wat klop deur my bors, asem wat hyg oor my lippe, gras wat ritsel onder my voete en ‘n vliegtuig ver bo, maar ek hoor nie die populierbome nie.

“Ek dink jy verbeel jou,” laat ek Die Braai weet terwyl ons altwee steeds met ons koppe agteroor lê, ore gespits teen die nag se geluide.
“Nee, ek hoor hom, duidelik. Dit staan nie uit nie, dis soort van net daar op die agtergrond.”
“Nee, ek dink jy kan jouself voorstel dat jy dit hoor, maar jy hoor dit nie regtig nie.”
“Wel, hoekom stap ons nie nader nie, dan maak ons seker.”
“Nee, ek stry nie met jou oor die feit dat die wind op hierdie oomblik deur die populiere waai en ‘n geruis maak nie, ek dink net jy maak asof jy dit kan hoor.”
“So, wanneer is ‘n geluid ‘n geluid – wanneer jy weet hy bestaan of wanneer jy kan bewys jy hoor hom?”
“Dis die vraag, is dit nie.”
“Ja.”

Ons bly so sit met ons koppe agteroor en oë effens toe. Die alkahol spoel warm oor ons lyke, ‘n warm dag op Jeffrey’s, kinders wat by die Supertube afgly en lawaai. Soft serve roomys, sand tussen die tone, gesmelte kougom taai onder sloffies. Meisies in bikinis. Boere in baaikostuums kyk vir meisies in bikinis, terwyl die tannie sonbrandroom aansmeer in klewerige plekke. Die Supertube draai rustig na onder, die somer se spysverteringstelsel. Seemeeue pik die vet van die niere af, klein miere dra die gal na hul spense, kundig versteek tussen rommel en roomys-stokkies op die sypaadjies. Meisies in bikinis was die sout uit hul hare, onder die varswaterstorte. Boere in baaibroeke kyk vir meisies in bikinis, terwyl die tannies sonbraai en boek lees onder geel Santam Multiplex sonsambrele. Die son is net so daar bo, ‘n platgetrapte daffodil, rustig. Die Supertube is blou, die swembad is blou, die see is blou, die bikinis is blou. Die baaibroeke is rooi, die tannies is rooi, die miere en die niere is rooi.

“Daar’s dit weer!” sê Die Braai, nou met meer dringendheid.
“Wat?” vra ek, effens vertraag.
“’n Woeste gespat in die water – luister.”
Ek leun nou vorentoe, nes hy, asof ons uit sittende posisie gaan wegspring vir die 800meter finaal.
Dan hoor ons dit weer, ‘n geplas in die water, so ent in. Dit kan ‘n groot vis wees wat toertjies doen.
“Ek hoor hom.”
“Dis nou al die derde keer. Moet ‘n groot vis wees.”
“Dalk het Robert die hele kabinet saamgebring.”
“Wel, die Menseregtekommissie is op hul spoor. Ons sal hulle almal verhoor in Den Haag.”
“Op aanklagte van laatnag orgies in plaasdamme.”
“Vir hul aandeel in Hansie-gate.”
“Manto-gate.”
“Yengeni-gate.”
“Stompie-gate.”
“Boipatong.”
“Vyfde magte.”
“Derde Party bedrog.”
“Die dood van die Cradock Vier.”
“Die Virginia Slymdam Ramp.”
“Die SAL Helderberg.”
“Die Informasie Skandaal.”
“Sharpeville.”
“Terrorisme.”
“Apartheid.”
“Hirosjima.”
“Auschwitz.”
“Sarajevo.”
“Norvalspont.”
“Bambata.”
“Bloedrivier.”
“Dithakong.”
“Die volksplanting.”
“Die Here 17.”
“Die Here.”
“God.”

Die windjie gaan lê weer effens, nou kan ons beter hoor wat in die water aangaan. Dit klink asof ‘n baie groot vis nou en dan letterlik skoon uit die water spring en dan terugplons. Soos Dolly die ster-dolfyn van die PE Akwarium deur ‘n groen hoepel. Net so.

“Dalk vang hy laagswiepende vlermuise.”
“Of vuurvliegies. ‘n Aptyt vir muskiete. Motte.”
“Microlight-vliegtuigvlieëniers.”
“Se tone.”
“Ons moes lewendige vinke aangesit het en hulle sommer net met die lyn laat vlieg het.”
“Ja. Dan’t jy sommer klaar ‘n sinker wanneer hulle moeg raak en... hey, wag ‘n bietjie... hier’s nou ‘n klant hier aan my kant,” sê ek en sit my bier neer. Die katrol rits weer so bietjie lyn uit, die briek baie los. Ek kan sien hoe wip my poliesman.
“Versigtig nou, moenie te vroeg kap nie,” fluister Die Braai nou raad, asof ons in die kerk is, en sy raad ‘n vuil grap is.
“Ja man, ‘ek’s koelkomkommer, hulle noem my op my nommer.’” My oë bly op die poliesman, wat nou laag gaan lê. Ek katrol so stukkie in, kry die lyn weer bo styf. Skielik is daar ‘n sterk pluk, maar ek beteul my drange en laat die stok maar wip. Dan’s dit weer stil, die vis het nie gevat nie, en ek ontspan bietjie. Agter my skud Die Braai die laaste spoegsel skuim uit sy blikkie bier en die kenmerkende klank van skeurende metaal kondig binne sekondes die volgende kannetjie aan. Ek gaan sit weer en doen dieselfde, plaas my leë blikkie in die swart sak agter die stoel, wat nou al bonkige proporsies begin aanneem. Dis nou stil vanuit die dam, die springende vis het sy geluide onttrek uit die donker saal voor ons, asof hy nooit bestaan het nie.

“Dalk’s jou aas af,” sê Die Braai met aangeplakte erns, asof hy Larry King is en ek’s die ma van ‘n kind wat vir ‘n jaar vermis was.
“Nee, daai vink sit styf. As Free Willy hier honger is, gaan hy hom vat. Dalk gaan roep hy die groter seekoei, soos in daai Chomp advertensie.”
“Dis darem maar ‘n classic daai. Dis so wreed teenoor kinders.”
“Deel van die indoktrinasie dat jou ouers altyd reg is. Christelike Hoër Onderwys het dus ook die advertensiebedryf suksesvol penetreer.”
“Dis dalk al waarvoor Chomp staan: Christelike Hoër Onderwys Manipulasie Projek.”
“Onwaarskynlik, maar ja, as jy soldate oplei, moet jy ook psigiaters oplei.”
“Kent gij dat volk.”
“Vol klerken niet.”

Tyd gaan verby. Ons knieë lê gemaklik met knoppe na buite, ons heupe en boude in die seilholtes van die stoele, ons mae slap pampoene onder ons hemde, nou en dan krap ‘n vinger hier en daar, klap ‘n hand ‘n muskiet wat kom onmin saai. Die stokke is stil, die poliesmanne leun teen warm aanklagkantoormure met Russians en chips vir middagete. Die lyn lê met kil kredietkaartplastiek-emosies onsigbaar die water in, ons enigste kontak met die wêreld daar onder. Die katrolle se meganismes wag vir die pluk en ruk Morse-kode uit die water uit, dan weet hulle wat om te doen. Tot dan, droom hulle van 3-In-1 masjienolie, ou tandeborsels en pypskoonmakers op reënerige Sondagmiddae.

Tyd gaan verby. Ons praat oor krieket. Bier word gedrink. Ons raak moeg vir bier. Die Braai gaan haal wyn uit die kar. Ons drink wyn. Ons praat oor Ethiopië. Tyd gaan verby. Ons raak moeg vir wyn.

“Ek’s bevrees niks werk nie,” breek ek later die patroon, “Ons moet nou iets vang. Dalk moet ons terugslaan op die pap of erdwurms. Dalk is die karpe honger. Ons skeep die karpe af. Klein karpies gaan slaap honger vannaand.”
“Nee, dis ou baber taktiek daai. Hulle weet nou ons is hier. Bob sou hulle lankal laat weet het. Iets broei. Ons moet voet by vink hou. Hulle voer iets in die kieu.”
“Goed dan. Maar ek’s moeg vir wyn.”
“Gaan kry die vodka, dis juis nou amper koud,” jok Die Braai skaamteloos terwyl hy sy beker bietjie uitspoel met damwater. “En wat van ‘n bietjie musiek. Die pragtige naggeluide bied bloot beperkte gesinsvermaak.”

Ek krap in die kar rond vir die vodka en die tunes, terwyl ek probeer onthou of mens ooit bloed in enige MacGyver episode gesien het.

“Waarvoor is jy lus?” roep ek oor my skouer.
“Enigiets. Hartseer musiek. Oor die liefde en die lang pad. Iets wat die hartsnare sou roer.”
“Jy bedoel Kobus?”
“Nee, maar dit sal doen.”

Ek vat die kasset raak tussen die ander in die skoenboks. Terug by die stoele maak ek die kassetspeler staan op die koelboks, waar Die Braai reeds ons bekers reggesit het vir ‘n snapsie vodka.

“Maak vol 93, asseblief,” bestel hy en ek gooi vol, met die bottel hoog bo die beker, sodat dit met ‘n dun straal in die beker neersjor. Die musiek begin, maar ons hou die volume laag genoeg sodat ons darem mekaar kan hoor as ons gesels. Ons slaan elkeen ‘n vol beker vodka weg in een geweldige skeut. Die Afrika Skeurvallei kraak effe wyer oop. Dinge begin weer blink in die nag, onsigbare weermagte marsjeer net buite sig verby, hulle bajonette wriemelende sardyne. Uiteindelik voel ons weer adrenalien, na al die bier en ontspanningsdrankies wat ons oë so laat slap hang het. Nou’s daar tog weer elektrisiteit. Bokant ons rek die sterre sigbaar hul bene. Ons volg die baan van ‘n satteliet, wat vinnig deur die sterre vleg, soos ‘n hond wat deur ‘n woud hardloop, ‘n slalom skieër teen ‘n helling af, ‘n Patriot-missiel met GPS tussen die sandduine van Irak deur. Voete begin stadigaan ritme vind saam met die musiek, dinge is nou heel opgewek, skilpaaie wat ontwaak uit ‘n lang winterslaap, die sonskynvodka wat weer ons sintuie kom skerpskaaf. Elke klein dingetjie in sy klein plekkie. Die land wat om ons slaap, die stede en die dorpe vol mense in beddens, die paaie en die Eskom-drade wat die dinge aanmekaarhou, die donker kontinent vol smokkelaars, oorlog, leeus en kinders wat droom van ekstra-tyd wendoele in die Wêreldbeker-einstryd. Die aarde wat rol, slingervelpad, kamaste opgetrek teen die klippies en komete. Tyd wat verbygaan.

Erens in die middel van die stilte tussen twee niksseggende gesprekke, vra Die Braai iets wat hy altyd een of ander tyd vra wanneer ons mekaar sien:
“So, hoe gaan dit met die liefde?”
Waarop my antwoord omtrent altyd dieselfde is. Dis nie dat dinge nooit verander nie, dis net dat dit altyd op dieselfde wyse eindig. Dis soos kar-ongelukke, daar’s verskeie variasies en opsies, maar aan die einde van die dag is daar altyd iemand wat seerkry en altyd ‘n kar wat of afgeskryf word of ernstige paneelklopwerk nodig het. En elke keer as jy in ‘n kar klim, dan aanvaar jy daardie risiko. As jy alleen ry, is dit OK, maar as mense saamry, dan raak dit lelik. Nog erger as julle nie veiligheidsgordels dra nie, bloot onverskillig as julle met jul koppe by die sunroof uit teen bergpasse afjaag.
“Selfde ou storie, tot eentonigheid herhaal. Ek ontmoet meisie. Soms by die werk, soms in die kroeg, soms in die straat, soms in Durban. Ek hou van haar, sy hou van my, ons geniet goeie tye saam. Dan ewe skielik, asof van nêrens, verdwyn die gevoel. Die laaste een was alte fraai en so goed vir my. Jy weet, en ek’t probeer goed wees vir haar. Sy’t my selfs oortuig dat my werk die moeite werd is. Dat dit iets beteken. Toe ek weer sien, was dit alles weg. Asof die son net eendag opgekom het sonder enige hitte. Jy weet, dit skyn en maak lig, maar dit maak nie meer warm nie. Ek’t probeer verduidelik en gedog dis net ‘n drif waarin ons vassit. Dat ons dalk daar sou kon uit. Sy’t tasse gepak en potplante van die stoep afgeskop. Temperamenteel. Kunstenaar en Persiese kat tipe. In elk geval. Dalk is dit omdat ek nie regtig weet hoe ware liefde behoort te voel nie.”
“Maar glo jy daarin?”
“Natuurlik. Dis al wat my regtig aan die gang hou. Die werk is mos maar net die brood. Die res is absoluut lewe en dood. Ek voel soms dat ek aan’t verlep is, soos ‘n varkoor wat te lank uit die water was. Dat ek nou-nou te oud gaan wees om enigsins ‘n kans te staan om ‘n mooi meisie te vang. Dat ek die hele liefde-ding gaan mis. Dit gee my slapelose nagte. Ek wil kinders hê. Doeke omruil. ‘n Stasiewa koop en in die Wildtuin gaan vakansie hou.”
“Hokaai nou. Dinge kannie altyd so uitwerk nie. In elk geval, hoe weet jy jy was nog nie regtig verlief nie?”
“Dis die ding, ek kan nie regtig sê nie. Die ergste is natuurlik dat ek dit dalk al werklik ervaar het, maar nie as sulks herken het nie. Of dalk was van die meisies wat my om een of ander redes gelos het die wat die ware verliefdes was, maar hulle weet ook nie hoe dit moet voel en lyk nie, toe hardloop hulle ook maar weg. Dalk’s die wêreld vol mense soos ek wat net bly rondsoek maar nooit tevrede is nie, selfs wanneer dinge te perfek is, soek hulle die foute, want niks is dan veronderstel om sommer net in jou skoot te val nie. Ons bly vlug. Vir iets. Van iets.”
“So, huidiglik is daar niemand nie?”
“Nee, die bed en die hart en die voicemail is leeg. Dit eggo. Swaeltjies broei daarin, soms maak perdebye hulle modderneste daar, so tussen die ou koerante en stukkende stoele. Koue winde waai oor die plein. Deure hang aan laaste skarniere. Die onkruid rank welig deur die krake. Dakplate waai af. Verf verbleik.”
“OK, genoeg.”
“Jammer. Jy’t gevra.”
“Ons sal haar kry. Jy sal haar kry. Jy’s ‘n goeie ou.”
“Ek hou aan soek, wees verseker. Ek gee nie op nie.”

Dis stil vir ‘n rukkie, net ons kele wat gulsig sluk en ons koppe wat hier en daar rondhobbel op soek na iets ligters om oor te praat. Toe ons altwee gelyk na die bottel reik en sien dis leeg, staan Die Braai op om nog een te gaan haal. Wanneer hy terugkom, praat ons oor skooldae, die dinge wat ons in die koshuis aangevang het en so aan.

Ons is net mooi terug op koers toe my stok met alle geweld van die mikstok afgepluk word. Die briek rol lyn af met ‘n gezoem van ratte, vodka spat in my gesig soos my knie opstaan voor my bolyf - blikbeker en inhoud nou verlore - die stoel vou inmekaar en verstrengel my voet, ek duik vorentoe, helling af agter die stok aan, die laphaas in my visier, die stoel soos ‘n neulende kind om my enkel, desperaat nou, gryp ek na die stok, wat met nog ‘n pluk buite my bereik die water ingeruk word, Die Braai lag, dan sien hy die paniek en die aankomende storm, kry die flits, verblind my vir ‘n kritieke sekond, sit die tape harder, roep iets, ek tas weer rond, nou in die water, tot teen my knie, voel rond vir die stok, Die Braai besig om sy lyn in te katrol, hy roep nog iets, die kant toe of daai kant toe, nou’s ek amper halflyf in, strompel lomp vorentoe asof ek skape aanjaag onderwater, die water wat koud aan my lieste kom vat, die klippe onder my voetsole glad, ek voel-voel rond met voete, trap die stok raak, druk my arms in die water in, trek my gesig asof ek ‘n kalf uit ‘n koei se baarmoeder gaan trek, die water in my mond wat smaak na modderige gemmerbier, kry dit stewig beet, trek dit triomfantelik uit die water soos Excalibur uit die klip, water wat nou van alles af drup, ons eie klein weersisteem, klap die katrol reg en kap teen die vis in.

“Daar’s hy nou!”, kom dit van Die Braai af toe hy sien my rug staan krom en die stok span styf bokant my. Hy lig nou versigtig sodat ek dit nie weer tussen die oë kry nie. Stadig begin ek agteruit loop, maar die vis voel my nou weer en trek my van balans af op die gladde slykbodem. Ek struikel en word nog natter, Die Braai lag harder, die water proe nie meer na gemmerbier nie, dit proe nou soos waterleliebredie en week-oud platanna souffle. Ek katrol bietjie in, maar dan vat hy weer woes en hardloop ‘n wye draai na links.
“Eish, my mond stink na damsappe, bring so bietjie iets om my mangels te salwe!” roep ek sonder om om te kyk, want die vis het nou al my aandag nodig. Ek voel al hoe ek die rekordboeke herskryf vir grootste baber ooit met ligte gerei, ek sien al my foto in Stywe Lyne, ek dink solank aan die titel vir my hengel-memoirs (‘The Unbearable Slimyness of Fish/ Memoirs of a Kurper/ Pap and the Art of Moddervis Maintenance/ Long Walk To Gronddam/ Die Laaste Afrikaanse Karp/ Baberse Verwarring/ Griet Vang ‘n Waterskilpad/ Carp Blanche’). Ek werk solank uit wat ek gaan sê as ek die staatspresident ontmoet (“Ag nee wat, dit was sommer niks, Thabo.”)

Die Braai strompel nou ook die water binne, blykbaar min gepla oor die nattigheid. Dis eers toe hy langs my kom staan en ‘n driekwart bottel vodka vir my aangee dat ek sien hy’t sommer sy broek heeltemaal uitgetrek en is nou so kaal soos ‘n staaltelefoonpaal hier neffens my. Ek vat die bottel versigtig en sluk diep, spoel die drank rond in my mond om die dam uit my tong te wring. Klap my tong hard en genoegsaam teen verhemelte, asof ek ‘n Rus op die tundra is wat nou net ‘n beer met kaal hande getem het. Hy lig die water in, maar die flitsbattery is al effens pap en ons kan nie veel uitmaak nie. Die vis is in elk geval nog in diep water, so geen rimpels is sigbaar nie. Hy kyk na my en sien hoe ek beur en skietgee, inkatrol en weer laat hardloop. Sweet en vodka en allerhande tipes drank pêrel op my voorkop soos juwele uit Griekwaland-Wes se geweste.
“Dit smaak my dat, as hierdie nie ‘n vis is nie, jy die toilet onder ‘n Chinees se gat gaan uitruk.”
Hiermee strompel hy weer kant toe, waar Kobus nou harder gesit word. Dis ‘Die Hoenderman’, en ek hoef nie eers te kyk om te weet hoe hy dans nie. My stert wikkel ook so op en af soos ‘n kwikkie s’n in ‘n plaasdistriksdansdisko. Die vis is nou al seker so twintig minute aan die stok en genadiglik begin hy moeg raak, want my arms begin al bewe van die inspanning. Geleidelik vorder ek nou nader aan die oewer, met klein treëtjies en versigtige katrolwerk – ek kan hoor hoe sny die lyn deur die lug wanneer die vis hom sterk vat. Nou net enkeldiep, sien ek oor my skouer hoe Die Braai soos ‘n besetene om die vuur – nou weer hoog en helder – dans terwyl ‘Die Hoenderman’ klimaks bereik. “Kap ‘n water-riel!”, roep hy, “Vir geluk! Vir die vis!”, kom dit in ‘n maniese gekekkel van hom af. Ek trap dat die water so spat, werk my katrol-aksie in die bewegings in, krap ‘n tor hier af, skoffel bosluise onder die blad los, knak my lyf soos ‘n graatjiestertmeerkat wat ‘n breëkoparend pypkan, kop en keel wat agteroorbuig soos ‘n statig, dog jagse, bloukraanvoël wat ‘n lewensmaat soek, grasieus, ek voel sommer ek’s êrens op ‘n stukkie grasveld, die wuiwende halms om my, die lug blouer as ‘n Ford Sierra bo my, my vlerke opwaarts gekrul asof ek die Here prys in ‘n Ray Macauly taverne, ek bedoel tabernakel. Tussendeur voel ek die vis in my hande, dis nou asof hy saamdans, ek met die marionet se enkele toutjie hier in die vlak water, die vis daar diep êrens aan die bek gelei, soos ‘n jong boer sy jong nooi rondstuur windsurfer-styl oor die strooibestrooide sokkiejoldansvloer. Elke sentimeter lyn nou, wat vinniger en vinniger om my spoel kom draai, bring ons nader aan ons laatnagsoen onder die hibiskusblomme langs die visdam, vol warm palmiete en en weerkaatsende mane, Neptunus en Neil Armstrong.

Voete nou weer op droë grond, gee Die Braai nog vodka aan, wat skielik weer perspektief aan dinge gee. Groot vis aan lyn. Al my klere is nat. Kannie nou opgee nie. Die Braai verstaan die situasie asof hy dit al ‘n honderd keer gesien het. Hy kry droëwors uit die kar, breek vir my ‘n stukkie af, voer dit in gemaklike duimlengte stukkies wat ek fynkou (“Vir stamina,” sê hy), onder my tong hou, die sap uitsuig, afsluk. Dit help om die vodka vinniger af te stuur, ietsie in die maag vir die drank om aan te knaag. Ek skrik amper toe ek afkyk, want my hele lyf is nou besig om van binne te gloei. Ek kyk vir Die Braai, maar hy lyk net dieselfde, veral hier om sy wangbene kan ek die gloed duidelik sien, asof ‘n laag kwiksilwer net onder sy vel borrel en blink. Ek steur my nie verder daaraan nie. Sommige reaksies is onomkeerbaar.

Hy begin weer ‘n storie vertel, ‘n ware verhaal van ‘n vrou wat ongelukkig grootgeword het, wat vir haar moeder moes sorg nadat haar vader op die myne gesterf het. Dit was êrens in die berge van Venda, lank gelede, hoop was min en muskiete was baie. Al die jong mans van haar dorpie was of nikswerd leeglêers of weg op die myne, Rustenburg, Johannesburg, Carletonville en so aan. Die lokaas van die Rand se halfverrotte halfmaan. Haar ma was sieklik en omdat sy die enigste kind was, moes sy alles doen. Kos kook, klere was en werk om geld te verdien, al vandat sy twaalf was. So gaan dit aan vir meer as 15 jaar. Haar enigste ontsnapping is boeke en tydskrifte, wat sy by die algemene handelaar kry wanneer die ou uitgawes uitgegooi word. So verdiep sy haarself in ‘n wêreld van filmsterre, sangeresse en helde en heldinne wat in imposante kostuums maskerballe bywoon en in rooi sportmotors rondjaag terwyl hul serpe in die wind wapper. En sy sing, sy is lief vir sing – in die kerk laat hulle haar altyd solos sing, want haar stem het ou mans laat opkyk van hul stowwerige voete en ou vrouens se monde stil laat tuit met die kenmerkende gebare van erkenning van ‘n rare talent. Geen voël kon helderder opklink uit die woud nie. Net reën na ‘n lang droë seisoen, het die ou mense gesê, kon enigsins vergelyk met haar stem. Almal was dit eens dat haar stem die oudste en diepste wonde kon genees. Sy doen goed in die skool, maar kan nie die dorp verlaat nie, want haar ma is daar en sy kan dit nie oor haar hart kry om haar alleen agter te laat nie. Sy offer alles op vir haar ma, maar terselfdertyd wens sy sy was ‘n pragtige troupant wat selfs net oor die berge in die verte kon vlieg, selfs net na Louis Trichardt kan gaan. Net om bioskoop toe te kan gaan, met ander jong vrouens soos sy te gesels, om jong mans te ontmoet. Want sy voel die jeug wat aan haar knaag, dit bars nou en dan uit in flambojante pienk bloeisels oraloor haar lyf, maar die suikerbekkies kom nie om te bestuif nie en die somer gaan met reëlmaat verby sonder enige vrugte. Die dag toe haar ma sterf, stil in haar slaap, was die hartseerste van haar lewe. Die enigste mens vir wie sy alles sou kon gee, was nou weg, maar dit was ook die enigste persoon wat ooit in haar pad gestaan het om nuwe horisonne te verken. Kort daarna het sy die bietjie besittings wat hulle gehad het, verkwansel en die pad gevat na die naaste bushalte. Van hier af is sy Thohoyandou toe, van daar af Louis Trichardt toe. Daar was geen plan nie, sy’t niemand geken nie, maar om elke draai was daar iets nuuts waarin sy haarself verlustig het – ‘n groot dam, Eskom pale, dubbelverdiepinghuise, imposante plaasingange, supermarkte, groot kerke en duisende en duisende mense, soveel meer as wat sy ooit kon gedink het. Na ‘n lang dag se loop, weke later en met haar geld amper gedaan, besluit sy om in ‘n culvert onder die pad te slaap – die N1 suid van Pietersburg. Sy’t net ingesluimer in die warm somersnag toe sy iemand hoor naderkom. Dit was ‘n man wat ook daar wou slaap. Sy was aanvanklik bang, maar hulle’t dieselfde taal gepraat en sy kon gou aflei dat hy ‘n goeie man was. Hy’t ‘n vuur gebou en ‘n stukkie haasvleis gebraai wat hy in die pad opgetel het. Hulle’t begin gesels en saam geëet. Sy was verskriklik honger en te dankbaar vir die vleis. Hy was op pad terug na die noorde toe, na ‘n paar jaar op die myne. Hy’t haar vertel dat hy eintlik op vlug is, dat die polisie hom soek, omdat hy deel was van ‘n betoging vir beter lone en werksomstandighede op die myne. Die polisie het die betoging met traangas en rubberkoeëls uitmekaargejaag en mense voor die voet begin arresteer. Hy was gelukkig om weg te kom, maar sy mynbase het geweet hy was een van die organiseerders, so hulle kon sy naam en foto vir die polisie aangee. Sonder werk het hy besluit om te vlug na waar hulle hom nie kan vang nie. Verskriklike dinge gebeur in die tronk, het hy haar vertel. Sy’t aan sy lippe gehang. Sy’t geen idee gehad van wat regtig in die wêreld aangaan nie. Die wêreld daarbuite was altyd die prag-wêreld in tydskrifte, nie hierdie een van betogings en tronke nie. Hy’t haar afgeraai om na die Rand te gaan, te veel mense, te min werk, onveilig en geen plek vir ‘n ordentlike jong vrou nie, het hy gesê. So het sy besluit om saam met hom terug noorde toe te gaan. Hulle’t vinnig verlief geraak, en êrens in ‘n ruie mielieland vir die eerste keer liefde gemaak, die reuk van rooi turfgrond en soet stuifmeel wriemelend en benewelend in hul kele en tussen hul twintig tone. Asof in ‘n seepbel het hulle gesweef, terug deur Louis Trichardt na Venda, waar hulle vir ‘n kort rukkie in die man se geboortedorp in ‘n huisie onder ‘n kliprant gewoon het. ‘n Massiewe kremetartboom het wag gehou oor die dorpie, soos ‘n ou man wat standbeeld geword het. Maar hier was ook geen werk nie en om die las op sy familie te verlig, is daar besluit om na Mosambiek te vlug, waar die polisie hom nooit sou kry nie en waar daar volgens gerugte baie werk in Maputo was, omdat die burgeroorlog die res van die land so leeggesuig het. Hiervoor moes hulle deur die Kruger Wildtuin stap en hulle sou eers diep in Mosambiek enige vervoer kon kry, of so het hulle gehoor van ander wat die roete al gedoen het. Hulle’s daar weg en is ondanks ‘n paar vreesaanjaende nagte – hulle moes in bome slaap vir die leeus en hiënas – veilig deur die Wildtuin en Mosambiek in. Tot hul misnoë moes hulle kennis neem dat die burgeroorlog nou tot hier uitgebrei het en vir weke en weke het hulle uit die pad van konflik probeer beweeg sonder om enige werklike vordering na Maputo te maak. Die busdiens was opgeskort, kos was skaars en orals waar die oorlog was, was landmyne. Baie mede-reisigers het so hul einde ontmoet of bene verloor. Dit was verskriklik. Dit was eers agt maande van onmeetbare hel later dat hulle uiteindelik die hawestad bereik het, uitgeteer en moedeloos. Boonop was dit ‘n mite dat werk volop was - daar was niks. Hulle’t oorleef deur oorskietkos uit die vullisblikke van die paar oorblywende hotelle te eet, soos honderde ander. Die enigste hoop was die Portuguese skepe wat soms die hawe besoek het. Die man het na maande se vrugtelose aansoeke uiteindelik ‘n werk gekry op ‘n vragskip wat na Lisbon op pad was. Die aand voor sy vertrek het hy die vrou op die boot versteek en hulle’s daar weg, die onbekende in. Dit was ‘n groot risiko, want indien die skeepskaptein van haar teenwoordigheid sou verneem, sou hulle maklik in Luanda afgelaai word, of dalk sommer net in die see gegooi word. Niemand gee om daar buite nie. Met die geloof in hul liefde as die enigste ding waaraan hulle kon klou, het hulle uiteindelik Lisbon binnegeseil vier maande later. Nou was hulle weer onwettige immigrante, maar het na ‘n paar weke aansoek gedoen om politieke asiel onder die voorwendsels dat hulle Mosambiekse burgers was wat gevlug het vir die burger-oorlog. Gelukkig het die lang trek deur Mosambiek hulle genoeg Portugees geleer om daarmee weg te kom. So het hulle ‘n nuwe land aangeneem, altwee het werk gekry en hulle geleidelik opgewerk. Hy het ‘n kroegman in ‘n top hotel geword, sy’t die bestuurder van die hotel se wasgoedkamer geword. Jare later het hulle genoeg geld gespaar om hul eie eetplek oop te maak, waar die vrou al die eksotiese Afrika-geregte van haar kleintyd gekook het. Dit was ‘n groot sukses en mense het van oral in die stad gekom om daar te kom eet. Die man het weer begin sketse maak, iets wat hy sedert hy ‘n kind was nooit gedoen het nie, en dit in die restaurant uitgestal. Dit het groot aanklank gevind by die mense en kunshandelaars en private versamelaars het later begin aankope maak, want sy styl was onmiskenbaar – so ru en ongekunsteld, maar uniek en vol lewe, die kwashale brutaal aangewend, maar gebring tot volmaakte harmonie tydens voltooiing. Die vrou het ‘n klavier gekoop en saans gespeel en gesing vir die klante, wat dit baie geniet het, want sy’t steeds ‘n helder, suiwer stem gehad, wat hartseer en blydskap ewe goed kon verwoord. “Hulle was gelukkig, hulle was gelukkig, hulle was gelukkig – daar was niks meer daaraan nie,” het Die Braai afgesluit, “Nou toe, lyk my die vis is nou al hier vlakkerig rond.”

Ek besef skielik Die Braai het reg, skud my kop so paar keer om uit sy storie se plek te ontsnap, en begin weer opgewonde raak oor die vis. Ek is ook nou uitgeput, en nou seker al amper ‘n driekwartier lank gewikkel in hierdie oneweredige armdruk met die geheimsinnige vis.

‘n Blikbeker met iets daarin word na my lippe gebring, maar ek proe nie meer die smaak nie, dis nou net belangrik dat ons nie voor dagbreek ophou drink nie (anders verander ons koets in ‘n kakhuis), so ek sluk met ‘n oop gemoed. Nuwe krag skop in my lyf vas, deels die drank, deels die adrenalien van die vis wat nou al begin spat en stoei so ent voor ons. Die Braai is daar onder met die skepnet en die flits rond, hy roep allerhande dinge waarna ek nie meer luister nie, of dalk is dit net omdat ek niks meer kan hoor nie, want die geruis van duisende leë seeskulpe blaas in my ore nou, soos ‘n sterk wind, pofadders wat op-pof en afblaas, droë peule wat teen mekaar gevryf word, ‘n marimba-band by die Grahamstad-fees, bloed klop in hale deur my lyf, groot ronde klippe wat rol oor klipplate in vloede, die klinkers wat klap en spat en maal. Geleidelik word alles harder en harder, totdat Die Braai se gejil, die Kobus tape, die kolkende watermassa voor my en die nag wat nou digter en digter om ons begin saamdruk, een groot ululerende Zoeloe-aanval word, gelukkig voel ek paraat genoeg vir ‘n spiesgeveg in ‘n bebloede erosiesloot op ‘n Desember-môre, dan weer steier ek ondanks my braafheid, katrol nou meer en meer desperaat, die vis wat enige oomblik die lyn gaan breek, Die Braai wat seker juis dit nou vir my skree, maar in my half duiseligte toestand, vloei kopwaarts, bloed, vloei kopwaarts, grys voëls wat ons dophou, in die newels, o, dis waar hulle skuil, die mis nou, omvou my nou, gee raat vir die pyne, beneweld gee ek skiet met een arm, die wriemelende hipotalamus in my brein, buk vooroor, bloed dompel na die ander kant van my lyf, ‘n donkiepomp wat olie suig in Texas, selle lek gulsig suurstof op, deur die swart kolle in my gesigsveld dans Die Braai in sy eie ligkol, die water om sy enkels nou ‘n allesverorbende bewende blou, diep, pers orkaan wat dreig om hom van sy voete af te gooi, biesies en platannas word meegesleur in die kolk, die allesvretende oog, hoog die lug in gevoer, waar hulle meng met waterige sterre en een word, so nuwe tipe atmosfeer, wat spontaan die gate in die osoonlaag heelmaak van hier tot Kergeulen Eiland. Hier kom hy nou, hier kom hy nou, hier kom hy nou, roep Die Braai asof hy die Here se wederkoms eerstehands waarneem met ‘n kamera met film in, die flits nou vasgeknyp onder sy arm en ek kan sien hy begin skep na die vis, ek vorder nog ‘n tree of wat agtertoe, struikel oor iets, ‘n leë bottel, nog ‘n tree, ‘n laaste finale inkatrol, knie wat knak soos ‘n ombuigstrootjie, val dan agteroor plat op my rug wat ek nou voel spat soos Lego uitmekaar, werwel vir werwel, gewrig op kraakbeen, senings gee mee en die stok val uit my hande en die sterre gaan almal gelyk dood.

4.

Ek’s ‘n vink wat uit sy donker nes uitval. Stadig vou my vlerke oop, soos ek verheug onthou dat ek kan vlieg. Knipper-knapper, die helder lig maak my wakker.

“Is jy OK?,” vra Die Braai so naby my dat sy asem my wenkbroue skroei.
“Ja.” Kom dit onoortuigend uit my keel, waar daar skynbaar ‘n drankdeurdrenkte lusernbaal vassit. Ek kon nie lank uit gewees het nie, want hy’s nog steeds hiperaktief, dalk was dit net ‘n minuut of so, maar hy’t reeds tyd gehad om ‘n ander kasset in te sit en ‘n nuwe bottel Tas oop te skroef. My blikbeker is weer in my hande. Dankie tog.
“Daar’sy! Geluk, man. Kom kyk ‘n bietjie hier...”, sê hy voor ek kon vra oor die vis. Die rooiwyn druk stywe riete in my slap spiere, ek staan dunnerig regop soos onwillige boontjieranke in krummelrige grond. In die lig van die gaslamp lê my vis uitgestrek. Ek knip my oë, vat nog ‘n sluk. Hiervoor was ek nie gereed nie.
“Ja, ek weet,” sê Die Braai en trek ons stoele nader, “Sit gerus, ek weet dit kan nie maklik vir jou wees nie.”
“Goeie bliksem.”
“Versigtig met jou tong, dis ‘n dame hierdie. Ons moet onsself gedra. Sy’s Boere-royalty. Sy’s Antjie Krog vir die Bobby Skinstad-generasie.”
“Het jy al ‘n foto geneem?” vra ek outomaties en dink nou regtig of ons nie die wasmuseum moet bel nie. Ten minste die ouens by Canal Walk, dis die tipe ding wat hulle sal uitstal. Mense sal betaal om haar te sien, so skamel geklee, so volmaak, so sonder enige twyfel die ewebeeld van Charelize Theron, Benoni se glansrykste baber.
“Ja, met jou uitgestrek langs haar, net ingeval niemand ons glo nie.”
“Wat sou sy hier maak?”
“In dieselfde dam as Robert Mugabe? Nugter weet. Dalk maak sy ‘n film. Of berei haarself voor vir ‘n moeilike rol. In afsondering. In karakter.”
“Ongelooflik.”

Ons sit altwee nou oopmond en staar. Dis stil nou behalwe vir die musiek wat saggies speel, dis ‘n mixtape, so bietjie Pops Mohamed wat nou daar draai. Romantiese stemming. ‘n Bedwelmende reuk stuif op ons neer, glip by ons neusgate, ore, monde, ooghoeke en ander porieë in. Haar groot, kalm gemoed vul ons van binne, stem ons tot naakte bewondering, masseer die lewensmoegheid uit ons stywe skouers, heuning vloei uit die stywe kamers van ons harte, laat ons glo in Hoër Wesens.

“Ek voel aangetrokke tot haar,” sê Die Braai skaamteloos sonder om sy oë van haar lyf te haal.
“Hoe kan jy dit sê? Is sy nie getroud of iets nie?” sê ek sonder om my oë van haar lyf te haal.
“Filmsterre is nooit werklik getroud nie. Hulle’s getroud met hulle publiek, of hulle dit nou wil weet of nie.”
Sy haal saggies asem en dis snaaks, maar sy lyk glad nie ontuis op droë grond nie. Die bikini wat sy aanhet, pas haar kurwes perfek, ‘n klassieke snit, stylvol en sprekend van haar goeie smaak. Haar diep, sielvolle oë priem ons gedagtes binne, sy peil ons onsedelike gedagtes sonder enige moeite. Ek kyk half skaam weg toe haar blik myne ontmoet, klap my kake toe en maak asof ek net vir ‘n vis kyk.
“Het jy haar al geweeg?”
“Moenie simpel wees nie. Dit sal ongeskik wees. In elk geval, ek wil nie ‘n groter gemors van haar grimering maak nie, dis reeds effe versmeer deur die gespartel aan die lyn. Mens merk dit skaars, die grimering, sy’s so natuurlik beeldskoon. Kyk hoe gloei haar vel. Die golwende bos hare, nie eers deurmekaar nie, asof sy nou net by die salon was.”
“Maar ons moet tog die hoek uit haar mond kry.”
“Ja, ek’t ook gewonder daaroor.”
“Miskien, as ons haar eers vra, verduidelik dat ons versigtig sal wees, dan sal sy OK wees.”
Die Braai kyk nou op na my, die groen bottel wat tussen duim en wysvinger swaai, ‘n pendulum. Tik-tok. Sy oë knip-knip. Hy skud sy kop so effens, asof hy my jammer kry, of dalk net om homself te oriënteer, want die gaslamp staan tussen ons en dis moeilik om mekaar deur die gloed te sien.
“Ja, dalk. Ek sal dit doen. Maar as ons haar los het, wat dan? Ons kan haar nie saam met Bob in die hounet stop nie, want a) dit word net nie gedoen nie en b), daar’s in elk geval nie plek nie.”
“Wat van haar eie getypoel? Ek sal so paar sooie spit teen die kant en vir haar ‘n dammetjie maak. Dan kan sy op haar eie lê en plas ver van Bob se vuil vinne af.”
“OK, goeie plan.”

Ek staan op om die graaf agter uit die kar te haal. Terwyl ek vroetel hoor ek hoe hy die situasie aan Charelize begin verduidelik. Sy stemtoon is apologeties, ek verbeel my amper hy’t haar nou net ‘tannie’ genoem. Op pad water toe, sien ek hoe hy nou versigtig, asof hy ‘n turksvydoring uit sy eie tong haal, die gansbek-tangetjie by haar mond in-maneuver. Die sooie kom maklik los en is gelukkig heel stewig, so binne minute het ek ‘n groot hawemuur van kikoejoe gepak, hoog genoeg sodat sy nie sou kon uitplons nie, lank en wyd genoeg sodat sy gemaklik sou wees.
“OK, ek’s reg vir jou,” roep ek lig se kant toe, waar Die Braai nou in silhouet verskyn en soos Captain Nemo vir Charelize teen die wal af begelei asof hulle die stadsaal instap tydens ‘n matriek-afskeid met ‘n marine tema. Sy pas perfek in haar kunsmatige tuiste, ‘n akwarium van ons eie fantasieë, en sy spartel skaars, wikkel haar slanke meerminlyf net gemaklik in die vlak water en sluit dan haar oë, lang wimpers wat soos fyn siffies strepies deur die water trek. Sy moet seker baie moeg wees.

“As die son môre warm is, kan ons die sambreel oor haar sit, sodat sy nie brand nie.”
“Ja, mens wil nou nie ‘n hele storm ontketen nie.”
“Ja.”
“Sal haar moet kosgee ook. Sy verdien net die beste. Braaivleis.”
“Ja.”
“Ware Huisgenoot-drama,” sê Die Braai, “Man Vang Charelize Met Vink – Foto’s Binne.”
“Wie sou nou kon dink. Ons is werklik gelukkig.”

Dit vat ‘n ruk voor ons weer lyne in die water het, want daar word eers vuurgemaak om hande, enkels, skoene, broekspype en ander dinge wat natgeword het in die struweling, goed droog te maak. Mens moet darem gemaklik kan sit. Die wyn raak leeg, die bier word minder, dan’s dit tyd vir ‘n sopie koffie, dan weer wyn, dan weer bier. Soms is die minute van die nag kort en donker, ander kere is hulle lank en helder verlig.

“Hoekom is ons nou juis by hierdie dam in elk geval?” vra ek toe ons moeg gepraat is oor Charelize.
“Omdat dit nie anders kan nie.”
“Anders gestel: wat het gemaak dat ons nou hier is?”
“Ja. Kyk, as jy koeldrank wil aanmaak, dan vat jy die konsentraat – Oros, pakkie Drink-O-Pop – en meng dit met die regte hoeveelheid water. Na smaak. Maklik. Maar ons is nie koeldrank nie. Ons het wel water na smaak, maar almal se konsentraat bly vol stukkies bene en organe, dinge los nooit heeltemaal op nie. Die lewe is nie Barocca Calmag nie, daar’s dalk oranje en borreltjies, maar daar’s vitamine C op ander plekke en vrugte ook. So, jy sien, die kleur, die eenvoud en die vitamines is net deel van die antwoord. Ons is meer as die som van ons chemiese samestelling. As jy ‘n gat wil grawe in die grond – wat doen jy eerste? Dink jy eers oor wat in die gat moet kom of begin jy eerste te grawe? Wel, dalk hang dit af van die tipe dag wat jy het. Of waar jy vandaan kom. Jy dink eers oor hom, want dan weet jy hoe groot en diep die gat moet wees. Jy kyk eers na wat die gat vir jou moet doen. Plant jy ‘n boom? Blomme? ‘n Hoekpaal? Vlagpaal? Grawe jy ‘n septiese tenk? ‘n Gat toilet? ‘n Graf? ‘n Voor? ‘n Fondasie? Soek jy molle? Jag jy jakkalse? Is dit ‘n loopgraaf? Eers as jy besluit het, dan gaan haal jy die graaf en die pik, nie voor dit nie. Dalk trek jy die vorm van die gat eers in die los grond met jou hak. Dalk’s daar nie tyd vir sulke details nie, dalk val die mortiere al. Jy sien, die redes – die dryfvere - en die toebehore is net deel van die antwoord. Kom ons vat nou ‘n boontjiesaad. Druk hom in die klam grond, gee water en wag. Hy gaan of groei, of hy gaan net ‘n dooie saadjie bly. En as hy dood bly, dan gooi jy hom weg, of jy vergeet heeltemaal dat jy hom ooit geplant het, want dis nie jou tyd werd om ‘n boontjie se binnegoed te ontleed nie. Maar meestal vat almal vlam, almal lewe, ten minste vir so kort rukkie. Nou-nou kom loer hy uit, begin blaartjies maak en groei, op, son toe. Na ‘n ruk druk jy ‘n riet of twee daar in sodat hy kan rank – met ander woorde, jy gee hom opleiding, jy dui die aanbevole weg aan vir ‘n vol, produktiewe lewe - en sade kan maak, weer boontjies, weer peule. Water, grond, son en dalk iets sodat die goggas wegbly. Miskien kunsmis of kraalmis of strooi. Maar dis ook net bestanddele. Na ‘n ruk kan jy niks doen behalwe nou en dan watergee nie. Al wat jy nie werklik kan voorspel nie, is die weer. Onverwagse ryp, ‘n haelbui, stormwind. Dalk ‘n moedswillige bok wat ongesiens deur die draad glip en jou handewerk kom vernietig. So daar’s die natuur, die dinge waarteen ons nie kan baklei nie, die DNA, jou krom neus, jou tong wat kan krul of nie, jou sproete, jou bakbene, boeppens, hangboude, skewe tande, dimpels, harige rug, Downs-sindroom en Alzheimers. Ons moet werk met wat ons reeds het. OK, ek hoor jou – chimpanzees. Slim diere, ons naaste makkers, so sê hulle. Hulle’t glimlagte en vingers, hulle gebruik gereedskap en grawe gate. Hulle leer dinge. Dalk dolfyne, of walvisse, of bergskilpaaie. Honde – dalk weet hulle ook meer as ons. Maar vir solank as wat hulle ons niks kan vertel nie, vir solank as wat ons hulle kan slaan, skiet, jag, vang, makmaak en eet is ons op ‘n heel ander vlak as hulle. Die enigste dinge wat ons wen is virusse, gewere en die hande van ander. Ons medemens. Dis maar ‘n gemors. So dis die dinge wat ons nie is nie. On the other hand, Darren, hierdie is die dinge wat ons hier laat sit, nou.

Ouers, onderwysers, ou tannies, ou ooms, oupas, oumas, neefs, niggies, skoolmaats, eerste liefdes, vroue wat jou abba, hulle kinders, predikante, bakkers, kafee-eienaars, skoolopsigters, koshuisvaders, kombuistannies, die vroue wat jou wasgoed was, Omgewingsleer-onderwysers, Biologie onderwysers met een hand of meer, bedelaars op straat, diegene wat jou besteel, nuuslesers op TV, platejoggies op radiostasies, mense wat jy net een keer ontmoet en dan vergeet, mense wat jy net een keer sien en altyd onthou, mense wat jy elke dag sien maar nooit mee praat nie, krieketspelers in vergete ligas, donkievure, warmwatersakke, bobotie, kaiings, lewer op die kole, doringboomgom-en-suiker-konfyt, vinkeiers, gebraaide duiwe, braaimielies, Aromat, Joko, Kloof, appelkooslekkers, Liquorice Allsorts, corduroy, Grasshoppers, Bata Tuffees, grys broeke, Faber-Staedtler, handdoekstof, sloffies, sandale, knipmesse, beursies, biblioteek-kaartjies, verjaarsdagkoeke, suurlemoenterte, buitekamers, deurmekaarkamers, gange, stoepe, spense, kiste, kaste, koffers, gunsteling t-hemde uit Etosha, North Star tekkies, ProKennex rakette, anchovy toast by Oom Tom se restaurant, toebroodjies met Bovril en fyngekapte uie, platannas, sywurmboekmerkies, muisvoëlhokke, .22 gewere, SP patrone, Hello Kitty skêre, gestopte kouse, gemerkte klere, gewringde nekke, perskesmeer, appelkooskonfyt, bruin brood, sosaties, braaivleis vir ontbyt by Aunt Myrtle, Raleigh BMXe, Western Flyers, MacGyver, Die Man Van Intersek, Groenie Die Drakie, Die Skarlaken Eskader, die Hardy Boys, Die Uile, Trompie, Dawie, Rooies, Boesman die brak, Colin Fluxman, Jasper, Fritz Deelman, James Bond, die A-Team, CHiPs, TJ Hooker, Quincy, Sending Viëtnam, V, ‘Born In The USA’, ‘Summer of ‘69’, ‘You Give Love A Bad Name’, Serafyn teen Serafyn, Wielie-Walie, Slim vang sy Baas, Boetie Op Maneuvres, Video 2, Telly Fun Quiz, Flinkdink, taakmagte, terroriste, kinderkrans, akkerbome, boomhuise, boomplantdag, boeresportdag, tombola tafels, basaar, karavaan vakansies, Chinese take aways, jellievisse, vissersbote, oliekolle, Blue Horizonbaai, BKB, die akwarium in die Baai, seesandskoene, opgetrekte kouse, ingesteekte hemde, warm handdoeke op Maandag-oggende voor skool, die ryp daar buite op die donker gras, die stowwerige reuk aan die binnekant van ‘n stasiewa, David Kramer, Manuel Escorcio, padhase, vlakhase, werfhase, hekhase, rooihase, kolhase, garingbome, ooievaars, ooruile, Piet valke, blouvalke, koedoes, kraaie, oom PJ se Draai, oom Jimmy se Poel, dieselde pad jaar in en jaar uit, poskantore, kleefmynwaarskuwings, bomdrille, geel polisiekarre, klipgooiers, betogers, oproer, onrus, myne, mynrampe, kamponge, Bophuthatswana, Ciskei, Bisho, New Brighton, Michausdal, Lingelihle, lokasies, necklacings, helikopters, buffels, caspirs, elande, rooikatte, rooivalke, kommandos, Voortrekkers, penkoppe, drawwertjies, verkenners, Magersfontein, Maselspoort, eeufeesvieringe, vlaghysingseremonies, Republiekdag, kadette, marsjeer, op aandag, op rus, regs rig, voorwarts mars, knope, tente, flitse, nagmarse, Boknes, die Dias-kruis, die groot pynappel, Hankey, Patensie, Addo, olifante, buffels, Shingwedzi, Settlers, Zastron, Kestell, Heilbron, Bergville, berge, Drakensberge, kabelkarre, Scratch Patch, bootritte, snoeke, tolhekke, petrolstasies, Happy Valley, Kersfeesliggies, miershope, see-anemone, alikreukels, meeue, witkruisarende, muggies, brommers, droëwors, beesbiltong, biltonghakies, biltonghuis, gaas, marshmellow paaseiers, likkewane in goiingsakke, uitgespoegte doppe, hardgekookte eiers, sout, bokke in die blomme, skape op die lande, Slagtersnek, Olifantskop, Aunt Gail, Oom Neville se honde, swart Dexters, witgeverfde mure, Deborah, Notchikani, Sara, Alfred, Fezile, Makep, Goggie, Goggotjie, God, kollekte, psalms, gesange, Belinda Carlisle, Tiffanny, AHA, Al Debbo, Tobie Cronje, Carike Keuzenkamp, Sol Kerzner, sonneblomlande, katoenplukkers, spilpunte, turfgrond, statte, die Laeveld, die Bosveld, Bela-Bela, vlakvarke, rooibokke, jagluiperds, Pafuri, Thabazimbi, die Limpopo, die Kalahari, Augrabies, Nossob, Kuruman, karpe, goudvisse, babers, lang dammetjies, vierkantige dammetjies, sementdamme, gronddamme, graveldamme, sementvore, grondvore, hawerlande, Skurweberge, Piet Roux, Geluk, Dassiedeur, Oude Muragie, Glen Yair, Glen Ellison, Aunt Mavis, Oom Hendrik, Oom Willem se Witberg, Aunt Grace, Dr Bennet, Hazelborg, Oases Kafee, De Silva’s, Pick-a-Pair, Trek, Oukop, Piesangvingers, sy dogter, Jo-Anne Versfeld, die maer meise in St 2, die wildbewaarder se stiefdogter, die blonde een, die maer een, die bruingebrande een, die kort een, die lang een, Bosberg, die CSV, Woensdag-middae, Bellevue, Van Rensburgs, Du Plessis, Pearston, Harefield, Bethesda Road, Cookhouse, Middleton, opstaanklokke, stiltetydklokke, etenstydklokke, skoolklokke, tweede klokke, periode klokke, pouseklokke, einde van pouse klokke, huistoe gaan klokke, stortklokke, etensklokke, studieklokke, tweede studieklokke, stiltetydklokke, slaaptydklokke, tennisbane, krieketnette, toilet dorpe, oproeriges, stakings, drankwegstekery, landboutuine, droogtejare, dooie grasperke, lae bokhaarpryse, selfmoorde, wedergeborenes, motorfietsongelukke, videokameras, Nikon F401x, Hengel/Angling, Kommandodriftdam, Lake Mentz, Oviston, Steynsburg, Hofmeyr, Kimberley, Kango Grotte, Seweweekspoort, die Southern Sun, The Bliss, Greenacres, CNA, vegvliegtuie, kriekethelde, Kepler Wessels, Rod McCurdy, Faffa Knoetze, Calla Scholtz, Errol Tobias, Myrtle Bothma, Tsakile Nzimande, Johan Fourie, pappegaaie, Brakfontein, dooie katte, los rewolwerskote, donderweer, misreën, suidewinde, sonsondergange, sneeu, Juliemaande, Desembermaande, Big Korn Bites, koerante, Sparletta Cream Soda, ketties, rubber, pap wiele, patch & solution, raspers, skawe, verf, skroewedraaiers, toolbokse, duwweltjies, soetdorings, slakke, aalwyne, six & out, one hand one bounce, touch rugby, open the gates, topgooiery, albasterskiet, giffy, staal ghoens, sherbert, skuza, een-twee-drie blok jou, netbal, flank, senter, losskakel, groot lorries, Toyota bakkies, sprinkaanplae, swaeltjieneste, boomslange, geelslange, pofadders, skaapstekertjies, veldbrande, besembosse, watertenks, hawerstore, streepmuise, muisvalle, rooikathokke, slagysters, hoefysters, ystersae, ystervylsels, magnete, wetenskap, passers, Pacers, potlode, Parker penne, Bic penne, Space Case, bruin papier, gradeboë, liniale, Croxley, kladboeke, Beechies, Campus Bar, Bar One, Pine Nut, Lemon Twist, Kreols, Monster Munch, Late Harvest, Hunter’s Gold, Oom Bossie, Father Scully, Zero Hour Zone, skietbane, miswolke, landsreën, weerlig, TV-torings, versterkers, plastiek slange, bobbejane, blou-ape, aapstreke, streekdiensterade, munisipaliteite, suster Sarie, klinieke, ambulanse, mangels, spirits, Mattell, Hot Wheels, Richard Scarry, Lego, army-mannetjies, Skylectrix, rottangstoele, kaggelvure, droë stompe, mieliestronke, dart boards, skaak, dambord, slangetjies en leertjies, houtkappers, palmiete, reiers, hamerkoppe, rose, elmbome, kaarte, padkaarte, koffertjies, verkykers, rooivleis, hoendervleis, die donker, die son, die maan, grassny, bossies uittrek, huiswerk, calculators, Bestershoek, braaibroodjies, frisbees, skateboards, rolskaatse, skaamhare, roksome, wit hemde, dasse, cheese cutters, leiklipstoepe, vullissakke, lemoene, tafelgebede, ses van die beste, skoonmakers, pypveërs, uitveërs, stoomtreine, ertstreine, kartreine, slaggate, Whittlesea, trek-arbeiders, skeerspanne, ou Lappies, Francisco, Pietie-Piet, Sannie, Harry, Sweet Boy, Alfred, Bic, Goniwe, Botha, Heunis, Ramsamy, Meyer, Mandela, De Klerk, CODESA, tarentale, strikke, gif, snye, rowe, Elastoplast, steke, breke, gips, griep, kroep, verkoue, kasterolie, Borstol, Bethadyne, Gingin Violet (?), Micurocram, Vicks Medi Rub, Voltaren Gel, Tabard, Mentadent P, motorhekke, naamborde, posbusse, American Swiss, swiss rolls, rolmops, opgerolde moue, lewensmoë mense aan die anderkant van die kroegtoonbank, universiteit, bankkaarte, Sugardrive, Black Label, ledige ure, padkaarte, petrol, diesel, petroleum jelie, pyn, pienk, posh partytjies, straatpartytjies, alleenpartytjies, opgooipartytjies, tequila-dae, mooiweersdae, rooibaard, rooiwyn, glimlagte, die een met die krulhare, die een met die g-string, die een met die soet hare, die een met die wit boude, die een met die bruin vel, die een met die tande, die een met die tong, die een met die oë, die mense met die glimlagte, die mense met die fronse, die professors met die brille, die manne met baarde, die dames met naeltjies, die N1, die N2, Nanagga, padstalletjies, Northam, De Aar, Stellenbosch, Rossouw, Riekert, Kombuis, Valiant, Raaskopleef, Benoni, Table View, Morningside, Kayelitsha, Bright Lights, Phalaborwa, Carletonville, Kommetjie, Tin Roof, Amersham, Dolly Rockers, Welkom, Dave, dagga, Dagga-Dirk Uys, ys, yskoud, ‘afkoel, afkoel is ‘n lekker gevoel’, Kerkorrel, Monkey Puzzle, Makana’s Kop, Sidbury, Salem, Manley Flats, Cuylerville, Seven Fountains, Carlisle Bridge, Windows 95, Jode, Moslems, Buddhiste, Christene, Ateïste, Animiste, animeerders, straights, gays, Graeme Hart, Hartebeespoortdam, 24-uur petrolstasiewinkels, King Pies, Ricoffee, landladies, beeste, slackers, The Pyramid, die Vic, Matthew van der Want, Chris Letcher, Oppikoppi, sonopkomste, kopstampe, moshpits, bloedneuse, tentpenne, toiletpapierkrisisse, kruisbestuiwing,deurnagte, hangmatte, bras, boude, wange, skurwe kakes, gladde dye, nat valleie, sprankel-kele, giggelnote, Mokador, Mandela, Mbeki, Vuyani Bungu, Jonty Rhodes, ‘Mung’, Max Normal, dingdingdading, ‘Grrr, ‘Road’, Radiohead, ‘Mobile Home’, kitare, CDs, kassetspelers, Weezer, Sebra-park, Steers, Bedford, Hendrik Verwoerd, vliegtuie, varkore, treine, trane, Trout Fishing in America, Liefs Nie Op Straat Nie, Greener Grass, Lesego Rampolokeng, Tatamkhulu Afrika, Afrika Bambaata, Isabella, Wellington, Jim White, No Logo, Londen, Dayton, Edina, DC, Kytie, Bjork, biblioteke, trappe, deadlines, voorblaaie, oorfone, laatnagradio, Rage Against The Machine, opmaak filosofie, afsloof simfonie, slap chips, Tassenberg, Tafelberg, staal, koper, plastiek, leer, kurk, karre, petrol, olie, oliebome, eau de cologne, Speed Stick, spoedlokvalle, parkeerkaartjies, bankrowe, huisbrake, drankmisbruik, opgooi, afkom, opklim, afgooi, opstaan, afstof, opmaak, afbreek, oopbreek, toesmeer,

5.

toe maar wat, ek glo nie dit maak meer saak nie. Kyk waar staan die tyd al in elk geval. Aas kyk? Het ons nie al lankal nie? O, ons moes meer gereeld. Die son is dan al op. Het jy die sonopkoms gesien?”
“Nee. Het ons geslaap?”
“Kannie wees nie. Dit lui nie ‘n klokkie nie.”
“Hmmm.”

Ons moes blykbaar deurnag gehengel het, want nie een van ons kan onthou dat ons ooit geslaap het nie. Toe die son ons teen omtrent tien-uur begin nugter brand, kon ons aflei dat ons ook geen ander visse gevang het nie. Ons’t dwarsdeur byt-tyd so baie gedrink dat ons nooit ingekatrol het om ons aas te monitor nie. Toe ons inkatrol, is ons hoeke dan ook kaal, soos te verwagte kon wees. Skielik onthou ons van Charelize, so ek gaan haal die strandsambreel uit die kar en span dit oor haar kop sodat sy koel kan bly. Verbeel ek my, of is daar ‘n dankbare glimlag om haar mondhoeke? Bob is stil in die hounet en ons gee ook nie meer veel om vir hom nie. My mond voel verskriklik droog en ek skep koue water uit die koelboks – die ys is al amper alles gesmelt – om my droë Federated Timbers houtsaagsels toestand van dehidrasie te probeer fnuik.

“Ek’s honger,” sê Die Braai, nadat ons weer aas aangesit het. Ons is nou terug op pap en mik vir karpe, al lyk dit asof ons die bus verpas het. Die water is stil, niks spring nie. Byt-tyd is vir eers verby. Tog, mens weet nooit nie.
“Ja, kom ons braai iets op die skottel.”
Soos ‘n geoefende mortier-eenheid, begin ons nou alles bymekaarkry. Binne 180 sekondes sis die eerste eier in die skottel. Die Braai roer daar, ek dra die vark- en skaapwors aan, sny dik skywe tamatie en uie. Dit skiet vet en kekkel nou soos ‘n kerkbasaar daar, Die Braai se geoefende spatula bewegings so hipnotiserend soos ‘n samurai wat sy swaardbewegings oefen. Ek kry sy hoed êrens platgetrap in die kikoejoe en sit dit op sy kop om die ergste van die son weg te hou. Kry later sy sonbril ook êrens. Nou lyk hy soos Magnum, veral met daai hemp en amper-sersant snorretjie, wat ek sweer gister nie daar was nie. In die deur se kantsakkie spoor ek lang-vermiste sonroom op en smeer ‘n dik laag aan. Die kar is nou al goed warm, so ek skuif dit so ent verder teen die wal op na waar ‘n wilgerboom genoeg skaduwee gooi.
“Ons moet nou-nou inkatrol en daai kant toe skuif,” beduie ek vir Die Braai, want ons kan nou sien daar’s beter plekke om in te gooi, en niemand wil in hierdie son sit teen drie-uur vanmiddag nie.
“Ja, net na ete. Het jy gesien hoe min drank is oor? Ek dink ons moet later gou inry dorp toe en nog gaan koop. Dis kommerwekkend, ek weet, maar dis nog nie eers halftyd nie.”
“Ja, dis in die haak, ek sal sommer gou inry, dan bly jy hier by die stokke. Glad nie nodig dat ons altwee ingaan nie. Het jy geld op jou?”
“Seker so R50, ongelukkig niks meer nie. En jy?”
“Ja, het meer as dit. Sal kry soveel as wat ek kan. Plus so bietjie mix en ander proviand. En ys. Wat gaan ons met die visse maak?”
“Die plaaswerkers sal hulle definitief wil hê. Ek’s seker daar sal een of ander tyd iemand verbykom, dan laat ons net weet. Hulle sal van die kinders af kan stuur met ‘n kruiwa om hulle op te tel. Tog, ek weet nie of ek gereed is om van Charelize afstand te doen nie.”
“Ja, sy leen nogal ‘n ongewone soort van glans aan die dam toe. Mmm. Dit ruik lekker, is die kos al reg?”
“Ja, kry solank borde en vurke.”

Ons gaan sit in die skaduwee van die wilger met ons blikborde vol ontbyt op ons knieë. Wimpy tamatiesous van so ses maande terug word uit pakkies gedruk in rowwe blertse. Aangeklamde sout word geskud uit ‘n Robertson’s spesery botteltjie. Twee sagte eiers is die Geel Sjinese See, spoel om en deur die twee stukke wors, Japan en Korea, eiland en skiereiland. Swart gebrande uie om die rante, slap tamatie vir ekstra kleur. Met elke hap voel ek beter. Die stokke is nou ver genoeg weg dat dit skaars saakmaak of ons vir hulle kyk of nie. Noudat die nagvoëls lank reeds toe-oog skuil in rivierwalle en digte skadus, timmer die bedrywige dagskof nou orals gate in modder of boombasse, of vlieg oor op pad na ander damme of landerye laer af. Witreiers, bloureiers, kolganse, bergeende, geelbekeende, rooibekeende en bruin eendjies. Bleshoenders trap in die vlak water rond, swem uit na die middel aan die oorkant waar dit vlakker blyk te wees, bou aan neste, duik onder die oppervlak, kom elders op, swart kurkproppe sonder stop. Swaeltjies swiep laag, hul vlerke piets nou en dan die water – hulle’s agter die insekte aan – hul kinderklein stemmetjies wat psst-psst en swie-swie soos swaaie in ‘n speelpark. Vinke skiet in geel en rooi bondels rond oor die wal en verby na hul neste in die riete naby die inloop. ‘n Hamerkop in bruin doeane-uniform staan flink ‘n krap en oopkap asof ‘n tas met dwelms in die stikwerk versteek. ‘n Kormorant sit daar naby op ‘n droë stomp sy vlerke en droogmaak soos ‘n prostituut wat haar japon oopknoop om haar maer ribbes en hangtieties te wys. Die swart-en-wit helikopterlyfie van ‘n bontvisvanger hang oor die water, pyl af, plas, kom weer op – nou en dan met ‘n paddavis of iets in die snawel, wat wriemel en wriemel, maar alles tevergeefs, vervat so twee keer, gooi hom terug in die keel. Vertraagde aksie naaldekokers in die kleure van Peter Stuyvesant hang laag rond soos stomp potlode, woer dan weg, skerpgemaak, snaakse blink uitveërvormige kewers tor deur die lug en bots teen bome. Sprinkane en muggies peul uit die gras uit, sit vas in modder. Bye in die wilgerblomme bokant ons neurie hartseer propagandaliedjies soos hulle hulself afsloof vir hul volksmoeder terug in die korf, vet mag sy sterf. Die warm lug van somer soos dik kouse oor alles getrek, maak ons vaak, mae vol en poepe stink.

“Hulle’t saam groot geword in ‘n suidelike provinsie van China, daar waar die twee groot riviere saamvloei, die een met die bruin water en die een met die helder water, daar waar dit troebel word. As kinders was hulle onafskeidbaar, saam in die ryslande gespeel, in die strate, saam die berg uitgeklim om te wag vir die posboot, groot-oog gestaar hoe hondjies gebore word, saam gehuil as hulle val en bloei, eendeiers langs die rivier gaan soek, krappe gevang, paddavissies in flesse gesit en so so aan. Tot hulle oud genoeg was om nuttig te word vir die Party. Die ander probleem was dat haar ouers effe meer welaf was as syne, so hulle’t haar forseer om hom minder en minder te sien. Hulle’t reeds ‘n seun uit ‘n ander familie gemerk as haar toekomstige eggenoot, iemand wat meer aansien aan hul eie familie kon bring, iemand met ‘n goeie posisie binne die party, wat dalk deure sou kon oopmaak na ‘n goeie werk met meer voorregte – iemand wat hulle effens sou kon bevry van hul arm bestaan, hullle was kleinboere, werkers, daar was nie altyd kos nie, soms was dit droog, soms het die Party eenvoudig foute gemaak – soos toe almal hul potte en woks moes ingee om gesmelt te word sodat China meer staal kon produseer. So die jong man uit die selfs armer gesin moes hulpeloos toekyk hoe sy geliefde speelmaat en tiener liefdesobsessie stadig maar seker uit sy lewe verdwyn. Sy kon ook natuurlik niks daaraan doen nie, dit sou eenvoudig nie geduld word nie. Sy’s toe ook later getroud, sy was skaars twintig en is weg na ‘n groter stad waar haar man se familie ‘n winkel besit het. Hier het sy haarself dag na dag afgesloof om haar man se familie tevrede te stel, veral haar skoonma, wat haar gehaat het, omdat sy beeldskoon was in vergelyking met haar eie dogters, almal geseën met struwe gesigte. Sy’t haar met ‘n bamboesrottang geslaan as sy gedink het die skoondogter steek lyf weg, of as die kos nie perfek volgens haar smaak voorberei was nie. Daar was geen uitweg nie, sy moes haar pyn probeer wegsteek en vergeet van haar sorgelose verlede, so eenvoudig en beeldskoon daar in die berge, die lug so blou, die dae so lank, die mense so vriendelik. Waar sy nou was, verder noord, was die winters verskriklik koud en selfs in die lente was die lug vol stof vir weke sonder end, soos die storms uit die Gobi-woestyn groot stofwolke hoog die atmosfeer ingejaag het om honderde kilometers verder af te sif in ‘n misrabele geel stofbad. Elke lente wanneer die geel stof op haar huis kom lê, het sy opnuut gedink aan haar geliefde uit haar jeug, die enigste keer toe sy ooit iets soos liefde ervaar het, al was dit nou net die dinge van ‘n kind, die blote gedagte daaraan het haar laat glimlag, maar met die stof wat laag vir laag op die stoep kom lê, was dit ook ‘n glimlag van die onmoontlikste hartseer, want dit sou nooit meer as net ‘n droom kon wees nie. So seker as wat hierdie stof nie gestuit kon word nie, so seker kon sy nie veg teen die lewe waarin sy nou gevange was nie. Die seun het intussen ook groot geword in sy geboortedorp, maar is eendag sonder veel waarskuwing na ‘n werkerskommune gestuur in die verre weste naby Tibet, waar die land bergagtig en wild was, die bosse nog vol pandas en roofdiere. Hier het hy byna tien jaar van sy lewe geslyt in haglike omstandighede. Hul kos was min, die werk was meedoënloos, eentonig en het die siel tot die uiterste getoets. Hy’t staatgemaak op sy innerlike vrede, hy’t homself verbeel hy is die houtsteel van sy graaf of pik, wat met elke nuwe handvat en opswaai, afkap en uitspit, vervorm word deur tyd en arbeid, die elemente en die wil en wense van die Party. Daar kon niks aan gedoen word nie, behalwe om maniere te vind waarop dit genotvol gemaak kon word. Gelukkig was daar die natuur, wat daagliks op die mees ongelooflike maniere wonderwerke openbaar het, in die kleinste insekte, of in die manjifieke sonsondergange oor die meer in die verte, die rooi uit die dag se mistrootstige deinserigheid, die son wat nooit verander nie, anders as die houtsteel in die eelte en voue van sy hande. Hy’t gereeld briewe gestuur vir sy ou geliefde, maar nooit enige antwoord gekry nie, so hy’t homself maar daarin berus dat haar skoonfamilie haar pos seker onderskep het, want ander sou sy definitief teruggeskryf het. Hy’t nooit ophou glo dat hulle vir ewig verlief sou wees nie. Dit was ondenkbaar dat wat hy gevoel het, ‘n leuen was, dit was die enigste ding wat niemand van hom kon ontneem nie. Jare het dekades geword, en die vrou en haar man het na Australië immigreer waar hulle eers in ‘n skoenfabriek gaan werk het en later ‘n eie winkel oopgemaak het. Na sewe jaar is hulle Afrika toe, Kenia. Daar het hulle ‘n groothandelaar-winkel bedryf in ‘n besige kusdorp waar daar reeds ‘n gesonde bevolking Chinese was. Haar ou geliefde het intussen regoor China geswerf, van een werk na die volgende, sonder om enige noemenswaardige bestaan te maak. Jare en jare se oorlewing aan die rante van die samelewing het hom egter ‘n kenner in tradisionele medisynes gemaak, so hy’t van dorp na dorp so ‘n lewe gemaak, as smous van doepas en boombasse en poeiers en smeersels – ‘n dokter en kenner van kwale, en met die hande vir akupunktuur. Hy was al oor die veertig toe hy ook besluit om te immigreer, ook na Afrika. Hy’t in die Rooi See by ‘n Ethiopiese hawe geland, sy tassie met besittings onder die een arm, ‘n kombers onder die ander. Vir jare het hy op en af langs die kus van die Rooi See beweeg. In restaurante gewerk, op plase, in winkels, op bote, waar daar ook al iets was. Later het hy om die horing van Afrika geswerf, Somalië en uiteindelik Kenia. Hy’t vir jare in Mombasa gewoon en stadigaan naam gemaak in die Chinese afdeling van die stad as ‘n tradisionele dokter. Eendag, kom daar ‘n vrou in, oud, gebukkend, ouer as sestig. Dit was halfdonker in sy spreekkamertjie, maar hy’t haar onmiddellik herken. Hulle’t mekaar aangestaar, ongelowig, gelag en gelag en die hele wêreld het stilgestaan, tjoepstil, mens kon die rubber hoor skaaf, die skarniere hoor kraak, toe breek die momentum die wal en hul liefde oorweldig die hele Mombasa, die hele Kenia, die hele Afrika, al deur die Groot Skeurvallei, af tot onder, tot dit uitspoel by Kaap Agulhas, en die derde seestroom word, warm, kloppend en soet. Saam het hulle nog vir dertig jaar gelewe. Haar man was reeds dood teen daardie tyd – so daar was niks te vrese en niks wat hulle kon stop nie. Sy was 98 en hy was 100 toe hulle gesterf het, in dieselfde jaar, twee dae uitmekaar uit, met glimlagte op hul gesigte. Ek dink jy moet solank jou ry kry, dit staan twaalfuur se kant toe.”
“Ja,” sê ek, nie seker of ek my hande kan sien nie, want hulle voel dood, soos die bloed afgesny was terwyl hulle onder my kop ingevou was. Ek staan op en my kop swaai donker en leeg, duiselig vir ‘n oomblik, die seer are na my hande beur weer met bloed, steek distels en krap vonkies deur die spiertjies en senings en laat my uiteindelik weer normaal voel. Ek stap na die kar, onthou dan van Die Braai se R50 en draai om.
“Waar’s jou geld?” roep ek.
“Onder die sitplek in my beursie.”
“OK.”
“Moenie die koelboks vergeet nie. Vir die ys.”
“O, ja, dankie.”
Ek kry die koelboks waar dit nog naby ons stokke lê.
“Hey! Jy’t ‘n byt!” roep ek vir Die Braai, maar hy weet ek jok, so skuif nie uit die skaduwee nie.
“Ek gaan ons lyne opkatrol en hier ingooi,” beduie hy nou na ‘n perfekte area links van hom.
“Ja, dit lyk reg. Pap op myne weer, tot jy iets op iets anders vang. Die erdwurms lewe darem nog, maar gee hulle so bietjie water later.”

Die pad terug dorp toe is besig, Saterdagmiddag-verkeer wat studente en toeriste tussen wynplase karwei, lorries met plaaswerkers wat gaan sokkerspeel of drink of kuier, boere in bakkies tussen vrouens en vriende, minibus-taxis, Mercedes Benze, BMWs en Toyotas, als verteenwoordigende, regstellende verkeer. Onthou skielik dat die Klapmuts bottelstoor seker nie so groot verskeidenheid sal hê nie, dalk ook nie ys nie, so ek draai Stellenbosch toe in die hitte, wat saam met die lawaai van motors en mense en plaaswerwe en padstalletjies deur my ruite in kom lê soos stomende maltabella-pap, my lyf die botter wat smelt en orals meng tot dit heeltemaal verdwyn. Druk jou vinger in en roer. Arm by die venster uit plas in die lou, vlak melkerigheid. In my kop timmer ‘n ritme nou, êrens van onlangs af, hiphop, ek voel hom, maar ek ken nie sy ouers nie, die woorde kom so maklik soos selfmoorde, barstens vol vrugteboorde, persblou in die slowmo, die ink nou my bloed nou, somerson stadigry laat maar verby gaan, die stilstaan van die sprinkaan, knakkerige kerswasmense, nou middelpitstringe, trouringe en die radio spring tussen frekwensies deur, positiewe strome laat my tik teen die wiel, moenie nou opgee nie, ‘n vloed wat deur draadmatte ruk, my tong sit aan my verhemelte vas, eendag is eendag, ek burp eier, my hande ruik na vis, tande voel na donsvere vol stof, hemp ruik na die nag se drank en vuurmaakrook. ‘n Voëltjie vlieg teen die kar vas en trek my aandag terug na die pad, die tune verlore vir ‘n wyle.

Ek stop aan die buitewyke van die dorp by die eerste beste groot drankwinkel. Die stowwerige parkeer-area is vol karre en mense, dranksakke en dronklappe, papsakke en bierbokse.

Een van die dronkaards neem my opsy vir ‘n oomblik. Sy oë is blou, ‘n lae gasvlam, sy stoppelbaard staan blond uit soos souterige mangrove boomwortels uit ‘n moddervlakte. Regterhand se duim, middel- en wysvingers vryf gedurig teen mekaar op die tipe manier waarop mens vryf as jy van baie geld praat, maar die hand beweeg te onvas rond daarvoor, dan in sy oopgeknoopte hempsak, dan om sy goed verweerde lyfband, dan teen die kant van sy neus, dan reg voor my gesig.

“Jy,” sê hy vir my, “lyk mos baie bekend. Is jy dan nie Roelf Meyer nie?”
“Nee. Verkeerde ou.”
“Ja, man, jy’s daai Roelf-mannetjie. Mmm. Nog altyd van jou gehou.”
“Ek’s nie Roelf nie.”
“Ja, ja. Jy’s Roelf. Selfde adamsappel, glip so in die son, man. Roelf.”
“Roelf was altyd skoongeskeer. En maerder.”
“Dit beteken nie jy kon nie baard of pens groei nie. Ek’s mos nou nie dom nie.”
“Ek’s nie Roelf nie. Is Roelf nie dood nie?”
“Nice try, Roelf. Anyway, as jy nie Roelf is nie, is jy sy dubbelganger.”
“Dalk. Luister, ek moet by die drankwinkel uitkom. Wat drink jy?”
“Ag enigiets man, maak nie saak nie. Roelf.”

Hy gee pad dat ek kan verbygaan. Sy asem ruik na iets soets. OB’s.

Die son hou nie op nie. Dit brand almal neer teen die grond, smelt die teer, smeer ons oor dieselfde kam. Dis skaars koeler in die winkel. Stukkende skaakbord-teelvloer wat getuig van 1970s dae van glorie, yl hande reik deur die tralies vir aalmoese, flardes koerant vetrap onder voete, als ou nuus. Groot karton plakkate hang orals, adverteer specials in geel en rooi syfers, swart letters. Als eindig met 95c. Waar’s die dae toe als met 99c geëindig het? En hoekom het hulle dit ooit verander? Iets met die oorskakeling van AVB na BTW te doen gehad, as ek reg onthou. Die minutae van ekonomie gaan my verby, muggies in storms. Ek begin dinge aandra na die toonbank toe. Nou en dan kyk ek na die kras plakkate, kyk of ek kan munt slaan uit van die specials. Maar dis net die gevaarlike dranke wat goedkoop is. Die tipe ding wat jou lewer met ‘n skalpel uithol, jou breinselle laat stoom en prut. Dan weer terug in die rakke in. Witwyn, rooiwyn, kyn, brandewyn, kaktuswater, vodka, witblits en ander dinge wat toevallig onder my voete beland. OB’s vir my vriend buite. Toonbank toe. Koelkamer toe. Bokse bier. Nog ‘n boks dalk. Ja.Toonbank toe. Vrieskas toe. Sakke ys. Toe als by die toonbank is, ‘n heel skaflike stapel, al wat ons kort is ‘n ram vir die offer, kyk ek vir die eerste keer op na die vrou agter die toonbank.

Die middag, die dag, die maand, die jaar – alles stop vir etlike sekondes.

In haar oë blaai kinders vervaard, verwonderd, verskriklik vinnig deur ensiklopedieë, gryp na die pragtigste kleure in die vetkrytboks, begin ruwe, ongelooflike dinge skep uit klei, die blou polisieligte flits deur die geel, die groen van watergras trek spoortjies oor die nat roes-herfsblaar tameletjie-strande, al die liedjies is uit my kop uit, net drie stil sekondes van die geplastiekte tik-tik-tikkery van ‘n Casio teen die muur agter haar, al die stank is uit my klere, ek dra ‘n netjiese hemp, ‘n sexy sonbril steek by my hempsak uit, ‘n slangleerbelt om biervrye heupe, deftige broek, dik beursie, Nokia 3210 selfoon, ek’s skoongeskeer, ek adem Brut, my hare is netjies, my tande is geborsel, plaakvry en skitterwit, my naels is geknip, ‘n vogtige room is in my vel gesmeer, die warm son is ‘n koel wind, die mense om my vorm ‘n koor en begin harmonieus te fluit, my sweet is ‘n bos rooi rose gemeng met Namakwaland daisies, leeubekkies, pienk papawers, groot stukke polonie, kiepersolblare en spuitfonteintjies wat ek nou vanuit onder my arm vir haar aangee, want ek weet dis al waarvoor sy nog haar hele lewe wag, my perfekte glimlag flans oop en gryp hare aan die lippe, wat om my smelt en vassuig soos brood in ‘n pan wat rys in ‘n oond, waar ek haar diepste wense, haar soetste drome, haar haarfyn bloedvaatjies, haar lintswaaiende rasieleier asemteugies, haar helderkleurige lugballon gedagtes kan lees soos braille vir vryers, haar keel en skouers en sleutelbene die swaelstertvoeë en gladgepoetste knoppe van ‘n meubelmeester, haar vel soos Milo en damwater, waaruit veraf vure opwel, haar t-hemp wat asemhaal en opbeur asof volstruise daar wil uitbroei, die prentjies en woorde wat daarop pryk is ‘n Pulitzer, dis Oprah se Book Club, dis die een miljoen Rand Pryslynwenner, die dertigduisend-vyf-in-‘n-ry-jou-wille-wragtag-wenner-wenresep wat die hongeres bly voed, selfs die volgende dag nog, wanneer hulle nog tien mandjies brood en vis optel en weer feesvier en weer die Here prys asof niks gebeur het nie, klein hondjies op pasgesnyde grasperke, moerbeie in roomys, sjampoe in die hare van meisies, afskaats na onder op ‘n houtreling sonder om splinters te kry, appelsap wat by jou mond uitdrup, uitgedrukte lemoene, rou, suiwer gevoel, reën wat jou stomend afkoel, induik in ‘n diep donker poel, die ronde hoeke aan die binnekant van ‘n bad waaraan mens heeltyd wil vat, haar heupe met handvatsels en rusplekke vir jou ken soos die kolf van ‘n speelgoedgeweer wat seepbelle en aarbeie en pienk spookasem spuit totdat die hele bottelstoor daarvan vol lê, haar lippe vou los van mekaar, ‘n vlesige oog wat knip:

“Hoe gaan meneer betaal?”
In haar stem, boer ‘n byeboer. Vir ‘n lang, ongesonde oomblik, haak my tong vas, ‘n boomstomp op vloedwater teen ‘n draadmat. Skuim spat, die donker nag gloei met fosfor en sterre.
“Met my hele lewe.”
Stamel ek uit, of dit nou hardop is of nie, hoe sal ek weet, want my hele lewe draf teen spoed voor my verby, dit dawer, dit fluit, dit suis, dit reën, die reën na tien jaar daarsonder.
“Is meneer se lewe...” Sy loer na die bedrag, terwyl haar lippe op ‘n punt trek, soos die pienkgepietste kruin van ‘n skuimpie. “R372, 80?”
Die byeboer het ‘n wa. Die houtwiele knak en kraak deur die tweespoor-groef, vrot ysterklip en aalwyne buig neer, word sag, die fluweelkatte van die wêreld kom lê aan haar voete en spin.
“Dit klink goed. Kan iemand my help dra?”
Ek steier agteroor, voete flits oor kop, onbeheerbaar, diep in ‘n gat af.

6.

Terug by die dam vertel ek Die Braai van die vrou. Hy skud sy kop.

“Het jy haar naam gevra?”
“Nee man, moenie simpel wees nie, ek was nie gereed daarvoor nie. Ek’t gesteier. Ek was gefolter. Harnas en stang het my smoel gesnoer. Stom.”
“Dan sal ons weer daar moet aangaan wanneer ons terugry môre. Ons kan nie bekostig om ‘n enkele kans te mis nie. Die lewe is te kort daarvoor, jy behoort te weet. Jy moet haar naam en nommer kry. Dis nou as sy nie getroud is nie.”
“Nie ‘n ring gedra nie.”
“Dis ‘n begin. Goed, wat’t jy gekoop? Ek’t in jou afwesigheid die laaste van die bier gedrink. Hulle was ook al goed warm. Dringendheid is aan die orde van die dag – ek’t al sewe karpe gevang. Dinge lyk goed, en kyk waar sit die son al.”

Hy help my met die koelboks, wat ons weer ‘n ereplek tussen ons stoele gun. Die nuwe posisie is skitterend – skaduboom, geleidelike helling, ‘n natuurlike hawe waar ons die visse kan inlei. Perfek. Die hounet is ook opgeskuif sodat ons ‘n ogie daaroor kan hou.

“Waar’s Bob?” vra ek toe ek merk die baber se stert is nie sigbaar nie.
“Ongelukkig moes ek hom saam met Charelize in die poel sit. Niemand is nog hier verby nie, so ek kon nog niks met hulle maak nie. Maar hulle lyk heel goed, die sambreel hou hulle darem effens koel. Het hulle netnou elkeeen ‘n stuk vink gevoer. Bob het syne heel ingesluk, die vark. Charelize het skaars geraak aan hare. Net gepeusel. Hou seker maar haar gewig dop. Vrouens darem. Die karpe is in die hounet. Hulle’s darem beter om te eet. Miskien kan ons môre-oggend ‘n paar vir ontbyt gaarmaak.”

So begin ons die middag se hengel in alle erns. Daar’s nou effense donderwolke aan die lug wat skielik vanuit die noordweste verskyn het. Groot skadus kruip oor die landskap om ons. Dit verander die kleur van die dam, die berge en die plantegroei soos dit oordryf in verskillende patrone. ‘n Ligte windjie beweeg deur die vallei. Stadig maar seker raak die atmosfeer drukkend. Die karpe byt gelukkig nou eers goed, so ons is gou-gou besig om die een na die ander uit te trek. Allerhande groottes – die kleintjies gooi ons net so terug, maar almal bo so drie kilogram kom in die hounet. Deur dit alles heen, drink ons rustig, soos dit sportmanne betaam. Teen vier-uur is ek skreeuhonger en begin bou aan ‘n vuur so ent wind-af. Ons’t laasnag meeste van ons hout gebruik, so ek loop bokant die dam se waterlyn rond en soek nog droë stompe. Die vuur word groter en groter.

“Hey, stop nou!” roep Die Braai, “Wat wil jy braai? Vir Bob?”
“Nee, ek hou sommer net van die groot vlamme. Nice, is dit nie?” Ek staan terug en bewonder my eie handewerk. Die vlamme is omtrent twee meter hoog, dit speel verwoed geel oor my verstarde gesig, ‘n glimlag vol blink klippies wat deur die baard skyn. Die oer-hipnose van dinge wat groter en sterker as jy is.
“Lekker simpel. Nou gaan dit ‘n uur en ‘n half vat voor ons daar kan braai.”
“Dis ook OK.”

Halfvyf hou die vis skielik op byt. Wel, hulle’t al vier-uur opgehou, maar mens merk dit mos eers later. Die vuur brand nog hoog.

“Ek gaan gaan swem,” sê ek en staan op, “ek’s liederlik vuil.”
“Mmm. Ek ook. Waar? In die dam?”
“Nee, wil nie die visse verdryf nie. Wat van verder op in die rivier? Dit lyk of daar lekker poele kan wees.” Ek beduie verder op, verby die palmiete by die inloop van die dam, na waar klein kransies die loop van die rivier aandui.
“Dalk kan ons afspring ook. Van lekker hoog af,” Die Braai begin al inkatrol, “glad nie nodig om ons stokke in te los nie. Het genoeg vis in elk geval, die hounet is amper vol.”

Ek maak nou dieselfde en ons los die stokke net so op die mikstokke, met die aas nog aan die hoeke. Ons kry ons handdoeke uit die kar en begin aanstap, Die Braai met twaalf biere en ek met ‘n bottel rooiwyn. Daar’s ‘n voetpad langs die rivier, so ons volg dit vir so ruk totdat dit wegswaai in ‘n sykloof, waar iets soos ‘n pomphuis sigbaar is. Dis egter nie te ruig nie, so ons vorder maklik. Waar die water vlak is, loop ons sommer in die rivier. Na ‘n kwartier of wat kry ons ‘n groot poel, omtrent twintig meter wyd en lank. Naby aan die middel sit sewe waterskilpaaie soos groot 2-sent stukke in die son op ‘n klip. ‘n Effe oorhangkrans van so tien meter aan die linkerkant lyk na ‘n goeie afspringplek.

“Kom ons gaan kyk eers of daar nie klippe is nie,” sê ek en los die wyn onder ‘n struik. Die water is heerlik. Die boonste lagie is warm, maar onder is dit yskoud. Dit vou soos donker bier om ons lywe. Daar’s in elk geval soveel bier in ons liggame dat ons amper geheel en al daarin oplos. As ons velle nie so dik was nie, sou dit dalk die einde gewees het. Bruisend opgelos soos Barocca Calmags. Alhoewel dit baie klipperig is aan die begin, word dit gou diep genoeg dat ons nie kan staan nie. Onder die krans duik ons af om te kyk hoe diep dit is.

“Ten minste drie meter,” proes Die Braai toe ons opkom vir lug en water trap. Ons kyk op na die krans. Die son is skerp in ons oë. Dan’s daar ‘n wolk en kan ons beter sien. Die weer dreun veraf.
“Daar,” beduie ek na ‘n lysie so sewe meter op, “lyk na ‘n goeie plek. Behoort maklik daar uit te kom. Ons hoef ook nou nie simpel te raak nie.”
“Ja.”

Terug op die oewer trek ons weer ons skoene aan, want as mens van so hoog af spring slaan die water jou voete nogals hard. Op die ingewing van die oomblik besluit ons om kaal te spring. Na ‘n bier of wat, die son nou en dan fel op ons skouers, dan verberg deur ‘n wolk, begin ons opklim. Van onder af het dit natuurlik maklik gelyk, maar synde ons dronk is, sukkel dit maar. Ek gly en skuur teen ‘n skurwe klip af op my kaal bobeen. Die Braai lag vir my skaafwond. Toe ons uiteindelik bo is, lyk alles soveel hoër. Maklik vyftien meter.

“Maklik vyftien meter,” sê ek.
“Moenie simpel wees nie. Is jy chicken?”
“Natuurlik nie.”

Ons sit eers ‘n ruk daar. Die uitsig is skitterend. Die ruwe kloof kronkel vinnig buite sig, die hange van die berg steiler en steiler tot dit skerp kranse teen die lug maak. ‘n Bobbejaan blaf êrens, maar ons kan hom nie sien nie. Donker wolke begin saampak agter ons, maar daar’s nog baie sonskyn in die vista voor ons. Regs van ons maak die vallei geleidelik oop verby die dam, waarvan ons so driekwart kan sien. Die kar se venster of iets weerkaats in ons rigting, die skaduwee het al bietjie geskuif. Die koelboks is ‘n spikkeltjie rooi tussen al die groen en bruin. Die rook van die vuur is byna onsigbaar, dit lyk amper asof dit gereed is vir die braai. Verder verby is die donker bome om die plaasopstal, dan die populierbos en die werkers se huise, die wit net-net sigbaar tussen die bome. Dan die wingerde wat verdwyn na die pad se kant toe. Dis te deinserig om veel verder uit te maak.

“Ons moet uit die water uit voor dit begin weerlig.”
“Ja.”

Die windjie waai reeds die warm reuk van reën aan, so ons besluit om maar ons sprong te doen en klaar te kry.

“Jy eerste,” sê Die Braai. Ek beweeg na die kant van die lysie en loer af.
“As ek dit nie maak nie, kan jy my kar kry. En my CDs.”
“Dankie. Onthou om jou poephol toe te knyp, sodat jy nie...”

Maar ek spring reeds. My kaal boude fluit ‘n kortstondige Bob Dylan solo bekfluit-bluesdeuntjie soos dit deur die lug klief. Subterannean Homesick Blues. Binne ‘n sekond of twee slaan my voete die water, wat yskoud is diep onder. Ek raak die bodem, modderig en vol stokke en skiet dan op na bo, bars deur die oppervlak terug in die blink son in. Dis soos om binne vyf sekondes te sterf en weer gebore te word. Die kitskoffie van die skepping.

“8.75!” Kom dit van bo af. Sy stem eggo kortweg teen ‘n krans agter my. Ek beweeg dieper die poel in om plek te maak vir hom. Hy vat ‘n kort aanloop en spring die lug in soos Johnny Weismuller in die ou Tarzan-fliek. Maar hier’s nie bobbejaantoue nie, geen handige takke nie, nie ‘n sjimpansee wat antwoord op sy naam nie. Vir ‘n oomblik vries hy daar bo in die lug terwyl ek my oë knip om die jeukerige water uit te kry.

In so ‘n oogwink, kan baie gebeur:

Die Braai voltooi ‘n triple summersault met ‘n twist. Perfek.

Die waterskilpaaie in die poel dink die krans stort in duie. Twee kom tot inkeer.

Die bobbejaan, een van veertien, draai uiteindelik weg van waar hy ons sit en bespied het, verontwaardig deur ons uittartende naakheid. ‘n Wyfie naby hom, het ‘n skerpioen tussen haar vingers en gee dit nou ‘n sappige byt. “Common bliksems,” sê hy vir haar, terwyl hy ingedagte aan sy boud krap, waar ‘n vlooi ‘n pad beur deur ‘n ongenaakbare grys wildernis.

Hoër op in die kloof, kom ‘n watermuishond te voorskyn uit ‘n skeur, vroeg vir die aand se jag. Sy neus tel ons reuk op binne ‘n sekond, so hy draai weer om en gaan lê nog ‘n rukkie. Die vetste krap is nêrens heen op pad nie.

Bo in die berg skuif dassies dieper in die skeure soos die reën hulle begin pla.

Op die N7 tussen Malmesbury en Moreesburg gooi ‘n kind ‘n leë 500ml Lemon Twist bottel by die venster uit. Haar ma begin onmiddellik op haar gil. Die pa draai sy ruit af, tik sy sigaret-as uit en draai die CD harder.

Die Republiek van Suid-Afrika se vyftiende staatspresident word in ‘n algemene hospitaal in Zastron gebore.

In die ronde skadu van ‘n ‘Highjacking Hotspot’ advertensiebord buite Pretoria, maak ‘n kaper vir oulaas seker of sy pistool gelaai is. Hy druk die magasyn terug. Metaal glim dofweg. Daar sien hy nou ‘n Mercedes aan’t kom.

In ‘n heelal effens verder na links, draf ‘n wolf oor die skof van ‘n hoë bergpas en begin afdaal in die donker beligte vallei, ‘n son wat van ver noord af skyn, laag bo die horison, klief net-net onder die grys kors van die wolkbank in. Sneeubedekte pieke se winde en fyn stukkies ys, vee hard oor die lyf van die wolf, lang skaduwees van skerp rotse en spitsbome speel soos ‘n kil grafiek oor haar grys pels, waarbinne ‘n warm ribbekas haar hart omvou, heining gespan om ‘n vierslaapkamer-huis. Haar voete val stil oor ‘n ou pad van sneeu en dennenaalde, fyn mosse, klein riviertjies, taai grasse en versteende vulkaniese as. Sover as wat sy gaan, snuffel sy die lug met haar lyf, hygende rooi tong wat fiks pols, ore wat nooit ontprop nie, neus wat dae en weke se verbygaande dood en geboortes uitken, elke ander voetspoor se vorm onthou, die spoed van die voeteval ontleed, die karakter van die trapper inprent in haar brein, ‘n groot net waarin die eerste silwer vissies nou eers begin vassit. Ver, ver onder in die vallei, jare hiervandaan, daar waar dit uiteindelik uitmond in ‘n groot, vrugbare plein, waar die son meer skyn, die grond dieper groei, die oeste jaarliks ryk oplewer, huise blink, damme wink, daar by die mond, by die hek, die poort, die tolhek, staan ‘n man op vanuit sy stoel, geweer gemaklik rustend in die vou van sy linkerarm, en hy druk sy kop in die rigting van die donker vallei, daar waar hy die wolf vandaan kan voel kom. Hy kyk na die goue, vrugbare plein. Hy kyk na die swart vallei. Hy kyk na hier voor hom, waar die heuning en die steenkool ongemaklik worstel teen mekaar, soos die skoon en die vuil waters van die Amasone en die Negro riviere. Hy trek sy mond onder sy baard, ‘n strepie van ‘n glimlag, met ‘n dun stukkie houtskool geteken. Hy sit terug in die wiegstoel, gerusgestel. Tyd is aan sy kant.

Wanneer ek hulle weer oop het, spat die water hier voor my soos Die Braai ‘n perfekte landing maak.
“8.25,” jok ek toe hy opkom, “Te veel gespat.”

Ons swem nog so rukkie, te bly om die afgelope dag se vuilheid uit ons hare te kry. Ons loop kaal terug sodat die briesie en die son ons kan droogmaak. Terug by die dam, gooi ons weer in en kry dinge gereed vir die braai. Dit het nou begin reën hoër op in die berg, maar dis net ‘n los wolk, dit lyk nie of die wind dit die kant toe gaan waai nie. Ons kry die skaaptjoppies uit en pak dit netjies op die rooster. Die Braai was in bevel van sosaties, wat hy self gemarineer het, drie dae gelede. Dis sy trots. ‘n Geheime resep. Hulle word nou sorgvuldig langs die paar tjoppies gerangskik. Dan krap hy die kole oop, wat heeltemaal te warm is. Ons wag ‘n rukkie, so drie biere of wat, dan skuif hy die rooster oor die kole. Die reuk maak ons dorser en dorser. Ek gooi solank weer ons lyne in en begin ‘n paar ingewikkelde drankies te meng. Die reën beweeg verder teen die berg af, weg van ons af. Die verfrissende bries vee die middaglug skoner en skoner. Ruik byna die soutigheid van die see, of dalk is dit iets anders. Ek oorhandig ‘n groot plastiekglas aan Die Braai, wat dit met een hand aanvaar, die ander een rus op sy sy met die braaitang, asof Rommel wat ‘n slagveld beskou, karwats ‘n oomblik weg voor dit sou piets teen sy kamaste. Nog tenks daardie kant, manne.

“Ek noem dit ‘brandewyn en Coke’”.
“Klink eksoties. Waar’t jy geleer om dit te maak?”
“Op skool. Standerd ses.”
Ons vat elkeen ‘n groot sluk. Die ys raak aan ons tande, die soet drank laat ons altwee aan totaal verskillende dinge dink.

Die Braai dink aan die keer toe hy in die destydse Suidwes-Afrika was.

“Ons was net terug van die grens af. Ons was super gatvol. Was in die bos vir ses maande. Ses maande sonder pos, drank, of ordentlike kos. Allerhande manoeuvers. ‘n Paar keer kontak. Kubane, koedoes, miershope. Niks ernstigs nie. Ons was meer op ‘n recce missie. Moes dinge uitvind van die plaaslike bevolking en so aan. Die ouens by die basis het geweet ons was al heeltemaal te lank daar. Toe laat weet hulle eendag dat ‘n helikopter spesiale kos vir ons gaan bring. Dit was blykbaar die kommandant se verjaarsdag en hy’t gevoel ons verdien iets vir ons harde werk. Selfs roomys, het hulle belowe. Toe die helikopter uiteindelik kom, was ons al rasend. Lankal gatvol vir vlakvarkvleis en uintjies. Hulle kon nie land nie, of dalk was hulle net nie lus nie, want die terrein was redelik oop. Toe laat val hulle die kos van so twintig meter af. Ek sal in my lewe nooit vergeet hoe daai 5 liter plastiekhouer met roomys die grond getref het nie. Dit was natuurlik ook al heeltemaal gesmelt. Die deksel het afgespring en die roomys het soos ‘n romerige fontein opgespat, soos as jy ‘n druppel melk in stadige aksie afneem. Ons’t nader gestorm, maar dit was reeds besig om in die grond weg te sypel. Dit wat oor was in die bak, het ons met vingers uitgekrap en afgelek, maar dit was nie veel nie. Ons was so kwaad. Die res van die kos was darem ‘n troos. ‘n Paar steaks om te braai. Lemon Creams. Fizzers. Pakkies Kool Aid. Wilson’s Toffees. Maar die bottels gaskoeldrank het ook gebreek. Die bliksems was net moedswillig. In elk geval, toe ons uiteindlik pas gekry het, het ons die eerste beste kroeg in Otavi geslaan. Brandewyn en Coke, dis wat ons gedrink het. Klipdrift en Coca Cola, een van die beste gesamentlike bemarkingstrategieë ooit. Goeie goed.”

Ek dink aan daai keer in standerd ses.

“Was die eerste week van die kwartaal. Iets verskriklik. Al daai nagmerries wat jy in standerd vyf kry nadat jy hoor hoe word die standerd sesse deur matrieks gebliksem, was besig om waar te word. Nog nie een aand daai week het ons voor vier-uur gaan slaap nie. Moes allerhande kinderagtige dinge doen vir die matrieks. Hulle vermaak met grappies. En as hulle nie lag nie, dan bliksem hulle jou met ‘n krieketkolf. En as hulle lag, dan bliksem hulle jou ook. Moes push-ups en sit-ups en allerhande belaglike PT doen. En wanneer ons uiteindelik gaan slaap het, is ons natgegooi met dromme vol water. Dan’s jou hele bed nat en die vloer ook, so dan moet jy die mop gaan haal en skoonmaak. Of hulle flip jou bed terwyl jy slaap, daai tipe ding. En ons bly maar stil en volg die instruksies. Die eerste naweek was skaars ‘n blaaskans, want ek’t ingebly omdat my ma-hulle so ver van die dorp af gebly het. Was selfs erger oor die naweek. Die Saterdagaand is ek en een van my tjommies saam met drie matrieks daar weg. Uitgeslip. Soos gewoonlik bloot die diefwering op die tweede verdieping bokant die kombuis oopgeskroef, stilletjies oor die stuk dak geloop, dan af by die geut, oor die muur en daar gaat jy. ‘n Matriek wat net buite die dorp gebly het, het ons kom optel met sy pa se bakkie. Ons twee het natuurlik nie ‘n keuse gehad nie, ons moes saam. Springhaasjag, blykbaar, en ons werk was om die gewonde springhase te jaag met flitse en kieries. Het jy enige idee hoe kerm gewonde springhase? Klink soos babas, mensbabas. Dis te erg as mens daaraan dink. Maar die SPCA was nie eerste op ons lys van kwellings nie. Die matrieks het instruksies gegee vanaf tuinstoele agterop die bakkie en ons aspris verblind met die spotlight vir die grap. Partykeer sommer naby ons geskiet met die geweer as hulle ontevrede was met ons vordering. Moes dus maar gewillig die arme goed doodslaan en terugbring na die bakkie, waar die hulle sit en brandewyn en Coke drink het. Het my gat af geval daai aand, in ‘n diep donga. Later in die aand moes ons saamdrink. Klipdrift en Coke. As jy van al die ander dinge vergeet, was dit eintlik heel lekker. Beter as ‘n vervelige aand in die koshuis, in elk geval. Brandewyn en Coke agter op die afgeslaande klap van die bakkie. Warm aand met baie sterre. Was die eerste keer dat ek dronk was.”

Om my aandag bietjie te probeer fokus – mens kan tyd net vir so lank verwyl voor jy dit begin mors - gaan haal ek die kettie en sak klippies uit die kar. Die Braai maak ‘n leë kannetjie staan so twintig tree van ons af. Ons draai die stoele daai kant toe sodat ons dit rustig kan vat. Elkeen kry tien klippies. Die kettie, gemaak van ‘n goeie olienhoutmik wat ek ‘n paar jaar gelede naby die Groot Boom in die Tsitsikamma gesny het, pas in my hand soos ‘n rathefboom vir ‘n trokdrywer. Die rek is styf genoeg vir krag, maar slap genoeg om ver teruggetrek te kan word. Die velletjie kom uit die tong van ‘n leerskoen wat ek in die straat opgetel het. Dun koperdraad hou die dele aan mekaar vas. Gematigde tempering met vloerpolitoer laat die hout donkergeel gloei in my greep. Ek skiet, Die Braai skiet. Ons mis. Ons skiet weer, ons mis weer. Ons aandag is nou so gefokus op die blikkie dat dit voel asof ons dit enige oomblik spontaan aan die brand gaan laat slaan met ons vergrootglaslens-oë, wat konkaaf uitbult teen die sonnigheid in die lug tussen ons en die blikkie. Dun rooi aartjies trek saam deur die gestarde, uitgedopte slak oogwit-vlaktes, die marmer-rondings van die Paarl-rots, sou dit so verfynd gewees het. Met die mik en korrel, die asem gereguleer tot bergskilpadhiberneringsvlak (BSHV), die stil dam water waarbinne geen vis roer, die een oog wat toeknyp asof ‘n stinkgogga daarin gesit het, die harige arm wat terugtrek en aanlê langs die houtkorrel verby, die reuk van rooi karbinneband-rubber gemeng met sweet en leer en Cobra-houtvloerpolitoer, en die groen gras wat soos ‘n astro Olimpiese kettie-skietbaan voor ons uitstrek, die tong wat vog soek in die mond, die dam wat talm – dan die skoot, die ronde wit klippie wat deur die atmosfeer vliet, die reguit komeet, die harde windtonnelmot. Dis weer mis. Ons mis al twintig skote. Ek staan op om die klippies te gaan optel, of ten minste, die wat binne sig bo-op die kortgekoude kikoejoe lê. Soos ek stap, voel dit of ek wieg, die onstabiele dek onder my, die boot dobberend in die Saterdag-middag Saragossa. Sadrag, Mesag & Abednogo in Jebukadnezer se microwave. Sjoe, dis warm, met die laaste hardheid van die son wat in een groot skeut uitgegooi word, die spoorloos verdwene briesie se gaping gevul met kokende hars.

Die vleis is al omtrent reg, so ek trek ons stoele nader. Nie lus om onnodig skottelgoed vuil te maak nie, eet ons sommer van die rooster af, trek dit net van die kole weg en maak dit staan oor ‘n paar klippe. Die vleis is, soos verwag kan word, perfek gaargemaak. Hoeveel keer het Die Braai nie al gebraai nie? Niemand sou kon sê nie, selfs nie eers hy nie. Die mens braai al vandat hulle vuur uitgevind het, en die kanse is goed dat Die Braai daar was, oor hul skouers gekyk het en begin leer het by die vroeë meesters. Enigiemand wat byvoorbeeld mammoet kon braai, moes tog weet wat hy of sy doen. Dodos was duidelik ‘n ongelooflike stukkie hoender (groot op drumsticks, minder groot op buffalo wings). Die Braai het ‘n baie goeie storie van hoe hy eenmaal luislang gebraai het vir mense daar by Ellisras se Biltongfees so paar winters gelede. Dit was nogals ‘n ding gewees. Luislange is, om mee te begin, nie beskikbaar by die plaaslike slaghuis nie. En min dieretuine bied hulle s’n te koop aan. Jy moet hom maar gaan vang, daar êrens in die bos. Die Braai het syne in die Tuli-blok gaan vang. Hierdie was geen gewone slang nie – hy was ‘n mensvreter, dus het die inwoners van een van die nedersettings daar woord gestuur toe hulle hoor dat Die Braai op soek was na ‘n luislang. Hierdie een moes gevang word - vir te lank het hy die mense geterroriseer. Bedags het hy hulle beeste en bokke gevang terwyl jong seuns die troppe uitgevat het om te wei. Verskeie onparate beeswagters het ook so aan hul einde gekom. Later, wanneer die wanhopige krete van ‘n versmorende dier gehoor is, het die herders glad nie meer gaan ondersoek instel nie, hulle’t bloot so gou moontlik die res van die kudde uit die area probeer jaag, terug kraal toe. Snags het die luislang rondom die dorpie geseil op soek na laatnag voetgangers, veral dronk mense wat alleen huis toe geloop het, het dit selde gemaak. Die slang hou van whiskey-asems, is gesê, en net so het die whiskey op die rakke bly staan by die bottelstoor. Soms het hy selfs by oop tuinhekke ingeseil, die blaffende honde sommer heel ingesluk op pad na ‘n duttende oupa of hekelende ouma op die stoep. Hy’t stil te werk gegaan en dikwels was dit net die geklater van ‘n koppie wat uit ‘n verstomde hand op die sement laat val is wat sy teenwoordigheid verraai het. Kleuters is soos appeliefies van grasperke af gepluk, met net ‘n verlate swingball-stel en ligweg swaaiende tennisbal as teken van versteurde rus. Volwasse, sterk mans is oorval terwyl hulle sit en strokies lees het op die buite-toilet. Partykeer is paartjies wat besig was om mekaar te omhels – en dus nie so waaksaam was as wat hulle anders sou wees nie – saam gegryp, hul woorde van liefde wat verander in die struwelende krete van afgryse soos die kinkels van die slang stywer om hulle lywe saamvat, in die eg gebind in die hiernamaals, saam verteer oor ‘n periode van een maand, saam uitgeskuit met net hul juweliersware, broeksknope en belt buckles om aan uitgeken te word. Later, in die volgende dag se eerste lig, of in die flits- en fakkel-ligte van die aand se vreesbevange soekgeselskappe, sou die dapperste van jagters sidder ten aansigte van die monster se sleepsel, so wyd soos ‘n Corolla op plekke, nouer as ‘n fietswiel elders. Dit, het hulle gesê, was bewyse van die slang se vermoë om homself baie dun of baie plat te maak, want dit was nie ongewoon dat mense in kamers met toe vensters en toe deure oorval is nie. Hy sypel onder die deur in, het hulle gesê, hy kan in die nouste geute wegkruip, selfs onder omgedopte melkemmers lê hy en wag – iemand het selfs gesweer hy’t hom deur ‘n sleutelgat sien seil. ‘n Busdrywer weer, het vertel hoe sy weg versper was deur iets wat soos ‘n damwal gelyk het, hoe dit die bus ontspoor het en hoe die slang dan met ‘n rustigheid wat gegrens het aan arrogansie, deur die verongelukte passassiers gegaan het. Hy’t net die vetstes uitgesoek as hy kon, die maeres het dikwels ontkom. Die wat al die slang gesien het en oorleef het, praat van die oë, hoe die polsende elektriese geel sonneblom oë, omring deur die swartste donkermaan halfmane, hulle gehipnotiseer het, nader getrek het aan die kronkels (al wat hierdie hipnotiserende krag kon verbreek, was, volgens ‘n plaaslike sangoma, die frase “Benny in your 18-area! area!” wat hard uitgeroep moes word), die dik spierpype wat onder die gladde skubbe rondrol, en nader aan die mond, met ‘n speelse glimlag om die hoeke, groter as die oor van ‘n olifant, is gesê, en dis sonder om die kake uit te haak, want daar’s ook opgeteken hoe die bestuurder van ‘n ou Fiat Uno een aand tesame met sy motor spoorloos verdwyn het. Ses maande later, het iemand twee veiligheidsgordel buckles in die bos opgetel, kilometers van die naaste pad af. Die Groot Luislang Met Die Here Se Oë As Hy Die Duiwel Was. Die Laaste Dominee. Die Stil Drukker. Die Bloedlose Moordenaar. Die Kreet-inslukker. Vetmensvreterslang. Dis die name wat die mense hom genoem het. Dit was hierdie einste luislang wat Die Braai wou vang om te braai, want hy was van plan om ‘n fortuin te maak op die skou, dalk selfs nog die beste kos-stalletjie prys verower, wie weet. Die mense van die Tuli-blok het ook ‘n beloning aangebied vir die persoon wat die verpeste slang se stert kon knoop. Diegene wat hierdie uitdaging al aanvaar het, kon nog nie opgespoor word vir kommentaar nie.

Maar Die Braai het ‘n plan gehad. En hy’t ‘n bietjie kapitaal gehad om mee te speel. Hierdie was nie die tyd vir risikos nie. Nee, as ‘n helikopter die ding is wat jy nodig gehad het om die slang se bewegings te monitor, dan kry jy ‘n helikopter. Na ‘n week se gesoek het hulle hom opgespoor en agtervolg tot by sy slaapplek, ‘n groot netwerk ou erdvarkgate in ‘n ruie boskaas haak-en-steek bosse. Om hom daar binne aan te vat, sou dwaas wees. Dit was sy tuisveld, sy eie private Islandwana. Die Braai het ‘n bulldozer gehuur en ‘n groot, sirkelvormige strook bos - met sowat ‘n kilometer radius van die nes af, ingeval daar ander ontsnappingsroetes was – platgestoot, sodat hy sy lokval kon stel. Nog swaar masjienerie is ingeroep en ‘n groot sloot is reg rondom in die oop strook gegrawe. Die sloot was diep, omtrent vyftien meter, en sowat twintig meter wyd, en die kante is bedek met gladde seil wat met dik lae ghries besmeer is. Onder in die sloot is bokke en beeste, gunstiglik voorsien deur die plaaslike mense, as lokaas vrygelaat. Toe’t hy begin wag, want ‘n luislang kan maklik ses maande sonder kos gaan. Maar hierdie was geen gewone slang nie. Boonop het die slang gereeld net mense en diere doodgemaak sonder om hulle te eet. Die lyk van die versmoorde (soos die postmortem later bevestig het, tesame met al die gebreekte ribbes) microlight-vlieënier wat eenkeer naby die stukkende raam van sy vaartuig gevind is, het bevestig dat die slang soms bloot net wou afshow. Die microlight was juis besig om laag bo die grond te vlieg, synde hy besig was om kwelea-neste te bespuit. So dit was skaars ‘n week of die luislang het sy eerste verskyning gemaak. Hy’t direk tot teen die sloot geseil, afgekyk en gou besef wat Die Braai se plan was. Op sy tyd, het hy die hele binnerand van die sirkel omseil en homself presies vergewis van die lokval se omvang. Toe’t hy weer verdwyn in die ruigtes en vir nog drie weke in sy ondergrondse labirint vertoef. Die Braai het intussen sy plan gewysig en ‘n industriële hoeveelheid hars bestel uit Johannesburg uit. Verder het hy ‘n groot brandbestrydingsvliegtuig op gereedheidgrondslag gehad by ‘n nabygeleë militêre basis. So toe die slang weer sy kop uitsteek, het die vliegtuig sy enjin opgewarm en opgestyg. Dit was binne twintig minute daar, net terwyl die slang weer besig was met een van sy permiter wandelings. Hy’t wel die vliegtuig gehoor, maar die 10 000 liter water het hy nie verwag nie. Dit het hom van agter getref en die krag van die water het hom oor die rand van die sloot gegooi. Hy was magteloos teen die gladde wande, sy kop en kinkels kon net nie vatplek kry nie. In sy woede het hy reg rondom die sloot begin seil en al die bokke en beeste verwurg, sommiges ingesluk, die ander sommer net met sy stert weggeklap. Intussen was Die Braai en sy span besig om die sloot in afskortings te verdeel met voorafvervaardigde staalsluise. ‘n Paar uur later kon hulle daarin slaag om die slang in ‘n 50 meter afkorting te isoleer. Toe’t hulle die trokke vol hars nadergetrek en die hars in die sloot begin pomp. Die sloot het voller en voller geword, maar die slang kon nie sy kop bo die dik, digte hars hou nie. Hoe meer hy gespartel het, hoe vinniger het die hars drooggeword en hom meter vir meter begin vaspen in die amber vloeistof. ‘n Uur of wat nadat die hars-aanval begin is, was die sloot vol en daar was geen teken van die slang nie. Net as mens mooi kyk, kon jy die donker lyf desperaat sien wriemel in die hars, wat stadig maar seker alle suurstof uit die slang se onmiddellike omgewing gedruk het. Die Braai en sy poot-uit werkers het gaan slaap en die volgende dag teruggekom om die massiewe blok hars met die hulp van ‘n Puma-helikopter uit te lig en agterop ‘n groot voorhaker met twee waentjies te laai. Van hier af het die trok stadig teen die Limpopo afgery Ellisras toe, die rit alleen het ‘n week geduur, omdat die vrag so ongelooflik swaar was en ook omdat so baie mense langs die pad gestaan het om hulself te verwonder aan die slang. Gelukkig kon Die Braai al sy onkostes dek met die gemeenskap se beloning, want dit het nogals ‘n astronomiese bedraggie geword. Die slang het net betyds vir die Biltongfees in Ellisras aangekom. Op die skougrond is die hars losgebreek met lugdrukbore en die slang in ‘n groot waenhuis gestoor, waarin groot blokke ys die mure en vloer bedek het om die karkas koud te hou. Dierkundiges van die Johannesburg dieretuin het die amptelike lengte van die slang as 58,8 meter bevestig, met ‘n gewig van 7,6 ton (“Buitengewoon groot,” was hul amptelike verklaring). Die Braai het egter ‘n stalletjie gehad om te beman, so daar’s summier begin te slag. Die oorblyfsels van soveel as 38 mense is in verskillende dele van sy spysverteringstelsel gevind en die polisie het dit als in swart sakke verwyder, sodat forensiese toetse gedoen kon word. Die Braai het steaks, wors, maalvleis, tjops, skenkels en sop van die slang se vleis gemaak. Van die vleis het hy opsy gehou vir biltong en droëwors, sodat die op ‘n latere stadium verkwansel kon word. Die stalletjie was ‘n reuse-sukses, deels te danke aan die hoë profiel wat die slangjag die voorafgaande weke in die nuusmedia (Uit en Tuis, 50/50, Prime Time, Rapport, Charl Pauw – almal was daar) gehandhaaf het en natuurlik ook omdat Die Braai die vleis so goed voorberei het. Die slang is heel gebraai, maar nie op ‘n spit nie – hy’s oopgekloof aan die penskant en oopgerek. Toe’s die hele gedoente uitgestrek oor die braaidromme, wat vir sestig meter kop aan stert gestaan het. Hardekoolvuurtjies het daaronder gewoeker en Die Braai het geheime marinade (koskenners van verskeie tydskrifte het die resep probeer ontsyfer – almal was dit eens dat daar appelkooskonfyt, swartpeper en rum in was, maar niemand kon saamstem oor die ander bestanddele nie. Naeltjies, het sommiges beweer, sonder twyfel. Rooibostee was ook ‘n gewilde teorie. Een was oortuig dit was gemaalde kremetartpitte en soet tsammastroop. Selfs Aromat is genoem.) oorgesmeer met ‘n verfroller. Mense het tougestaan van vroegdag af, want die tou was lank, al by die skouterrein uit en oor die spoorwegbrug. Ander kosstalletjie-eienaars kon maar net hul koppe skud, want hier was voorwaar kompetisie waarmee hulle nie rekening gehou het nie. Skielik was Koedoepootsop ou nuus, Impala Steaks in Lukwartsous blase verby en selfs die Witsous Krokodilkool met Fyngekapte Karplonge daaroor kon nie kers vashou by Die Braai se skeppings nie. Vir die massas was daar hamburgers, worsrolletjies, tjops-en-patats-combos ensovoorts, maar vir die fynproewers het Die Braai homself oortref: Koue Luislang Murg (aka Frozen Murghurt) met Vars Aarbeie in ‘n Cone was die gewildste nagereg. Gebraaide Luislang Rugsteaks in Poelpetatersous met Skilpad-eiers Gepekel in Nartjie-asyn Daaroor kon enige honger stil. Gestoomde Luislang-Hart Gestop met ‘n Handvol van Vyf Verskillende Soorte Pampoen, Vyf Soorte Kerrie, Vyf Soorte Olywe, Mopaniewurms en ‘n Kreefstert, vars ingevlieg uit Lambertsbaai, het internasionaal opslae gemaak. Ten minste twee Franse chefs het selfmoord gepleeg omdat hulle nog nie self daaraan gedink het nie. En die laaste dertig sentimeter van die slang se stert is op die laaste aand van die fees, voor ‘n live TV-gehoor met Jan Spies as gasheer, as Luislang Stertpunt Vol Vet (Tot Kaiings Gebraai) Berei in Glenfiddich 30 Year Old Malt en Oesters, vars ingevlieg uit Knysna, aan ‘n plaaslike miljoenêr beesboer (daar was net een) verkoop vir R4500, met die opbrengste wat aan ‘n plaaslike welwillendheidsorganisasie gegaan het. Ondanks pleidooie van sy dokter, synde sy cholestrol-vlak reeds hoog was, het hy dit alleen opgeeët en vir twee weke daarna nog behaaglik die ryk geur uitgeburp net om sy vrou iesegrimmig te maak. Dit was dus geen verassing dat Die Braai aan die einde van die naweek weggestap het met die prys (‘n wisseltrofee in die vorm van ‘n tjop, ook ‘n silwer braaitang en ‘n voorskoot met sy naam op) vir beste kosstalletjie nie. Maar nog was dit het einde niet aan die massiewe mensvreter luislang van die Tuli-blok nie. Die vel is verkoop aan leerhandelaars, skoenmakers, beursiemakers, beltmakers, hoedmakers en handsakmakers. Ontwerpers uit Italië, Frankryk en Amerika het oorgevlieg om die veiling, gehou by die vendusiekrale op Thabazimbi, by te woon. Al die kopers was tevrede, nie in die minste die biljoenêr van Las Vegas wat daar weg is met 20 vierkante meter vel nie. Hy’t beplan om sy hele limousine daarmee oor te trek, binne en buite. Die Braai het rustig sy rande getel, en dollars, sy onkostes gedek en die res teruggestuur na die Tuli-blok, waar die mense ‘n nuwe skool opgerig het, hul uitgedunde veekuddes opgebou het en ‘n reptiel tema-park oopgemaak het rondom die nou verlate ondergrondse paleis van die slang. Sol Kerzner het hulle gehelp om ‘n klein casinotjie te begin (Paul Hogan was daar vir die openingseremonie) en deesdae spog talle inwoners van die Tuli-blok met nuwe karre. In elk geval, dis dan hoe dit gekom het dat Die Braai eenkeer luislang gebraai het.

Die tjops is spesiale Karoo Dohne-Merino skaaptjops, wat ek gekoop het toe ek laas deur Beaufort-Wes gery het. Niks klop ‘n Karoo skaaptjoppie nie. Dis soos Farmer Brown destyds gesê het, ‘they taste so good, because they eat so good’. Die Karoo-skape kruie hul vleis so van nature, so in die loop daar op die droë vlaktes, waar hulle knibbel aan allerhande droewige bossies. Maar dis juis daardie bossies wat hulle vleis aan die einde van die dag so kenmerkende smaak gee. Die Braai se sosaties is ook iets uit die bose. Hulle smelt in jou mond, die vleis goed verweer deur die marinade, sy geheime resep wat die gewone vleissmaak verhef tot ‘n opwindende, jeugdige smaak, met ‘n kruieneus, sag en pikant, maar dit bly luier op jou tong, in die matte van jou verhemelte en al die pad in jou keel af as iets heel eksoties, iets misterieus, met die smake van droë perskes, agurkies, piesangs, ou skoene en nat diervelle wat jou telkens verras. Saam met die ete maak ons die brandewyn klaar en begin aanskuif na die volgende bottel. Dit lê goed langs die rooivleis, vryf die een been so oor die ander, krap ‘n bietjie hier en daar, behaaglik. Die bene lê al mooi opgestapel op die rooster toe Die Braai se briek skielik skree. Hy staan rustig op, die BMT van ‘n ware professionele sportman, met ‘n sosatie tussen sy tande en brandewynglas tussen knieë vasgeknyp, en kap vas. Dit lyk nie na ‘n baie groot vis nie, so hy hou hom eers net so terwyl hy die sosatie klaar eet en die brandewyn op ‘n klip staanmaak. Na ‘n kort gespook het hy die vis op die wal. ‘n Karp, so twee kilos. Hy’t skaars die karp in die hounet of my stok skiet ook styf op die mikstok. Selfde resultaat. Byt-tyd is terug. Soos dit stadigaan begin donker word om ons, trek ons nou met reëlmaat die visse uit. Asof iemand nou net weer die ritssluiter skiet gegee het, nou stroom die silwer slymbekkies na ons hoeke, klingelende munte uit ‘n slot machine. Die hounet is later vol, so ons laat hulle maar weer vry. Sonder om regtig te probeer, word ons drank-voorraad met groot gemak uitgedun. Dis byna asof daar twintig mense is in plaas van twee. Of asof ons vir twintig ure sit en drink in plaas van twee. Dalk was daar, of dalk het ons. Die reën bly gelukkig weg, en wanneer dit sterk donker is, kan ons net af en toe die gloed van veraf weerlig agter die berge sien. Ongelooflik, daardie volt-vingerpunte, wat so kan kraak en breek, blou en geel, bosse aan die brand slaan, klippe laat skerwe spat, skape laat sidder, beeste laat melk skommel. Dis baie koeler vanaand – seelug ingestoot op ‘n aan en af windjie - so ons blaas weer die vuur aan die lewe net om so nou en dan ons hande warm te vryf voor ons inkatrol of nuwe aas aansit. Die karpe byt sommer nou op enigiets. Wurms, pap, mieliepitte. Ek sweer as ek nou ‘n stuk kurk aansit sal ‘n karp hom met oorgawe daaraan verlustig. Dis seker so nege-uur of wat toe ek die laaste bietjie vloeistof onder uit die vodka-bottel (ons drink lankal al sonder mix) in my keel afskud, soos ‘n dors draadmaker wat die swart sappies uit ‘n kruidjie-roer-my-nie saad op sy hand uitskud en gulsig aflek. Ek kyk na Die Braai en wil net aankondig dat dit dalk tyd is vir die witblits, toe ek iets snaaks merk omtrent sy kop.

“Hey, jou kop is in die vorm van ‘n vodka-bottel.”
Die Braai kyk my vir ‘n oomblik stip in die oë. Of so stip as wat dit moontlik is binne bestek van die woordeboekdefinisie.
“Joune ook.”
“Regtig?”
“Ja, wag, kom nader, dan druk ek dit terug in vorm in.”
Ek bring my kop nader en vat terselfdertyd sy vodkabottelvormige kop in my hande en begin dit terugdruk in die fatsoen van ‘n menslike kop. Sy kop voel soos sagte klein onder my hande, asof daar nie been of spiere in is nie, so dis heel maklik en na ‘n minuut of wat lyk hy weer rofweg soos Die Braai. Dan kry ek egter ‘n ondeunde idee en maak so paar klein veranderinkies. Ek veeg Die Braai se alreeds yl hare uit die pad uit sodat sy glimmende bles meer sigbaar word. Dan trek ek ‘n punt hier en daar, fatsoeneer ‘n moesie of twee, so groot soos hanepootdruiwekorrels. Kap my hand karate-styl oor sy mond en gee hom daardie kenmerkende lippe. Om af te rond, bol ek sy wange soos ‘n vrot plastieksak in die Apiesrivier, en trek die pante van sy vetterige ore nader aan sy skouers. Hulle lyk nou al na die van ‘n klein wit olifantjie, of albino plakkie-blare vasgegom aan die kop van ‘n seekoei. Ek kyk hom so. Ja, dis duidelik: PW Botha.
“Daar’s hy,” sê ek, “dis beter. Wat van my?”
Hy leun terug in sy seilstoel en trek sy mond soos ‘n haarkapper wat nou net iets verkeerd gedoen het, maar op die punt is om jou te vertel dat dit die nuwe mode is en dat almal hulle hare so dra.
“Ja, heel goed. Jou kop voel soos putty. Kom ons drink die witblits. Hierdie vodka is so half waterig.”
“Ja, dis wat ek ook gedink het.” Ek grawe in die drankboks rond en kry vir ons elkeen ‘n 500ml bottel witblits uit. Dis gebottel in Prins Albert, goeie appelkoos goed hierdie, nie ongeskikte agterplaas uintjies en Skotse distel kasaterwater nie. 75% alkahol. Dis mos nou beter.

“Onthou jy daai keer,” begin Die Braai nou, terwyl ons die bottels teen mekaar klink en ons afsonderlike seënwense onderlangs murmureer aan ons eie gode (hy: “Mene mene tekel, so bedel my skedel”; ek: “Vol riviere!”), “toe ons in Peru was vir die Wêreld Braai-kampioenskappe. Wanneer was dit? Peru? 1986 dalk. Of was dit 1996? 1996, ja. Elk geval, dit was die vooraand van die kompetisie en die hotel het gegons: al die spanne, die media, die fans, die groupies, die dwelmhandelaars, die bookies en die vleis reps. Toe hoor ons mos van die Duitsers wat hierdie nuwe stukkie tegnologie uitgevind wat van ‘n afstand van twee meter kon bepaal of jou hoender mooi gaar is tot op die been of nie. Toe’s almal op hol. Die Amerikaners het die reëlboek gegryp om te kyk of dit wettig was, die Japanese het huis toe getelegram om hul ingenieurs iets soortgelyks te laat ontwerp voor daglig en daai Sweed – Takmannun, Hundersson of iets - wat verdedigende solo hoenderbraai-kampioen was, het selfmoord gepleeg, arme man, voor ‘n KFC later daai aand. Maar wat het ons gedoen? Nee, die Springbok-span het nog ‘n bier gedrink en toe vroeg gaan slaap. Terwyl die ander spanne rondgeskarrel het, het ons rustig geslaap en gedroom van gaar vleis en die ritmiese gesprinkel van sout en speserye oor vlerkies. Die volgende dag was ons uitgerus en gereed, al het ons nie die nuutste Duitse tegnologie aan ons kant gehad nie, al het ons nie daai spesiale Nike braaitekkies – haha, ‘Just Draai It’ onthou jy, het ons gespot – van die Amerikaners gehad nie en al het ons nie die Peruviaanse toordokter se seënwense gehad nie. Tog, toe die skoot klap en ons die vuur aansteek, was daar niks tussen ons en die kompetisie nie. Niks behalwe welwillendheid nie. Want ons’t nie gebraai om te wen nie, ons’t gebraai om lekker vleis gaar te maak. Ek bedoel, natuurlik het ons ons geheime gehad – ons kruiemengsels, smeergoedjies, draaitegnieke – en ons spoed, die ongelooflike ritme waarmee ons gebraai het. Ons was tog altyd ‘n span, al was dit eerder net ‘n groep vriende. Niemand het omgegee dat Dirk die hoofbraaier was nie. Niemand het omgegee dat jy die hoofdraaier was nie en niemand het my gepla nie, ek was maar net daar om dinge bymekaar te hou. Elke braai het ‘n denker nodig. Maar filosofie alleen braai ook nie steaks nie, dis die geheel wat steaks braai, nie die individu nie. Die individu geniet wat die geheel produseer. Tussen al hierdie gemak en grasie deur, was ons maar net natuurlike braaiers. Jy kon vir ons ‘n pikkewyn gee en ons sou hom kundig gaarmaak, selfs al het ons nog nooit voet aan MacMurdo Sound gesit nie. Kameelskene sou ons nie voor nee dankie sê nie, selfs plankton-patties sou ons voor kans sien.

Terwyl die Britte als tot op die sekond uitgewerk gehad het en die Indiërs hul kerries met elektroniese skale geweeg het, was ons vol kwinkslae en staaltjies, om nie van Frikkie se vuil grappe te praat nie. Maar ons’t gewen, sonder moeite. Hoekom? Want ons’t die braai verstaan. Die braai was binne ons. Die braai was deur ons. En deur die braai, het ons bestaan. So eenvoudig soos dit. As jy nie met rook, vuur, vonke, vleis, tjops, wors, hoender, vis en steaks kan praat nie, as charcoal jou nie liries kan maak nie, as die samestelling van braaisout nie vir jou ‘n simfonie is nie, dan wat het jy? Die lelike kant van braai. Die afguns, die afsydigheid, die nydige aanmerkings, die venyn van braaivurk ‘ongelukke’ en braaive-by shootings. Braai is soos liefde. Hoe meer jy dit probeer koop, poleer, uitwerk, verfyn of beplan, hoe meer gaan jy dit vernietig. Dis nie iets wat in ‘n pakkie kom nie, daar’s nie 1-2-3 stappe waarteen dit voorberei word nie. Dit kan nie verduidelik word in tydskrif-artikels nie. Daar’s nie duidelike, gewaarborgde gevolge nie. Dis soos om beheer oor te neem van ‘n land in sentraal Afrika. Kort voor lank besef jy dalk almal is nie aan jou kant nie – dan’s dit net ‘n kwessie van of die muskiete jou stuk vir stuk gaan uitmekaarpluk en of die pangas jou snare gaan kom afkerf. Vleisbraai mag nie despoties word nie. Dit het nie plek vir absolute heersers nie. Soms brand die vleis, soms sit dit aan die rooster vas, soms drup die vet in die kole en die hele spul slaat aan die brand. Soms dink jy dis gaar, maar dan bloei dit nog om die been. Soms oordoen jy dit en dan sit jy met iets heel onsmaakliks. Maar as jy te min aandag daaraan gee, dan val die tjoppie dalk heel uit wanneer jy die rooster draai terwyl jou oog op die ontblote been van ‘n ander vrou talm. Dan val daai tjop op die gras of in die as en wie lyk soos ‘n poephol? Jy lyk soos ‘n poephol, niemand anders nie. Jou hele parlement sal summier die area verlaat en jou alleen voor die media agterlaat. Geen braaimeester laat val vleis nie, al vee jy dit hoe gou skoon en pak dit terug op die rooster, wees gewaarborg, iemand sou jou reeds gesien het, al gaan vertel hulle nie altyd onmiddellik nie. Dit sal in elk geval jou eie gewete bly treiter. Die liefde kan ook nie vinnig perfek gebraai word nie, hy vat geduld. En hoe dikker die tjop, of hoe meer ingewikkeld die vleis – vat nou byvoorbeeld ‘n olifantslurp – hoe meer geduld het jy nodig. En as jy nie geduld het nie, dan kan jy maar net sowel by die Spur gaan eet, maar dan moet jy die gevolge dra van week-oue chips en uieringe: ‘n spuitpoep wat halos uit jou toilet se enamel sal skroei. Liefde, regerings en braai. Nie dinge om alleen mee te lol nie.”
“Ja.”
“So is dit dan nou maar.”
“Ja. Jy weet wat sê hulle van spyt?”
“Dit kom altyd te laat?”
“Ja, en spuitpoep kom altyd te vroeg.”


Die witblits is nou leeg, ek merk dit bloot omdat my hiper-realiteit nou sonder die res van my lyf na die kar loop om nog iets te drinke te gaan haal. Ja, wel, jy’s op jou eie ou vriend. Ek wil net iets agterna roep, maar bedink my dan – wat sal Die Braai dink van sulke simpel paranoia? Dan merk ek PW Botha so ent verder die donker in, besig om water af te slaan, oftewel, die stoetram se gieter leeg te maak. Die Braai, wat steeds langs my sit, sien hom nie, so ek weerhou die waarheid van hom. PW Botha staan so wydsbeen, en daar waar hy urineer, verskyn ‘n ou gees uit die grond, wat hom nou vra (sonder enige klank, maar ek sien die onderskrifte duidelik):
“Wat dink jy doen jy, PW?”
“Ek slaan water af.”
“Wie gee jou die reg? Hierdie is my plek.”
“Ek’t nie toestemming nodig nie, ek’s PW Botha. Ek is Die Toestemming.”
“Mmm. Ek kan reël dat dinge vir jou ongemaklik gemaak word aan die ander kant.”
“Wat ook al. Ek’t ‘n ooreenkoms met Die Baas. Hy’s aan my kant.”
“Hoe kan jy so seker wees?”
“Ek’t my skuld afbetaal, Hy’t gesê alles is in die haak, ek het die hele ding op skrif.”
“Ons sal sien.”
“Ja, ons sal sien, tot siens.”
“Tot siens.”

Daarmee arriveer my liggroen neon buitelyn met ‘n vars bottel drank, ek wens ek kan jou vertel wat dit is, maar ek kan nie, net dat dit met gemak oopskroef in my hand en my oombliklik ‘n binne-aarse orgasme gee. Dis asof verskeie vroue my nou van binnekant af probeer ooplek. Die Braai, PW, beide nou weer in die stoel, slaan sy bottel met twee slukke leeg. Ek kan dit nie glo nie, maar dan kry ek dit ook reg. Kwyl hang dik in my baard, so ek krap dit nou uit met ‘n stokkie en gooi dit eenkant. Daar waar dit land, smeul die kikoejoe soos plastiek. Met my een oog wat nog werk, staar ek na wat onderin my leë bottel geskryf staan: Ons Hou Julle Dop. Ek lees dit hardop voor vir Die Braai.
“Mmm. Sou dit beteken dat hulle net ons dop hou tot later, of hou hulle dit vir ewig?”
“Ek’t gedog dit beteken dat iemand ons dophou.”
“Dis nie wat daar staan nie, nie waar nie? Lees weer.”
“Ons Hou Julle Dop.”
“Mmm. Moeilik om seker te wees. Dalk is die dop fisies, ‘n dop waaronder ons kan kruip, en hulle hou dit net vir ons tot ons gereed is om dit te bewoon.”
“Jy’s ook maar lekker dronk.”
“Dankie, jy ook.”

Van oorkant die vallei hoor ons nou die kenmerkende klanke van ‘n partytjie opwel. Musiek bereik ons in vals grepe, die detail verlore langs die pad. Wanneer ons mooi kyk, merk ons so paar ekstra ligte daar van die opstal se kant af. Stringe liggies is in van die bome opgehang, asof groot vet vuurvliegies daar sit en flikker. Die plaaseienaar se partytjie is dus in volle swang. Ek kyk vir Die Braai, Die Braai kyk vir my, saam kyk ons na ons stil stokke.

“Kom ons doen dit,” sê hy nou en begin inkatrol.
“Ja, ons’t niks om te verloor op hierdie stadium nie.”
“Dis wat jy dink.”

Ons is daar weg met ons dates vir die aand. Die Braai vat vir Bob synde hy hom gevang het en ek en Charelize is die glanspaar vir die aand. Bob wou aanvanklik niks weet nie, maar Die Braai oorreed hom met so paar slukkies whiskey en beloftes van nog. Charelize vra bloot ‘n minuut om haar make-up te doen, wat ons haar gun. Ons kon seker geloop het ook, maar ons besluit om nie die donker met ons flou flits aan te durf nie en vat die Beetle.

“Hoe lyk ek?” vra Charelize van agter. Ek draai my nek vir ‘n oomblik en merk hoe sy ‘n bietjie lipstiffie wegsmeer met haar pinkie. ‘n Mondhoek trek ineen, skiet los, lippe wat uitpruil in ‘n aanlokkende rooi ketel-tuitjie.
“Pragtig, moenie bekommerd wees nie, jy’s beeldskoon, hoor.”
“Is ons al amper daar?” vra Bob nors.
“As ek jy is, sal ek stilbly,” sê Die Braai en draai om in sy sitplek sodat hy Bob in die oë kan kyk, “Ons wil nie moeilikheid van jou kant af hê nie. Jy gedra jouself. Geen politieke praatjies nie. Ons gooi jou terug in daardie mistroostige dam sonder skroom. Of die plaaswerkers kry jou vir Sondag-middagmaal. Ons is nie baie lief vir jou nie, OK?”

Die grasperk voor is vol karre, maklik ‘n honderd, dalk meer, want hulle staan ook verder om deur die wye es van die werf na die waenhuis toe, so ek stop sommer aan die kant van die pad tussen die azaleas, waar ‘n Isuzu bakkie en ‘n Cressida ook reeds staan. Onder die donker dak van die bome glinster die huis in swaar geel lig, die voorstoep is bedrywig en stringe Kersfeesliggies rank teen die trappies uit, om die stamme van bome en langs geute op. Die huis lyk skielik groter as gister, die ligstrepe en mensehitte wat soos gloeiwurms en kloppende neon deur die swart lowersambreel van die nag versprei, dit oplig en ooptrek, op-pof soos ‘n markiestent waaruit die wind van binne waai. Met die naderstap, ek met Charelize aan die arm en Die Braai en Bob so meter uit mekaar, hoor ons die vriendelike gedruis van mensestemme, die gelag en geklink van glase, skel strofes musiek, die hond wat plesierig blaf asof iemand met hom speel, kinders wat jolig rumoer en allerhande uitroepe wat weerklink. Ons is duidelik by die regte plek. Soos ons by die voorstoep-trappe opstap, draai gaste in ons rigting en ek steier vir ‘n oomblik. Dis dan Nelson Mandela daai met die kurktrekker in sy hande! En Gandhi wat daar ‘n koeksister sit en bewonder! En Ronald Reagan, Mobutu Sese Seko, Madonna, Gert Vlok Nel, Faffa Knoetze, Macauly Culkin en Brumilda van Rensburg! Al hierdie beroemde mense op een stoep!

Dis eers toe Die Braai onderlangs iets sê van ‘n “maskerbal” dat ek besef dis net maskers. Die gasheer kom ons nou tegemoet met oop afslag-hande en ‘n Joshua Doore-glimlag. Ons gasheer vanaand is Johann Stemmet. Op sy onderbaadjie is geborduur, in goud en rooi en groen en blou: fakkels en hutte, potte en panne, sonne en grasse, mense en diere. Vir ‘n oomblik oorweeg ek om klere en al die landskap binne te spring, maar ek pluk betyds die skuifdeur toe, sodat my neon buitelyn in die glas vasspring en stadig afgly grond toe. Johann Stemmet se ferm handdruk ontvang my terug op die stoep met al my klere aan.

“Welkom, welkom! Gedog ons sien julle dalk glad nie! Lekker om julle hier te hê! Laat ons sien... PW Botha, Paul Kruger, Robert Mugabe – jy hou jou vuil pote tuis, gehoor, hierdie plaas word deur CDK Sekuriteit beveilig ou maat - en, my magtag, Charelize Theron! Drie sware manne van Afrika en Benoni se silwerste servies! Dis ‘n eer, wat meer kan ek sê! Kom binne, kom binne, skink vir julle drankies, die tafels is swaar gelaai en die nag het skaars begin...”

Die Braai kyk my nou gemaak-vuil aan. “PW Botha, ne? Baie snaaks.” Hy kyk vir homself in die goud-omraamde spieël wat in die voorportaal hang, ‘n glimlag wat oningenome bo sy swaar Gariep Dam-kennebak hang.
“Ja wel, Paul Kruger... bly te kenne,” antwoord ek hom terwyl ons handskud en histeries uitbars van die lag. Deur my gestoofde ore klink ons gelag soos die getrommel van hande op leë molassedromme. Posh Spice en David Beckham, wat besig is om te vry op ‘n sofa neffens ons, kyk gesteurd op na die nuwe gaste. Posh se bruin muisneusie wriemel onwillekeurig toe sy vir Bob merk, terwyl David nie sy oë van Charelize se strapless swart nommertjie kan hou nie. Posh merk op hoe hy staar en pluk hom aan sy kraagpunte terug na haar dun tongetjie toe. Bob raap ‘n glas drank van ‘n verbygaande skinkbord af op, skommel die ys ligweg rond, sy bultende rooi slymoog vir ‘n oomblik teen die rand van die glas asof hy die meniskus vir onsuiwerhede inspekteer - dan slaan hy dit weg met die afgryslike poëtiese meganiek van ‘n Nyl-krokodil wat ‘n impala-ooi deur ‘n worsstopper druk. Die rol van die dood.

Johann Stemmet lei ons deur die huis, waar mense orals in die verskillende kamers gesels en lag, dans of drinkend en rokend rondsit. Die huis is vol ou meubels, dik matte, swierige potte en oordadig geraamde portrette van voorvaders, berglandskappe en stil-lewe vrugtebakke wat op vensterbanke staan en melerig word. Op die leiklip-agterstoep gaan dit eers lekker. ‘n Groot biljart tafel is uitgesleep deur die skuifdeure van ‘n aangrensende sitkamer. Richard Gere lê aan oor die groen vilt terwyl Salman Rushdie teen ‘n pilaar leun en sy stokpunt blou vryf. Rook kom by sy ore uit hoe langer hy vryf. Swart vlerke klap in sy oë. Mense hou die aksie dop vanuit gemakstoele om groot ronde tafels, waarop voorgeregte en veelkleurige gesambreelde drankies tussen wilde blommerangskikkings rondstaan, disas, proteas, heide en speldekussings van aller aard. Julio Iglesias het sy smerige sonbruin arm om die skouers van ‘n jong blondine, Kerry McGregor, seker, hulle almal lyk later dieselfde. Sy papierwit tande lyk uitgeknip teen sy vleisige tong, haar oë is pêrels wat skommel in die palm van ‘n gladde hand. Mike Tyson sit tevrede met sy voete op die tafel, sy dik nors mosselkrakermond wat ‘n sigaar kou, terwyl Baby Jake Matlala sy skouers masseer. Gerrie Coetzee sit langs hom en rooiwyn drink met Brenda Fassie op sy skoot. Sy’t een vinger by Gerrie se hempsak in en die ander vroetel met die olyf in haar drankie, fyn gebalanseer op haar silwer geruite sykousknie. Die swembad is ook in rep en roer, mense plas en duik, spat mekaar nat en gooi die vrouens in. Kinders skop balle en gooi frisbees vir die hond – nie meer ‘n Labrador nie, nou ‘n langhaar Lassie - wat swaar hyg oor sy ou longe. Verby Sharon Stone se skouer kan ek nog ligte dieper die tuin in sien – dit lyk asof iemand tennis speel agter die dik selonsroosgordyn en ‘n vyfstuks koperorkes (“Die Musiekfabriek,” raai Die Braai) blaas baldadige melodieë die werf in vanaf die stukkende gazebo, wat sigbaar sidder en tril saam met die silwerware op die tafels elke keer wanneer basnote die atmosfeer verdik. Lang tafels met wit tafeldoeke staan op die gras in die rigting van die swembad, kreunend onder hoog opgestapelde disse en dinge, Weskus-krewe, skaapboude, slaaiblare, vrugte en varke. ‘n Blinknat Felicia Mabuza-Suttle in ‘n luiperdvel volstuk-bikini kom na ons toe aangedraf, Karl Marx kort op haar hakke, sy dik grys snyerspak sop-sop soos hy hardloop, swart leerskoene in die een hand. In die verbygaan stamp hulle aan ons, wurm tussen die mense deur en verdwyn in die huis. Johann sien ons lyk effe besorgd.

“Dinge is reeds buite beheer. Mag die beste man – of vrou - wen! Hou julle vingers op die knoppies!” Hiermee druk hy aan in die rigting van die tennisbaan, ligvoets en rats in sy Soft Shoes.
“Dit lyk vir my, ons is by die agtste dag van die Silbersteins,” sê Die Braai met ‘n plonsende glimlag op sy dik PW Botha gesig terwyl hy ‘n bottel sjampanje en drie glase opraap van ‘n nabygeleë tafel. Hy hou twee na my en Charelize uit en skink dit vol. Bob staan ook nader, reeds drie drankies agter die blad, die vierde in sy hand. Hy vra: “Wie’s die Silbersteins?” Sy brille is opgewasem. Dit moet tog maar taai wees om heeltyd in ‘n dam te bly. En as niemand dan van jou hou nie, moet drank seker een van min toevlugte wees. “Niemand spesiaals nie. Ryk wit mense,” sê Die Braai nou in antwoord. Drank is ‘n goeie god, wat selfs simpatie het vir geheelonthouers, hulle met ope arms sou ontvang indien hulle swig, hulle met respek alleenlaat sou hulle sterk staan. Bob bring sy whiskeyglas na ons dun glasies toe en ons klink-klink ‘n heildronk teen mekaar.

“Op die agtste dag!”

7.

Ek leun teen die draad van die tennisbaan, my hande bokant my kop ingehaak in die groot geroeste ogies van die lendelam heining, sodat my neus naby die draad tot rus kom, elke oog wat deur ‘n afsonderlike diamantvormige ogie loer. ‘n Skare van omtrent dertig mense is hier om die einde van die aand se eerste tenniswedstryd mee te maak. Sommiges staan rond, ander sit op die ou tuinbanke waarvan sommige houtsporte makeer. Eenkant teen ‘n oefenmuur is Martina Navratilova besig om op te warm met ‘n Dunlop houtraket. Daar’s nie ‘n telbord nie, so ek vra die dame langs my. Haar parfuum, wat na ‘n gelyke mengsel van laventel, jenewer en pienk briefskryfpapier ruik, kom saam met die antwoord by my sintuie aan.

“Pat Cash het die eerste twee stelle gewen, maar Lendl het die derde en vierde in die valbyl gewen. Die vyfde gaan nou al lank aan. Dis nou 20-19 vir Lendl met sy afslaan wat kom.” En ‘n bietjie tandepasta op die asem, ruik ek nou. Alhoewel sy praat sonder om na my te kyk, sien ek nou dis Margaret Thatcher, kompleet met vaalrooi hare en ylblou werkspakkie. Fier, regop, gepoeier oor die plooie, effe goud oorringe en ligte pêrel halssnoer.

“Hel, nogal ‘n taai wedstryd,” sê ek terwyl ek ‘n kelner nader wink vir nog ‘n drankie. Ek vat sommer die bottel by hom, ondanks sy gewalgde gesigsuitdrukking. Die kelners en kelnerinne dra almal maskers van strokiesprent-karakters. Elmer Fudd was ‘n goeie keuse vir hierdie suur jong man. Charelize is nie meer aan my sy nie, sy’t vir Steve Hofmeyr en Arnold Vosloo raakgeloop, so hulle gesels nou oor die ou dae, Boetie Op Maneuvres, Agter Elke Man en die M-Net Face of Africa- kompetisie. Dit was heeltemal bo my Cadac. Die Braai het ek in die drukgang by die kostafels agtergelaat. Hy was besig om, skilpadjie in die hand, die meriete van die metaforiese verdienstelikheid van vingerhappies in 21ste eeu literatuur (“Neem byvoorbeeld The Great Gatsby...”) met Nettie Pikeur en Andre P. Brink te bespreek. Ook dit het my nie aangestaan nie.

“Ja, tennis is nie grappies nie. Tennis is soos die Koue-Oorlog. Soms raak dit belangrik om klein eilande oor te neem. Of om kernwapens te bou. Of sanksies af te dwing.”
Ek kyk haar vraend aan, want is dit dan nou die tyd om die verlede te probeer verdedig? Sy kyk egter steeds nie in my rigting nie. “Wat bedoel jy?”
“Jy weet, breekpunte. Wanneer jy hulle kry, moet jy hulle vat, dis die belangrikste aspek van tennis. Grondbesit is van allergrootste belang. Van hierdie eilande kan jy vliegtuie laat opstyg, jy kan jou vloot daar laat vasmeer, jy kan skape daar teel, produkte vir verbruik in die tuisland. Maar breekpunte gebeur nie vanself nie. Jy moet die basiese aspekte van die spel ook kan oorheers. ‘n Sterk eerste afslaan is ‘n moet – dis die kernbomme, die vliegdekskepe, die B52’s - so ook goeie baseline, backhand en volleyshots – die troepe, die tenks en die fighter jets. En jy moet atleties wees, uithouvermoë hê en bowenal, jy moet geduldig wees. Jou fiksheid is die olie, die diesel en die jet fuel. Geduld is die sanksies van tennis. Die vermoë om jou opponent se produkte as niks af te maak en die karakter om jou eie swakhede suksesvol te kan verskuil, om jou sagte pens weg te draai van jou opponent se skerpste wapens. Dis hoekom Lendl hierdie wedstryd gaan wen. Pat Cash is te behep met sy hare en sy headband. Te flambojant. Maar kyk vir Lendl, kyk net daai konsentrasie, die stilte van gemoed voor elke afslaan, die doelgerigtheid en ekonomie in elke beweging. Die glimmende adamsappel. Die netjies opgetrekte kouse. Kortgeknipte hare. Die Oos-Europeërs was ons nog altyd een voor. So ernstig.”
“Mmm, ja, sien wat jy bedoel.” Lendl wen die eerste punt van die pot, Pat Cash wat sukkel met die eerste afslaan en dit teen die netband vasslaan. 15 – 0. Sy draai nou vlugtig na my terwyl Lendl wag dat Pat ‘n bal wat agter in die draad vassit, uithaal.
“Wie’s jy veronderstel om te wees?”
“Paul Kruger. Jy sal hom nie ken nie, bietjie voor jou tyd.” Ek stryk gemaak-ernstig oor my baard, breed en dor soos ‘n vlak vol haak-en-steek.
“Wat het hy gedoen?”
“Ag nie veel nie. Die Kruger-wildtuin begin, meestal. En Kruger-rande, dalk het jy al daarvan gehoor. Dis van goud. En hy was die president van Transvaalse Republiek, voor julle Britte...”
“Ja, ja, toemaar, ek wil nie weet wat ons gedoen het nie.”

Lendl slaan weer af, Cash return teen die lyn op, Lendl speel ‘n rughand terug, dwarsoor die baan. ‘n Nou sigbaar moeë Pat kom net-net daar uit en slaan weer teen die net vas. Hy swets hardop en loop na sy botteltjie koeldrank toe, vat ‘n sluk en draai dan terug. 30 – 0.

“Ons kan nie bekostig om die geskiedenis te vergeet nie.”
“O ja, ons kan. Veral by ‘n partytjie. Komaan, no hard feelings. So what, ons’t ‘n Empire gehad. Wie’t nie een gehad nie? Ons was net beter as die meeste, meer skepe en gewere gehad. Slimmer. Slinkser. Sonder die Hollanders sou julle ook nooit hier aangekom het nie. Jy’s wit – daar’s ‘n Empire in jou nabye geskiedenis, en jy weet dit.”

Lendl se eerste afslaan is net wyd. Dis doodstil om die baan terwyl hy die bal bons vir die tweede. Selfs die orkes het nou omgedraai van hul podium en leun geinteresseerd oor hul instrumente in ons rigting. ‘n Druppel sweet hang van Lendl ken, dan swaai hy ritmies en klap die bal met ‘n klam knal teen sy raket. Dis in, maar baie kort, so Cash slaan toe en jaag hom na die anderkant van die baan. Hy kom net by en Cash het ‘n maklike mokerhou wat hy met oorgawe wegsit. Die bal bons oor die draad en twee kinders hardloop die halfdonker tuin binne om die bal te gaan soek. Daar’s ‘n rotstuin aan daardie kant, so hulle kry dit maklik, en gooi dit terug oor die draad. 30-15. Ek dink aan wat Margaret gesê het. Ja, natuurlik is daar ‘n Empire in my nabye geskiedenis, maar dit beteken nie ek moet nou nog belasting daarop betaal nie. My mense is al lank genoeg hier om ideal en feite in afsonderlike lig te kan beskou.

“Maar die geskiedenis herhaal homself,” sê ek toe maar, want dit laat my dink aan iets anders.
“Wat?”
“Die geskiedenis herhaal homself. Sien, as ons alles in die verlede ignoreer, dan gaan ons die waarskuwings mis wanneer hulle weer kom. Die patrone bly dieselfde. Dis eintlik glad nie eers siklies nie. Die begin van Apartheid was nie die einde van die koloniale tyd nie, nes die 1994 verkiesings nie die einde van apartheid was nie – die een fase gaan oor tot die ander en die geskiedenis is die stutpilare van alles wat verder gevoer word. Die eerste Wêreldoorlog het die tweede een veroorsaak, wat weer die Koue Oorlog, Korea, Angola, Viëtnam en ‘n honderd ander oorloggies aangeblaas het. Die Golf Oorlog, Somalië en Afghanistan en ‘n onsigbare konflik van gelowe het ons by 9/11 gebring. Ek weet dit maak nie saak vir ons nie, maar ons moet tog ‘n tipe verantwoordelikheid teenoor ons nasate in stand hou. Al wat ons deesdae het is die Amerikaanse Empire. Die hele wêreld kreun daaronder, al is dit aan die einde van die dag net geld, films, bomme en... en... jazz, dalk. Of hip-hop, dinge gebeur so vinnig. Hoe lank gaan dit hou? Vyftig jaar? Twintig? Minder? Niks wat gebou is op soveel negatiewe energie kan vir ewig hou nie. Niks kan vir ewig hou nie, al is jou mure so hoog soos Switzerland s’n. Hoe ouer en witter, in der waarheid, hoe makliker. Dis bloot tyd vir wit om te verdwyn – neem byvoorbeeld sonkanker. Alles val in mekaar. Natuurlik kan dit weer opgebou word, maar teen die tyd wanneer die nuwe huis staan, lyk die hele buurt lankal anders. Chinees, meestal.”
“Chinees?”
“Eintlik nie eers Chinees nie. Dis bloot die oppervlak van die Empire. Die dinge wat sy ekonomie, sy musiek, sy kuns, sy droom verteenwoordig. Maar dis alles valse idees – en ons weet dit op hierdie oomblik, maar ons wil dit nie weet nie, want: dis lekker, en; wat maak dit nou saak. Die volgende Empire gaan niemand s’n wees nie. Om die waarheid te sê is Amerika ook glad nie meer in beheer nie. Amerika is ‘n sewe-letter woord. Jy kan dit skryf op ‘n swartbord en dit uitvee sonder moeite. Jy kan dit uitbeitel op klip en tyd en suurreën sal dit aftakel. Die wêreld het heeltemal te ingewikkeld geword. Daar’s te veel mense, te veel bomme, te veel krisisse. Die wêreld is nou verower, geen grond kan meer gekleim word nie. Selfs al word dit met geweld afgeneem, daardie grond behoort altyd aan die mense wat voorheen daar gebly het, die wat daar gebore is, en die wat voor hulle daar gebore is ensovoorts ensovoorts. Jy kan nie al daardie dinge afwas nie, selfs al vergaan die hiërogliewe en rotstekeninge en kastele. Selfs al bou jy iets so manjifiek soos die piramides om jou nagedagtenis te bewaar – wat word daarvan? ‘n Paar duisend jaar later kan niemand eers meer uitpluis presies hoe dit gebou kon word nie. Ekstra-terrestriële wesens kry die krediet. En die skatkis word bloot geplunder, in museums geprop en verkwansel vir toeriste-dollars. Jy kan net voortgaan met die proses van opstapel. So kom ons nader aan die son. Jy kan nuwe tempels oprig waar oues gestaan het, maar jy kan nie tyd terugdraai nie. Tyd is ‘n rivier wat nooit ophou vloei nie, en alles waarin jy nou swem kom van ‘n groter begin, en die groter begin snel voort na ‘n selfs groter einde. En die fontein en die see is dieselfde plek. Dis... dis wind, en ons is skaars stuifmeel. Die huidige Empire is die een van selfvernietiging. Ons’t dit reeds gedoen, dis reeds afgehandel. Elke ding is nou neergeskryf, elke skildery is gemaak, elke film geskiet, elke soort mens geskape, selfs gekloon, as jy wil. Ons’t nie eers kunsmatige kloning nodig nie – ons’t dit lankal reggekry, heel ongemerk, deur bloot dieselfde bestanddele te veel bymekaar te gooi. En tussendeur dit als, besoedel ons die omgewing en belaai onsself sodoende met stadige giwwe, die giwwe wat ons binne ‘n honderd jaar dom, doelloos en honger deur ‘n aardige wêreld, oorheers deur hiënas en honde en varke en hoenders en seekoeie en rotte, sal laat dwaal. Eintlik sal hulle nie eers heers nie, dis die virusse en die siektes wat gaan heers. Saam met die klimaat sal hulle komplotte smee en ons slaan met vloede en vuur en orkane en vulkane en verskriklike plae. So sal die nuwe Empire vir baie lank bestaan, tot daar weer iemand kom met ‘n plan.”

Lendl en Cash slaan nou al vir meer as vyf minute oor en weer. Dis ‘n senu-tergende punt, maar uiteindelik beklink Cash dit deur ‘n skitterende rughandterughou verby Lendl te speel nadat Lendl hom gelob het en ingekom het net toe. Dis sy ou fout daai - om in te kom net toe was nog nooit baie Tsjeggies nie. 30-30.

“Mmm. Mmm. Jy’s darem maar baie negatief, hoor.”
“Nie regtig nie, dis sommer net ‘n verbygaande gedagte. Ek’s eintlik maar net effe melankolies so nou en dan die tyd van die aand wanneer ek ‘n bottel wyn uit die kale nek drink. Kyk hoe wriemel die aorta.”
“Wat is die bron van jou melankolie?”
“My werk, meestal. My werk maak my neerslagtig – ek’s ‘n misdaadverslaggewer. Maar ook die afwesigheid van ware liefde, soos met meeste mense maar. En die belofte van ‘n nuwe liefde, een wat alle teleurstellings sal laat verdamp, soos beesmis voor ‘n miskruier, net so, wil ek dit die afdraand afrol aan die hand van die maanlig. Dan kan ek my eier daarin lê sodat die nuwe lewe op die ou teleurstellings se geraamtes kan teer. Ek’t vroeër vanmiddag die beeldskoonste vrou gesien, by ‘n drankwinkel in Stellenbosch. Ek kan haar gesig nie vergeet nie. Ek weet nie eers wat haar naam is nie. Sy was net... ongelooflik. Sy is die eier wat ek wil lê, die beesmis het ek reeds te veel van.”
“Watter bottelstoor?”
“Nie seker van die naam nie. Die een by daai groot bloekombome. Langs die afdraai Helshoogte toe, daar by die 7/11.”
“Ek weet van watter een jy praat. Haar naam is Fyntjie. Fyntjie Oliphant. Haar pa is Slurp Oliphant wat op die stadsraad is. Dis Slurp se bottelstoor. ‘Die Hap & Klap-Oor’.”
“Fyntjie?”
“Ja, nie haar regte naam nie, maar almal noem haar so, omdat haar pa gebou is soos, wel, ‘n olifant en haar ma soos ‘n drie slaapkamer-woonstel met ‘n kitchenette. Asof ‘n tinktinkie uit ‘n volstuis-eier. Jy’s reg, sy’s beeldskoon. ‘n Mooie hart daarby. Was Mej Melkbosstrand in ’96 en Mej Persoonlikheid by UWC die jaar daarna. Sy’s dalk hier vannaand, sy’s vriende met Johann Stemmet.”
“Regtig? Ek wonder as wie sy sou gekom het...”
“Wel, loop rond en trek maskers af.”

Lendl slaan weer af, na ‘n lang minuut waartydens hy sy natgeswete rakethandvatsel versigtig afvee met ‘n handdoekie. Dis ‘n goeie afslaan, maar Cash kry dit terug. Heen en weer wissel hulle nou baseline houe. Uiteindelik gly Cash en sy terughou val wyd. Hy bly vir ‘n wyle op die grond, masseer moeg sy effe verstuite enkel. 40-30. Lendl staap soos ‘n draadmannetjie net toe om te vra of Cash OK is. Cash knik sy kop en kap die stoffies uit die kepe van sy tekkies. Lendl maak gereed vir sy volgende afslaan. Die skare het intussen gegroei soos woord versprei het van die marathon-stryd. Johann Stemmet sit aan die ander kant van die baan, omring deur talle vriende. Joe Dog en Mikro (hy’s klein, van ver af sien mens net sy hoed) is skynbaar in ‘n hewige woordewisseling betrokke, want Johann maak hulle nou stil (“Joe, Mikro – stil!”). Joe Dog krap in sy neus en vee dit onder die bank af. Die groot, volmaakte borste van Naomi Campbell hang aan weerskante van sy kop soos 36D Zimbabwiese seepsteen-oorbelle. Hulle bly net-net binne haar dun rok, ‘n oorvol glas Coke, bruisend met skuim. Sy leun bo oor sy kop van agter en lek sy neus opwaarts, dan gooi sy ‘n skeut goue tequila by sy neus in, wat veroorsaak dat beide van hulle die volgende punt mis. Lendl se eerste afslaan is goed, maar Cash is daar en jaag Lendl na die ander hoek toe. Lendl slaan terug, die bal clip die netband en spring maklik vir Cash, wat dit met mening wegsit. Die skare bars uit in applous en Joe Dog verstik terselfdertyd aan die tequila. Naomi lek dit sorgvuldig af. Elke druppel tel. 40-40.

“Ek self is klaar met liefde,” sê Margaret nou, skynbaar net om reaksie uit te lok.
“Hoe so?” vra ek terwyl Lendl weer dien. ‘n Baseline rally word ontketen met die vasberadenheid van ‘n Johan Heunis en ‘n Calla Scholtz wat weier om uit te skop.
“Want dis nutteloos. Niks kom daarvan nie. Goed, ek’s nie meer twintig of dertig nie, dis vir seker, so my opinie is die van ‘n senior burger, een wat te veel van die wêreld mislukkings gesien het om enige geloof in iets soos ware liefde te hê. Ware liefde, tesame met byvoorbeeld vrede, harmonie en die Groen Party is die tipe ding wat pragtig lyk op papier. Digters kan liefde so volmaak bewoord dat mens nie anders kan as om daarin te glo nie. Die Beatles het dit selfs skaamteloos in popmusiek aangewend. Ghandi was die toonbeeld van vrede en harmonie, maar waar’s Indië vandag? Hulle bou kernbomme, dis wat hulle doen. En Ghandi is dood – wel, ek sien hy’s hier vannaand - sonder om ooit die Nobel-prys vir vrede te wen. Die enigste ware liefde is die tussen ‘n ma en haar kinders. Selfs dit is nie sonder uitsonderings nie. Ma’s wat hulle kinders verdrink, of die hele huis afbrand, is niks nuuts nie. Ek gaan nie eers die woord ‘aborsie’ noem nie. Wanneer die vloed dreig, doen die muise enigiets om te oorleef. In moeilike tye maak leeus hulle welpies dood, sodat daar meer kos is vir die volwassenes. Of hulle wag vir beter jare, vir ‘n vol reënseisoen, wanneer die sebras vet en stadig is. By diere noem ons dit instink, by mense noem ons dit misdaad. Maar die ware liefde tussen ‘n man en ‘n vrou? Vergeet maar, hy vervaag na so paar jaar. Dis maklik genoeg vir party mense om die ding kunsmatig aan die gang te hou, maar hoeveel slaan nie doelbewus ‘n gat in die bodem van die huweliksbootjie nie? Laat hy maar sink, want daar word in elk geval altyd binne sig van land gevaar ingeval iemand muit. Of ingeval skeerbuik jou om die milt rond begin vat. Buite gemeenskap van goedere, aparte slaapkamers, ‘n kar vir elkeen, aparte vriende, teenoorgestelde vakansies. Noem dit wat jy wil. Die liefdesvuur word ‘n duur sigaretaansteker met die tyd, wat net gebruik word om spesiale geleenthede te verlig, wanneer die skaars sigare te voorskyn kom, die kaviaar uit die yskas gehaal word. Huwelik is ‘n sosiale besigheidskontrak. Die wat dink dit maak nog saak, smee die bande en probeer die vrugte daarvan pluk. Ander hardloop wild deur die donker en voel vere vir die duwweltjies en swaar belasting.”

Lendl wen die punt. Dis voordeel vir hom en wedstrydpunt. Joe Dog en Naomi Campbell verdwyn in die rigting van die rotstuin, waar aalwyne en kaktusse hulself soos kras winkelpoppe ontbloot.

“Min mense, min, vat die boot uit oop waters toe. Min seil saam om die aarde. Nog minder eet daai groot sak Cerebos. Dis net daar ver, waar die blou van die water se lengte en breedte, vermenigvuldig met die blou van die diepte van die see daaronder, gelyk is aan die blou van die uitspansel bokant hulle. Tussen al daai blou kan ware liefde dalk hou, soos die rooi blom op die blou Roses-sjokolade boksie, maar dan’s dit belangrik om net aan te hou seil. Daar kan slegs gestop word om vars water en vrugte aan boord te neem op onbewoonde eilande. Enige ander menslike inmenging sal die hele ding besoedel. Een druppel gal maak die hele pot gemmerbier onklaar. En haaie ruik bloed kilometers ver. Mans is van nature te swak. Hulle val vir die maklike sette. Sette wat hulle dink die vrouens stel, maar dis selfmoord-sette, die strikke bind hulle in hulle slaap om hulle eie nekke, en elke dag wanneer hulle opstaan en by die huis uitloop, trek hulle die stroppe stywer met elke tree wat hulle gee. Op ‘n manier word hulle martelaars vir die saak, want dis tog die mans wat gewoonlik gekruisig word, maar hulle verdien dit ook maar. Nes dit vir die Romeine logies was om vir Jesus te kruisig. En vrouens, wel, vrouens is vrouens. Jy kan net soveel sê oor die verskille tussen geslagte.”

Cash weer die wedstrydpunt af met ‘n skitterende verbyhou. Sake is weer gelykop. Moeg gestaan, sit ons nou op van die plastiek stoele, oneerbiedig neergeplak deur ‘n pers kelner wat soos ‘n maer weergawe van Die Skim lyk.

“Wat bedoel jy met vrouens is vrouens? Dis te maklik.”
“Ja, maar ek’s ‘n vrou, hoe moet ek nou weet presies hoe ‘n man my sien?”
“Wel, wat dink jy?”
“Daar’s geen twyfel dat vrouens beter mense as mans is nie. Jy weet dit self, al sou jy dit dalk nooit erken nie. Selfs die mees geweldadige mans in die geskiedenis van die wêreld was of bang vir hul moeders of die vrouens in hul lewens. Mans mag dalk wel die fisiese magsposisies beklee, in regerings en die besigheidwêreld. Met hul vuiste kan hulle verniel en verkrag. ‘n Man kan ‘n vrou vasdruk, haar fisies oorheers. Maar wanneer die man se woede dy, of wanneer die drank afweer, of wanneer die koue boeie om sy gewrigte geslaan word, dan druk die vrou se geestelike oppergesag soos ‘n skerp breinaald in sy kop. Of skrotum. Dit deurboor hom, dit gee hom die tipe nagmerries wat hom huilend laat smag vir die warm waters van sy moeder se buidel, die tepels om aan te suie, die liefde wat hy nooit weer kon kry in sy volwasse lewe nie. Mans is lafaards, hulle kerm sonder om trane te stort. Sou jy egter hulle ribbekaste kon oopknip en ‘n loep oor hul harte skuif, sou jy sien hoe dik lê die pyn daar aangepak, nie net een man se pyn nie, maar elke man se pyn sedert Adam, of Homo Australopithecus of wie ook al eerste die moeilikheid gemaak het. Swart pyn, vol doringdraadroes en onverteerbare berou. Dis tragies, maar nou ja. Kyk, mans kan nie sonder vrouens leef nie en vrouens kan nie sonder mans lewe nie, dit weet ons, dis hoe die diereryk te werk gaan. En ondanks die odds, verkeer mans en vrouens tog in mekaar se geselskap, sommiges trou selfs later met mekaar. Dis hierdie dwase roetine wat ons nie kan afskud nie, wat ons laat oorleef. Want sodoende meng ons die vrou se mag met die man se mag en die resultate is altyd dieselfde: voorspoed, agterdog, oorlog, vrede, armoede, hoop, voorspoed en so gaan dit aan in ‘n malle siklus. Dit balanseer so rofweg. Mans sou egter nooit vir lank op hul eie kon oorleef nie, selfs al kon hulle kinders baar. Hulle vernietig sonder dat hulle enigiets agterkom. Hulle sou net een oggend wakkerword en met misnoeë verneem dat die hele aarde oornag uiteindelik finaal vernietig is, dat die laaste goudvis gevrek het, die laaste suurstof-molekuul in die ICU van die masjien ontkoppel is, breindood en grys. Dan sal hulle seker Mars toe gaan, soos voorspel. ‘n Wêreld oorheers deur vroue sou minder opwindend wees vir die geskiedenisboeke, rolprentvervaardigers en TV-stasies. Min oorlog, verkragting, moord en so meer. Geen damsels in distress. Vrede was nog nooit ‘n naelbytstryd nie. Vrede het nie ‘n uitklophou in die laaste rondte nie. Vrede is vervelig. Vrede speel kaart in die aantrekkamer. Vrede speel jukskei. Vrede is ‘n toegif tot ‘n reeds ruim en barmhartige bestaan. Vrede vang vis. Vrede is Gods rykste seën. Vrede se son skroei nie, sy winde bereik nie stormsterkte nie, sy vulkane is dormant, en mense ski teen die hange af. Dit maak nie paper cuts nie, kry nie aambeie nie, vra nie waar die lipstiffie op jou kraag vandaan kom nie, want daar is nie lipstiffie op jou kraag nie. Vrede is kookboeke met maklike resepte, wit duiwe en vars geknipte blomme in ‘n glaspot op die tafel in die voorportaal. Vrede is, vir alle praktiese doeleindes, lesbies sonder die seks.”
“Gmmf,” sê ek terwyl Lendl uiteindelik die punt wen. Weer voordeel, weer wedstrydpunt. Beide spelers is nou so moeg dat hulle besluit om vir vyf minute te rus. Sommige toeskouers maak gebruik van die geleentheid om versnaperinge te gaan haal. Skielik voel ek ook die honger deur die dik waters van my drankmaag knaag. Margaret begin my in elk geval ook nou ontsenu. Nugter weet wat haar agenda is.
“Sien jou later, Margaret, dit was ‘n plesier. Ek gaan iets kry om te eet. Vrede is lesbies. Sonder die seks? Ek dink ek verskil effens met jou. Maar later.”

Ek los haar alleen agter, maar merk oor my skouer hoe my plek op die wit plastiekstoel deur Pik Botha gevul word. Met ‘n vuil gedagte wat soos rou maalvleis op ‘n teerpad deur my kop stort, lê ek aan na die kostafels toe. Wie is Fyntjie Oliphant? Hoe gaan ek haar opspoor? Sonder om te probeer, wel ‘n grootse gesmag na liefde in my op. Die liefde wat ek soms voel, soos nou, is onbeskryflik. Dit begin by die basiese beginsel van aantrekking, die rou, onbeskaamde, vroetelende hande in die donker, die heupe wat mekaar ontmoet soos botsende kontinente, die velle, die bene, die gesnuif en die geproes, die reuke van mekaar, die teen-mekaar altaar, die gefluister, die gefladder, die wegvee van hare uit die oë, die ligte aanraking van kenne en kuiltjies, warm asems op wange, are wat die bloed rol deur stywe nekke, ribbes en stutjies, limf wat in slierte die vuilheid uitryg, die klein hondjies van harte wat skop en skop, die monde wat tesame oopvou en toevou, die warm wortels wat om mekaar woel, die goedheid begin uitsuig, die diepste murg, die diep swart putte waarvan niemand heel ontsnap nie. Die lewe is ‘n gedurige gehardloop na ou watergate, maar die dors is altyd groter as die poel en min mense, niemand eintlik, kry ooit genoeg nie, so hulle hardloop altyd na die volgende een. Dit hou nooit op nie, die skaduwee skuif altyd vinniger as jou voete, die son sak nie, die aarde draai daarom, dit waarnatoe jy hardloop is reeds agter jou. Maar ek hardloop saam, ek hardloop saam. Want dit wat jy kry is genoeg motivering, selfs die klein bietjie leksels, die nattigheid op klippe, die dou op lang grashalms voor die son dit kom verdamp. En wanneer ek dit vir lank glad nie gevoel het nie, lê ek leeg langs die pad, afgesmyt van ‘n trok, die ertstrein se snert, ‘n droë dop, uitgeskud, uitgedruk, sonder sap, sonder soet. Wat my wakker maak, wat my laat opstaan, is ‘n droom: Ek droom ek’s ‘n ou olifantbul met 100kg stroper-vriendelike ivoor aan elke kant wat rasend deur ‘n koorsboomwoud storm en dinge ontwortel, my grys, geheelonthouende liefde wat alles aan die brand laat slaan om my. ‘n Streep vuur volg my deur ‘n rietbos, kweleas swerm om my, ontplof spontaan in die uitgeefsels van my asemteue. Op die kruin van ‘n koppie, rek my silhoeët twee keer groter, vergestalt my lyf tot ‘n granietstandbeeld, trompetter ek die simfonie van martelaars deur my koperslurp, die klank wat uitvlug oor die landskap, op soek na my geliefde, rasende boodskappers sonder rus, wat net bly soek, bly soek, deur nou poorte en diep valleie, verlate huise, stapels stene, fabrieke en rook, snelweë, sonneblomlande, onkruid, onrus, tussen rotse en ou wrakke, skepe aan strande, die spore van strandjutte, stil uile se wit gesigte - tot hulle die regte ore vind, waarin hulle alles uitstort, elke gebed, elke laatnag verskiet, dan neerslaan en sterf, die krimpende slak onder sout. Ek lek die slym uit die aandlug, druk die vet uit die grond onder my, van êrens spat dinge in my gesig, wat ek nou skielik herken as waatlemoenpitte, en ek vra Die Braai om tog asseblief op te hou, hy maak my rasend.

“PW, vrind, stop dit, ek vergaan.”
“Paul, vrind, waar was jy? Brink het my verslind. Ingeryg op ‘n sosatiestokkie. As dit nie vir die pragtige dame hier was nie, dan was ek terstonds dalk in sy derde pens.”
Met my middelste oog merk ek die vleiende buitelyn van ‘n vrou langs sy lyf.
“Versigtig, mevrou, daar’s ‘n slang om u heupe,” stel ek myself voor.
“Bly te kenne Pres Kruger, Glenda Kemp.”
“Ah, ek sien. Dis ‘n eer, Glenda, noem my Paul. Die slang is jou masker.”
“Hy is, inderdaad. Ons deel alles met mekaar.” Die slang kyk my onderlangs aan met ‘n geel albasteroog wat of alles of niks kan beteken. Sy gladde skubbe smelt soos was oor haar keramiekvel, die dik glastrane van die duiwel se plesierighede. Uit haar hand laat hang sy ‘n wriemelende diertjie, wat hy traag maar definitief raakvat en dan met ‘n ligte kraakgeluid in sy keel afdruk. Soos ‘n gebraaide marshmallow, dink ek, en my kieue trek styf aan die gedagte.

Glenda en Die Braai begin te kekkel, maar my aandag is nou op die kostafel voor my. My bord word gou hoog gestapel met allerlei lekkernye, van garnale op roosterkoek tot kase gemaak uit die melke van verskrikte akkedisse of dinge en vleise uit die lieste van allerlei gebraaide diere. Volstruis, hoender, vark, takbok, rooibok, blesbok, koedoe, skaap, eend, gans, dassie, likkewaan, ystervark en beesvleis. Porsies van elk kom almal na my magnetiese, reikende hande soos ek hulle oor die tafel uitstrek. My tande val sag deur die kos, my mond kou outomaties, my tong krap stukkies van my tande af los, druk die ook in die keel af, my verhemelte knak hoorbaar van die smaaksensasie, my brein sê ja-nee dit proe heel goed, my hande vou weer om ‘n silwer knypvurk van een of ander aard en skep nog iets in my bord, die keer skynbaar pynappelskywe met kaviaar daarop geborduur, sorgvuldig, soos hasiespring-patrone in sub A. Om my maal die gaste om die kostafels, beroemdes en bekendes nou almal gemene delers, of dalk net gemeen. Oor die gedruis heen, sien ek Bob se hoekige kontinent-agtige skouers in die rigting van die stoep. Dit lyk asof hy sit en kaart speel met Napoleon, wie se aardige hoed slap hang aan die een kant, asof jellie wat nie goed gestol het nie. Bob se skouers, nou geklee in ‘n spoggerige wit syhemp, beweeg rukkerig, opgewonde, duidelik het hy die oorhand. Ek wonder waar hy die hemp in die hande gekry het.

“Die tennis,” begin ek, maar verstik terstonds aan iets korrelrigs. ‘n Hoesbui laat stukkies oor my baard afdrup en porsies tuimel van my topswaar bord af. Lassie lek dit op voor jy kan sê one-hand-one-bounce. Die Braai klap my effe hard op die rug en druk ‘n soet drankie in my hand. Ek gorrel eers die pons, heel potent, en klap dit dan afdraande, waar dit die pype mooi skoon brand af maag toe.
“Jy wou gesê het, die tennis,” herhinner Glenda.
“O ja, Lendl teen Cash. Vyfde stel, wipplank al die pad. Lendl is voor 20-19 en slaan af vir die wedstryd, maar dinge bly om die voordeel-punt rond. Niemand gee bes nie. ‘n Titaniese stryd, julle moet gaan kyk.”
“Sjoe.”
“Daar’s nog iets,” terwyl ek my meer na Die Braai rig, synde Glenda en die slang stry kry oor iets. “Die vrou van vanmiddag by die bottelstoor. Sy’s hier vannaand.”
“Wat? Hoe weet jy? Het jy haar gesien?”
“Nee, maar Margaret Thatcher het my so vertel. Sy ken haar blykbaar. Haar naam is Fyntjie Oliphant, haar pa’s op die stadsraad.”
“Fyntjie?” praat Glenda nou van onder ‘n blink krul uit, “Het jy gesê Fyntjie Oliphant?”
“Ja.”
“Ek ken haar ook. Ons was saam op skool. Sy is hier, of sy behoort te wees. Het vroeër vandag met haar gepraat, maar nog nie gesien vanaand nie.”
“Weet jy as wie sy sou gekom het?”
“Olive Schreiner.”
“Wie? Wie weet nou hoe lyk Olive Schreiner?”
“Kyk maar net uit vir iemand in ‘n outydse rok en haarstyl, man. Dalk met ‘n penveer en ‘n druppende diervetkers in die hand. ‘n Kopie van daai boek van haar.”
“Olive Schreiner, obskuur.”
“Hey, sy was die Patti Smith van haar tyd.”
“Die wie?”
“Sangeres. Jy weet, ‘n vrou van formaat.”
“Die Fyntjie,” sê Die Braai, “wat weet jy nog van haar, as ek mag vra, Glenda? Jy sien, vrind Paul hier het vanmiddag gat oor kop in die liefdesput beland toe hy gaan drank koop het. Is sy getroud? Staan die minnaars tou?”
“Soms ja, maar min kom verby die linie hen-en-kuikens wat die voordeur bewaak. Sien, haar pa, dis nou Slurp Oliphant, is nogals baie beskermend oor sy dogter. En Fyntjie self is ook maar moeilik. Nie moeilik nie, maar trots, as jy verstaan wat ek bedoel. Sy’t onbewustelik al tientalle jong lewens verwoes, maar wees verseker, as haar vinger jou aanraak, sal jy tril soos ‘n mylwye kopersimbaal, lank en behaaglik. So nee, sy’s nie getroud nie.”
“Ssss,” sê die slang.

Ek knik instemmend, vryf aan my Kruger-baard asof oor die rug van ‘n gevaarlike klein hondjie, eet sorgvuldig ‘n hoendervlerkie van die been af. Ek verbeel myself hoe daai kopersimbaal klink en ‘n ligte rilling rank teen my vertikale dele op. Glenda en die slang verskoon hulself nou en verdwyn in die rigting van die huis, so ek en Die Braai soek sitplek om ons bene te rus. Aan die kant van die grasperk staan ‘n houtbank, waarop ons gaan sit om die bisarre republiekstigting wat homself voor ons afspeel, te besigtig.

“Wat vier ons?” vra ek aan Die Braai. So nou en dan trek my brein genoegsaam op ‘n knop om met waardige kwessies vorendag te kom. My hiper-realiteit wens vir Paul Kruger geluk, wat op sy beurt weer vir my op die skouer klop. Fyn goudstoffies, diamantpoeier, buskruit, ou fonts van vergeelde koerant-uitknipsels styg op uit my baard. Elders in die Republiek trek ‘n ouerige TV-stel sy prop uit die muur, ontkoppel sy konneksie met die video-masjien, wip geruisloos van die lae tafeltjie af en stap by die voordeur uit. Hy’t genoeg gehad van roofkykers en ure se WWF, Shopping Channel en BB24. Almal verdien om nou en dan op reis te gaan, en Discovery Channel is nie altyd genoeg nie.

“Aan die begin was alles onder beheer. Die wêreld was veilig snags en goed belig in die dag. Daar was gewerk en geslaap, geeët en gedrink soos nodig, wanneer gepas. Riviere en berge het grense gevorm, woestyne was plekke om te gaan jag as die reëns goed was en die wild aan die beweeg langs ou migrasie-roetes. Dorpe kon vroegoggend opgebreek word en voor sonsondergang in ‘n vallei verder wes opgeslaan word. Vuurmaakhout, vars water, bolle en knolle, skulpdiere en visse, wild en voëls, die wind en die reën, dis die dinge wat bevolkings laat groei of krimp het. Die osoonlaag was dik en welig, die walvisse veeltallig en leeus nie net afdrukke op banknote nie. Dit klink nou wel asof daar altyd vrede was, maar dis nie waar nie, natuurlik nie. Vrede is skaarser as eerbaarheid en eerbaarheid is iets waarvoor jy soms moet veg. Buurdorpe het stry gekry oor dit en dat, kosvoorrade, vrouens of metale. Goud, silwer en yster, dit was die geld, die mag. Dit was eenvoudige mag, en prakties daarby. Die delf, smelt, platslaan en potmaak uit metale was ‘n stadige evolusie, die beoogde spoed, sou mens deesdae weerbarstig kon dink. Spiese was skerp, het tussen ribbes deurgegly, derms saam daarmee uitgetrek. Als het na vel en hare geruik, grond, droë bloed, aalwynsap, kareebome, kraalmis, tsammasap, getysones, stinkgoggas, sonkololos, rooi klei, kordiet, nat gras, dou, ryp, vrot ysterklip, erdwurms, dagga, seeroog, kamfer en ander kruierige dinge. Paddavissies was die kinders se video-speletjies, die poele die arkades, daar in die skadu van die wilgers, waar die Cokes nie in die yskas gestaan het nie, maar waar die soetdoringboomgom uit die bome gedrup het, silwerwit in die middag se skuins son. Die vrouens het gespin en geweef, dinge uit krale gemaak, brode in bakoonde gedruk, pikante vleishappies uit die private ente van renosters gefatsoeneer. Mans het kettie geskiet, kieries gekerf, spiese geslyp, nuwe messe ontwerp, velle gebrei, leeg gelê, twak gepraat, twak gepruim, twak gerook, hul lippe het getwak-twak om erdepotte, waarin skurwe bier geprut het, suurmelk die tyd verwyl het en geheime, geestelik-meerdere voggies saans kom rus het. Die gode was in die bome en die berge, in die slag-are van elande, die skubbe van visse, die suigtes van seekatte, die skerp kantjies van kapok, die klein handjies van bobbejane, die modder tussen die hoewe van honderd vaalhartbeeste, die bosluise tussen die boude van duisend bastergemsbokke, die fyngeverfde vere van tienduisend goud en swart lammergeiers, die stof uit die trappe van die een miljoen spore van twee honderd en vyftigduisend springbokke wat saamstap na die skadu van die volgende wolk. En die gode het gepraat, gereeld en hard, in die weerlig en die reën, die sneeu en die hael, die stof en die droogtes en die winde wat hulle gebring het. Die mense het die winde geken, en hulle kon gewoonlik betyds begin opgaar of hoër op teen die berg gaan kamp opslaan. Hulle’t gedink dit sou vir ewig so voortduur.

“Minwetend was daar ander mense, elders op die aarde, wat lankal reeds hierdie rustigheid verloor het, of dalk nooit gehad het nie. Verskillende gene, klimaat of wat ook al. Almal is nie dieselfde nie, al van lankal af. Hierdie mense het groot, vinnige skepe gebou, kompasse en horlosies gemaak, buskruit, kanonne, gewere, guillotines, drukperse, perdekarre en katedrale. Hierdie dinge was hulle trots. En hulle was so opgewonde oor hierdie nuwe uitvindings, tesame met die wat hulle uit China gesteel het, dat hulle nie kon wag om dit met die res van die wêreld te deel nie. Die enigste probleem was dat die konings en die heersers van hierdie mense nie so lus was om hul reputasies net so op die lyn te sit nie. Goeie verskonings moes aan die wye publiek voorgehou word. Die Kerk was die maklike aanwoord. Vir Christus, hulle god, sou hulle enigiets doen of glo. Ek bedoel, die vroeë matrose was besorgd dat die kompas ‘n instrument van duiwelse toorkrag was. En hoe het die kaptein die magiese krag van pool-magnetisme aan hulle verduidelik? Hy’t gesê die naald word beheer deur die aantrekking wat pols uit die geboorteland van Christus. En hulle’t dit geglo, en verder geseil sonder vrae. Gelukkig vir die konings en heersers, het hul wyse manne reg voorspel, en daar was toe ‘n hele drie en ‘n halwe kontinente wat niemand noemenswaardig nog voorheen besoek het nie. Die lande met die vinnigste skepe en die grootste kanonne het summier al hul gewig agter die pogings gegooi. Kontinente is ‘ontdek’ en verdeel asof dit Hallowe’en-sweeties was. Almal was tevrede. Dit wat jy nie kon myn, afkap, doodskiet of gaarmaak nie, kon jy altyd lewend hou en aan die ander kant van die wêreld verslaaf sodat nog spoorlyne, kanale, geboue, hawens, landerye, damme en forte gebou kon word. En dit net alles omdat hulle gewere gehad het en die ander ouens nie. Die vreedsames kon dinge nie begryp nie. Die Nuwe Mense het niks volgens die reëls gedoen nie, hulle’t nie gesit en luister nie, nie gesprekke gevoer nie, en wanneer hulle het, het hulle gelieg of dinge later kom regskiet tot dit na smaak was. Ongeloogflik! En hulle’t so baie van sjokolade gehou, dat hulle duisende slawe spesiaal aangehou het om dit te produseer. Sjokolade! Om nie te praat van tabak, katoen of goud nie. Dit het die Ou Mense se wyses en gryses ‘n ruk geneem om agter te kom dat die Nuwe Mense eintlik maar net soos hulle was, net op ‘n nuwe, gevorderde, meer vernietigende skaal. Dalk sou die Ou Mense ook oor ‘n duisend jaar soos die Nuwe Mense geword het. Mens kan nie sê nie. Maar dit was duidelik dat die Nuwe Mense ook lief was vir goud en metale, blink klippies, van kwarts en tieroog tot robyn en diamant. Al hierdie dinge kon die Ou Mense verstaan. Sien, die Nuwe Mense se wêreld het nuwe dinge benodig, hulle’t geld gehad, munte en note. Vrouens het aardige klere gedra, grimering aangewend. Mans het boek gelees, pruike gedra, hulself vet geeët aan vleis wat hulle nie eers self geskiet het nie. Tyd was heeltemaal anders. Die Ou Mense se tyd was die son, maar die Nuwes het na hul horlosies gekyk, kort-kort, asof hul gewrigte se skroewe los sou wees en hul hande enige oomblik sou kon afval en wegrol. Die Ou Mense het natuurlik probeer veg, want hulle was dapper en trots en hulle’t nog nie besef dat dit nutteloos sou wees nie, dat die geskiedenis gepraat het en dat die mense eenvoudig moes luister. Maar spiese kon net soveel teen gewere doen. Dit was nie regverdig nie, en die Nuwes was verbasend traak-my-nie-agtig oor die miljoene wat gesterf het tydens die verkondiging van die Blye Boodskap. So het dit vir honderde jare aangehou, tot onlangs nog. Om die waarheid te sê, dit gaan nog steeds aan, maar dis nou moeiliker, en die Nuwes verskans hul pogings op nuwe maniere, en die Blye Boodskap is lankal nie meer ‘n god nie, hy’s nou net die hol gebulder van geld. Deesdae kan almal mos koerant lees, die internet surf of radio luister. Die informasie bereik alle ore. En die Nuwes en die Oues smelt al meer en meer saam. Dinge word gryser, die waarheid dowwer. Oorlog is nie meer na mekaar toe storm met spiese en swaarde nie. Dis nie eers meer omsingel ‘n koppie en honger die bliksems uit nie. Laertrek is vir die voëls. Die uitbuiting is nou noodwendig, dis nou deel van ‘n absoluut oorheersende ekonomie, waaruit niemand kan ontsnap sonder om die prys te betaal nie. Honderde jare terug kon jy dalk nog op ‘n boot klim en ‘n nuwe begin in ‘n ander land gaan maak, maar deesdae sal jy ongelukkig agterkom dat die nuwe plek en die ou plek rug teen rug met mekaar staan. Die wêreld is oud en afgeleef, elke bomontploffing of aardbewing laat haar fondamente harder wankel, elke olieboot wat sink maak die soutwater flouer, al die fabriekrook dun die suurstof verder uit, als trek vlieserig, als kry gate. Geld, mag, besittings, informasie en volksidentiteit volg jou. Hulle volg jou tot jy nie meer kan nie. Jy kan een of twee van hulle ignoreer, maar die ander sal jou neertrek. En nes jy dink jy’t die antwoord, dan trek tyd jou neer en gooi jou in ‘n reghoekige gat. Taai. So deesdae sit die Oues en die Nuwes, wat by die dag meer verward raak, saam-saam met koppe in hande en wonder. Hulle kyk na dieselfde lug en hulle wonder wanneer iemand iets nuuts daarin gaan skryf. Dis wat ons hier vier vanaand. Ons vier die einde van die gewag, want die gewag is oor, al weet ons nie wat die nuwe boodskap is nie, al ken ons nog nie die gesig van die Volgende Mense nie. Al hierdie beroemde mense, hulle’s die gesigte van die Oues en die Nuwes. En wanneer die son môre opkom, sal hulle almal dood wees, en die Volgendes sou reeds gebore wees.”
“Ek sien,” sê ek, en eintlik tol my kop soos ‘n wieldop wat afval op ‘n skerp draai, “maar wat het Faffa Knoetze hiermee te doen?”

Die Braai volg my blik na waar Faffa die bal in die skrum plaas. Hy gooi duidelik die bal agter die voete van sy haker, wat ek aan sy min grys hare as Sean Connery herken. Die bal gly deur die slotte en agtsteman Cecil Rhodes hou dit vir ‘n oomblik onder sy hak voor Faffa dit uitskiet na ‘n wagtende Julius Nyerere, wat dit statig, met een hand – sy ander is delikaat gevou om ‘n glasie sjampanje – aangee na sy binnesenter, Mao Tse Tung. Mao breek deur die opposisie se patetiese laagvat, Richard Nixon val skoon plat op sy rug, en gaan druk onder die pale, oftewel die pilare wat die bougainvillas stut. Vleuel Tsakile Nzimande gee vir Mao ‘n high-five.
“Ek weet nie, ek moet vir jou sê, ek’s nie seker wat Faffa hiermee te doen het nie. Dalk het hulle maar net visie gekort en Faffa was die enigste een wat op kort kennisgewing beskikbaar was.”

Die rugby-wedstryd hou ons aandag vir ‘n ruk. Mao is onstuitbaar. Elke keer as hy die bal kry, gaan druk hy onder die pale. Met sy vyfde drie, spuit ‘n blonde vrou vonkelwyn oor hom. Ellen Erasmus, lyk dit my. Hy vee dit vererg af en draf ernstig terug na sy posisie in die agterlyn. Johann Stemmet kom gesels en vertel dat die tennis-wedstryd nog aan die gang is, en dat dit nou voordeel vir Pat Cash is. Die wedstryd is nou al sewe ure aan die gang en dit lyk asof dit nooit gaan eindig nie. Hy groet ons met ‘n ‘later maters’ en vaar die melee binne, die skeepskaptein te midde van die Roaring Fourties.

“Jy sê almal gaan môre dood wees?”
“Sonder twyfel. Ons behoort te ontkom, want ons is nie regtig genooi nie. Kyk, dinge gaan verander, dinge is alreeds besig om te verander. Hierdie is die begin van die proses vir ons. Vir ander het dit reeds begin. Die son brand uit teen ‘n onstellende tempo. Al wat definitief op ons wag, is die donker. Laat ek aan jou verduidelik met behulp van ‘n voorbeeld:

“Ek word eendag wakker in ‘n stad. My wekker lui om halfses, dis nog donker buite - jy sien, kyk hoe omvou dit ons reeds. Elektriese lig skiet deur die kamer wanneer ek uiteindelik ‘n skakelaar kry. My oë gaan nie oop voor ek my das moet soek nie, so met lang grys broek, wit hemp en swart kouse begin ek kaste oopruk op soek na my das, die een met die perfek-geknoopte Westminster-knoop daarin, die knoop wat ek ses maande terug al gemaak het en te bang was om te breek. Ek dra daai selfde das elke Donderdag. Wanneer ek dit kry, besef ek dis reeds te laat om ontbyt te eet, so ek maak net vinnig koffie, terwyl die das styfgetrek word om my nek. Teen die tyd is my vrou wakker en mompel iets wat ek op pad terug by die supermark moet koop. Haar vaal hare staan rof, oë dik en neus rooi van ‘n knaende verkoue. Dis die besoedeling, gaan sien ‘n dokter, sê ek altyd vir haar; ag dis sommer niks, dit sal oorwaai, antwoord sy elke keer. ‘n Kort lysie, inderhaas neergeskribbel agter op ‘n cash slip, word by my hempsak ingedruk. Dan skuifel sy terug slaapkamer toe in haar pienk japon en bypassende pantoffels, om nog ‘n halfuur te gaan insluimer voor die kinders wakkergemaak word vir skool. Die kokende kitskoffie bly halfgedrink langs die broodblik staan terwyl ek solank begin tandeborsel, die skerp mint-geur wat die koffie met geweld probeer verdring.”

Die Braai se gesig verrek so effe by die gedagte aan daardie sensasie, gaan dan voort. Mao en Nixon slaan mekaar nou met die vuis. Steve McQueen breek die geveg op. ‘n Groot, vlesige oor rys op uit die gras voor my voete, ‘n massiewe orgideë waarvan die stuifmeel my bedwelm. Fyn, kleurvolle patrone kolk soos ‘n draaiende kaleidoskoop in die dieptes daarvan af, die hipnotiserende, magnetiese krag daarvan lok my na die rand, waar ek eers stelling inneem om te kyk hoe diep dit is, voordat ek myself begewe tot die gladde supertube wat my byna onmiddelik insluk. ‘n Swart klep slaan toe bokant my.


8.

“Dan gryp ek my werkstas en sluit die hout voordeur oop, die Yale, dan die veiligheidshek met ‘n plat sleutel van digte bos huissleutels af, dan weer die een na die ander toe agter my. Draf deur die klein tuintjie na die voorhekkie, verdroogde rose en ander triestige plante om die paadjie - vierkantige leiklip-plate - gerangskik. Agter my bly die huis, die wit stoepmuur met growwe sementafwerking, die rooi stoepvloer, gekraak hier en daar, die deur met die swart en wit elektroniese klokkie daarnaas, die huisnommer, nr 47, die geglasuurde klei-afbeelding van ‘n Meksikaan onder ‘n groen kaktusplant, sy groot hoed oranje en bruin, die kop onsigbaar, seker maar duttend, sy donkie kouend in die agtergrond, asof permanent op wag teen die koms van Clint Eastwood. Die voorste gordyne is toegetrek, die van die sitkamer, nog van laasnag se TV-kyk. Sy sal dit eers ooptrek nadat die kinders skool toe is, sodat die lig kan instroom en elke stofkol sigbaar gemaak kan word vir wanneer die bediende kom om skoon te maak. Agter die huis - waar die kombuisdeur met een trappie in die agterplaas afdaal, net voor die wasgoedlyn - in ‘n asbes-hondehok - lê Meneer en slaap. Meneer slaap altyd, want hy’s half doof en moeg geblaf vir alles. Meneer het my drie jaar laas stertswaaiend na die voorhekkie begelei. Ek mis dit glad nie. Verder verby Meneer se hondehok staan ‘n duiwehok, nou leeg, maar op verskillende tye in die voorafgaande vyftien jaar die tuiste van wedvlugduiwe, fantails, kokketiele, budgies, sebra-vinkies, love birds, kaalnekhoenders, Wit Australorps en gewone mossies. Soms sluit ons Meneer in die ou duiwehok toe wanneer ons weggaan vir ‘n naweek. Dis nou nadat hy vier jaar terug die rottang stoepmeubels vernietig het toe ons by haar ma gaan kuier het in die aftree-oord. Meneer is natuurlik glad nie meer in staat tot vernietiging nie, maar ons sluit hom nog soms daar toe. Ongelooflik hoe honde die lus vir lewe verloor wanneer hulle gekastreer word. Langs die duiwehok lê ‘n versameling stukkende potte, asbesplate, sinkplate, rolle draad, houtsparre, stoof onderdele, kar-springs, tuingereedskap, dekgras, ‘n skottelbraai, gasbottels, die vorige posbus, ‘n stukkende sifdeur en ‘n omgedopte kruiwa, op sy neus gebalanseer in ‘n permanente pirouët. Aan die regterkant van die huis, waar die Wonderlawn eers yl raak en dan heeltemaal verdwyn waar die kinders twee maande terug nog krieket speel het, lê die omgekeerde voëlbak wat hulle as paaltjies gebruik, steeds in dieselfde posisie, ondanks allerlei dreigemente. Verby die krieketveld groei twee verkrampte perskebome, ‘n stok-ou appelkoosboom wat die heerlikste soet vrugte dra en ‘n stompgesnoeide moerbeiboom wat vir niks anders deug as sitplek vir voëls nie. Daar’s nie veel tuin aan die linkerkant van die huis nie, net ‘n paar meter voor die bure se 2 meter hoë vibracrete-muur, oortrek met een of ander rankplant waarvan ek die naam nie ken nie, maar ek weet dis daai een wat my hooikoors gee in die lente. Al kap ek altyd die ranke af wat aan ons kant van die heining groei, kry ek nog altyd hooikoors, jaar in en jaar uit. Die droë stokke van krismisrose staan verdring tussen die heining en die linkerkanste hoek van die voortuin, waar tydens die lente ook kannas en irisse van allerhande Twinsaver-skakerings ‘n kleurvolle boskaas vorm. Groot rotte maak dan hier hul nes en tesame met die bonkige molle verskaf hulle my hoofbrekens wat eerder kon gebly het. Dis nie asof ek regtig omgee dat die grasperk omgedolwe word nie, maar my vrou reken dis die man se afdeling – pesbeheer – so ek hoor dit maand in en maand uit. Die reënwatertenk staan dieper die erf in, tussen ons huis en hulle s’n. Dit lek wanneer dit vol is, en die gras en plante daar is altyd groen, behalwe die tyd van die jaar, wanneer alles begin doodryp. In die somer is dit waar die muskiete uitbroei en Meneer in die modder rol. Die kinders draai soms die kraan oop en bou damme, dolwe die hele plek om en pak bakstene en grondwalle, voer die water met ou geute oor die voorste grasperk tot in die roosbeddings, waar groen army-mannetjies hulle land se bates beskerm. ‘n Hout tuinbank staan in die diep skaduwee van die seringboom in die voorste regterkantste hoek van die tuin, die pote weggesink van jare se swaar sit van vet tannies en ooms, Meneer se witverdroogde hopies hondestront daarom geplaas soos kosbare offerandes of talismans teen onheil. Dieper onder die boom, tussen die boom en die erf se hoek, het die kinders verlede winter ‘n huis gebou met ou binnebande wat hulle anderkant die parkie op die oop stuk grond opgetel het en een vir een huis toe gerol het. Dit het hulle ‘n hele 10-dae vakansie besig gehou. Die binnebande lê nou nog daar, tien van hulle, maar die kinders weier om hulle terug te rol. Hulle speel nie meer in hulle binnebandhuis nie. Hul nuutste projek is gatgrawe in die agterplaas. Verlede week het hulle ‘n vergete waterpyp, die een wat veronderstel was om die voëlbak te voorsien, raakgekap met ‘n pik. Dit het my ‘n uur gevat om die watertoevoer af te sny sodat die hele agterplaas nie onderwater staan nie. Meneer het dit nogals geniet, ek’t hom lanklaas so opgewonde gesien. Maar die volgende dag, toe die son die modderigheid begin opdroog het, het hy weer in sy asbes-hok gaan lê en net uitgekom om te eet. Sy sê ons moet iets kry by die veearts, want sy dink hy’s siek, maar ek dink nie dis ernstig nie, en veeartse is deksels duur. Boonop, as mens na die veearts se eie honde kyk – die twee Weimaraners staan elke Sondag voor die NG Kerk en blaf totdat die klokke ophou lui – sou ek nie Meneer se geestelike welsyn aan hom toevertrou nie. Reg langs die voorhekkie staan ‘n paar aalwyne. Kinders wat een aand loop en kwaaddoen het, het die een omgeskop en die lê nou teen ‘n 45 grade hoek en groei, rustend op die wit muurtjie. ‘n Natgedoude spinnerak blink onverwags tussen die harde blare daarvan. Ek maak die hekkie oop, die eenvoudige, dog lomp, meganisme daarvan wat my soos altyd irriteer. Ek stamp dit half toe met my been soos ek op die sypaadjie trap, waar gemorspos rondgestrooi lê. Meneer het geen planne om in die verkeer te gaan speel nie, en selfs al het hy gehad - hy’s mos mooi groot - kan hy vir homself sorg. Die ligblou Sierra is op dieselfde plek geparkeer, onder die derde olienhout links van my. Toe ons die huis gekoop het, was dit natuurlik een probleem – dit het nie ‘n garage gehad nie. Ek’t beoog om een te bou met my eerste dertiende tjek, maar die was te klein en jongste het ook solids begin eet en so het ons begrotings bly groei. So die derde olienhoutboom moes eenvoudig doen, al het die spreeus gedurig deur die vroeë somer pers blertse daarop geskuit wat ou Samuel by die werk net met die allergrootste moeite kon afwas. My leerskoene knarts oor die grondsypaadjie, my voorlyf leun oor die rand na die kar, sluit dit oop en gooi die tas op die agterste sitplek. Dit klink asof iets hards rondval in die tas, maar ek steur my nie veel daaraan nie, dis seker maar ‘n krammasjientjie of iets, al onthou ek nie dat ek gister een van die werk af saamgebring het nie.

“Ek skuif agter die stuurwiel in, draai die sleutel en die enjin start onmiddelik, die ligweg knorrende masjien se meganiese gespin wat die oggend se stilte verbreek. Die groen digitale horlosie in die dashboard staan reeds op 06:17 en ek swets binnesmonds. Ek weet die horlosie is vyf minute voor, maar dit beteken steeds dat ek die voorste ent van die ergste verkeer gaan vang. Soos ek by ons straat, Ziervogellaan, uitdraai sonder om te stop by die stopstraat, begin die son helder lig maak in die ooste, en ek skakel die radio aan, waar ‘n Engelse stem ‘n nuwe treffer van ‘n popgroep, waarvan ek nog nooit gehoor het nie, met entoesiasme aankondig. Terwyl ek my weg baan deur die doolhof van die buurt, af by die bult in die rigting van die snelweg, knyp ek nou en dan die stuurwiel met my bene vas terwyl ek ‘n sigaret aansteek. Ek gebruik die kar se sigaret-aansteker. Wanneer die sigaret ywerig gloei in reaksie op my diep gesuigery, draai ek die ruit so vyf sentimeter af sodat ek nou en dan na buite kan ash. Die luggie is koud, maar ek’s gewoond daaraan. Hoe nader ek aan die snelweg kom, hoe besiger raak die strate. By die groot boulevard wat wyd deur die buurt se sakesentrum sny, is die koerantverkopers lankal reeds op hul poste, die ywerigste bedelaars in hul skadus, die Malawiërs wat rooi hangers en swart sakke verkoop, die somber Mosambieker met sy gekerfde kieries en ketties en die dik vroue met hulle lemoene en naartjies – ek ken hulle al so goed, nie by naam nie, maar hul gesigte sal ek enige plek herken. Kinders help vrugte aflaai van ‘n voos blou bakkie op die hoek waar die robotte altyd vir ewig duur, want almal slaan van hier af hul eie rigting in. Die sakke uie, aartappels, kole en bete word in driehoekige hopies opgestapel. Ek kyk automaties na die petrolnaald wanneer ek die Shell nader aan my linkerkant net duskant die laaste stel verkeersligte voor die snelweg, maar die tenk is nog oor halfvol, soos ek verwag het, want ek’t volgemaak eergister op die laaste. Wanneer die lig reg voor my oë onverwags rooi raak na ‘n baie kort oranje-fase, koop ek ‘n koerant van die vent daar, sy nors glimlag wat net kyk vir my geld en my kredietkaarte, die leer van my oop beursie. Ons groet mekaar op Noord-Sotho. Dis net drie sekondes, dan’s hy weg na agter, ‘n skuifelende figuur in my tru-spieëltjie, ‘n mens wat doen wat niemand wil doen nie. Dalk kan hy self nie eers lees nie. Hy verkoop dus iets wat vir hom niks beteken nie. Niks behalwe kos in die maag en drank in die bottel nie. Dalk skoolklere vir die kinders, stampmielies en suiker. Ek verwens hom oombliklik vir die feit dat hy moet bestaan om die land tot sy volle potensiaal te laat funksioneer. Ek kyk net onderlangs na die koerant, sonder om dit heeltemaal oop te vou, maar dis genoeg om die hoofopskrif te lees. Die storie gaan oor ‘n karbom-ontploffing in die Oos-Kaap, naby Port Elizabeth. Om een of ander rede laat dit my ingenome glimlag terwyl ek die koerant op die sitplek langs my plaas. Die sekretaresse sal dit waardeer en dalk vir my koekies saam met die tee bring.

“Op die snelweg vloei die verkeer reeds dik, maar met die oprit vind ek ‘n vinnige baan sonder te veel moeite. Soos elke dag, met elke twee kilometer nader aan die stad, neem die algehele spoed van al die karre om jou af met 5km/h, totdat dit, dig teen die stadsmure, totaal tot stilstand kom. Die son is nou op en skyn van die passasierskant by my Sierra in, die warm strale wat net effe troos bied teen die grys landskap om my. Met die woonbuurte nou agtergelaat, meander die snelweg lui deur die industriële gebied. Agter hoë, geëlektrifiseerde heinings, lemmetjiesdraad, en selfs bemande wagtorings by die petrol-depot, steier warehouses, fabrieke, skrootwerwe en onverklaarbare lang, lae geboue oor die landskap. By sommiges stroom grys, wit, swart of bruin rook die lug in, by ander stoom uitlaatkleppe, by ander brand los vlamme sigbaar bokant hul dun skoorstene, die reuke van swawel en verbranding wat saam met die motor uitlaatgasse, houtvure en my sigaret ‘n sekere familiariteit aan die toneel verleen. Swaar voertuie, voorhakers, afleweringsvoertuie en bakkies beweeg rond oor groot erwe, besaai met tolle kabels, SAR-containers, stapels hout en gruishope waartussen figure in oorpakke opstaan, afbuk, skep, gooi, vang, stap, hardloop, stop en weer begin, asof die bouers van onmeetbare groot Tinker Toy strukture. Wanneer die fabrieke begin verdwyn, verskyn die townships, digte huise naby aan mekaar, ‘n miernes platgekap met die agterkant van ‘n skopgraaf, die ligte van gaslampe, vure, kerse en helder gloeilampe wat orals uitskyn, met die massiewe buurtligte wat soos UFOs daaroor hang, ‘n industriële visvanger, wat nou en dan ‘n niksvermoedende voetganger oppik uit die nou straatjies, waar honde, riool-afval, pappot-skraapsels, plastieksakke, bierkratte, kinders en as tussen deurkosyne dwarrel. Groot, helder advertensieborde verskaf afwisseling, maar na ‘n ruk raak mens ook moeg vir die versoekende boodskappe waarmee nuwe produkte of skamel-geklede vrouens jou probeer uitlok. My maag grom onder die halwe koppie koffie en ek grawe in die asbakkie rond vir kougom, wat ek na ‘n groot gesukkel opspoor tussen die tandestokkies, paper clips, twee-sent stukke en cash slips. Dis die laaste Stimorol in die pakkie en dit proe na stof en plastiek, maar dit stil vir ‘n wyle die geraas in my maag. Nou en dan hardloop inwoners van die townships roekeloos oor die pad, al is daar voetbrûe elke vyf kilometer. Elke maand sterf tien mense op hierdie stukkie pad, onthou ek uit ‘n onlangse nuusberig. Die rooi remligte van die karre voor my gaan gelyk aan elke nou en dan, dan stotter die verkeer vir ‘n ruk, ‘n plastiekbumper wat in die pad lê, dalk ‘n sak aartappels wat agter van ‘n groentetrok af geval het. Laas Desember was die hele pad eensklaps vol spierwit ganse. ‘n Trok het van die pad afgerol en ganse is die verkeer in. Drie mense is dood en vyftien ernstig beseer in die daaropvolgende bloed-en-vere-bad. Niemand het die dooie ganse getel nie. Ek’t net anderdag nog ‘n veer uit my verkoeler se grid gehaal.

“Soos die townships verdwyn, net anderkant die toegeslikte, besoedelde rivier, verskyn ‘n nou strook verwarde plotte, kaalgemaai deur jare se gestoei, brandstoppels, dooie akkers en murasies wat geluidelik deur die swam van die stad oorgroei word, ‘n ou woonbuurt staan geut aan geut met ‘n nuwe kantoorkompleks, waar sekuriteitswagte die ys in hul hande warmblaas, hul honde se leisels ingehaak onder die voete van plastiekstoele, die dromvure om die bekke van die grotte. Neon en staal, plastiek en groot blokke glas staan hier en daar uit in die sementmure, die argitektuur wat met die dekades geleer het om al die gemors by die geheel te inkorporeer. Glasstukke op mure, plastieksakke in drade, geroeste plate op sypaadjies, windverwaaide kartonne op padreserwes - dit aan die voetenent van die horison wat hoër en hoër voor jou enjinkap begin ophoop, asof jy die stootskraperbestuurder is wat dit in die put moet afstoot. Teen hierdie tyd prut die verkeer stoots, net nou en dan skiet ‘n laan vorentoe, dan stop dit weer, dis ‘n ewige getreiter tussen die petrol, die rem, die clutch en die ratte. In my kop sit ek reeds my dag en uitwerk, daar’s nie veel om neer te skryf of notas van te maak nie, want in my lyn van werk sou ywer as sodanig ten toon gestel as hoogs verdag deur my kollegas tydens middag-tee bespreek word. Iemand moet die metropool aan die gang hou, elke man met ‘n rubberstempel agter ‘n stapel papiere – dis nou ek – doen sy deel vir gereelde vullisverwydering, waterverskaffing en buurtverfraaiing.

“Skielik breek die verkeer op, die klip wat gelig word van die plastiekpyp, die ysterfontein spat nou die stadstrate in, elke afrit laat die hele oggend nou sidder met beweging, almal skielik wakkerder, die vars geklap van Blue Stratos oor ons wange, die platejoggie wat dit aanvoel en iets opgeweks speel, die advertensies flits oor die stasies, oor ons koppe heen, billboards wat nou begin skadu gooi oor die karre, die ander wat aan kante van geboue hang – sodoende dalk honderde werknemers se uitsigte versper, hul kantore donker swaelneste van min gemak maak, waar net die vure van elektriese verwarmers die dons effens opwarm – soos berge met name, die idee van die idee vir ewig in ons koppe, dit kom na ons in drome. Wag, ek wyk nou van my storie. Ek sit nog so twintig minute in die verkeer - dis nou 08:32 en ek’s reeds twee minute laat – voor ek my gebou nader, ‘n dertig-verdieping blok in die middestad. Die Sierra se neus draai by die ondergrondse parkering in, waar ‘n sekuriteitswag die nommer op die plakker op my voorruit aftik teen ‘n clipboard voor hy die boom laat opswaai. Om een of ander rede salueer hy my daardie môre, maar ek dink niks daarvan nie. Nadat ek veilig in nr. 284 geparkeer staan, loop ek na die hysbak in die middel van die parkeer-area, my werkstas swaaiend in my linkerhand, weer voel ek iets swaars daarin rondval. Enkele kollegas van my staan reeds daar en wag vir die hyser om na benede te daal. Ons groet skaars, en ek hou op om my tas te swaai, want ons ken mekaar nie so goed nie, ons werk ten minste vier kantore van mekaar af. Hier rond ken jy net die persoon direk bokant jou en direk onder jou in die proses – een baas en een onderdaan per persoon per jaar. Dis veiliger so, want waarmee ons werk is die geheel, en die geheel het geen genade vir gesellighede nie, wat nog te sê vriendskap. Die hyser arriveer uiteindelik en sewe van ons beweeg woordloos in, ry woordloos teen 24 vloere op, stop net nou en dan om mense op of af te laai. Dit ruik na tapyte, naskeermiddel, laventel en tandepaste in die hysbak, die skerp wit oorhoofse lig wat ons almal na uitstallings in ‘n klerewinkel se vertoonvenster laat lyk. Of in ‘n museum. ‘Moderne Mense In Natuurlike Omgewing’. Dis nou as jy ons swak modes en patetiese figure sou verskoon.

“So het daardie dag begin – skynbaar doodnormaal. Die oomblik wat ek by my afdeling se gang ingestap het, het ek onmiddelik besef iets groots was fout. Dieselfde koerant wat steeds onder my arm vasgeknyp was, was teen die kennisgewingbord opgeplak, die voorblad en bladsy drie-artikels uitgeknip en oopgespalk sodat dit deur almal gelees kon word. Die voorbladfoto was van die uitgebrande wrak – die karbom buite Port Elizabeth. Bladsy drie het swart-en-wit foto’s van die oorledenes gehad. Hulle’t baie bekend gelyk. Van die openingsparagraaf kon ek aflei dat die vier mans wat dood is in die ontploffing swart aktiviste was. Ek’t weer vir myself geglimlag, sonder om te weet hoekom. Bokant die koerant-uitknipsels was ‘n stuk wit karton vasgedruk met drukspykers. Daarop het gestaan: ‘Knap Gedaan Seksie F3! Ons: 1 – Hulle: 0. Doel Aangeteken Deur Die Braai!’ Dit was dit. Ek het begin vermoed dat ek nie meer seker was van wat ek elke dag vir die afgelope vyftien jaar in daardie kantoor gedoen het nie. Op pad na my kantoor het verskeie van my kollegas, gister nog relatief vervelige kantoorbewoners, maar nou gewapen met nie net breë snorrerige glimlagte nie, maar ook met versteekte vuurwapens in hul sye, my gelukgewens, hand geskud, ‘n klop op die skouer gegee. Die sekretaresse het eerbiedig opgestaan en saggies hande geklap, haar glinsterende pêrel-halssnoer onvanpas smaakvol teen die res van haar vaal uitrusting. Sy’t beduie dat koffie en beskuit reeds in my kantoor wag, asof ek elke dag so ‘n roetine sou volg. In my kantoor het my baas vir my gewag en vir tien minute lank geprys oor die sukses van die operasie, waarop ek net terug geglimlag het en alle eer aan my knap span gegee het. Toe hy uiteindelik daar uit is, met belowende praatjies van ‘n groot dertiende tjek, het ek agter my lessenaar gaan sit en my tas oopgemaak. Ek het my rewolwer, wie se teenwoordigheid ek nou kon verklaar, uitgehaal, daarna gestaar asof dit ‘n rare fossiel was en dit in my boonste laai geplaas, want ek’t nou onthou dat ek dit altyd daar sit. Om my was bekende voorwerpe: ‘n Sanlam lessenaar almanak, my stel goue Parker penne, my ‘World’s Greatest Dad’ koffiebeker, ‘n kaktus in ‘n plastiekpot, ‘n Addisware-asblik, foto’s van my kinders en vrou in CNA-raampies. Toe het ek met die dag se werk begin, al kon ek nog nie glo dat ek sonder my eie wete ‘n karbomontploffing suksesvol gekoördineer het nie.”

Ek het Die Braai nou onderbreek. Of hy’t eintlik doelbewus ‘n langerige gaping gelaat, met die hoop dat ek daarop sou let. Ek was weer terug naby die rand van die vlesige oor, so ek trek myself op en klim uit op die groen gras. Ek skud mos ligweg van my broek af. Die partytjie is nou so baldadig en dig bevolk dat dit gevaarlik begin raak. Big Voice Jack is op die gazebo aan’t sing en speel. Tenzing Norgay doen ‘n weergawe van ‘walk like an Egyptian’, Hillary doen die Bananarama-fluit. Ek maak my mond oop en alkohol vloei daarin, asof die verandering in lugdruk dit uit die atmosfeer in my keel afsuig. Ek weet vir seker daar’s nie ‘n bottel in my hand nie. Daar word nou geroep dat dit voordeel en wedstrydpunt vir Lendl is. Ek gaap, die getuite lippe gerek om die tande, die oop kake, ‘n bobbejaan wat nie meer skaam is vir kaal wees nie. Danse word gemaak, riele word gekap. ‘n Tekstuur uit my kinderdae hardloop oor my kop, maar wanneer ek dit probeer onthou, is dit weg, net nog ‘n smaak of ‘n reuk of ‘n geriffelde stuk materiaal tussen vingers wat ek nooit weer sal kan ervaar nie. Vir ‘n oomblik frustreer dit my, maar dan maak dit ook nie meer saak nie. Rooi verf kom in talle skakerings.

“So, verstaan ek jou nou reg, jy’t wakkergeword en werk toe gegaan sonder dat jy besef het wie jy werklik was?”
“Ja. Soort van. Sien, ek moes eintlik geweet het, in my onderbewussyn.”
“Ongelooflik.”
“En dit was nie die eerste keer nie.”
“Ja?”
“Ek sal jou ure kan besig hou. Dis soort van my roeping.”
“Jy hou my reeds ure besig. So, as hierdie jou voorbeeld is, wat probeer jy daarmee illustreer?”
“Soos ek gesê het, van tye van verandering.”
“Ons leef altyd in tye van verandering.”
“Ja en nee. Maar nie in tye van onherroeplike verandering nie. Of onverklaarbare verandering. Nie van verandering van verandering self nie. Ons’t eenvoudig te veel gelewe. Te veel rustelose siele wat te selde in vrede gegaan laat word en te min hergebore siele wat in vrede die lewe kan binnekom. Die moontlikhede van verwarring, die gidse, die kaarte, die hulplyne, die raadgewers en die konsultante. Die informasie oor informasie. Sneeu in die Arktiese sirkel wat wit en eindeloos om ‘n bergpiek vlok. Die wêreld is vol daarvan, dit loop oor, elke land, elke volk, elke familie, elke mens. Ons kan onsself nie meer stuit nie, altemits, nie met vooruitgang nie. Vooruitgang kan nie ewewig bewerkstellig nie, dit kan nou net skade aanrig. Ons doen dinge waaroor ons geen beheer het nie, raam dit met verwysings na ons bankbalanse, ons vriendekringe, ons inkopielyste, ons stemregte, ons regerings, ons verkeersboetes, ons versekeringspolisse, ons elektrisiteitsrekeninge, vakansiebestemmings, opvoeding, godsdiens, stoelgange ensovoorts. Waar loop dit op ‘n hoop? Nêrens nie. Wanneer jy alles kan koop, hoe kan jy enigiets werklik waardeer? Binne al hierdie prosesse is ons byna volkome nutteloos. Niks, of verskriklik min, van wat ons doen in ons daaglikse doen en late, beteken enigiets noemenswaardig. Ons neem foto’s vir die vale, maar niemand kyk met ware entoesiasme na familie foto-albums nie. Wie gee nou om hoe jy op jou troudag gelyk het? Op watter ouderdomme jou vet kinders begin regop loop het? En is kruip nie maar beter nie? Beroemde mense, soos die wat vannaand hier vergader is, hulle bied effens meer. Maar hulle staan net uit bo die gedruis van die massa omdat ons in die massa is. Sonder die onbekende massa kan jy nie beroemdes hê nie. Sonder die verdrukte volk kan jy nie die volksheld wat die juk kom afgooi, vind nie. Sonder sonde, en sonder mense wat jou geloof vervolg, kan jy nie ‘n verlosser hê nie. Jy’t hom eenvoudig nie nodig nie. So nou, met alle moontlikhede verspeel, kom ons by die logiese eindpunt – die stadium waar mense moet doodgaan. Sal dinge hierna weer aangaan? Maar natuurlik. Maar ons gaan niks daarmee te doen hê nie, vir ons is dit reeds te laat.”

“Is dit nie onregverdig nie? Die dat ons hiermee tot ‘n einde kom nie? Wat daarvan as ons nog nie enige aardse bevrediging gehad het nie? Ek’t nog nie eers vir Fyntjie gevind nie.”

“Dis tipies. Ons is selfsugtig. Onthou, party gaan dood terwyl hulle nog babas is. Hulle’t NIKS gesien nie, skaars gehoor of gevoel of ervaar. Net so kilogram en ‘n half se bloed en vel, dan uit in ‘n emmer en in ‘n plastiek sak die nag in. Ag, wanneer word dit nou regtig ‘n lewe? Ek hoor jou, ek hoor daai vraag. Dis ‘n ou, ou vraag, maar die ergste van als is dat ons dit van enige ander lewe kan vra, selfs ‘n lewe wat 100 jaar duur. Wanneer lewe ons werklik? Moet ons iets groots bereik? Is dit eerbaar genoeg om bloot afstammelinge te produseer? Moet ons ‘n boedel agterlaat? Hoeveel tel dit werklik om ‘n goeie lewe te lei? Wat dan van die sondaars? Ja, damnit, wat van die sondaars? Die goed en die kwaad is kop aan kop in die pylvak, maar die eindstreep is nie ‘n lint nie, dis ‘n guillotine vir beide. Wat ons dus moet doen is opoffer. Iemand moet opoffer sodat die wat hierna sou kom, ‘n skoon gewete het om vandaan te werk. Ons is in die huidige moeilikheid, omdat ons almal voor ons se skuld in ons bene ronddra, al dink ons selde daaraan. Dit sit in ons breine soos klippe, tap soos ou olie deur ons senuwees, lê in die tale wat ons praat. Nou en dan steek dit kop uit, maar ons maak dit traak-my-nie-agtig af as ‘sommer niks’. Maar dis die dinge wat ons laat selfmoord pleeg en mekaar vermoor. Dis die droogtes en die liefdestelleurstellings. Die skuld en die egbreuk. Die depressie en die drank. Die dwelms, die doelloosheid, die ongure lê van die dolosse. Hulle lê nie eers in die rough nie, hulle lê ver buite die speelveld. Ons moet alles hier beëindig sodat ons kinders, of dalk hulle kinders, oor kan begin. Anders is daar net een uiteinde. Dit is gewis ‘n nuwe situasie, ‘n horison-gebeurtenis wie se enigste kompetisie die alewige praatjies van menslike klone is. Klone kan ons ook red, maar daar’s te veel wat verkeerd kan gaan. As ons dit self bewerkstellig, so ‘n doelbewuste proses van natuurlike seleksie, sou dit moontlik wees, dan staan ons ‘n beter kans. Dis ‘n gul geleentheid die, een wat ons moet aangryp. Anders gaan die klone wen, en dan’s die kanse goed dat die wrang smaak in ons monde bloed blyk te wees. As dit alles vir jou te veel klink na massa-selfmoord – wel, dis nie ver verkeerd nie. Maar nie massa-selfmoord soos ons dit ken nie. Sien dit as ‘n opgefrommelde kaart wat jy kou en insluk. Die verorbering van die bestaande euwels, die eenword met die landskap. Kunsmis tot kunsmis, wortelkiem tot kiemwortel. Gewig ingooi agter die inspit van die eko-sisteem. Almal gaan weliswaar nie deelneem hieraan nie, maar dis deel van die plan. Dis mense soos ek se taak om te verseker dat net die beste kandidate oorbly. Ek en jy is ongelukkig reeds aangeraak deur te veel kwaad. Ons moet deurdruk. Maar soos jy weet, ek’s nie gevoelloos nie, dis juis hoekom dit so belangrik is dat jy vir Fyntjie opspoor. Dalk is jy gelukkig, dalk is sy net die regte vrou om jou menswees mee te deel in hierdie desperate tye. So ‘n liefde is die minste waarop jy – en enige ander mens – geregverdig is. Ek’s hier om jou te help, en ek het terselfdertyd jou hulp nodig. Ek sal die dorpe eet, jy moet die padkaart kan onthou.”

“Ek kan skaars onthou wanneer ek laas goed geslaap het. Dit voel na jare gelede. Ek hoop dis ‘n eenvoudige padkaart daai.” My kop draai, in Die Braai se oë flits die skyfies. Oranje aalwynblomme waarteen die laaste son skyn, met bruin klippe daaragter, waaronder skerpioene skuil.

“Dit is, jy ken dit reeds goed. Jy ken die paaie, die dorpe en stede. Die riviere en bergreekse is aan jou bekend. Jy’s ‘n joernalis, jy reis rond. Maar wag, sluk hierdie lekker en dan sal jy onthou. Van die slaap.” Die Braai bring nou ‘n Quality Street-sjokolade te voorskyn, die een met die pers cellophane, die pienk foelie, die dik laag sjokolade en die neut in die middel. In die vorm van ‘n vet, geriffelde kano. Ek neem dit plegtig by hom, trek die papiere af en plaas dit in my mond. Dis die stemming van ‘n nagmaal, maar die bloed en die vlees proe al te lekker vannaand, niks van desjare se stowwerige vernis-reuke nie. Die dik sjokolade smelt in my warm mond, soetigheid, kakao en die eerste belofte van ‘n krakerige, houterige, dog geurvolle, hazelneut begin deurskemer. My oë, oftewel my ooglede, swem teen die stroom, otter met dikgevrete pens vol krappe, dan oorweldig die dik room my en dit word swiepend donker.


9.

Die son skyn. Dis ‘n pragtige dag. Deur die geel gordyne van die sonkamer stroom die lig, die ligte warmte, die tien-uur son. Dit val oor my ma se kop, haar swart bos hare wat blink bo, ‘n glinsterende sjampoe-advertensie, dan oor die klein stukkie bokhaarmat tussen ons, op teen die rottangbene van die rusbank, teen my kaal bene, oor my kakiebroek, oor my maag, op teen my hempskraag, oor my ken, tande, neus, sproete, oë, voorkop, kuif, dan teen die muur op, wit en effens vuil, tot waar dit eindig so handbreedte in die landskap van die swartgeraamde portret in. By die tafel waarop die naaimasjien nog staan - die gezoem daarvan het my net na sewe wakkergemaak - tussen tolletjies garing, gestopte kouse, naamlinte, ‘n skêr en maatband, staan die skinkbord waarop my suster besig is om rooibostee in koppies te skink. Sy lig die teepot versigtig op, die stoom wat oor haar voorarm rol, die bruinrooi tee wat met ‘n geklets onder in die koppies val en dan vinnig van stem verander soos die koppie vol word. Sy fokus al haar aandag op die tee, haar een blou oog wat sigbaar is van my kant, duidelik gesper van die konsentrasie, ‘n diep spinnerak waarbinne onbekende gedagtes toutjies trek. Haar swart wenkbrou en ‘n sliert swart hare wat oor haar wang rus, lê stil soos uitgesleepte bote tussen die donker modder van haar vel waarin klipperige sproete effens roer. My ma kyk op van die kous wat sy sit en stop oorkant my, lig haar oë oor die bruin plastiekraam van haar bril en vra iets vir my suster. Gerusgestel, draai sy weer haar oë na haar hande, wat sekuur die naald en gare deur die voosgetrapte hak ryg, een of ander kous van my pa. Die hout-eier waarmee sy kouse stop bol soos ‘n ballon tussen haar vingers. Dan kyk sy weer op, roep hard na die kombuis om te hoor of die koekies al uit die oond is. Vinnige voetstappe kom in die gang af, deur die sitkamer en dan verskyn Sara in die deur met ‘n bak warm gemmerkoekies op ‘n klein skinkbordjie. Sy plaas dit versigtig langs my suster, vra iets vir my ma, kry ‘n opdrag as antwoord en verdwyn weer na agter. Die reuk van die koekies trek deur die sonkamer en laat dit selfs geler en warmer daarna uitsien.

My suster gooi nou suiker en melk by die tee. Ons hoef haar nie te sê wat ons vat nie, want sy weet goed. Agter haar staan ‘n groot, diep boekrak, waarop ‘n hele reeks vaalrooi – gebleik op hul rûe deur die son – Kennis ensiklopidieë staan, in die korrekte numeriese volgorde. Daar is ook ander boeke, soetsappige liefdesverhale in Afrikaans, my pa se voëlboeke, ‘n groot kinder-atlas van die wêreld en my oudste broer se universiteitsboeke. Hy’t medies geswot, so daar’s baie boeke oor dinge wat ek nog nie kan verstaan nie, alhoewel my pa gesê het dat ek dit dalk eendag handig sal vind. Soms blaai ek daardeur en kyk na die prentjies, allerhande ingewikkelde diagramme van liggaamsdele en foto’s van vratte. Dit lyk bietjie soos my suster se hoërskool biologie handboek, maar baie ingewikkelder. ‘n Paar van my gunsteling leesboeke is ook op die rak, maar die meeste is in my kamer. ‘Serafyn teen Serafyn’ kan ek van hier af sien, want dis nogals ‘n groot boek. Ek’s mal daaroor, alhoewel ek dit nie regtig verstaan nie. ‘n Man genaamd Serafyn word agtervolg deur ‘n man genaamd Serafyn. En dis al wat gebeur in die boek. Die prente is baie goed gedoen en op party bladsye is dit moeilik om altwee Serafyne tussen die massas mense op te spoor. Maar hulle dra presies dieselfde klere – bruin fisantpette, geel truie, geruite bruin baadjies en ‘n bruin broeke - en is onmiskenbaar. Hulle’t ook altwee groot geel snorre en loop met kieries waarvan die handvatsels sierlik gekrul is. Ek’t die boek al lankal, maar lees dit nog partykeer om te kyk of daar nie iets is wat ek gemis het nie.

Op die boekrak staan ook geraamde foto’s van die hele gesin. ‘n Trou-foto van my ma en pa. Dis swart en wit, hy dra swart en sy dra wit. Hulle hare is mooier as wat dit nou is, maar verder lyk hulle dieselfde. Hulle glimlag breed, so breed dat die kamera se flits van hul tande en wange weerkaats. Mens sien nie veel in die agtergrond nie, net takke van bome. Daarnaas is ‘n spanfoto van my suster toe sy die plaaslike streekspan vir netbal gehaal het. Sy staan in die agterste ry derde van links, haar dubbelloop bokstertjies wat soos kommas bokant haar ore uitspring. Sy was die aanvallende verdediger. Voor die voete van die afrigter en die hulp-afrigter, staan ‘n splinternuwe sportsak waarop mens kan lees ‘SA Plattelande Netbal Kampioenskappe 1987’. Daar’s ‘n foto van my twee broers in hulle militêre uniforms. Hulle salueer. Dis geneem op ‘n treinstasie, maar ek kan nie onthou waar nie. Ek glo nie ek was saam daardie dag nie. Daar’s ‘n foto van al die kinders, ek was seker omtrent vier jaar oud, saam met ouma een Kersfees. Dis nie so goeie foto nie, maar jy kan al ons gesigte goed uitmaak. Ouma se kop is effens na die kant toe gedraai, met haar lippe getuit, asof sy my nou net gesoen het of op pad was om my te soen, want ek sit op haar skoot. Die ander staan rondom ons, agter die stoel en my suster sit op die breë hout armlening. Al die kinders dra daardie dun papier Kersfees-krone, wat altyd of rooi en groen of blou en geel was. Ouma dra nie ‘n kroon nie, maar haar rok is genoeg versiering. Dit lyk amper asof sy kamoefleerdrag dra, want die bekleedsel van die stoel en haar rok kom duidelik uit dieselfde fabriek uit. Ek is baie vet op die foto, ten minste in vergelyking met hoe ek nou lyk, want my ma sê heeldag ek begin nou groei en dat ek meer moet eet, want ek bly maer. Maar daar op ouma se skoot is ek vet, my wange is vet en my bene, waarmee ek so oop ketel sit dat my rooi onderbroek duidelik sigbaar is, is ook vet. Ek dra ‘n oranje hemp en ‘n kort kakiebroek. Ouma hou my een hand vas, maar die ander een rus op my been. As jy mooi kyk, kan ‘n pleister om my vinger uitgemaak word. My broers hou speelgoed gewere vas en my suster het ‘n blink, onoopgemaakte geskenk op haar skoot. Agter my broers is die kersboom, ‘n soetdoringboomtak vol geel blommetjies en silwer, goud, plastiek en papierversierings. Ons’t die boom vroeër daardie dag naby die rivier gaan afsaag. My broers het al die werk gedoen, maar ek wou ook handig wees. Ek’t aangebied om die tak op die bakkie te laai, maar dis toe die doring my gesteek het. Dit was baie diep en ek’t amper gehuil, maar ek het nie, want my broers het gesê dis sommer niks nie en dat ons net ‘n pleister sal opsit as ons by die huis kom. Ek’t die bloed uitgesuig en toe ‘n stukkie toiletpapier onder die bakkie se sitplek gekry waarmee ek die bloed gestop het. Daar’s ander foto’s ook, meestal skoolfoto’s in kartonrame van Prestige wat soos hout lyk, maar my gunsteling een is van ons hond. Dis ‘n Dobermann-Rotweiler kruising en sy naam is Baracus (uitgespreek ‘Brakkus’), genoem na B.A. Baracus van die A-Team. My pa is baie goed met hond naamgee. Jare later het ons ‘n hond genaamd Fiela gehad, maar my pa’t daarop aangedring dat dit Phylla gespel word, soos in phyllum. Op die foto, wat voor die huis op die grasperk geneem is, lê Baracus plat op die gras, sy ore teen sy kop. Hy’t die punt van ‘n groen tuinslang in sy mond en trek dit met alle mag na sy kant toe. Erens buite die foto trek iemand aan die ander punt daarvan, maar mens kan nie sien wie dit is nie.

Op die boekrak staan ook ‘n pennepot, wat ons verlede jaar in die Wildtuin gekoop het, waarin ‘n versameling ystervarkpenne, voëlvere, lang pendorings, palmiet-sade, droë grasse en interessante stokke styf ingedruk staan. Elke keer as ons terugkom van die veld af, is daar iets nuuts om daarin te steek. In ‘n dun blou blompot is ‘n doringrige stok ingesteek waaraan ‘n kapokvoëlnessie hang. Daar’s ook ‘n bruin erde vrugtebak waarin allerhande dinge gegooi word. Potskerwe, stukke van ou borde wat ons op die ashoop optel, hempsknope, ½ sent stukke, die lem van ‘n ou mes, ‘n grysmuishondkopbeen, gedroogde blomsade, ou sleutels, skroewe, drukspykers, uitveërs, ronde klippies en een of twee stukkende speelgoedkarretjies. Soms kom ek en my pa met dinge by die huis wat my na nie in die huis wil hê nie, dan sê sy net ‘Nee, dit kan julle maar buite op die muurtjie pak’. Dis gewoonlik groot klippe, stukke versteende hout of fossiele as ons gelukkig is. Daar’s baie plantfossiele in die los klippe teen die hang anderkant die rivier, maar been-fossiele is skaarser. Hulle kry ons gewoonlik onder in die vlakte verby die gronddam, naby waar die groot grondpad verbyloop tussen Hofmeyr en Sterktstroom, die een wat ‘n entjie verder die hoogtes van die Wolkberg begin bestyg. Daar’s al ‘n hele ry fossiele op die muurtjie langs die reënmeter. Heel bo-op die boekekas staan ‘n harde plastiek-aardbol langs ‘n stapel ou tydskrifte, meestal Huisgenote en Landbou Weekblaaie en Saries. Soms, as ek temas het om te doen vir skool, klim ek op ‘n stoel en haal hulle af sodat ek prentjies daaruit kan knip vir my plakkate.

Agter my suster, want sy staan met haar kop in die rigting van die venster, is die hoë wit deure van die speelgoedkas, wat ingebou is in die muur. Die twee kasdeure word toegehou deur ‘n stukkie karton wat tussen hulle ingedruk is. Die deure is nou toe, maar as hulle oop is, kan mens teen die linkerkantste deur sien waar ons met ons verjaardae onsself meet. My pa bring gewoonlik ‘n maatband en ‘n koki-pen en help, sodat dit regverdig is en niemand kul nie. Ek’s natuurlik nog heel onder, maar my pa sê ek sal my suster nog verbysteek, want sy gaan een van die dae ophou groei. My ma sê, o nee, sy begin nou eers rek. Op die eerste rak van die speelgoedkas staan speelgoed waarmee ek nie meer so baie speel nie. Dis meestal groot blokkies met die alfabet op, plastiek vierkante en sirkels en driehoeke wat in so groot bypassende Fisher-Price skinkbord pas, ‘n ou telraam, sagte balle met klokkies binne-in, ‘n pap leer rugby-bal, stukkende plastiek gholfstokke, harde plastiek tennis spane, ‘n afgeblaaste strandbal en geel en blou rolskaatse wat my oudste broer op universiteit gehad het. Hulle’s nog te groot vir my en my suster en ons mag in elk geval nie in die huis daarmy ry nie. En buite is daar niks plek nie, want op die plaas is daar nie sement of teerpaaie nie. My suster het al een of twee keer in die skeerhuis daarmee gery, maar sy’t geval en haar enkel seergemaak en kon toe vir drie weke glad nie netbal speel nie en dit was in die middel van die seisoen en dit het haar ‘n plek in die streekspan gekos daai jaar, het my ma gesê. Op die tweede rak staan van my ma se naaldwerkgoeters, wol, lappe, botteltjies vol knope, ritsluiters, 3-in-1 olie en ‘n blik vol breinaalde waarmee ons soms in die winter pick-up-sticks voor die kaggel speel. Daar’s ook ‘n stapel naaldwerkpatrone wat uit tydskrife gehaal is en ander patrone wat sy by haar vriendinne gekry het. In die regterkantste hoek staan bokse en bokse legkaarte, alles van maklike 25-stuk stelle tot die heel moeilikste een wat ons nog net een keer gebou het – 3000 stukke. Dis ‘n stillewe, ‘n blompot vol gedroogde blomme. Legkaartbou is nog iets wat ons in die winter doen. As ek reg onthou, het dit die winter van die 3000-stuk legkaart baie gesneeu. Dit het ekstra lank gevat, want my twee broers was nie by die huis nie, hulle was op die grens. Die ander legkaarte het prente van Europa op, kastele en lenteblomme en riviere en herfsblare. Daar’s ook een van die kaart van Suid-Afrika. Dis my gunsteling een, want dis nogals maklik en het snaakse prentjies van byvoorbeeld ‘n volstruis langs Oudtshoorn, ‘n Groot Gat langs Kimberley, ‘n leeu naby Skukuza en so aan.

Op die rak daarbo, wat ek net kan bykom as ek op ‘n stoel staan, is daar nog boeke, meestal ou storieboeke van my pa wat hy nie meer lees nie. Motballe lê orals rondgestrooi om die vismotte weg te hou. Daar’s ook ‘n skaakstel, nog in sy oorspronklike boks, wat egte ivoorstukke het. Die swart stukke is nie swart nie, maar bruin. Die wit stukke is so roomwit. Daar’s ook ‘n boks vol ander bordspeletjies soos dambord, Ludo, slangetjies en leertjies en Monopoly. My emmer vol Lego’s is ook hier, ‘n groot wit emmer met my naam op. Lego’s is my gunsteling-speelgoed. Ek’t laas Kersfees ‘n ruimte-stasie gekry en ek bou dit elke nou en dan, soms rig ek my windmeul langs die ruimtestasie op, alhoewel my pa sê dit werk nie so nie.

My suster kom sit my beker tee op ‘n klein tafeltjie langs my neer. Ek kyk daarna: dit maal nog liggies in die rondte soos sy dit nou net geroer het. Sy en my ma drink uit koppies en pierings uit. Ek wonder wanneer ek ook uit ‘n koppie gaan mag drink. Dit lyk altyd so lekker om die tee uit die piering op te slurp. My een been, wat onder die ander een ingedruk was op die rusbank, vou nou uit en ek klim van die bank af om ‘n koekie uit die koekieblik te gaan haal. Dis langs my ma neergesit, so ek leun verby haar skoot en neem ‘n hawermoutkoekie. Moenie te veel eet nie, sê my ma, anders eet jy nie jou middagete nie. Ek sê ja, en neem twee. Ek’s nogal opgewonde oor middage-ete, want ons eet nie vandag aan tafel in die eetkamer soos gewoonlik nie. Ons gaan ‘n piekniek pak en saam met my pa gaan kuier, wat hoër op in die kloof van die kleiner landjies ploeg. Hy’s al net na son-op uit die huis uit. Van die kombuis se kant af, hoor ek ‘n sifdeur klap en dan Notchikani se stem, wat tesame met die klaterende pote, nou reeds op die gladgepoleerde houtvloer in die gang, daarop aandui dat een van die honde in die huis is. Sekondes later kom Zibi, die groot swart worshond, om die draai deur die deur gegly. Sy verfrommel die dun wolmat wat daar lê en my ma begin net iets daaroor mompel, maar dis reeds te laat, want Zibi spring langs my op die bank met ‘n stert wat soos ‘n bossiekapper oor die groen en geel plant- en blompatrone heen swaai. Sy’s goed geleer, so sy kyk net vir die halwe koekie in my hand, sy mik nie vir hom nie. Ek kyk vir haar en sy kyk vir my. O nee, sê my ma, niks koekies vir haar nie. En dan: goed, net een, maar buite op die stoep. Ek rek my wenkbrou soos Magnum vir Zibi, wat die idee kry en weer afspring, nou meer opgewonde as ooit. Met my tee en die een en ‘n halwe koekie loop ek na die stoepdeur toe wat aan die ander kant uit die sonkamer na die stoep oopmaak. Die deur is gesluit, so ek sit eers die tee langs ‘n potplant neer en sluit dit oop. Zibi hardloop onder my voete eerste uit, maar draai byna onmiddellik om sodat die koekie nooit vir langer as ‘n halfsekond buite sig bly nie. Haar oë glinster nou soos petrol in ‘n tenk. Asof telepaties, hoor ek nou die ander twee honde van agter af hardloop. Kaspaas die Labrador en Flieks die spaniel kom soos stukkende meubels om die hoek, rooi tonge en hare en pote. Maak die deur agter jou toe, roep my ma, sodat al die honde nie inkom nie. Ek maak die deur toe en sit weer my tee neer, die keer op die draadtafel wat op die stoep staan. Die honde sit voor my van klein na groot. Ek breek die heel koekie in die helfte sodat daar drie ewe groot stukke is. Kaspaas sal dit in elk geval skaars proe, want hy sluk alles kleiner as ‘n rugbybal heel in. Flieks bedek alles eers in slym, so sy sal ook die fynere smakies mis. Zibi eet versigtig. Ek sit hare op die grond neer, waarvan sy dit vlugtig oplek en begin kou. Flieks s’n gooi ek in die lug en sy vang dit mis. Dan trap sy dit met haar harige poot vas, lek dit drie keer – meestal mis, sodat die nat lekmerke teen die stowwerige klipvloer agterbly – en sluk dit lomp in. Kaspaas is teen die tyd die ene gefrustreerde konsentrasie, sy swaar kop wat al my bewegings volg sonder om ‘n spiertjie te verroer. Wanneer ek sy stukkie vir hom gee, hou hy uit tot ek dit reg voor sy neus het, dan lek hy dit behendig van my mond af en klap dit in sy keelgat af asof hy vullis in ‘n asgat gooi. Hulle soek meer, maar sien gou dat ek niks het nie, so hulle draf ‘n paar keer om my en gaan lê dan in die son op die gras. Ek gaan sit op die rand van die stoep, met my voete op die dik gras en my boude op die klipstoep. Die tee het nou al genoeg afgekoel en ek drink die helfte daarvan. Tussen my kaal voete wriemel ‘n paar miere deur. Hulle’t ‘n nes onder die paadjie, wat van die stoep af kronkel in die rigting van die werf se ingang, waar daar ‘n groot oop parkeer-area is onder die drie peperbome wat daar staan. Die tuin voor my is so vol van die somer se groen en kleur dat dit moeilik is om enigiets uit te ken. Dinge rank en groei, maar dis alles baie netjies, die beddings presies afgespit, die bossies uitgetrek, die grasperk net verlede naweek nog gesny. Op die terras laer af, verby die visdam, kan ek iemand in die skaduwee sien beweeg. Dis Norman wat daar sit en bossies uittrek. Hy’t ‘n groot bokhaarsak by hom waarin al die tuinrommel gegooi word. Dan sleep hy die sak na die weggooiplek toe anderkant die skeerhuis. Soms sê my ma ek moet hom help, maar dit sê sy gewoonlik net nadat ek gesê het ek’s verveeld, en daarom kry ek gewoonlik baie gou iets om te doen. Bossies uittrek het net so halfuur se vermaaklikheidswaarde vir my. Die res gee mens net blase as jou hande nie gewoond is aan klein tuinvurkies of bossiemesse nie.

Ek lê terug op die stoep en maak my oë toe, die son wat my nou lui begin maak. Ek bly lank so lê, selfs toe ek Zibi aan my kuit voel lek. Ek ignoreer haar en ek hoor hoe haar stertgeklap ophou soos sy weer gaan lê. Ek sit ook nie regop toe al drie honde later met ‘n geblaf opspring en in die rigting van die store begin hardloop nie, want ek weet hulle’t net die gerinkel van die hek daar gehoor en gaan nou enige oomblik op ‘n eerbiedige afstand vir die vrouens en kinders wat beesmis in die kraal gaan haal het, begin blaf. Na ‘n minuut of wat verspeel hierdie ritueel homself en hoor ek hoe hulle teruggedraf kom oor die sementpaadjie wat van die kantoor se kant al om die huis se hoeke loop. Dis nog nie heeltemaal tyd vir die sonbesies om te begin sing nie, maar die lug is tog vol klank, die gezoem van onbekende dinge, voëls wat nesbou en kuikens kosgee by die visdam, vinke meestal, en ook die onderduimse gekwetter van muisvoëls van die vrugteboord se kant af. Ek sal netnou my .22 gaan haal en so paar skiet. Of dalk sal ek net die hokke weer stel. Daar’s drie muisvoëlhokke in die boord, ek skuif hulle heeltyd rond. Die een is baie oud en ek weet nie wie’t hom gemaak nie. My broers het die ander een gemaak en ek’t verlede somer hulle s’n as model gebruik om nog een te maak. Dis basies net ‘n silindervormige dikdraadraam, toegespan met sifdraad met so paar tonnels (wat nouer word na binne) hier en daar. Binne-in sit mens lokaas – ‘n paar appelhelftes doen gewoonlik die ding – en dan wag jy ‘n dag of twee. Die voëls is natuurlik nie totally dom nie, so na ‘n ruk leer hulle. Maar daar’s tog altyd twee of drie wat wag dat ek hulle nekke moet wring. Wanneer ek hulle nekke draai, skuit hulle partykeer op my arm, so vuurwarm laaste vrugteskyt, terwyl hulle lywe vir ‘n oomblik sidder. Voëls, damn klein in die heelal. Maar dis hoe dit moet werk, anders is daar niks pruime, perskes of appelkose vir my ma om van konfyt te maak nie. Africa is a rough country, sê my oudste broer soms, maar dan praat hy nie van die dood van muisvoëls nie. Daar’s ook appel- en peerbome in die boord, maar hulle dra nie so goed nie, so ons offer hulle gewoonlik op vir die voëls. My ma maak vrugtesmere, strope, konfyte, blatjange, atjars, terte en allerhande gedroogde dinge. En dis nie al wat sy kan doen nie.

Ek sit regop wanneer die stoepdeur aan die sitkamer se deur met ‘n diep geluid oopgaan. My suster kom uit met ‘n netbal wat hard op die klipstoep bons en vibrasies deur my boude stuur. Ma sê jy moet jou geweer gaan haal en muisvoëls skiet, sy sien hulle sit dik daar in die boord, sê sy vir my en ek knik. Sy draf oor die gras, die honde agter haar aan. Dan verdwyn sy tussen die bome en om die hoek van die skeerhuis. Daar’s ‘n groot sementblad daar waar die laaisone is. My pa het ‘n netbalring daar opgesit sodat sy kan oefen. Sy speel nou wel nie doel nie, maar alle netbalspelers wens eintlik maar heimlik dat hulle die doel was. Dis tog die aim of the game. In krieket kry die nommer elf ten minste elke nou en dan kans om te kolf, al is dit gewoonlik min werd in daai oop spasie bokant die ekstras.

Ek drink die res van my tee en gaan die huis binne. Wanneer ek die voordeur agter my toemaak, vat dit ‘n sekond of wat om gewoond te raak aan die donker gang, want al die gordyne is toegetrek al van vroeg af om die hitte, wat so vroeg in die somer eers later vanmiddag sal kom, buite te hou. Die kombuis is stil, Notchikani is seker buite by die waskamer, sy help soms vir Sara met die wasgoed wanneer die huiswerk afgehandel is. Die piekniekmandjie is klaar gepak, behalwe vir die Thermos-fles, wat oopbek staan en wag naby die houtstoof vir die vars koffie wat later daarin gegooi gaan word. Ek sit my beker saam met die ander vuil skottelgoed in die wasbak neer. Dan stap ek na my ma-hulle se kamer waar ek die geweerkas se sleutel uit die klein potjie op die spieëlkas haal. Ek krap eers bietjie rond daarvoor, want daar’s ook allerhande naelknippers, haarknippies, spelde, knope en dinge daarin. Ek sluit die swaar blou deur oop, maak seker dat ek die handvatsel effens indruk wanneer ek die sleutel draai en swaai dit oop. Die reuk van koue metaal, geweer-olie en Hoppe’s meng met die reuk van die slaapkamer – poeier, Yardley’s Gold, laventel, Sta-Soft en materiaal. Met die geweer oor my skouer en ‘n pakkie kort .22 SP-patrone stap ek weer deur die kombuis en gaan by die agterdeur uit. Ek sit eers op die trappies daar en maak seker die magasyn is vol. Dan skud ek tien patrone uit en gooi hulle in my hempsak sodat ek hulle maklik kan raakvat, die pakkie sit ek in my broeksak, waar dit bonkig uitbult. Met die geweer weer op safety stap ek met ‘n draai na die boord. Die voëls sien jou gewoonlik as jy van die kant af kom, so dis belangrik om agter die terras se muur te kom voor hulle jou sien. Waar die terrasse voor die huis geleidelik wegval in die rigting van die rivier, styg die agter die huis geleidelik soos hulle opklim teen die rant. Bloot deur te luister na die gekwetter van die voëls, weet ek hulle’t my nog nie gesien nie. Daar’s spreeus ook by, hul ge-pieuw-pieuw wat soos kort vioolskote oor die geroesemoes van die muisvoëls, die vuil grappe van die bottergatte en die fyn geskinder van die glasogies heen opstyg. Bliksems, dag ek by myself en swaai die geweer geluidloos van my skouer af. Dit klink asof hulle meestal in die pruimboom sit, so ek buk laag onder die muur en kruip totdat ek reg in lyn is daarmee. Daar staan lankal reeds ‘n omgedopte verfblik daar waarop ek sit en skiet. Dan’s dit makliker om dooierus te vat oor die muur. Wanneer ek in posisie is, haal ek die geweer van safety af en lê onmiddellik aan na ‘n groot swart rooivlerkspreeu bo in die boom. Die oop visier is op 25 meter gestel, maar hulle’s skaars tien tree van my af. Ek skiet en die voël val. ‘n Paar voëls vlieg weg, maar die res is te verward. Voor die boom leeg is, lê daar twee spreeus en twee muisvoëls onder die boom. Ek stap nader om te kyk of hulle dood is, want die spreeus is nogals taai en die kort patrone maak hulle nie altyd onmiddellik dood nie. My kaal voete trap versigtig tussen die vrot pruime wat onder die boom lê. Die een spreeu lewe nog, so – om koeëls te bespaar – vang ek hom en draai sy nek om. Spreeunekke is aansienlik moeiliker om te breek as muisvoëlnekke. Die bliksems byt ook soms, maar mens kan hulle seker nie kwalik neem nie. As persoonlike wetenskap-projek, swaar onder die invloed van iets satanies soos Thundercats of Robotec, het ek twee jaar terug lewende muisvoëls wat ek in die hok gevang het, met ondervlerkse firecrackers toegerus om te kyk of ek hulle supersonies kan lanseer in die rigting van die son. Die projek het gefaal en al die proefkonyne moes van kant gemaak word. Boonop het my pa uitgevind van my geheime projek – in retrospek was dit dwaas om die eksperimente tydens sy middagslapie uit te voer – en my ma opdrag gegee om my ‘n helse pak slae met die houtlepel te gee. Ek besef nou dit val breedweg onder die hofie ‘cruelty to animals’, soos my suster later verduidelik het in die post-pak slae blues sessie in my kamer. Nou ja. Ek dra die vier dooie voëls terug na my posisie toe, swaaiend aan hul sterte, tot die een muisvoël se stertveer uitval en ek moet afbuk om hom weer op te tel. Met die dag se eerste lyke langs my voete, begin ek uitsien na ‘n oggend van opwindende guerrilla-oorlogvoering. Ek weet die voëls sal eers oor so vyf minute terug wees, so ek pluk ‘n paar pruime en sit die soet, warm pers vrugte en eet. Met die pitte poog ek my pitspoegrekord breek, wat op die oomblik so net onder die tien meter is. Van waar ek sit op die verfblik, kan ek die stuk riet sien wat die rekord-merk aandui. My huidige pitte val ver kort, maar ek’t nie so hard probeer nie. Mens moet eintlik staan as jy dit doen, die pit moet hier uit jou heupe gegooi word, soos gewigstoot.

Soms as ek so met my geweer sit, dink ek aan my broers op die grens, maar dit maak nooit baie sin nie. Ek dink maar aan terroriste en Kubane, al is dit moeilik om te sien hoe hulle lyk. Dis ook nie asof mens ooit enigiets op die nuus sien nie. En die ouens in Grensvegter lyk soos skool-onderwysers in swak mondering. Die Kubane lyk altyd soos een van De Silva van die kafee se kinders. My broers skryf elke nou en dan briewe vir my ma-hulle, dan’s daar gewoonlik so stukkie onderaan vir my, waarin hulle vertel van al die vlakvarke wat hulle sien en al die ander wild daar in die bosse. Vir my ma-hulle skryf hulle maar net dat dit goedgaan en dat hulle dalk een van die dae huis toe kom. Mens weet nooit. In elk geval, hier kom die eerste kersogies weer aan. Hulle’s altyd eerste terug, want hulle weet hulle word nie so baie geskiet soos die ander nie. Hulle’s so klein dis ‘n totale mors van koeëls om hulle te skiet. Ek skiet hulle net as daar niks beters is nie. Soms, in die rooibessieboom voor die garage, skiet ek hulle met my kettie, want daar kan mens lekker naby kom. En klippe is verniet. Na die kersogies kom die bottergatte, dis nou die tiptolle volgens die Robertson’s voëlboek, maar ons noem hulle bottergatte omdat hulle gatte geel is. Die kersogies is eintlik glasogies – ‘n naam wat hulle baie beter pas, so ek weet nie hoekom noem ons hulle kersogies nie. Tien minute later kom die muisvoëls, maar ek hou uit en wag vir die spreeus. Toe die boord weer leef en beef van die voëls, soos my ma sou gesê het, klap die skote weer – vyf, want ek’t intussen weer die magasyn volgemaak – en vier voëls val. Die vyfde was skoon mis, ek’t op ‘n bewegende bottergat geskiet wat net oppad was om te vlieg. Seker in ‘n tak vasgeskiet.

Toe my ma ‘n uur en ‘n half later van die agterstoep af roep – sy roep nie my naam nie, sy’t net so hoë noot wat sy sing, asof sy haar stem instel voor ‘n koorvertoning in die kerk, maar daai hoë nooit trek ‘n kilometer ver om die regte ore te bereik – is daar dertien voëls om huis toe te dra. Norman is by die kombuis besig om sy middagete te eet, so ek gee die voëls vir hom. Ek gaan sluit die geweer toe in die geweerkas, was my hande en draf na my slaapkamer om my hoed te gaan haal en skoene aan te trek. Ek dra die piekniekmandjie uit na die bakkie toe, wat my ma reeds uit die garage getrek het. My suster sit voor en speel met die verkyker wat onder die sitplek gehou word. Ma sê jy moet agter sit om hekke oop te maak, sê sy, maar ek’t dit reeds verwag, so dit traak my nie. Die mandjie staan voor tussen haar en my ma, net agter die ratkas. Ek slaan die klap van die bak af en Kaspaas spring op. Soos gewoonlik probeer Flieks ook, maar slaag nie daarin nie. Ek help haar op. Zibi wag geduldig haar beurt af. Dis seker die eerste ding wat worshonde leer – ons is te kort om agter op die bak te spring. Zibi is in elk geval te vet. Ons ry onder peperbome uit en draai op in die kloof se pad. Hier en daar op die werf is plaaswerkers besig om dinge te doen. Ek waai vir Norman, wat op pad terug is na sy kruiwa wat omgedop by die weggooiplek staan. Hy waai terug, leun vir ‘n wyle op sy heup om sy rug reguit te maak en gaan dan voort met sy oumens geskuifel. Hy kla altyd oor die rumatiek, veral as dit koud is in die winter, dan kom koop hy ekstra Zambuck by die rantsoenwinkel.

Die honde druk hulle koppe deur die traliewerk, opgewonde en hygend, slym en sterte wat waai. Nou en dan verwissel hulle van kante, asof hulle niks wil mis nie, of dalk omdat daar ‘n bees naby die pad is waarvoor hulle kan blaf. Wanner ons bo-kant die werkers se huise verbyry, blaf Kaspaas vir die honde daar, Flieks jil opgewonde en Zibi kef aggressief. Die strooishonde blaf terug, maar hulle bly aan hulle kettings en ons honde bly op die bak. Dis ‘n steriele oorlog, op die oog af kry niemand seer nie. Soms kom een van die werkershonde na die werf toe, gewoonlik tydens die aand, om kos uit ons honde se bakke te eet. Hulle honde is altyd maer en ons s’n is altyd vet. Hulle gee mos nie om vir diere nie, sê my ma. Dan trap my pa die volgende dag die werkers uit en sê hulle aan om hul honde beter kos te gee en saans vasgeketting te hou. Hulle mag ook nie meer jag met die honde op die plaas nie. My pa’t altyd dassiejag met die honde geduld oor naweke, maar na die honde een Sondag ‘n duiker doodgemaak het in die hoekland, is dit ook stopgesit. Hulle stel in elk geval nog orals strikke, sê my pa, hulle sal ook enigiets probeer vang. My pa is besorg oor die wild op die plaas en dis van hom wat ons almal ons beheptheid met voëlkyk geërf het. Hy en die ander lede van die Oostelike Provinsie Voël-klub was verlede jaar in Noord-Natal om voëls te kyk in Kosibaai. Die klub was hierdie jaar Okavango toe, maar hy kon nie saamgaan nie, want die kanaal wat die rivierwater van die fontein af na die huis aanlê het gebreek na ‘n frats laat-herfs vloedbui en dit moes onmiddellik reggemaak word. My pa het baie boeke oor die Okavango. Dis ‘n voëlparadys, sê hy soms wanneer hy oor die gladde kleurfoto’s streel.

Die eerste hek is aan die bek van die kloof. ‘n Maklike hek om oop te maak, want ons ry baie hier deur, so die hek is nuut en hoog van die grond af. Wel, dis nie nuut nie, dis seker so tien jaar oud, maar dis nuut vir ‘n hek. Dit swaai amper vanself oop wanneer ek die ogie van die haak afhaal. Daar’s ‘n stuk silwergeverfde sinkplaat in die middel van die hek vasgemaak waarin daar ‘n paar koeëlgate sit. My pa haat dit as ons gate in windpompsterte en hekplate skiet, maar elke nou en dan gebeur dit wel, veral as ek een van my vriende hier het vir ‘n naweek en ek hom wil beïndruk met my traak-my-nie-agtige houding teenoor my ouers. Maar dis asof my pa weet presies hoeveel gate in elke windpompstert en hekplaat sit, want die naweek daarna sal hy my tog aanspreek daaroor. Met die hek oop, kyk ek na my ma wat, soos ek verwag het, met haar hand beduie dat ek die hek moet toemaak, want daar’s vee in beide hierdie kampe. Hoër op sal daar een wees wat oopgelos kan word. Die eerste stuk van die kloof is nou en die pad kronkel ‘n paar keer oor die rivierloop. Die rivier vloei goed vir die tyd van die jaar, daar was mooi reëns in laat Oktober, so die sementblaaie lê wyd vol groen paddaslyk en ‘n dun lagie water. Die bakkie se wiele sjor deur die water. My suster gee ‘n appel aan van voor af sodat ek solank iets het om te eet. My ma dink mos altyd ons gaan honger ly.

Na die derde hek maak die kloof effens oop en die eerste van die klein klooflandjies verskyn op die oewers. Daar’s nie veel spasie vir lande hier nie, want die berge begin byna onmiddellik uit die klein, ruwe valleitjie oprys. ‘n Paar van die groter lande lê onder die stuwal wat die water uitkeer, so hulle kan natgelei word met die rivierwater, maar die ander wat verder op is, kry net reënwater. So op die wat besproei kan word, staan die mielies, lusern, sonneblom en pampoene. Die ander kry net hawer en soms sorghum – alles maar net vir weiding.

By die vyfde hek begin die pad effens sleg raak, met so paar slote wat nog nie na die laaste stortreëns reggemaak is nie, maar dis nooit so erg dat ons die bakkie in vierwiel hoef te sit nie. Terwyl ek die hek toeswaai agter die bakkie, vang my oog die kenmerkende fatsoene van twee witkruisarende wat moeiteloos hoog bo die kranse en klipstapels sweef. Anders as die slordige flappery van kraaie, lyk die witkruisarende soos inkswart vegvliegtuie, hul netjies gekerfde vlerke en kenmerkende diamantgepunte sterte soos spane wat in windtonnels ontwerp is. Wel, vir ‘n witkruis is die hele lewe seker ‘n windtonnel. Soms, wanneer mens gelukkig genoeg is dat hulle naby jou verbyvlieg, kan jy die wind hoor skeur teen hulle lywe, die geveerde kapmesse van die kranse waarteen geen dassie ‘n kat se kans staan nie. Ek staan vir ‘n oomblik met die ketting in my hand en kyk. Hulle sirkel nie nou nie, hulle patroleer bloot die rante op soek na dassies, of dalk sommer skeerbekmuise of rooihasies. Hulle vang partykeer jong skaap- en boklammers ook, maar my pa gee glad nie om nie. Hy sê dis ‘n klein opoffering vir die voorreg om sulke grasieuse voëls op die plaas te hê. Hierdie paar broei in die kloof langsaan, waar van ons beste beesveld lê. Hulle broei al daar vandat ek kan onthou. Dis hoog op teen ‘n krans wat effens na voor oorleun, so dis onmoontlik om by hul nes uit te kom sonder toue. Twee lede van die Voëlklub wat ook rotsklimmers is, het drie jaar gelede daar opgeklim en ‘n paar foto’s geneem van die twee kuikens net voor die kleiner een uitgeskop is. Die foto’s hang in die studeerkamer saam met ‘n foto van ‘n troupant wat my pa jare gelede geneem het met sy swart en wit kamera. ‘Skaars somerbesoeker’, staan daar in die voëlboek, en dit was genoeg om dit ‘n ereplek op sy voël-lys te gee. Daar’s ander witkruisarend broeipare in die omgewing ook, maar van die boere skiet op hulle of sit selfs gif uit. My pa bring dit altyd by die Boere-vereniging vergaderings op, maar – so sê my pa - alle beloftes wat daar gemaak word vorder nooit verder as die tweede aalwyn van die tennisklub se ingang af nie. Ek laat val die ketting se middelste ogie oor die hakie sodat die hek styf toe is en verloor die witkruise teen die skerp middaglig, draai dan om, draf na die bakkie wat reeds begin beweeg het en spring op.

Uiteindelik draai ons uit die kloofpad en ry weer deur die rivier na die landjie aan die ander kant. Die trekker het die pad reeds mooi uitgery, so dis geen probleem om teen die wal uit te kom nie. My ma hou aan die kant van die land, versigtig om nie die wiel oor die rye in die land te laat glip nie. Die John Deere woel in ‘n klein stofwolk aan die ander kant van die land, ‘n groen miskruier wat die aarde probeer vrugbaar maak vir sy stywe eiertjies. Toe hy omdraai aan daardie kant, sien my pa ons en hy maak net die ry klaar voor hy die trekker afsit en al om die land na ons begin stap waar ons in die koelte van ‘n ou peerboom geparkeer staan. Die drie honde hardloop oor die kluite na hom toe aan. Zibi, wat heel agter is, gaan sit skielik om ‘n duwweltjie uit te trek. Alhoewel die peerboom baie oud is, is dit nie baie groot nie, maar die skaduwee maak darem die bakkie en so droë kolletjie gras daar toe met ‘n koeligheid, sodat ons die piekniek-kombers kan oopsprei en Tupperwares uit die koelsak kan begin pak. Lank gelede was hierdie deel van die kloof ‘n heel ander plaas, maar die twee plase is saamgevoeg deur my oupa nadat hy dit oorgekoop het. Dit was slim van hom destyds, want andersins sou die aparte plase nooit winsgewend gebly het nie, so sê my pa. Die een plaas was Bitterbreek en die ander een Bottelberg, so ons plaas heet nou Bottelbreek. My suster reken dis skreeusnaaks, maar vir my is dit maar net ‘n naam. Ek dink nie eers aan ‘n bottel of ‘n brak nie, ek dink net daaraan as my huis. Die ou opstal van Bottelberg is sigbaar effens verder die kloof op, die rooi rousteen murasies wat nog hier en daar die wind en weer teenstaan. Die peerboom was deel van die opstal se vrugteboord, maar daar’s min van die oorspronklike bome oor. ‘n Paar gekrenkte peerbome, hardnekkige appelkose en ‘n met die weerlig-geklapte moerbeistomp. Ons peerboom dien ook nie as veel meer as ‘n koelteboom nie. Die bobbejane geniet seker die pruime in die somer, maar as ek so opkyk, dan lyk die oes maar verkramp. Die berg wat aan Bottelberg sy naam gee, rys teen die blou en wit – want daar begin reeds donderwolke uit die weste uit opstaan – uit soos ‘n breë, platgetrapte 2-liter Fanta-bottel met die uitgedorde, geriffelde muispram-punt heel bo. Wanneer dit sneeu in die winter, kry Bottelberg altyd die meeste, want dis die hoogste. Die rivier wat verby ons huis vloei se oorsprong is ook naby die voet van die berg, maar wanneer dit goed gereën het in die lente is die waterfafel hoog genoeg vir die ander klein klofies om ook hul deel te doen. Dis hoekom die rivier nou so lekker loop, maar in droogte-jare is dit net Bottelberg se oog wat nie opdroog nie. Wel, dit het al eenkeer, maar dit was in die 1930s en mens sou niks minder van die 1930s verwag nie. Ons’t reënval-rekords wat terugstrek tot 1904 en my pa haal hulle gereeld uit as dit baie droog of baie nat is om die jaar met voriges te vergelyk. Op die werf anderkant die skeerhuis, staan ‘n ou koper regeringsuitgawe-reënmeter waarmee ons nog steeds die reën meet. Aan die einde van die jaar pos my pa die reënvalsyfers aan die Weerburo, nes my oupa gemaak het vir 45 jaar. In ruil daarvoor kry mens ‘n gawe muur-almanak van die Weerburo vol kleurfoto’s van weerfenomena. Cumulonimbus-wolke. Stofstorms. Sneeu op die Malutis. Haelkorrels so groot soos gholfballe.

Wanneer my pa en die honde by ons aankom, het my ma en suster reeds al die kos uitgepak op die kombers. Daar’s koue frikkadelle, agurkies, tamaties in kwarte gesny, appels, pruime uit die tuin uit, Ceres vrugtesap, rooibostee, hardgekookte eiers en toebroodjies – party met Bovril en fyngekapte uie, ander met tamatie en kaas en ander met appelkooskonfyt of druiwekonfyt. Daar’s ook ‘n bottel yskoue water waaruit my pa drink voor hy sy gebruiklike glas koue melk neem. Hy’s vroeg uit die huis uit na ‘n vinnige ontbyt met net ‘n klein Thermos vol koffie vir die res van die oggend. Verder sou hy sommer water by die windpomp gaan drink het as hy dors sou word. Mens kan die water direk uit die rivier ook drink, maar dit raak gou warm daar waar dit oor die klipplate loop. Die windpomp staan aan die bopunt van die land en gooi nou en dan water met sulke afgebroke skeute in die sinkdam daar, waaruit die punte van palmiete uitloer soos stomp assegaaie. My pa sien ek kyk in die rigting van die windpomp en sê hy’t vanoggend ‘n dooie bobbejaan daar uitgehaal, die dom bliksems dink mos altyd hulle kan swem.

Anders as wanneer ons aan tafel eet, maak ons nie ogies toe voor ons begin eet nie, wat ook maar goed is, want almal is honger, veral my pa, wat dadelik ‘n eier begin afdop. Ek gee die sout vir hom aan en hy vra wat ek nog die heel oggend aanvang by die huis. Ek vertel hom van die dertien voëls wat ek geskiet het en hy sê, mooi so, en dat ek voor sononder nog soveel moet skiet. Ek sê ja, ek sal probeer. Dan vra hy dieselfde vraag aan my suster, wat iets praat van koekies bak en konfyt kook saam met my ma. Die frikkadelle is verdomp lekker, so ek eet sommer vier voor my ma sê hokaai nou, netnou is daar niks oor vir my pa nie. Ons eet als sommer met ons vingers so uit die Tupperwares uit, maar later bring my ma ‘n plastiek bordjie te voorskyn en sny skywe appel vir almal. Dis die poeding, sê sy, saam met die pruime. Al die kos en dranke is koel, maar om ons donker koeltetjie het die middag nou ordenltik begin opstaan en die sonbesies en ander sonaanbidders maak nou die lug dik met hul skril, dog sussende deuntjies. As mens lank daarna luister, is dit volkome hipnotiserend. Dit voel altyd vir my asof dit die klippe en bome self is wat so sing en skree, want dis amper onmoontlik om ooit ‘n sonbesie raak te sien tussen die takke of waar dit ook al sit.

My pa lê vir ‘n rukkie op sy rug en slaap, net so twinting minute, met sy vuil trekkerhoed oor sy oë en sy hande inmekaargevou op sy bors. Groot kolle sweet is besig om onder sy arms droog te word, die salpeter-rante daarvan wit teen die khaki, soos ‘n lugfoto van die Etosha-pan. Nadat my ma die oorskietkos en eierdoppe terug in die houers gepak het, en die orige frikkadelle tussen die honde verdeel het, gaan lê sy langs hom. Ek en my suster is nie vaak nie, eerder verveeld, so ons stap na die rivier toe. Die oewer is nogals ruig hier, maar, danksy die honde, kry ons gou ‘n paadjie onder die doringbome deur. In die rivier vlieg twee bergeende verskrik op uit ‘n poel soos hulle vir Kaspaas skrik, wat onmiddelik met ‘n luide geplas die water binnevaar. Flieks en Zibi plons ook in, maar nie vir lank nie, want dan hoor hulle skynbaar iets op die ander oewer en verdwyn tussen die lae struike daar. My suster het haar swart swembroek onder haar klere aan, so ons trek nou uit en stap ‘n dieperige poel binne, ek sommer in my onderbroek. Die water loop baie lui hier en die poele is vlak, so ons lê net in die water om af te koel. Kaspaas swem so paar rondtes en gaan lê ook dan in die vlak water, rooi tong hygend van die opwinding en hitte. Die boonste lagie water is warm, maar onderlangs is dit heerlik koel. Aan die bokant van die poel val ‘n klein watervalletjie oor die groen paddaslyk en mos wat in die skadu daar groei. Terwyl my suster haar later uitstrek op ‘n groot klip om haar lang lyf te laat sonbraai, gaan sit ek onder die watervalletjie met my boude op die mos en maak my oë toe. Elke keer wanneer ek dit doen, dink ek aan die enigste Superman-komiek wat ek besit. Aan die einde van die komiek, staan Superman so onder ‘n groot waterval en afkoel. Maar dan, skielik, verskyn ‘n groter, pers en swart-geklede (amper soos Die Skim, maar dis nie hy nie) superhero met kil, wit oë agter hom, gryp hom om die nek en stamp hom moeiteloos die diep afgrond in. En dis die einde van die komiek. Dit ontstel my altyd baie dat Superman verloor aan die einde van my enigste Superman-komiek. En die kafee op die dorp kry ook nie meer Superman-komieks in nie, so ek weet nie wat het gebeur nie.

Na ‘n ruk hoor ons my ma roep en ons stap weer terug. Die honde lê teen die tyd almal hygend in die skaduwee van ‘n rivierwilger aan die rand van die poel. Voor ons by die bakkie kom, is ons heeltemaal droog, maar ek trek in elk geval weer my klere aan, want die son is nou geniepsig, om nie te praat van die steekvlieë nie. Ons sê totsiens vir my pa en hy sit weer sy hoed op. Hy sê hy behoort net na ses by die huis te wees, maar as dit begin reën – en hy beduie met sy blink graniet gruisgat-oë na die wolke – dalk vroeër, dan stap hy aan na waar die trekker staan. Ons pak alles in, roep die honde nader en ek slaan weer die bak se klap af sodat Kaspaas kan opspring. Voor ons ry, sê my ma daar’s sjokolade in die koelsak as ek wil hê. Van agter leun ek oor die tralies met my kop binne die kajuit van die bakkie. My suster krap rond en hou die pakkie Quality Street sjokalades na my uit. Ek vroetel ‘n paar keer rond en kan my geluk skaars glo toe ek die pienk, diamantvormige een raakvat tussen die harde toffies. Terwyl die bakkie begin ry, kry ek die papier af en sit die reeds smeltende sjokolade in my mond. Binne sekondes trek die smaak van karamel deur die slym teen my verhemelte op en oor my tande, tong en af in my keel. Die daglig om my kraak effens terwyl die wolke agter Bottelberg donkerder word en begin dreun.

10.

Ons sit nog op dieselfde plek, dieselfde tuinbank, maar dit neem my ‘n paar sekondes om dit te besef, want my vingers trek nog terug asof vanuit die skedes van takke waarin hulle oorwinter het. Bloed klop met spuitgeluide deur my kop en ek’s effe duiselig, maar Die Braai druk een of ander drank in my hande wat my onmiddellik beter laat voel. Wanneer my tong genoegsaam ontdooi het, sê ek aan Die Braai: “Dit was die somer voor my oudste broer geskiet is op die grens. Jy’s reg, daai somer was die laaste keer dat ek sonder kwelling gaan slaap het.” Hy knik bloot, sonder om na my te draai, maar die manier waarop hy sy lyf hou – ‘n skouer wat half vooroor leuen asof in gereedheid vir ‘n plettervat, maar ‘n nek en ‘n kop wat slap gestut na niks sit en staar – bevestig dat sy aandag ten volle by my is.

Die partytjie om ons woel nou voort teen gevaarlike tempo, die growwe energie wat sigbaar om die mense maal en, soos my oë stadigaan weer gewoond raak aan die halfbeligte nagtelikheid, voel ek die warm uitgeasemde reuke van honderde mense teen my nat neus en oogvliese. Iets wriemel onder my een ooglid, maar wanneer ek dit uitgevee kry met die stomp kant van ‘n duim, is dit nie ‘n muggie of ‘n muskiet nie, maar ‘n miniatuur ossewa waarvandaan Piet Retief my skel aangluur van agter die leisels.

“Wat kyk jy?” vra hy nors en ek ruik nou hoe stink hy, die ene beesmis en saalsweet.
“Jy was in my oog, jy moet versigtig wees met daai ding,” sê ek terwyl ek na Die Braai probeer loer deur my ongeskende oog om te sien of hy ook vir Piet Retief kan sien, maar hy, getrou aan die karakter van PW Botha, kyk afgetrokke in die verte, oor die koppe van die mense, asof hy die kleur van ‘n ster probeer uitmaak op die horison.
“Wie’s jy anyway? Nice baard.”
“Dankie, ek’s Paul Kruger. Hoor hier, dankie vir al jou moeite in Natal destyds, maar dit was als verniet. Bowendien, die Zoeloes gaan jou vermoor by Umgungundluvo. Plek van die skedel.”
“Wat?”
“Ja, dis ‘n beter idee om Natal vir die Zoeloes te los. Die Britte is in elk geval oppad, so gaan kry eerder ‘n lekker plaas vir jou in die Transvaal, sommer daar naby Johannesburg, en begin solank goud soek. En annekseer Lourenco Marques, ons’t ‘n hawe nodig.”
“Wat? Jy’s seker dronk jong man. Waarvan praat jy? Johannesburg? Waar’s dit? Wie’s Johannes? Ek’t nie tyd vir bogpraatjies nie, ek moet voor sononder by die laer wees.”
En daarmee verdwyn Piet Retief en sy ossewa tussen die gras by my voete, voor ek hom nog daarop kon wys dat die son lankal reeds gesak het. Op die Republiek, die rijksdaalder, die Empire, alles.
“Het jy hom gesien?” vra ek nou aan Die Braai.
“Wie?”
“Piet Retief.”
“Wanneer?”
“Nou net, hier op my duim?”
“Nee, jammer. Jy’t gesê dit was die jaar voor jou broer dood is op die grens.”
“Ja, maar nie dood op die grens nie. Hy’s geskiet daar, maar het nog gelewe, so hy’s twee weke daarna dood, in ‘n hospitaal in Bloemfontein.”
“Ek onthou so iets, jy’t my al die storie vertel, dink ek.”
“My ma-hulle het alleen soontoe gegaan. Dit was kwartaal-tyd, so ons moes in die skool bly. En niemand het geweet presies hoe ernstig dit was nie. Hulle was skaars ‘n dag daar toe’s hy dood. ‘n Week later het ons hom begrawe op die plaas, in die familiebegraafplaas. My ander broer kon ook kom, hy het pas gekry. Ek kan nie veel van daai tyd onthou behalwe dat alles skielik anders was nie. Dit was asof alles skielik net ouer en ouer begin word het. Selfs nie die lamtyd, wanneer die werf altyd vol hanslammers was vir my om melk te voer, was meer dieselfde nie. Elke gebeurtenis op die plaas, skeertyd, planttyd of jagseisoen, was skielik sonder plesier. Selfs al het my ma-hulle hul bes probeer. Dit was eenvoudig te maklik om deur hulle glimlagte te sien. My ma het baie gehuil, nooit voor my nie, behalwe op die begrafnis, want daar’t almal gehuil, selfs my pa. Ek’t eers gehuil toe hy begin huil, ek’t nie regtig geweet hoe om te voel as iemand doodgaan nie. Maar toe hy begin huil, toe’t ek geweet. Dit was asof iemand skielik die hele aarde soos ‘n R1-stuk omgedraai het.”
“En toe?”
“Ag, jy ken die storie. Ek’t klaargemaak met skool en moes army toe gaan. Dit was nog maar 1990. Township-patrollie, daai tipe ding. Dit was nie so erg nie, ek was meestal in Port Elizabeth gestasioneer. Gelvandale, Ibayi en Red Town. Daarna is ek lanbou-kollege toe. Glen, buite Bloem. My pa’t selfmoord gepleeg halfpad deur my eerstejaar, blykbaar oor landbankskuld. Niemand het dit eintlik verstaan nie. Daar was ook droogte en ‘n sprinkaanplaag as ek reg onthou, maar ek onthou nie meer veel nie. Ek’t opgeskop en vir ‘n ruk by my suster en haar man in Kimberley gaan bly. My ander broer en sy vrou was nog op Bottelbreek, waar my ma ook nog gebly het. Sy’t met elke uur ouer en dooier geword, soos week-oud irisse in ‘n pot. Sy’t verbete gehekel en gebrei. Sy’t vrugte ingemaak en maalvleis gemaal. Ek’t nie geweet wat om te doen nie, niemand het nie. Daar was darem geld vir my om terug te gaan na my studies toe, maar ek’t teen daai tyd geweet ek wou nie boer nie. Uiteindelik is ek Pretoria toe om Kommunikasie te swot, so ek’t net een of twee keer ‘n jaar by die huis uitgekom. ‘n Jaar nadat ek klaargemaak het en by ‘n koerant in Johannesburg werk gekry het, is my ma ook dood, beroerte op 65. Heeltemaal te jonk, maar sy’t teen daardie tyd reeds 90 gelyk. Al die son en arbeid in die wêreld kannie jou lewe red nie. Nie as die hartseer jou mik gebreek het nie. My broer boer nog op Bottelbreek. My suster is geskei en weer getroud, met ‘n veearts. Sy bly nou in Nelspruit. Sy’s baie gelukkig, dink ek. Ek hoop so.”

Voor Die Braai die kort stilte met ‘n nog ‘n vraag kan vul, word ons geselskap binnegevaar deur ‘n nuwe boot. Ek kyk op, maar die vrou se gesig is in skadu gehul, met die tuin se ligte meestal agter haar. Sagte goud klingel om haar vlesige arm, pêrels glim dowwerig om haar nek, albastergroot. Dis eers toe sy haar hare swierig agteroorgooi dat ek sien dis Oprah Winfrey.

“So, wat maak jy met jou dae?” vra sy aan Die Braai, wat ek skielik weer besef steeds soos PW Botha lyk.

Die Braai, wat steeds baie bewus is van hierdie klein detail, sit behaaglik agteroor, een hand trommelend op sy knuppeldik pens, die ander se hotdogroll vingers wat oor sy gladde seepken streel, asof hy die tipe ding reeds jare doen, asof hy al PW Botha is sedert 1920.

“Nie veel nie. Maar dis glad nie nodig om baie te doen nie. My vrou kook al die kos... of nee, wag, my vrou is lankal dood, onthou ek nou... tyd vlieg... maar daar kom tog elke dag iemand in wat vir my kos kook. Ek weet nie wat haar naam is nie, maar sy kook verdomp gawe kos. Boerekos, jy weet – vleis, rys en aartappels. Maar soms is ek nie lus vir die bykomende ertjies en pampoen nie, dan skraap ek dit direk in die asblik af. Mens hoef net groente te eet tot jy twintig is, dan’s jy deur die ergste wanvoedings-gevaartyd. In die aande is dit bobotie of lasagne, macaroni en kaas of seekos. Ek’s mal oor kreef, mossels en allerhande vis. Tuna-steaks. Ek’t natuurlik destyds altyd self gaan vang daar onder op die strand, maar dis deesdae te gevaarlik en die krag is maar min. Maar daar’s orals vars vis beskikbaar hier rond. Ander aande is ek glad nie lus vir enigiets spesifieks nie, so dan bel ek sommer maar net vir ‘n pizza as ek honger word. Wel, ek bel nie vir ‘n pizza nie – ek’t in 1989 laas self ‘n telefoon gebruik – my persoonlike assistent bel vir ‘n pizza. Hy sorg vir al my behoeftes, as jy weet wat ek bedoel. Hy gaan haal selfs my gholfballe wat ek van die voorste terras af slaan in die rigting van die dokter se tennisbaan ‘n honderd tree laer af in die buurt slaan. Hy wil gedurig hê ek moet bespaar, maar ek sê hom altyd om te onstpan, want ek’s anyway nou-nou ook dood en dis net gholfballe. Gee my die bietjie plesier.”
“So jy bly besig, dis goed,” sê Oprah geinteresseerd, terwyl sy ‘n stukkie lastige hoendervleis met haar pinkienael tussen ‘n voortand en snytand probeer loswikkel. “Jy moet bietjie op my show kom, man. Die mense sal mal wees oor daai tipe stories.”
“Is jy seker? Hulle sal my nie haat of enigiets nie?”
“Nee, not a chance. Kyk, ek sal eers vir hulle moet verduidelik wie jy is. I mean, don’t get me wrong, maar niemand in Amerika weet wie PW Botha is nie. Almal ken vir Mandela, maar hy was nou al soveel keer op die show dis nie meer snaaks nie. Party mense ken wel vir FW de Klerk, maar ek reken jy hoor seker genoeg dat hy jou thunder gesteel het.”
“Ja, die klein bliksem. Maar dis als my eie skuld. Ek’t my kanse gehad. Money or the box, ne. Ek’t die money gevat, of meer spesifiek, die pakket. Wie sou nou kon raai dat die box ‘n Nobel-prys in gehad het? Dis mos maar gewoonlik rewolusie of burger-oorlog of ten minste ‘n verleentheid wanneer dit kom by die volgende verkiesing. Wie wil nou in ‘n landslide teen Andries Treurnicht verloor? Amichand Rashbansi? Presies, niemand nie.”
“Vergeet dit, vergeet van FW. En Andries, whoever he is. My audience sal like om van jou gholfspelery te hoor, en van jou persoonlike assistent. Het jy ‘n tuinjong?”
“Ja, ou Jonas is al van 1978 saam met my. Ek dink hy’s heelwat ouer as ek, maar hy trek nog bossies uit en sny gras dat dit goed gaan. Weet nie hoe kry hulle dit reg nie.”
“Perfek! Hy moet saam met jou kom. Die mense sal dit opeet.”
“Mense sal ook enigiets opeet deesdae.”
“Dis waar, but who cares? Nie ek of die million-dollar advertisers nie. Hoe kan ek jou in die hande kry?”
“Bel die Wildernis Toeriste-kantoor en vra vir hulle waar ek bly. Niemand het my telefoon-nommer nie, en ek weet ook nie wat dit is nie. Die pizza-plek het dalk my nommer... maar in elk geval, bel die Toeriste-kantoor, en kom kuier wanneer jy wil. Dan maak ons ‘n plan oor ‘n koppie tee. Ek kan enige tyd Amerika toe reis, sal net by my dokter ‘n draai gaan maak om te hoor of my hart dit sal kan hanteer.”
“In die haak, ek sal so maak. Dalk volgende week. Ek’s nog tot aan die einde van die maand in die land.”

Daar’s ‘n oomblik se talming voor PW opstaan en ligweg aan Oprah se arm vat. Met ‘n halwe wit eier-oog wat na my rol – die ene albumien - kry ek die idee. Ek kruis my bene en maak asof ek ‘n potplant is. ‘n Clivia.

“Jy lyk darem maar goed vir jou ouderdom. Hoe oud is jy?”
“Skaars vyftig,” sê Oprah gemaak-skamerig terwyl PW vir haar ‘n drankie aanbied.

Terwyl hulle wegstap in die rigting van die kostafels, waar die oorblyfsels van poeding steeds veelkleurig opgestapel lê, skud ek my kop ligweg, asof die waterpasvlak effe versteur was. Die partytjie en al die mense daarin is besig om een te word met mekaar, die tuin, die swembad, en met die nag, wat seker nou al effens afgekoel het, al voel mens dit nie hier tussen die swetende lywe nie. Te veel asems. Stukkies mens hang selfs in die lug rond, gesuspendeer, nee – platgedruk – soos in ‘n petri-bakkie. ‘n Papsmeersel. Net ‘n stofsuier en ‘n sterk straal water sal môre al die krummels uit die gras kry en die vlekke van die stoepe af kan spuit. Dis jammer daai donderweer lyk of dit nou heeltemaal weg is, dit sou ‘n welkome afkoeling gewees het. Alleen op die tuinbank, begin ek dink aan alles. Dis nie asof enigiets hoef sin te maak om iets te beteken nie. Nie hier nie, nie vanaand nie. Soms is die enigste sin in die uiteinde van dinge, nie in die gebeure wat daartoe aanvoering gee nie. Ander kere is dit andersom, veral as die uiteinde ‘n mislukking is, want dan kan jy nog miskien trots vind in die proses. Almal wat in ‘n oorlog geveg het waarin vryheid die enigste en absolute prys was, voel dat hulle iets verrig, al het hulle verloor. Daar’s ‘n tipe waardigheid in alle verbete struggles. En hierdie is ‘n bloot ‘n partytjie, mense doen simpel goed. Hoe moet ek nou weet wanneer Die Braai laas ‘n girl gedruk het. Wie weet wie skuil onder die Oprah-masker? Sy weet nie wie skuil onder PW s’n nie.

Wonderend hoe laat dit is, kyk ek na my gewrig, maar my horlosie is nie mooi sigbaar nie. Om die waarheid te sê, dis glad nie daar nie. Wat gelyk het soos die buitelyn van my horlosie is ‘n laer, getrek met klein ossewaentjies. Tussen die hare van my arm hardloop gillende klein swart miertjies. Dis eers wanneer ek my gewrig nader aan my oë bring dat ek hulle eien as Zoeloes met spiese en skilde, en gille is ululering, ‘n hoë Bonthoutkapper-getril. Vlaag op vlaag bestorm hulle die laer. Die klein geknetter van geweervuur styg sporadies op en Zoeloe-krygers word aan stukke geskiet. Iets ruik soos buskruit, maar dalk is dit net my eie sweet. Die kop-en-horings-patroon van aanval verwelk en verswak met elke nuwe stormloop. Bloed, soos muskiete wat doodgeklap is, vloei hier en daar. Nou en dan vrek iemand aan die binnekant van die laer - ‘n spies deur ‘n hart, deur ‘n oog of ‘n maag - maar net ‘n paar. Sewentien, tot op die man. Daar’s vrouens en kinders ook. Mense gil bevele, baarde word vervaard gevryf. Perde runnik van skrik. Dit is mistig en vroegoggend en niemand is in die luim vir doodgaan nie. Dit is oorlog, besef ek nou. Ek wonder waar Piet Retief is, maar dan onthou ek hy’s reeds dood, en dat babas se koppe reeds teen wa-wiele by Bloukrans stukkend gespat het, soos gloeilampe wat val op vloere, en dat ek hom gewaarsku het, maar dat hy nie geluister het nie. Dis nou maar eenmaal so dat almal dink hulle’s reg en te hel met wat ander te sê het. Dis tegelykertyd wat die wêreld ‘n interessante plek maak en ook wat dit so ‘n teelaarde vir geskille maak. En geskille bring oorlog. Selfs buurmanne met goeie hoekpale, stywe staaldraad en jakkalsdraad onderlangs, selfs hulle slaan nou en dan vuis in die kroeg, want die omgeefsel is vol dinge wat jou karakter kan laat verweer. En alkahol is net een daarvan. Plaagdiere skuil in klein gate, dit sal die voorste honde van Oranje-Jag jou kan vertel. Boonop is die oorlog soms net in die afsydige houding waarmee ons ons persoonlikhede van mekaar af wegdraai, te bespeur. Die oppervlak van die see lyk orals dieselfde en jy kannie aldag voorspel – maar vermy altyd die rob-kolonies van Valsbaai - waar die haaie swem nie. Want soms is die geskil niks meer as ‘n omstrede lynbeslissing by die tennisklub nie, een wat julle altwee later met ‘n glimlag afmaak, maar steeds sleep jy ‘n stukkie concrete-wrok saam met jou van daardie oomblik af, trappe op en af, dag in en uit, want jy weet, jy weet, daai bal was uit.

Dit laat my skielik dink aan die tennis-wedstryd, en ek staan op en loop in daardie rigting. Op die gazebo speel iemand wat, kan jy nou glo, soos Stefano Garibaldi gemasker is vir die aand, ‘n saksofoon-solo terwyl ander lede van die orkes (Leonard Nimoy, Ray Liotta, Schalk Joubert en Kenneth Kaunda) sweterig terugleun teen die wankelrige relings, dik sigare en gebuigde sigarette wat soos die wortels van mangrove-bome by hul tam gesigte uitsproet, opgloei en stoom afblaas. Stomp glase gevul met goudkleurige vloeistowwe staan op die relings of op die vloer langs hul stoele, die anaboliese steroïede van die Ben Johnson Memorial Orkes. Die groot grasperk loop vir ‘n paar meter ‘n nou bottelnek voor die gazebo en hou dan op teen ‘n lae bruggie, gemaak van die tipe geteerde houtspar waarmee hierdie tipe – niksdoelende – bruggies sedert die 1980s in die tipe tuine van die tipe plase waarvan die tipe huisvrouens te veel Garden & Homes gelees het, opgerig is. Die bruggie is nou en Des & Dawn Lindberg, wat van die ander kant af aankom met ‘n kitaar en ‘n bongo-drum, draai nes ek sylangs sodat ons by mekaar verby kan skuur. In die vlak poeletjie onder die bruggie, plas paddas luierig van die donker kante die nattigheid in. ‘n Muskiet of ‘n muggie stamp ligweg teen my wangbeen.

Die skare by die tennis is nou uitgedun en daar’s geen teken van Margaret Thatcher of Pik Botha nie. Martina Navratilova, doen steeds opwarmingsoefeninge naby die baan se hekkie asof sy verwag dat die wedstryd enige oomblik gaan eindig. Wonder teen wie sy gaan speel? Aan die verste ent van die baan is ‘n klein groepie luidrugtiges besig om een of ander drinking game te speel. Hulle sing nou ‘n simpel liedjie en iemand gooi ‘n hele bierglas drank – nie bier nie – in sy keel af. Dis definitief koeler hier as nader aan die huis, dis net op die baan waar dit warm lyk, want die helder baanligte laat die klei-oppervlak oranje gloei. Op dieselfde bank waar hulle vroeër gekarfoefel het, lê Joe Dog nou skynbaar en slaap met sy kop op Naomi Campbell se skoot. Sy’s nog wakker en volg die tennis met ‘n gladde kakebeen wat ligweg van kant na kant wip. Soos verwag kan word, is dit ‘n baseline rally en na drie minute se hipnotiese verwisseling, gly Pat Cash op die reeds erg verweerde klei en slaan in die net vas. Albei spelers gaan sit op hul hurke en rus. Dan stap hulle na die net toe, drink iets en gesels rustig onder mekaar.

“Mens sou nie sê dis wedstrydpunt nie,” kom dit van ‘n vrouestem links van my, in die tipe stemtoon wat nie regtig ‘n repliek verwag nie. Sy sit in die effense nagskaduwee van ‘n boom, net haar bene wat in die skel lig van die baan uitgestrek is.
“Wat’s die telling?” vra ek sonder om in haar rigting te kyk.
“Weet nie. Nog dieselfde game as wat dit drie ure terug was. Lendl slaan nog steeds af vir die wedstryd. Dis nou voordeel vir hom.”
“Gee jy om as ek langs jou sit?”
“Glad nie. Wie’s jy? O, Paul Kruger.” Sy lag so half. “Ek’s Cleopatra, bly te kenne. Ongelukkig nie so ‘n oorspronklike keuse nie, maar nou ja.”

Sy steek nie haar hand uit om te groet nie, maar ek knik vir haar wanneer ek sien sy kyk vir my en gaan sit langs haar op die donker bank. Ons praat vir byna tien minute glad nie, albei tevrede om bloot die tennis te volg. Die tennis is so voorspelbaar soos ‘n vierkante meter wit geverfde muur waarop die son heeldag reëlmatig skyn. Cleopatra sit deurentyd stil, haar kaal skouers en fyn buitelyn wat weldra sigbaarder word in die donker. Haar dun arms word afgesluit met hoekige gewrigte waarom breë armbande – perlemoen? ivoor? – stil hang, voor die hande se senings en are eindig in selfs dunner vingers, waaraan bonkige ringe soos voëlent-knoetse vasgegroei sit. Sy dra ‘n wit rok, wat omtrent op haar knie eindig, maar omdat sy sit, is dit hoër opgetrek sodat haar bo-bene halfpad wys. Aan die hak van haar linkerskoen, wat by haar vinkerige enkels oor die regterskoen gevou lê, sit ‘n klein kluit modder wat sy iewers in die tuin moes opgetel het. Die reuk van effe verslaande parfuum sit nog om haar rond, traag om handdoek in te gooi. Sy’s ‘n aantreklike vrou en dis eienaardig dat daar nie iemand is wat om haar aandag meeding nie. Vir Ward’s trofee-jagters sou sy ten minste ‘n manjifieke Thompson’s gazelle gewees het. Maar, is dit dan nie so dat die wyfies nie horings het nie?

‘n Steierende kelner – as ek hulle was sou ek ook lankal reeds indringend begin drink het – deel nou bottels wyn uit wat hy in ‘n boks op sy skouer dra. Of die bevele uit die kombuis se kant so gewysig is en of hy bloot te lui is om gedurig almal se glase vol te maak, dit weet ek nie, maar ek neem twee bottels by hom en haal my sakmes uit ‘n broeksak sodat ek die kurk kan trek. Die geluid van die ontproppende kurk smelt saam met die gekerwaks van die tennisbal, wat sonder ophou heen en weer skiet, ‘n meedoënlose gety met te veel mane. Langs Cleopatra se voete staan ‘n leë wynglas. Ek skink vir haar ‘n halfglas sonder om te vra of sy wil hê.

“Dankie,” sê sy terwyl ek rondkyk vir nog ‘n glas. Daar staan ‘n paar langs die tennisbaan se draad op die sementmuurtjie, so ek staan op om een te gaan haal. In die helder lig, terwyl ek afbuk, sien ek hoe die laaste fase van Bloedrivier homself op my gewrig afspeel. Alles is verby, en die geknakte lyke van duisende klein swart miertjies lê tussen my armhare rond. Ek skud hulle af en laat die string ossewaentjies soos ‘n harige ruspe van my hand afloop. Dit sirkel so paar keer doelloos deur die ruie kikoejoe-gras en kruie dan in die algemene rigting van die Groot-Drakensteinberge. ‘Verkeerde berge’, dink ek by myself, en, ‘hou koers’, maar ek laat hulle maar gaan. Ek’t eenkeer verdwaal toe ek in die Voortrekkers was. Ons was op ‘n nagmars sonder flitse, want die maan was vol en helder oor die Karoo, en ek’t op ‘n manier agter geraak en omdat die res van die groep so stil geloop het, was dit onmoontlik om hulle te sien, veral omdat ons pas afgedaal het oor ‘n klipperigheid in ‘n donkerige klofie in. Ek’t lank stilgesit om te luister vir ‘n stem of ‘n takkie wat kraak, maar later het die nag se geluide teruggekeer en weldra alles onnatuurliks uitgedoof. Ek’t toe maar na die sterre gekyk, my rigting uitgewerk en gestap tot ek die ligte van die plaasopstal waar ons gekampeer het, kon sien. Ek was voor die res van die groep daar en hulle’t nog nie eers agtergekom ek was weg nie. Toe’t ons koffie gedrink, swart en soet, liedjies om die kampvuur gesing en gaan slaap, terwyl jakkalse hulle stories begin vertel het. Ons was die Hendrik Potgieter Kommando, vernoem na die ou wat eerste begin trek het. Potgieter het daar by Kommandodrift rond geboer, en hy was eenvoudig gatvol vir die Britte hier onder sy neus. Wat ‘n eenvoudige tyd was dit nie – vat jou goed en trek verder om van die Empire af te ontsnap! Kon hulle almal so stupid wees as om te dink dit gaan werk? Om ‘n ‘onverkende’ land aan te vat met Afrika voor jou en die Empire agter jou was definitief net ‘n idee wat die hardkoppigstes sou kon inspireer. Nou ja. Mense doen soms dinge wat hulle self nie mooi kan verduidelik nie. Neem byvoorbeeld veerpyltjies. Of infomercials. My horlosie is steeds weg. Die wyn is rooi en swaar, met die definitiewe gewoel van kaal voete wat daarin rondtrap. Dit is ‘n donker wyn, en dit vind direk aanklank by my gestel, asof die stem van die een die tong van die ander op ‘n punt trek en met ‘n plathand klap. Ek probeer dink of ek nog honger is, maar onthou dan al die kos wat ek vroeër geeët het. Dalk is daar nog poeding oor later, iets soets na hierdie wyn sal gepas wees. (‘n Rits van hierdie verbeelde poedings draf verby en hou aan draf, ‘n geurige lint vol fatsoen en tekstuur, selfs lank nadat die gedagte verdwyn het: melktert, peppermint-tert, suurlemoentert, nuwejaarspoeding, perskes met vla en room, aarbeie, spanspek-balletjies, rum-poeding, kluitjies, caramel-roomys...)

Terug langs Cleopatra drink ons in stilte die wyn. Na ‘n ruk begin sy te praat. Eers praat sy oor die wyn. Dan praat sy oor die tennis. Dan die weer. Weer die tennis. Die partytjie. Dit is te verstane dat sy oor hierdie goed sal wil praat, want ons het dan nou wyn in ons hande en dit is lekker; die tennis is dan nou aan die gang hier voor ons en dit is ‘n titaniese stryd, in elke bemarkbare sin van die woord, iets waaroor mense nog vir jare sal praat; die weer is hier bo ons in die lug, dit was tot dusver baie goed vir ons, dit is baie droog in die Vrystaat, ek hoop ook dit reën daar; en, die partytjie is dit wat ons hier saamgebring het, hier op Boskloof, hier in hierdie vou van die kontinent, neffens die laaste stukkie skurwe hak, so nerferigheid wat kan doen met bietjie Camphor Cream en ja, hierdie partytjie is soos Camphor Cream vir die terugkerende Napoleon-army êrens in ‘n blizzard tussen Moskou en Warsaw. Sy praat want daar’s nie ‘n TV nie, benewens die tennis voor ons is die vermaak vir ‘n oomblik verskuil, dit stort op hierdie oomblik in ‘n gastehuis hiernaby, dit trek skoon klere aan, dit sprinkel druppels aftershave/laventel oor ‘n netjiese kennebak/halslyn. Ja, hier is nie ‘n TV nie, dink ek. Hierdie is nie ‘n TV-program nie. Maar hoekom is ons dan akteurs? Voor ek my kon kry, trek sy iewers ‘n diep sluis oop (dis elektronies, moeiteloos, dit spaar nie platannas wat talm tussen die slierte watergras nie) en begin allerhande lewensprobleme kwytraak. Dronkverdriet dalk, dink ek, alhoewel sy glad nie hopeloos besope is nie. Dalk het haar date vir die aand haar verlaat. Maar die stories wat sy my vertel is ontstellend, en ek weet nie hoekom sy hulle vir my vertel nie. Getroud toe sy 23 was, pas uit universiteit, met ‘n regs-student, provinsiale tennisspeler, wie se pa ‘n rekenmeester in Calvinia was, ‘n gawe jong man, aantreklik, so vertel sy, (wat ek eintlik op hierdie reeds verslane oomblik vir haar wil vertel, nie dat dit enigiets te doen het met haar storie nie, is of sy nie ook soms wens dat sy net een spesifieke ding van elke laaste een van haar vriende kon weet waarteen sy hulle vir altyd kan hou nie? Sodat die mooi vriendin met die sexy lippe in trane kan uitbars en haar grimering ruineer, die goody-two-shoes kan krul van die skaam, die ryk een tevergeefs sou moet afkyk en met haar handsakkie se goue knippie vroetel ensovoorts ensovoorts. Die tipe feit wat almal so diep wegbêre dat dit net te voorskyn gebring word reg aan die einde van die fliek, as ons so gelukkig kon wees, soos Gwyneth Paltrow (as Mrs Mills) se kop in die boks aan die einde van Seven. Want as jy almal se swakhede ken, selfs al het hulle net een – soos Kevin Spacey (as John Doe) Brad Pitt (as Detective Mills) s’n geken het - kan jy selfs as ‘n arm man die wêreld oorheers, en as jy daarby genoeg kwaad opgegaar het en jou eie swakhede in die rietkuil verdrink het voor hulle regop kon loop, dan soveel te beter vir jou, want as jy alles wil verorber, moet jy bereid wees om soms jou eie ledemate af te kou. Almal het dit egter nie so dramaties soos Brad Pitt nie, want ons lewens is nie movies nie en sy naam is nie regtig Detective Mills nie. Ons lewens is swakker belig, veel langer en die besoldiging is swak. Maar ons hou almal ‘n swart kol toe. Vir die meeste van ons is dit sommer net ‘n vergete briefie, ‘n foto weggesteek in ‘n boek, ‘n nagmerrie wat dalk waar kan word, ‘n laai vol skerp messe, so baie keuses, so min tyd. Die krisis wat ons self geskep het – die DSTV-sindroom. Dit waarvan jy nooit kan ontsnap nie, selfs al weier jy om die maandelikse fooi te betaal. Satteliete hou jou dop, altyd. Nou en dan is daar ‘n geliefde vir wie jy die hand wil lig, sodat hulle jou swart kol in al sy rouheid kan sien - die sweer, die etter, die wond, die haastig toegestikte gestripde ritsluiter in jou vel - want jy dink hulle kan jou sodoende beter verstaan – en sodoende meer liefhê – maar wees versigtig, al jou vriende het nie die hart van Morgan Freeman (as Detective Somerset) nie.) met gespierde voorarms en ‘n wit glimlag, wat elke dag skeer en netjies aantrek, wat later by ‘n goeie praktyk in die noordelike voorstede begin werk, als gaan goed, sê sy, in die begin het als goed gegaan. Toe’t hy haar begin slaan, nie hard nie, sê sy, en net soms wanneer hy laat van die tennisklub af teruggekom het. Sy’t maar niks gesê nie, want hulle was kerkmense en hy was ‘n diaken en sy was op een of ander diensliggaam vir wat ook al. Later het hulle kinders en die kinders is mooi en perfek, hulle kry A+’e en hulle word prefekte en laerskool en hulle is blonde seun en swartkop dogter, een vir ma en een vir pa, een vir rugby een vir netbal, een vir binne, een vir buite, een vir braai, en vir slaai. En die jare stap aan en sy word dertig en dan vyf-en-dertig en dan veertig en sy steek alles weg, die laatnag-rusies, hiervan hoor haar ouers niks nie, dit sou te veel vir hulle gewees het, op hulle ouderdom, sien, daar in George, waar hulle in een van daai aftree-oorde met ‘n gholfbaan en hadedas bly (die gholfbaan is immergroen, die 18 putjies bly staan, dit het ‘n opsigter en ‘n span werkers, dit teer op geld en reën en die prys van real estate, maar die spelers kom en gaan en die hadedas ook). Natuurlik die kinders ook, en die buurt, oftewel die wyk, kan niks weet van hoe hy haar soms slaan nie, al word dit met die jare erger, want hy drink meer en speel minder tennis en die stres by die werk raak soms net te erg, en sy kop klop met skerp hoofpyne, so kla hy, en whiskey-asems en brandewyn-asems en vodka-asems ruik later almal maar dieselfde, en altyd daarna is hy vol patetiese verskonings en om vergifnis-vraery en dan neem hy haar uit na ‘n goeie restaurant in die Waterfront of om die skier-eiland by Scarborough, waar hulle ‘n klein weekend-getaway het tussen die rots en die seesproei, jy weet mos hoe staan die huisies daar so straf teen die hang tussen die klippe en die oseaan? Ek sê ja, ek ken inderdaad Scarborough se wêreld, ek ken dit ek ken dit (Maar ek vertel haar nie ek dink aan die week wat die werk my vir vier agtereenvolgende dae soontoe gestuur het om ‘n flambojante familiemoord te dek nie. Ek vertel haar nie van hoe die man met die mooi huis met die uitsig oor die see een aand omstreeks nege-uur teruggekom het van die werk nie, hoe hy aandete geeët het saam met sy vrou, wat soos altyd eers vir hom gewag het om huis toe te kom, hoe hy toe gaan bad het en later voor die TV gaan ontspan het en hoe hy in die vroeë oggendure sy vrou in die bed versmoor het, daarna in die kamer langsaan die twee slapende kinders met ‘n .38 geskiet het, al drie lyke, terwyl die bure al deur die venster begin loer het en die polisie geskakel het, uitgesleep het na die swembad in die voortuin, hulle ingegooi het, die rooi in die van onder beligte HTH-blou, en sonder om ‘n woord te uiter die rewolwer teen sy eie kop te druk en die sneller te trek nie. Ek vertel haar niks hiervan nie, want dit sou swak maniere wees en in elk geval, hierdie is ‘n partytjie, ‘n PARTYTJIE). Dan praat sy verder oor planne vir die toekoms en hoe sy daardeur gaan kom en so met dit alles saam, skuif sy nader en nader aan my en sit later naby genoeg dat haar heup my heup begin raak en ek voel skielik haar lyf, want haar rok is dun en ek kan dit voel klop, want iets, die trane - wat ek nie hoor in ‘n snuif nie, maar in die nou en dan krakerigheid van haar stem – maak haar warm van binne af, of dalk is dit net die wyn, maar dis ook die wyn wat die krakerigheid telkens uit haar keel stryk, so vertel ek myself, so probeer ek sin maak van die geluide wat met moeite deur die firewall van my sintuie dring. En dan sit sy definitief haar hand op my bobeen en ek begin wonder hoe donker dit hier onder die boom is en of Pat Cash of Ivan Lendl nie dalk in werklike lewe haar eks-tennisspeler-prokureurs-vroueslaners-man (dalk slaan hy mans ook, benewens kishoue, ek kan nie nou ‘n voorhand-volley hanteer nie, ek sal breek, belangrike informasie sal uitspil op die grond) is nie en terwyl ek kosbare tyd sit en verkwis op so sytak gedagte swaai sy met een gladde beweging haar dun linkerbeen oor die stram vou van my skoot en gaan sit moeiteloos oor my asof ek ‘n voosgeklapte stoeier (Die Gemaskerde Troebadoer/ Danie/Jannie Britz?) en sy Jan Wilkens is. Ondanks die wyn, wat soos ‘n landboustreek in my gestel begin kanale grawe het, lui die gevaarklokkies tog met ‘n gezoem van blik-karre op ‘n veraf hi-way wat al nader en nader kom – of is dit dan nou bergbokke, al tiengelieng-lieng, aangejaag deur Peter, op soek na Heidi? - soos my oë gewoond raak aan die halflig, waarin haar silwer rok so nou dan die lig vang en glinster en die lae hals wat nou voor my gebuig sit - met boude wat gemaklik nesskrop aan die ander punt daarvan, ‘n kaalnek hoender in ‘n stukke stofaarde – weldra duidelik, glad en warm, met perfekte eenvoud twee welgeskape borste aan my bied op oogvlak, of neusvlak, of mondvlak, of wat ook al daardie vaaldriehoek voor mens se gesig is in sulke situasies. In oomblikke van twyfel, in oomblikke van twyfel, wat doen mens nou weer, in oomblikke van twyfel? Tussen haar – oftewel haar borste, wat met die boonste helfte van hul kaalgeskeerde koppe soos honger kinders oor die onderdeur van die kombuis vir my loer - en my staan nou net my wynglas, wat ek nou effe geskok na my mond bring asof daar redding in sou wees, asof die Suid-Afrikaanse Nasionale Seereddings-instituut se rubberduck ook in miniatuurvorm bestaan, maar sy neem dit uit my hand, gooi dit ligweg oor my skouer waar dit met ‘n sagte geritsel (bo die meedoënlose triphop van die tennisbal-pif-paf agter haar) in lae struikgewasse tot ruste kom. Ek dink aan die tipe plante wat daar groei en of rooiwyn goed of sleg vir hulle sou wees. Dan klamp haar benerige hand met die koue valkvingers en swaar gietsels my kop van agter, begin sy sag te neurie soos sy haar kop agteroor gooi - die skerp lyne van haar gesig, swaar gegrimeer en, verbeel ek my, of hoor ek tande wat hulself losvou uit die skedes agter haar dieprooi stywe lippe? - haar perfekte swart Cleopatra-dos, in plek gehou met ‘n alice-band van gegote silwer, haar oorringe in eienaardige hïeroglief gesilhoeëteer teen die helder tennisbaanligte en my kop word vooroor gedruk die Nyl-vallei binne terwyl sy vrugbare dinge murmureer en ek dubbeld gevou word in my eie baard en daar, met my neus tussen haar twee 100 Watt lampe en my voorkop rustend teen die koue metaal van haar breë halssnoer wat by die knoppe van haar sleutelbene met ‘n oog van rooi robyn afgerond is, verskyn ‘n klein mannetjie met ‘n flits, wat hy nou direk in my oë skyn.

“Wat dink jy doen jy?” vra hy, duidelik verontreg.
“Um, wie’s jy?” Hy skyn die lig op homself. Dis Mr Miyagi, grys puntbaardjie en al.
“Is jy nou heeltemaal mal? Het jy vergeet van die missie?”
“Nee, ek het nie. Ek kon dit nie help nie. Sy’t my net gegryp.”
“Wel, wikkel jouself los en gaan soek vir Fyntjie Oliphant. Komaan, skud jouself reg.”
Voor ek iets kan uitstamel draai hy skerp na links en verdwyn met sy flits in die donkertes tussen Cleopatra se rok en die boonste deining van haar linkerbors, rofweg in die rigting van haar armholte, die Cape Recife tot haar Algoabaai. Ek pluk my kop uit met ‘n ligte suiggeluid. Wax on.

“Luister, Cleopatra,” ek klink heel verhaasd, soek vir die regte ding om te sê, maar dis eintlik makliker as wat ek dink, “Ek kan nie, nee, ek wil nie. Luister, jy’t ‘n man en kinders. Um, gaan sien iemand oor die slanery. Doen iets daaromtrent. Ek’s hier saam met iemand anders vannaand. Nee. Jammer tot siens.” Wax off.

Ek swaai haar ligte lyf net so weer van my skoot af en sy gaan ongemaklik sit op die bank, die wynbottel wat by ons voete gestaan het, bly in die slag en die laaste kwart lek die grond in. Sy wil nog iets sê, maar ek maak haar stil met ‘n “Geniet die tennis” en haas myself terug oor die nou bruggie na die res van die tuin. Fokus, fokus, fokus, dawer elke voetstap dit na my kop toe, saam met my stram tong en vinnig-tikkende hart.

Daar’s geen teken van Die Braai op die agterste grasperk nie. Daar’s baie aktiwiteit om die swembad, ‘n nat geplassery, die blink lywe in allerhande skakerings van naakte vel, sommiges met bikinis, ronde boude bonsend om die tandeflos-lyntjies van g-strings, die meer konserwatiewes met sedige swart eenstuk baaikostuums, vethompe se koue rou deeg om heupe, mans met hare of daarsonder, mae en snorre, ander met spiere en glimmende gesondheid, sommiges is daar in hul pakke, hul aand-drag, dasse en jasse, skoene en kouse, frokkies (Jesus), bolkeile (Chaplin), bomber jackets (Biggie). Die musiek is baldadig, dit ruis met ‘n oormaat van kleur deur die stroomversnellings van die nag, of die vroegoggend, wat die tyd ook al mag wees, soos ‘n plesierboot op ‘n donker Kongo met DJ Kurtz agter die decks. Drank vloei en spuit, proppe skiet nou en dan, glase breek – een van die lang kostafels staan op sy sy, die reste van veelkleurige poedings en terte soos duur kunsmis op die gras gestort. Ek staan vir ‘n ruk en kyk – nie regtig stomgeslaan of starend nie, maar op die manier waarmee studente na hul uitslae soek in ‘n lang lys op ‘n kennisgewingbord, met ‘n bewaakte gesigsuitdrukking, ingeval die punte swak sou wees - om seker te maak of Die Braai, of Olive Schreiner, nie daar êrens tussen die massa is nie. Bob is nou voorbok, rammetjie-uitnek, mag mens maar sê. Iemand hou ‘n hoepel en Bob spring met ‘n sierlike boog daardeur – sy baber-bloed wat skielik handig te pas kom. Sy bruin lyf glimmer slymerig deur sy deurdrenkte klere, sy swart ogies wemelend met die vrot plesier van drank en oorvloed. Mense klap en gaan tekere, duik, spat, stamp in, drink.

Op die agterste stoep speel ‘n meer besadigde groepie nog snoeker op die groot tafel. Die stywe bruin-koevert reuk van sigare dein tesame met die effe soet van dagga op en neer in die dik, warm lug wat uit die huis uitstroom. Skote klap skielik agter my, maar dis net vuurwerke en klappers, die reuk van die kruit wat vir ‘n oomblik my neus bereik soos ek my nek draai om na die hemelwaartse flikkering te kyk, net voor ek die huis binnestap, daardie menslike instink om altyd vir blink liggies te kyk sou die geleentheid homself voordoen. Ek besef skielik hoe swaar my blaas hang, soos Mexiko onderaan Amerika, so ek begin soek na ‘n badkamer. Die huis is nou bloot verlig deur kerslig, afgewissel met enkele donker gloede van diep blou, rooi en groen gloeilampe, wat brand agter dik lampskerms, versier met vorms en figure wat snaakse skadus oor ontblote mure gooi. Die meeste deure in die huis staan oop, met mense wat van die een geselskap na die volgende beweeg en soos litmoespapier hul tonge en agterente dip in verskillende grade soet en suur . In die kombuis staan ‘n paar kelners en rook, hul werk min of meer klaar vir die aand. ‘n Berg skottelgoed staan by die kombuisdeur uit tot om die draai, waar ‘n ou wastafel swaar staan onder die gewig van al die vlekvrye staal, keramiek en glas. ‘n Kelner met ‘n Spiderman masker beduie na waar die badkamer is. Die badkamerdeur is toe. Ek klop. Daar’s geen antwoord van binne nie, so ek probeer die handvatsel, maar dis gesluit van binne. Ek leun teen die muur vir ‘n minuut of wat, klop dan weer. Die keer is ‘n geskuifel hoorboor bo die dreunsang wat nou blykbaar buite die huis aan’t afspeel is. ‘n Paar sekondes later maak ‘n vrou die deur oop, gevolg deur ‘n man. Dis Hansie Cronje, maar die vrou eien ek nie. Met een voet reeds binne die badkamer, dink ek skielik aan iets en kyk op na Hansie, wat besig is om sy das te verskuif in die spieël in die gang.

“Um, Hansie, ek wil nou nie steur nie, maar – is jy nie dood nie?”
Hy kyk na my met sy Speler van die Wedstryd-glimlag. In my geestesoog sien ek ‘n reuse Standard Bank tjek en vir Trevor Quirk.
“Ja en nee. Wat traak dit jou? Baie mense hier is reeds dood. Jy’s dood. Paul. Kruger.”
“Ja, maar... toe maar. Luister, net vir die onthalwe vir die kinders wat ek nog nie het nie, het jy ooit ‘n wedstryd aspris verloor?”
“Ek sou sê nee, ander sou sê ja.”
“Dis nie ‘n antwoord vir ‘n laaitie nie.”
“Net soveel as Shane Warne.”
“Kan jy dit bewys?”
“Nee. Hierdie tipe dinge is ‘n saak vir die Here.”
“Ja, ja, ek weet. Wat sê die Here in elk geval? Het jy hom al gaan sien?”
“Nog nie, besoekersure is op Saterdae-middae en dan doen ek gewoonlik coaching. Maar hy was ook op die boeke, hy’t alles geweet.”
“Hansie, wie is die Here?”
“Ek mag nie sê nie. Ek kan nie sê nie. Ek weet. Ek weet nie. Nie Ali Bacher nie. Ook nie Jonty Rhodes nie. Of Kepler. Ek sal dit nie voor Ray Macauley sê nie, maar die Here is in alles. Die Here en Buddha en Mohammed. Almal, al die gode. Hulle’s in stukke hout, ou geboue, pasgebore babas, blomme... alles. Al die gode vertoef in ‘n beloofde land. ‘n Paradys-eiland van geestelike rykheid. Vervulling is ‘n voetstap hiervandaan. Kyk, trek die beskermende plastieklagie af wanneer jy gereed voel. Pary mense doen dit onmiddellik nadat hulle die produk gekoop het, ander wag te lank – wat maak dit saak as jou remote in perfekte kondisie is, maar jou video-masjien se heads is opgepak? Niks nie, en jy weet dit. Maar moenie my woord vat nie, daar’s baie movies en boeke wat jou dieselfde dinge kan vertel. Moet net nooit aandag gee aan die negatiewes onder ons wat altyd hamer op die leegheid van die dood nie. Daar moet vasberade geglo word aan die paradys, soos kinders midde-in ‘n hongersnood nie meer aan pap en brood kan dink nie, maar net glinsterende roomyse, eindelose perfek gevormde hamburgers en chips. Sonder die paradys... luister, ek moet gaan.”
“Een laaste vraag: die vliegtuig-ongeluk – ‘n hoax of ‘n tragedie?”
“Hey, Buddy Holly het dit gedoen. En Worsie Visser. Dit maak goeie Icarus-headlines in die koerante en verkoop baie albums. Hier’s iets vir jou – wanneer die einde kom, maak seker jy sit in die co-pilot seat. Bye.”
“Bye.”

Teleurgesteld, druk ek die deur toe en mik na die toilet. Dis nooit lekker as helde val nie, en toe Hansie geval het (die eerste keer), was dit asof die 1994 weergawe van die Groot Suid-Afrikaanse Droom tot ‘n einde gekom het. Hansie het weliswaar nie met ‘n swart vrou getrou nie, maar almal kannie perfek wees nie. Gelukkig het ons deesdae vir Makaya, Monde en Mfuneko, die drie M’e uit die Oos-Kaap wat met bietjie geluk soos die Windies se destydse Three W’s kan word. Dis absurd om te dink hoe baie tyd ons verspil op sport waartoe ons eintlik maar net ‘n geringe, verwyderde bydrae maak. Sport is ons algemeen aanvaarbare dwelm, dit verlaat nooit die koerante nie, die helde verkoop burgers en diamante aan ons, hul gesigte en spiere verskyn in ons seksfantasieë, speel gasrolle in die gewildste sepies, trou met modelle, drink te veel, bots teen lamppale en herrys dan op prominente winkelrakke in die vorm van biografieë of CDs. En, ondanks die min tyd wat ons hier rond het, bespreek ons vir eindelose ure hul statistiek, hul strike rates, hul wegswaaiers, hul doelskoppe, hul temperament onder druk, hul fiksheid, die toestand van hul skene, hul knie-operasies, hulle beste doele in volgorde van een tot twintig ensomeer. Ons sit vasgenael voor die televisie, wat die drama en die leed en die vermaak oor ons lywe spoel, waar bier en Niknaks nie kan indring nie, daar dring die vlak emosies van ons liefde vir ons gunsteling sokker-klubs, nasionale spanne en persoonlike gunstelinge in. Ons praat wye bane deur ons telefoonrekeninge, ons verlaag ons besighede se produktiwiteit deur tydens werkure oor die IRC te klets of wallpapers en screensavers te download. Ons dink dat – soos met gesprekke oor die weer – dit ons almal nader aan mekaar bring, dat dit ons ‘n gemeenskaplike, bekende ontmoetingsplek gee wanneer ons geselskap moet maak, nuwe mense moet ontmoet – asof dit ‘n gemaklike rusbank in ‘n park sou kon wees, ‘n onmoontlike burgerlike spilpunt in die onmoontlike koffiehuis van ‘n onmoontlike stadsplein in ‘n stad wat nie meer kan bestaan nie. Maar dit is nie dit nie, dit kan dit nie wees nie. Al wat dit doen is om ons armlengte van mekaar te hou, want ons bestaan nie binne die lewe van die dinge wat ons bespreek nie. Byna alles wat ons elke dag sê, selfs aan ons beste vriende, het niks met ons belangrikste gevoelens te doen nie. Ons mors tyd. Ons knoop wind. Ons wens ons kan ons helde in ‘n kroeg ontmoet sodat ons selfs net met die dilemma van ‘sal ek sy/haar handtekening vra, of is dit nie cool nie?’ gekonfronteer kan word. Die dilemma is intrinsiek tot die hele siekte, want dit is wat ons aan die gang hou – die kans om hulle in lewende lywe te ontmoet. Dis natuurlik beter om hulle nooit werklik te ontmoet nie, want TV laat almal mooier en groter lyk. Om ‘n bekende sportman op enige ander plek as die sportveld te sien, is soos om goudvisse tussen babers te laat swem. Die nare waarheid dat almal maar net visse is, is duidelik. Maar nou is Hansie dood, en die mistiek is weg, vir ewig. Nooit weer sal ek my ten volle kan oorgee nie. Nooit weer sal ek so hard skree nie, nooit weer sal ek so emosioneel laag voel soos daai uithardloopslag tussen Klusener en Donald nie. Ek gaan die dwelms wegsmyt en my voortaan op my hengel toespits, waar die sterre nog snorre het en daar nie neergekyk word op filosofie, drankmisbruik en bierpense nie. Daar staan ‘n vet rooi kers op die bak, laaggebrand met was wat soos gesmelte boombas daarom gepoel staan. Ek urineer diep en behaaglik, (terwyl ek dink aan krieket – die son skyn hard en sunscreen smelt bokant my wenkbroue en loop met branderige strepies in my oë, die skare is aggressief en gooi leë bierglase in die rigting van die derdeman - en presies hoe ek te werk sou gaan as ek in ‘n vyfdag-toets vir Steve Waugh moes boul, terwyl hy op 68 n.u.n. staan en Australië besig is om ‘n eerstebeurtvoorsprong te bou op die SCG tussen middagete en tee op die tweede dag en hy my offspin met minagting behandel, na drie balle het hy reeds twee viere geslaan en ek wonder nou, sal ek my armball boul, of sal ek hom nog ‘n floater buite die offstump gee en hoop hy speel ‘n lofted cover drive in die hande van extra cover in, of wat van ‘n bouncer vir die man op die legside boundary, of dalk moet ek dit eerder laag en vinnig begin indart op middle en leg om die skade minimaal te hou?) met die dierlike plesier van ‘n Chobe-olifant wat nou net 200 liter water gedrink het en met ‘n doodluiters ontblote G-5 (voordele van fiksie) na ‘n aantreklike groep koeie in die modderpoel staan en staar. Krokodille klap hulle sterte in die vlakwater, vir aandag, vir wyfies, en maraboes vroetel met hul snawels in hul vere rond, na vlooie, voëlvlooie. Dan’s die geluide skielik meer realisties, asof dit van binne die badkamer self kom. Terwyl ek afskud, hoor ek dit weer. Die onmiskenbare geluide van ‘n gekarfoefelery. Aan die verste kant van die badkamer staan ‘n bad versteek agter ‘n rofweg toegetrekte stortgordyn. ‘n Fyn onderdrukte laggie kom daaruit, asof van ondergronds, uit ‘n keramiekgrot, gevolg deur die waarskuwende woorde van ‘n man, ‘n laer getrommel. Ek laat hulle in vrede, was my hande en trek die deur saggies agter my toe, sodat die natuur sy gang kan gaan.

Vir ‘n oomblik voel ek verveeld, maar net vir ‘n oomblik, want dan hoor ek ‘n harde stem van die agterstoep. Aandag word geroep, lepels en vurke word teen glase en blikkerige dinge gehamer. Dis die stem van ons gasheer, Johannnnnnnnn Stemmet. Sy stem, nie eers aangedryf deur ‘n megafoon of enigiets nie, maak geleidelik die huis ook binne stil en mense kom in nuuskierige groepe uit kamers en verdring mekaar in die gang om by die agterste uitgange uit te kom. Ons gasheer staan bo-op ‘n tafel, en vee nou sy arm, met sjampanjeglas in die hand, oor die skare wat voor en om hom vergader is. Hy praat hard en duidelik en gesprekke, argumente en opmerkings word onderbreek (“Dit noop my om te noem dat...”; “...en sy steek die dingeses in...”; “Kan jy dit nou glo?”; “... maar dis nie al nie...”; “Presies! Die demilitarisasie van die brein!”; “... en hulle nuwe skuilname was Santiago Maxwell en Enrique Brown...”; “Sy weet nie waarvan sy praat nie, nogtans...”; “...markaanwysers schmarkaanwysers...”; “Jy skerts seker?”; “Ilda, haar naam was Ilda, of dalk Hilda...”; “... moet binnesenter toe skuif...”; “... is geen verskoning vir die politieke gem...”; “... ‘n selfs ligweg sydelingse kykie na...”; “Drank! Drank! Is hierdie plek dan droog? Dra... jammer...”; “... nee, dis glad nie seer nie... effens na... links... ahh...” ensovoorts) sodat die mense begin fluister onder mekaar. Sommiges steek sigarette of sigare aan, in hul eie monde of die monde van ander, ander skink ‘n drankie, trek die vingerhappies nader of beduie met woordlose klein bewegings aan hul metgeselle wat hulle dink volgende gaan gebeur.

“...en daarmee,” ons gasheer druk sy glimmende dimpelpoeding ken vermakering vorentoe, tande ontbloot in ‘n dertigduisend-vyf-in-‘n-ry glimlag, plaas ‘n gemaklike, leunende stilte in sy sin, om die waardigheid, die uniekheid van die okkasie te laat insink, lig sy glas en gaan voort, “kom ons lig ons glase vir Nelson Mandela, die man van die eeu!” ‘n Applous druis op, myne ook, glase word leeggemaak, ‘n paar fluite en gille, jille en ululerings. In twee flink bewegings wip Nelson op die tafel, waar ons gasheer nou sy hand vervaard pomp, soos die rugby-afrigter wat by die einde van die jaar prysuitdeling die Sportman van die Jaar-trofee aan sy eie eerstespan rugbykaptein oorhandig, voor hy afspring met ‘n ligte springetjie van sy ge-jelde kuif en die wapperende pante van sy losgeknoopte onderbaadjie.


12.

‘n Man, met die masker van die onmiskenbare Nelson Rolihlahla Mandela op sy gesig, se hande maak met twee sagte bewegings die skare stil. Dis nie moeilik om te dink hy lyk soos Jesus op ‘n bergtop nie. ‘n Herder met skape wat wag om na die volgende stukkie groen êrens teen ‘n hoër helling gelei te word nie. Per toeval hang daar ook nou ‘n halo bo sy kop en, al is dit net ‘n truuk van die feestelike liggies wat die stoep belig, sou mens dit geensins anders wou hê nie. Sy sagte vlerke vou toe en die helder energie van die waarlik heiliges, stroom by sy vingerpunte uit en daal neer oor ons. Ek voel dit aankom soos slaap, maar met oop oë en ‘n wakker brein, vanoor die stuurwiel van ‘n 150km/h motorfiets in Phakisa se middelste chicane. Al geluid in die agtergrond, is die ritmiese heen-en-weer op die tennisbaan, soos Buddhiste wat hulle kalbassie tik in die tempel.

Hy begin praat:

“Hierdie is nie die waarheid nie. Julle behoort almal al teen die tyd te weet dat die waarheid nie meer ten volle met ons is nie, dat dit nie vertrou kan word selfs in die helderste daglig nie, en dat almal wat by die feite sweer die hele punt mis. In elk geval, die son kom op en kruip stadig deur ‘n pragtige vallei. Dis baie lank gelede en die natuur is onverstoord. Gras staan geel en geil, bome en digte struike groei in die nou voue van die kloof, stukke rots druk op uit die kneukels wat stadigaan saamsnoer in ‘n lang rooibruin ruggraat van klipstapels, waarvan die werwels nou en dan onderbreek word deur ‘n alleenstaan kiepersol of witstinkhoutboom. Die lug, wat altyd blou en vol son is behalwe vir wannneer dit reën en sneeu, is blou en vol son. Ek sit met my sweepstok en speel, die gladde hout so gemaklik soos warm water in my hand. ‘n Trop beeste trap met swaar voete versigtig die stof uit die ou, bekende voetpad wat uit die kraal kronkel, hier verby my voete en dan af na die vallei, waar dit vertak en verspring na kolletjies gunsteling weiplekke in die laer heuwels.

“Dis hoe dit was, maar dis nie meer soos dit is nie. Kyk, ek was ‘n kind gebore in vryheid, maar dis ‘n vryheid wat onmiddellik vertrap was die oomblik toe my verstand die boodskappe van my oë kon interpreteer. As kinders in die wêreld, spoel ons onskuld oor ons probleme, en niks is afstootlik nie, want ons nog stadig stygende vloedwaters, ons is nog die klein van ‘n fontein, ons ruk nog nie gate deur woonbuurte nie, ons sien nog nie die onderstebo verdrinkte skape nie, ons ruk nie saailinge los uit die grond nie en, aan die teenoorgestelde kant, is ons nog nie bewus van waartoe die lewe sonder water in staat is nie, ons ken nie die droë drinkbak nie, die maer en omval diere nie, die donasies van bale lusern uit die Vrystaat nie, die sprinkane as bonus-plaag, die Landbank se stropperige bruin koeverte en ons weet nie hoe lyk die krake onder in die dam nie, met die laaste visse wat in klein plassies wag vir die son om hulle te kom uitdroog, of dalk ‘n honger plaaswerker om hulle met ‘n emmer te kom verlos. En wanneer mense doodgaan, honde geskiet word, huise afbrand of weke na mekaar honger gely word, dan verstaan jy dit met ‘n tipe instink, of van die emosies op die gesigte van jou ouers, daardie dierbare, onbaatsugtige beskermengele van jou onskuld. Ek onthou my ouers nog so goed, al was dit so lank gelede. Die reuk van hul liggame van naby, van binne ‘n omhelsing, die sweet en die poeier en die parfuum van klei, die reuk van klere en velle en hare, stof, plante, beeste, bokke, koffie, suiker, mieliepap, sorghumbier, sop wat kook in ‘n pot, oopgekapte stukke doringhout. Die raad en die pak slae wat uitgedeel is met stemme vol emosie en hande en arms vol warm, gloeiende bloed. Die wysheid en die eenvoud in hul glimlagte, die trane wat soms noodgedwonge die pyn moes uitdruk uit liggame wat dit net nie meer kon hanteer nie. Onderdrukte mense word stadig maar seker so vol van die swartste gedagtes dat min dinge uiting daaraan kan gee. Trane is een manier, geweld is ‘n ander. ‘n Wrok soek die kleinste krakies uit en steek ‘n stokkie dinamiet daarin. Kort voor lank, vloedwaters in die polders.

“As jong veewagter het ek geglo dat ‘n likkewaan my harsings deur my neusgate sou kom uitsuig indien ek aan die slaap sou raak terwyl ek oor die kudde moes waak. Dit het nooit gebeur nie, want ek’t nooit aan die slaap geraak nie, selfs al het ek nie die storie heeltemaal geglo nie. Die punt van die likkewaan-storie was dat die kudde ten alle koste beskerm moes word, dat daar elke oomblik van die dag ‘n waaksame oog oor elke bees sou wees, dat daar gewag moes word om te sien of ‘n kalfie agter ‘n boskaas te voorskyn kom voor die res verder gedryf word. Elke bees moes bekend wees aan jou, jy moes hulle spesifieke fatsoene en kleurskakerings op ‘n afstand kon eien, elk by die naam kon noem. Want die kudde is nie net diere nie, die kudde is natuurlik ook die gemeenskap se brood en botter, hul status, hul lobola, trots, alles. Die beeste is die mense. Dit het ek altyd geglo en ek glo dit nou nog. Dis net jammer dit geld nie meer aldag so deesdae nie. Ons kan maar net kyk hoe ons kunsmatig beeste vetmaak in voerkrale. Diere wat van kleins af net drukgange en grys lug ken en hul einde in ‘n abbattoir ontmoet met ‘n retractable staalpen in die kop – sulke diere is nie meer beeste nie, sulke diere is ‘n uitvloeisel van ons dors na meer, ons arrogante heerskappy oor alle wesens en ons sengende emosionele afstomping tot ‘n sensitiewe wêreld buite ons eie stadsgrense. Ek hoef nie te verduidelik hoe die verstedeliking van landelike bevolkings regoor die wêreld alle gemeenskappe onherroeplik verander het nie. Die meganisering van arbeid, die fabrieke, die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, die uitbuiting van goedkoop arbeid, die wanverdeling van kennis en die gepaardgaande rykdom. Ons ken die geskiedenis van die afgelope 500 jaar. Ons weet waar die huidige landsgrense vandaankom, ons weet hoekom mense in Brasilië Portugees praat, ons weet hoekom sukkel die Koreane om aan dieselfde tafel as die Japanese te sit, ons sien hoe die beheer van olie die supermagte se finale oorlogsfront geword het – al is dit dan nou verskuil in geheime oorloë, anti-terrorisme veldtogte en agter Guantanomo Bay se onbereikbare skanse. Die gereg het verval, en ons weet waar dit vandaan kom. Kyk, die hand wat bewe skud nie meer ferm nie, dit stort tee in die piering.

“Ons is almal vertroud met apartheid, en ons verstaan ook waar dit vandaan kom. Ek sal so ver gaan as om te sê dat ek apartheid baie goed verstaan. Dit is natuurlik so dat die wat ly onder ongeregtighede dit duisend maal beter verstaan as die wat die ongeregtighede pleeg. Dalk ses miljoen keer beter. Of agthonderd-duisend keer. Die eenvoud en sukses – en, hopelik, die uiteindelike verval – van apartheid lê opgesluit in die woord self. Vir die een wat die draad span (of die geld daarvoor voorskiet), bestaan die draad net om eiendom te verdeel, ondiere buite te hou of kosbare besittings te beskerm. Hy beskik oor sleutels vir die hekke en ‘n vol gereedskapstoor waarmee die drade en hekke weer uitmekaargehaal kan word sou dit nodig word. Maar vir die onderdrukte, bestaan die draad bloot as ‘n onverklaarbare gebaar uit ‘n hoër oord, iets wat huis en familie verdeel, deur tafel en daaglikse roetine, iets wat die kortpad toespan en jou al met die toegespande hoofweg se padreserwe langs dwing, waar die voetoorgange altyd min is en die polisie makliker kan patrolleer. Die onderdrukte het nie die gereedskap nie, en omdat die onderdrukte altyd ‘n geweerloop teen sy agterkop voel, altyd ‘n hongerpyn op sy maag het, altyd in sy of haar eie kinders se oë die teleurstelling moet sien, om hierdie redes, kan die onderdrukte aanvanklik nie die draad afbreek nie. Al wat die onderdrukte kan doen is om, soos ‘n ystervark in die nag, nou en dan ‘n gat onderdeur te grawe om ‘n pampoen te steel. Dis dit. Apartheid. Xenofobia met die geld, mag en wil om te skei soos goedgedink word. Rassisme met ‘n wetsbestaanreg. Mag ons die woord lank onthou sodat ons nie sal vergeet wat dit beteken het nie. Dit sal wel eendag tot stof vergaan, selfs elke laaste HTML-skakel. Alles is nulle en ene.

“Aan die ander kant was apartheid die laaste openlike plan tot ‘n eerlike tipe hervorming van enige land. Dis nou as mens die immergewilde Afrika Doktrine van die Panga/AK ignoreer. Deesdae word lande meestal hervorm in die naam van markaanwysers en onsigbare magte. Dis ‘n feit dat die wêreld huidiglik so ingewikkeld is, dat baie min mense verstaan hoe hul tuislande se ekonomieë inskakel by die res van die wêreld, en hoe markte in die Ooste jou in Oos-Londen kan beïinvloed, of hoe nuwe Europease Unie handelswetgewing die prys van jou mielies verlaag op die mark. Dis onsigbaar, verwyderd en soms plein absurd, maar dis ook onsigbare magte wat werkloses in afgeleefde karre laat slaap in die parkeer-area van ‘n Walmart in Ohio, onsigbare magte wat oornag ‘n honderd-duisend laat honger ly in Zimbabwe. Onsigbare magte met sigbare effekte. Dit alles terwyl twee biljoen dollar bestee word om elders ‘n nuwe supermoderne bomwerper te bou. Maar tydens apartheid was dit anders, of ten minste, dit was anders in Suid-Afrika, en dit was anders vir my en die wat dit saam met my beveg het. Aanvanklik het ons ook net gate onder die draad deur gegrawe. Maar mettertyd het ons ons eie gereedskap gemaak en die drade begin afbreek. In die tronk het hierdie proses nie opgehou nie, want die drade was nie net in die grond en sement van die land geplant nie, dit was ook in die koppe van al die mense. Al wat nodig was, was om die geheime taal, die kode, die resep, suksesvol oor te dra aan die hele bevolking, sodat almal kon verstaan. Met die tyd saam kom altyd lig, met die jare gaan mense dood en bome word ouer, hulle word gesnoei, die slegte dele uitgekap en steggies word geknip vir ‘n nuwe boord een vallei verder weg. Die goeie ding van mense is dat hulle soms van mening verander, selfs oor die grootste en mees belangrikste dinge in hul lewens, soos geloof, of die geloof in die waardes van hulle soort.

“Ons is hier saam vanaand aan die einde van nog ‘n fase in die geskiedenis. Maar niks wat hiervandaan gebeur is ooit vry van die voetnotas van dit wat vantevore gebeur het nie. Die skepping is eenvoudig en ingewikkeld, dit is ‘n klein spikkel wat wik in die oog van ‘n valk en dit is ontsettend groot, ondenkbaar in die verskiet. Ons vergeet soms dat die ses kontinente eens net een was. Dat mense nie altyd bestaan het nie. Dat dinosourusse hier gewy en gejag het. Net anderkant hierdie berge, in die Karoo-kom, het Lystrosaursse en Dicynodons in die vlak moerasse hul ding gedoen, sommer nou die anderdag, ‘n enkele kerf in die kierie van tyd. Met die stomploop van die kierie verander dinge onherroeplik, en ons bestaan hier is so kort en vlugtig dat ons verwarde breine skaars kan oogknip, skaars kan registreer, skaars tyd kry om te onderskei tussen goed en kwaad voor die gordyne toegetrek word en ons siele in die wind verdwyn. Dis ‘n swaar taal wat ons praat, want dit gee voor om alles te weet. Maar ons is die enigstes wat dit kan dra, die groot swart tas, deur elke donker kloof en oor elke witwarm grondpan. Die sweet tap ons af en die ys pak om ons gewrigte.

“Ja, ek sal dit sommer nou hier erken: ek is ook lugtig vir die dood. Ek is oud, ‘n ou skilpad, en ek weet wat gebeur met ‘n ou skilpad. Wanneer dit te veel reën een oggend, gly hy teen die styl helling van ‘n donga af, rol om en om en kom voete in die lug in dik modder te lande. Hy wieg heen en weer, maar die modder is te dik en styf, dit suig stywer vas. Sy nekspiere verrek, hy kyk heeldaglank na die uitspansel bokant hom, die horison wat eens die onoorwinbare toekoms was, nou skielik die onderkant van die lewe se ewe waterdigte drom, omgedop oor hom vir ‘n laaste keer. ‘n Dag of drie later is die ou skilpad dood en pik kraaie sy oë uit. Maaiers en insekte doen die res. ‘n Maand later begin sy dop uitdroog en val die bene los by sy broekspype uit, soos skaakstukke uit ‘n vergete skoenboks. Dit is ‘n eenvoudige proses. Maar ek wil tog my termyn hier afsluit met die wete dat daar hoop is vir die kinders wat na my kom, die kinders van hierdie generasie, en die volgende, en die volgende. Ek wil dit hê vir Suid-Afrika, en vir Afrika en vir die hele wêreld. Julle, die gaste hier vanaand, kom van regoor die aarde, elk van sy volk en sy groep en sy soort. Ons is anders, maar enkele dinge bind ons saam. Ons wil gelukkig wees, ons wil veilig slaap, ons wil kos op die tafel hê. Soms word hierdie soeke na geluk en sekuriteit verwronge ideale, regerings word korrup, presidente word diktators – julle weet wie julle is. Dat ons almal hier op die aarde gestrand is, beteken nie dat almal die regte idee het van goed en kwaad nie. Mense kan wel verander, maar party is onwillig.

“Mens sou kon dink dat ons teen hierdie tyd sou kon onderskei tussen goed ek kwaad en net by die goed sou hou. Dis jammer dat dit nie die geval is nie. Ek is van mening dat dit elke nuwe generasie se verantwoordelikheid is om die heinings en drade van hul tyd op te spoor – want deesdae is hulle dikwels onsigbaar – en paal vir paal, meter vir meter uit te wis. Alhoewel die idee vir ‘n vrye, gelyke samelewing ‘n relatief nuwe idee is, bly dit tog ‘n goeie idee. Hoe groter die bevolking word, hoe meer belangrik sal dit word dat alle mense op gelyke grondslag met mekaar kan omgaan. Ek sien egter min daarvan gebeur vandag. Die heinings bly staan en die onderdruktes het nie gereedskap nie. Hulle loop die langpad oor die bergpas, want die tolgeld deur die tonnel is ‘n maand se salaris vir hulle. Waar’s die apartheid vandag? Wie is die apartheid? Wie besluit party kry meer as ander? Wie besluit dis goedkoper om ander te laat honger ly? Wie stem vir wie, selfs in die vryste demokrasie in die wêreld, en wat kry die stemmer daarvoor terug? Het die regerings enige idee van hoe enorm hul taak is?

“Ek staan hier voor julle vanaand as ‘n man van Afrika. Maar dit maak weinig verskil. Ons is van die wêreld, en nêrens anders sal daar vir ons slaapplek wees nie, nie in hierdie lewe nie. Geen ander plek sal ons duld nie. ‘n Bed staan nie vir ons gereed nie, daar’s nie koffie op die stoof nie, daar’s nie laybye by die general dealer nie, geen uitverkopings of afslag of twin-ply om die slag meer genadiglik te maak nie. Ons is hier op geleende tyd, die komete kom, miljoene jare weg, en hulle kan nie wag om ons met die druk van ‘n duim uit te vee nie. Dalk gebeur dit môre. Ons kan nie weet nie en dis wat elke minuut so kosbaar maak. Maar voor ek by daardie kosbaarheid kom - dis alom bekend dat die wêreld nutteloos is en mense te selfsugtig om selfs hul eie kinders te red. Naasbestaandes word ‘n stoklengte weggehou. Ons kyk vir onsself op die TV en besluit ons is nog OK, maar ons is nie. Ons glo ons eie woorde in ons eie koerante en dink ons is nog OK, maar ons is nie. Ons dink dit maak nie saak nie, want voor alles in duie stort sal ons dood wees en dalk kan ons kinders of kleinkinders aan iets dink om die hele lot te red. Maar dit is nie die geval nie, want hulle sal ook nie aan iets kan dink nie en met gemak die vinger na ons kan draai en sê ‘dis hulle wat dit gedoen het, hulle’t dit gebreek’, nes ons die vinger na Columbus of Rhodes of Armstrong kan wys en sê dit is hulle, dit is hulle wat ons grond gevat het, hulle wat ons onskuld verraai het, hulle wat ons drome verlaag het tot famous last words – dit is HULLE wat dit gebreek het.

“So is dit en so is dit nie. Dis ook ons wat dit breek, elke keer as ons steel en verkrag, doodslaan of doodsteek, doodskiet of doodkap. Elke keer wanneer ons die armes van die raadstafel afvee om plek te maak vir die koekies en tee, elke keer wanneer ons die nuwe presidensiële straler bestyg en vergeet van die pensioenarisse wat reeds vier-uur opgestaan het om tien kilometer te loop om in die ry te gaan staan vir R200. Ons breek dit vir ons kinders, en ons breek dit in ons kinders, deur hulle nie te leer lees en skryf nie, deur drank te koop met geld wat medisyne of boeke moes koop, deur te dobbel en te verspil deur dit wat geluk en gesondheid kon bring. Ons kan nie almal Ghandi of die Dalai Lama wees nie, dis verseker, maar ons kan tog probeer. Dis waaroor die kosbare minuut gaan. Die kosbare minuut gebeur in ‘n oorvol taxi, dit gebeur wanneer jy jou hand uitsteek om aan vrugte te voel op ‘n straathoek, dit waai saam met jou hand na vlieë, dit kyk na reën en sien hoe val dit in die grond in, dit kyk na reën en sien hoe spat dit van die teer af op, dit klink met die gelui van die kerk-klok oor ‘n mistige dorpie, dis in die klank van viole, van ‘n strykorkes, van ‘n pennywhistle in ‘n shebeen, die geklap van doppies op harde vloere, die plesier in ‘n verjaarsdag, die reuk van blomme en plante in die nag, die diepste mynskag waar ‘n hand aan ‘n hand vat in die donker, die sweet in die overall en onder die arms en oor die ribbes en in die rug af van die man wat sy pik hoog en sekuur swaai en padmaak sodat ander veiliger kan ry. Dit sit in eerlikheid en eerbaarheid en geloofwaardigheid. Dit swenk uit vir korrupsie en staan diep geanker in die sterk stroom van mag en versoeking en geld. Dit is Kanon-eiland in die Oranje-rivier, ‘n staalpilaar in ‘n sandsteenvallei waar die wind deur wring, die Golden Gate, maar van staal. In die kosbare minuut sit jy ‘n kondoom op, jy trek handskoene aan voor jy aan bloed vat, jy stop wanneer sy nee sê, jy draai om en loop weg wanneer die versoeking groot raak, jy glimlag wanneer jy onseker is, jy reik uit wanneer jy alleen is.

Ek verveel julle seker. Julle’s hier om te rinkink en dinge te geniet, tennis te kyk, snoeker te speel, wyn te drink en skilpadjies te eet. Wees egter verseker – om ons enkels spoel die bloed en dit kruip altyd hoër. Die warm bloed van Verwoerd wat verspil op ‘n goeie pak klere, op ‘n leersitplek in ‘n muwwe vertrek. Die bloed van Hani, wat droogword op die stene van ‘n carport, wat swart en donker druk op die blaaie van koerante. Die bloed van Jode en Palestyne, Irakis en Britte, Tamil Tigers en Aceh Freedom Fighters. Die bloed van huisvroue en laerskooleerlinge, ministers en boemelaars, kerkmanne en veediewe, skaaphonde en Persiese katte. Sendero Luminoso, inderdaad.

Geniet die res van die aand. Onthou: Pyn en lyding is ingesluit by die prys.”

13.

Ek verbeel my die lug is aan die lig raak, of dalk is dit waar dat daar ‘n lig binne my is en dat dit nou na alles om my aan’t versprei is. Dit is soms soos ons is, ons glo dat ons helder is en dat ons baken-liggies duidelik klop, sangvoëls in rietbosse wat gesange sing van voorspoed en ‘n helderverligte toekoms, waarin ons lank en goed leef, met huise, karre en kleinkinders om die bolkloue van ons swaar sitkamer-meubels. Aanloopbaanligte. Moeder Theresa. Oliver Mtukudzi. Jim White. Ek sien haar, ek sien vir Olive Schreiner, en ek herken haar aan die son wat agter haar aanstroom, al probeer sy dit verskuil agter die bleek masker waaragter ek weet Fyntjie Oliphant skuil. My bene werk onverwags goed saam, verminder die afstand tussen my en haar, ‘n Olimpiese atleet in ‘n speelpark vol ronde, bonsende mense, die ander gaste blou en rooi en geel en groen balonne rondom my, glinsterend van die vet, sweet wat pêrel op lippe, ore wat in die modder sleep. Maar ek swem deur hulle soos Weismuller en Spitz, stap soos Tenzing deur die sneeu, Zola wat nie trip nie, Zola wat aanhou en wen, o, Zola, o, Bloemfontein se kaalvoetmeisie. Wanneer ek naby haar kom, haal ek my eie masker af, sodat sy nie te veel sal skrik nie. Paul Kruger was seker mooi vir sy ma gewees. Woorde stol in my mond, dis koud daar en my tong is jellie wat vinnig stol. Molteno. Oostenryk.

“Wat jy gaan sê,” vertel sy my, “is dit: ‘Niks gebeur sonder moeite nie, nes niks gebeur sonder rede nie’. Maar jy sou verkeerd wees. ‘n Skare mense drom saam op ‘n oop stuk veld. Drie mans slaan ‘n vierde. Dis helder oordag en warm, maar die wind het gaan lê, so die platieksakke en gemors en stof lê stil of teen enkele oorblywende drade of word net nou en dan rondgeskop onder verveelde voete wat nou een na die ander onwillekeurig stop om te kyk wat aangaan. Die son is wit en onmoontlik om na te kyk. Stuk-stuk gras en skeenhoë doringboompies staan tussen die voosgetrapte voetpaaie oor die stukkie oop veld, te veel om duidelik uitgemerk te wees. Die taxi-staanplek is aan die verste ent en tussen hier en daar staan die potloodbuitelyne van karige sokkerdoelhokke. Reg rondom is klein steenhuisies met aangehegte sink buitekamers en hoenderhokke. Op die enigste groter gebou – die superette – so halfkilometer weg in die verte, staan ‘n selfoontoring en kan die agterkant van ‘n groot advertensiebord gesien word. Sou mens voor die superette staan, sou die groot groen en geel van Sunlight die woorde van bemoediging wees. ‘n Moeder is ‘n huis nie sonder seep nie. Dis duidelik dat die drie mans woedend is vir die vierde. Dalk het hy iets by hulle gesteel, dalk het hy hulle verkul. Een hou hom vas, maar hy laat hom nou los, want dis duidelik dat die man so voos geslaan is dat hy nie meer weerstand kan bied nie. Hy bloei by sy mond en neus uit en stof en droë stukkies gras, lekkergoedpapiertjies en ou sigaretfilters sit hier en daar vas in die bloed en sweet. Hy hyg na sy asem, maar daar’s geen ruskans en nog minder uitkoms. Die hemp word van sy lyf afgeruk en dan word hy vooroor gestamp van agter. Die skoppe begin eers dof en oneffektief, maar dit word weldra hard en sekuur, met ‘n klank soos die duidelike geklop van ‘n sarsie veraf geweerskote, vier straatblokke verder. Stof sit fyn aan sy ontblote bolyf vas, elke omrol verf ‘n dikker en harder laag, met net die skoppe en spatsels sweet wat strepe daardeur vee. Die skare groei stuksgewys, maar die wat dringende sake het stap verby, met net vlugtige kyke oor die skouers van die omstanders om te vergewis van wat aangaan. Kinders wat bal geskop het kou nou aan los ente van hemde en stukkende kepse, sit op die grond en krap met dorings onder toonnaels, swaar vrouens sit hul swaarder vragte neer van waar dit op hul koppe gewieg het, vra onder mekaar na wat die kwessie sou kon wees...”

“Ek weet hoe jou storie eindig,” sê ek toe, want dit is die waarheid, ek weet hoe haar storie eindig. Sy het teen die tyd reeds haar Olive Schreiner masker afgehaal en ek was verheug, want Fyntjie Oliphant is ‘n veel aantrekliker vrou as die vale Olive, wat maar altyd soos kerswas en aalwynsap sou ruik.

“Hoe weet jy?”
“Ek was daar, of, was later dieselfde dag daar. Ek’t laat op die toneel opgedaag, maar ek weet wat gebeur het. Een van die drie mans het na een van die bystanders geloop en vir ‘n mes gevra. Hy’t op hulle geskree en hulle gedreig. Die mense was baie bang vir die drie mans, want hulle was bekende kwaadstokers en lede van ‘n bende. ‘n Seun van so sestien jaar is deur van die omstanders na ‘n huis oorkant die pad gestuur om ‘n mes te gaan haal. Dit was ‘n lang slagmes met ‘n swart plastiekhandvatsel. Dit was baie skerp, maar was al te veel kere skerpgemaak, so die lem was dun en het meer soos ‘n vlak sekelmaan gelyk. Een van die bendelede het die mes gevat en die man se keel afgesny. Hy’t binne ‘n minuut doodgebloei. Twee ander seuns wat daar naby gespeel het, het ‘n groot klip aangedra en dieselfde bendelid het die klip hoog bo sy skouers gelig en dit met ‘n harde kraakgeluid op die kop van die reeds dooie man gegooi. Die ander twee bendelede het sigarette by omstanders gekry en een het die bebloede mes terug gegee aan die seun. Hulle’t elkeen ‘n lemoen van ‘n skottel by die straatverkoper op die hoek gekry en die skare het vinnig in die buurt verdwyn, behalwe vir ‘n paar jong kinders wat naby die lyk gaan sit en kyk het hoe die groot donker poel bloed groei en groei en later stop, soos ‘n skaduwee wat verseg om te skuif, ‘n spar in die wiel van die son. Een van hulle het later die moed bymekaargeskraap om die dooie man se belt los te maak en dit versigtig uit die lussies om sy lyf te trek sonder om aan enige bloed te raak. Toe’t hy sy maats met die belt gejaag. ‘n Ou man wat oorkant die pad sit en pruimtwak het, het dit later vir my vertel. Die polisie was eers ‘n halfuur later daar, en almal het gedink dit was nogals vinnig. Hulle’t die storie op bladsy twee gebruik sodat die foto nie in kleur hoef te wees nie. Die fotograaf was kwaad, want hy’t gedink sy foto was voorblad-materiaal, met die dramatiese sonsondergang hoog bo in die lug en die silhouët van die lyk in die voorgrond met polisie lyksbesorgers daaragter, soos aasvoëls, was sy woorde, en ons het beide geweet hy praat ook van ons, soos ons nou maar altyd eenmaal bewus is van wat ons doen. Hulle’t nooit die bendelede aangekeer nie, selfs al het almal blykbaar geweet wie hulle was.”
“So jy werk in die media?”
“Ja. Misdaadverslaggewer.”
“Wat’s jou naam?”

Ek vertel haar my naam en die koerant by wie ek werk en sy sê ja, sy herken my naam nou, so op die verwyderde manier waarop ons die name van twintig tennisspelers in ons koppe ronddra, sonder om regtig aanhangers van die sport te wees. Gemengde-dubbels. Papier duwwels.

“Jy onthou my van vanmiddag, by die bottelstoor?”
“Ja, jy’t te veel drank gekoop. Jy lyk verbasend goed.”
“Dis die baie vars lug. Ek en my vriend hengel hier naby vir die naweek. Dit voel of ons al jare hier is. En ons is nog nie klaar nie.”

Ons praat oor hengel vir twee minute – sy weet verbasend baie – en dan oor liefde met eerste oogopslag, want dit is al waaroor ons nou kan praat. Ons het nie tyd om te verkwis nie. Soos vloedwater wat oor ‘n droë rivierloop spoel, sê sy, en dan kom daar sulke groot onkruide, distels en oliebome op binne ‘n week daarna. Hulle groei hard en vinnig, met hoorbare ywer en verleng voor jou oë vol sappige, stink sentimeters, totdat die fel son of die leeggesuigde sand hul opmars stuit, of dalk ‘n nukkerige boer wat per abuis daar verbygeloop het op soek na sy vermiste skape, wat dit uittrek met ‘n ferm beweging, die hand laag op die stingel, sodat die wortels nie afbreek nie, maar saamkom, sodat alles, die vinnige roomwit blommetjie, die reuk, die groen, net daar kan lê en verwelk en hopelik nooit weer sou opkom nie. ‘n Harde blik op die liefde, sê ek, maar eintlik kry ek lekker tot in die laaste stukkie outentieke gevoel in my lyf, wat nou agter my knieë skuil, maar dikwels en onverwags rondskuif soos ‘n kind wat onwetend die weerkaatsing van ‘n horlosiegesig vinnig oor die plafon van ‘n klaskamer laat flits terwyl sy skryf in haar boek, rondblaai in haar handboek, somme intik op haar sakrekenaar, aan haar hare vat met drie vingers, haar potlood teen haar lip laat rus, die agterkant van haar hand aan ‘n vriend wys, waarop ‘n antwoord geskryf staan in blou Parker-ink. Dis hierdie onstabiliteit wat my laat soek na iets om op te leun, want ek wil nie dat my knieë nou knak nie, want dis ekstra tyd en die trofee is op die spel en niemand kom so ver sonder om alles te gee nie en gelukkig is daar vier verlate tuinstoele hier in ‘n sagte hoek van die tuin en alhoewel twee rof omgeskop is en besprinkel is met iets wits – dit lyk soos miergif maar ruik na iets soeter, versiersuiker dalk – staan die ander twee perfek, effens na mekaar gedraai, soos die kniekoppe van ‘n vrou wat gaan sit in ‘n rok wat te nou en te kort is, sodat sy iets moet toehou, nie omdat sy noodwendig wil nie, maar omdat haar ma haar dalk so geleer het en sy dit nou nooit weer anders sou kon doen nie (of bloot omdat sy ‘n bord vol kos op haar skoot balanseer), en haar knieë is koel op die been, maar louwarm en lewend om die rante, waar die bloedvate effens wys soos dit blou bloed pomp na die vel, sodat dit gespan sou bly oor die vleis en die kraakbeen en die limfvate en die selle en die dinge wat mens van binne laat kan lewe selfs al lyk alles rondom afgeskaaf tot op die rame, dinge soos die geproes van ‘n hond in jou gesig op ‘n herfsdag, met die bruin en geel blare wat om die twee van julle val en liggies roer soos julle rondrol, die reuk van klam hond en klam blare, laatmiddagwind en eergisteraand se doodgerypte gras wat alles saamrol tot ‘n klein, kompakte gevoel, wat jy in jou vuis kan kleiner druk totdat dit klein genoeg sou wees om vir altyd saam te dra, soos ‘n minidisc wat jy enige tyd van ‘n rak in jou kamer kan neem om een of ander tyd terug te roep, dalk net sommer iets in ‘n kraak van jou brein, wat homself spontaan wyer oopdwing wanneer tye laag en gemeen is, sodat jy daardie plesier kan herleef, hoe kort of kunsmatig dan ook al; dinge soos ‘n uur een aand laat tydens die kort, eindelose jare van jou jeug, voor jy die onnodige dood van vriende en familielede as die norm begin ervaar het, voor jy die stokke in die vlak-kant begin sien het, toe jy nog gedrink het omdat die kleur van bottels jou aangetrek het, die reuk van dagga of wierook, jy vergeet nou watter een dit was, gemeng met ‘n sekere tipe parfuum die aankoms van ‘n sekere persoon aangekondig het, selfs in die donker, op dertig treë, tye toe jou taal anders was, vol kwinkslae en gebruikte grappe, vol meet en pas vir die regte oomblik die regte aanhaling uit die regte populêre film van die tyd, vol grimering en stywe klere, vol bra-straps en onderklere, fyn en vermaaklik glad vir haar, joune vol gate en uit ‘n 3-pak special gekoop by ‘n naamlose kettingwinkel, op ‘n afdoppende balkon vol verwelkte potplante en ou koerante, asbakkies en leë quarts, of agterin die kar van ‘n vriend, voor ‘n uitsig wat nooit kan verdwyn nie, wasem wat nooit kan afvryf nie, soetigheid wat nooit kan verslaan nie; dinge soos niks anders as die stilte nie, die stilte wat eenvoudig net verskyn, op onverklaarbare wyse, selfs in die middel van die stad, vir sekondes, tien of twintig, die busse is weg, die motors staan stil, helfte van die parkeerplekke is leeg, dis asof die hele buurt, vir blokke en blokke, die dag afgevat het en nou elders museums besoek of plesier-ritte in kinderparke geniet, met net die basiese benodigdhede voorsien, soos die vrou wat blomme knip by die blommewinkel, met nat plasse en groen blare om haar voete, haar kind op die heup van iemand anders, wat nou met swart ogies en fyn vingers beduie na iets en die lug, en wanneer jy saam met haar oppasser opkyk, is dit vir ‘n verandering nie ‘n helikopter of ‘n vegvliegtuig nie, maar ‘n tipe voël wat jy nog nooit in hierdie deel van die land gesien het nie, ‘n voël wat nie rondskarrel nie, nie bang fladder van dak tot dak nie, maar hoog en doelgerig sweef, verwyderd van gespuis en alledaagse konflik, koninklik en alleenheersend.

“Sou jy dit kon doen?” vra sy.
“Wat?”
“Die mes gaan haal oorkant die pad. Die klip help nader dra?”
“Ek weet nie. Is dit nie maar wat ons elke dag doen nie?”
“Dalk, op ‘n abstrakte manier. Maar ek bedoel in hierdie situasie.”
“Ja, ek kan dit sien gebeur. As ek daar rond gebly het, sou ek dalk bang gewees het vir die bende. Mens kannie werklik begrip hê vir daardie vrees as jy nog nooit in ‘n area gewoon het waarin bendes die wet en orde is nie. Ek kan myself indink dat dit mens snags laat rondrol met elke nuwe pistoolskoot in die verte, dat jy in jou verbeelding die straatblokke tussen jou en hulle probeer aftel, probeer om die gaping so wyd as moontlik te hou. Maar dit help nie aldag nie. In elk geval, die bendes bring soms geld en kos na ‘n gemeenskap, en in die verbrokkelende tye waarin ons lewe, is dit meer as genoeg. Familiebande rek en rek totdat dit nie meer kan nie. Die bendes bring ‘n nuwe stabiliteit, groot inkomste, vermaak en die belofte van meer en meer teen ‘n groter en groter spoed. Wie’t skool nodig? Wie’t naasteliefde nodig? Die kerk is nie meer ‘n anker nie, dis net ‘n verlate hoekpaal waarvan die draad lankal gestroop is en daar net nou en dan ‘n roofdier kom pis om gebied af te baken. Die vinnigste snellers en die gladste bekke bly voor. Solank jy jou gewete kan versmoor is als moontlik. Ek sou die mes gaan haal het. Ek sou die klip help dra het. Dalk sou ek die een wees wat die belt gesteel het.”
“Ja.”
“Ja. Niks gebeur dus sonder moeite nie, en niks gebeur sonder rede nie.”
“Nee. Die klip mog dalk wel swaar wees, die mes dalk wel moeilik om op te spoor. Maar daar’s fout met jou rede. Die maatskaplike probleme, die vrees – in hierdie geval lyk dit dalk asof dit ‘n verklaring kan wees, ‘n lyntjie wat verder en verder teruglei na ‘n tipe oorsprong, die aartsprobleem. Wat dit ook al mag wees. So dink jy. Dat daar ‘n klip is wat ons kan omdop en die oorsaak kan aanskou. Dat ons dit dan kan doodtrap of met gif behandel of toesluit waar dit nie meer kan kwaadstook nie. Maar dit werk nie so nie, anders sou ons mos al lankal die lyntjies van al ons probleme opgetel het en begin terugstap het na waar hulle vandaan kom. Dit werk nie so nie. Sou jy die lyntjie vat, sou jy in ‘n baie groot sirkel begin stap, nou en dan oor ander toue en kettings trap en weer eindig waar jy begin het, jare later. Ons het nog nie eers gepraat oor die motief vir die moord nie. Sê nou maar hulle’t die man bloot vermoor omdat hy geweier het om hulle sigarette te gee. Wat dan? Vergeet van die omstanders vir ‘n oomblik, ons is te dikwels te behep met die omstanders. Jy’s in die media, so jy’t ooggetuies nodig, jy’s automaties aan hulle kant. Is ‘n krieketwedstryd ‘n wedstryd as daar nie ‘n skare, skeidsregters of tellinghouers is nie? As jy tag-en-release, hoeveel visse het jy gevang? Maar probeer dink soos die moordenaars. Iemand weier om jou ‘n sigaret te gee. Jy en jou vriende besluit genoeg is genoeg en begin die man slaan en skop. Later begin julle dit so geniet dat julle besluit om hom sommer te vermoor, net om die omstanders nie teleur te stel nie, net om jul stempel van vrees met hernieude finesse af te druk, op hierdie stowwerige hoek van julle turf. Hierdie moord is soos om ‘n nuwe portfolio van jou beste werk aan potensiële kliënte te gaan wys. Dis ‘n militêre parade op Stigtingsdag om buurlande van jou nuwe missiele en vegvliegtuie te verwittig. Dink aan die moordenaars. En onthou dat dit nie net bendelede is wat moor nie. Sakemanne, huisvroue, hoërskool-leerlinge, die polisie – moord word een of ander tyd gepleeg deur lede van elke klas en ambag. En sou die bendelede besig was om iemand te vermoor in ‘n ryk buurt, sou hulle nie ook daarin slaag om ‘n vreesbevange omstander te dwing om ‘n mes te gaan haal nie? Ek dink hulle sou. Maar jy’s die moordenaar vandag. Wat sou jy doen? Jy is hulle, jy is nie meer jy nie. Daar’s nie rede nie, daar is net dit wat ons doen. Ons is nie in beheer nie, ons word saamgedryf langs nou paaie deur donker valleie en oor onbegaanbare passe in die skadus van skerp pieke deur ‘n skaapwagter sonder ‘n naam. ‘n Skaapwagter sonder naam. Kyk, ons dink ons kan ons verstand vertrou, ons waardes, ons emosies, ons sin vir verantwoordelikheid. Maar drink nou genoeg, vat nou genoeg harde dwelms, stamp nou jou kop teen ‘n dashboard, ontvang die verkeerde gene of wat ook al, en waarmee sit jy? Ons sou graag wil hê dat moeite beloon sou word. Dat ons drome waar sou word in die wêreld daar buite, dat, op een of ander manier, daar ‘n weg uit die roetine is, dat daar geluk en vrede en vervulling sou kon wees nadat ons hard gewerk het, dat daar ‘n teken, ‘n simbool, ‘n wonderwerk in die lug sou kom hang, dat ‘n helder lig ons sou uitsonder in ‘n skare, of alleen iewers op ‘n grondpad. Dat iets of iemand aan ons sal verskyn met ‘n antwoord. Dat junkmail en Nigerian e-mail scams hul beloftes kan nakom mits ons die reëls noukeurig volg. Dat liefde ons sou kon uitsoek tussen miljoene, dat die spesiale persoon van geboorte in ons rigting begin beweeg, al is dit van die ander kant van die aarde af. Van ‘n veraf eiland in die Bering See. Dat daar op ‘n kano geklim word en geroei word teen die wind en seestrome in, om stukke ys en oor ontstuimige waters. Kyk, nou op hierdie einste oomblik word twee mense gebore wat bestem is vir mekaar. Dalk woon hulle in dieselfde straat en praat dieselfde taal. Dalk nie. Daar gaan hulle nou, hulle trek sweetpakke aan en gaan draf in dieselfde stad, maar aan teenoorgestelde kante van die rivier. Hier’s hy nou op sy trekker in die middel van die dag en hy kyk op na ‘n blink vliegtuig waarin sy vlieg, waarin sy slaap en droom oor hom, sy onleesbare naam, sy grys gesig en sy lyf, waarvan net die buitelyne bestaan, en wat so maklik uitgevee kan word, krummels by die agterdeur uit, ploegvore wat toewaai. Dat ons doellose ritte oor die land heen, deur die kontinent, van die een wêreldstad na die ander, op een of ander manier ‘n skaakspel is waarvan die presiese uiteinde reeds bekend is, dat ons magnetiese krag opbou deur ons moeite en ons geloof daarin, sodat wanneer ons geliefde eendag in ons pad kom staan, ons hom of haar sou herken, onmiddellik, sonder enige twyfel, aan die natuurlike aantrekking wat ons ferm byeentrek? Jy behoort van beter te weet.”

“Ja, maar ek wil nie. Ek wil glo hieraan. Ek glo nie meer aan enigiets anders nie. Ek wil net dit hê.”

“Dit is dwaas. Maar bemoedigend op ‘n manier. Op ‘n cheesy Hallmark tipe manier. Dis net nog ‘n manier om van iets spesiaals ‘n produk te maak. Dit verkoop boeke en sjokolade, blomme en sagte speelgoed. Dis net soos ons bendelede wat doodmaak vir sigarette. Dis net soos ons jong seuns wat die mes en die klip aandra. Daar’s nie ‘n lyntjie van die een na die ander nie. Dit gebeur eenvoudig. Dis pure eenvoud. Die verskil tussen ongeluk en voorafbestemming is onmeetbaar en dus van geen belang nie. Dit bestaan net op papier en die onverskillige drome van onontnugterdes. Die een staan langs die ander en dis twee leë konfytflesse van dieselfde vervaardiger, gemaak in dieselfde fabriek in dieselfde jaar, ‘n half-sekond uit mekaar. Ongeluk is deel van die daaglikste ritme van alles. Party dae gaan verby sonder te veel skerp spronge op die LCD-screen. Daar word op die strand gelê en sonbaai, daar word brood afgelewer en mense groet mekaar sonder om te dink. Maar êrens tussen-in steek iemand ‘n lap vol petrol in die mond van ‘n weerlose ou vrou, steek dit aan die brand en gaan sit dan op die stoep met ‘n bottel brandewyn en wag vir haar gespartel om te stop.”

“Ek sien wat jy bedoel. Dit beteken nie mens hoef moed op te gee nie.”

“Seker nie, maar wees verseker dat die opdraand pad steiler en minder begaanbaar word hoe nader jy aan die kruin kom. Dis nou as dit wel die kruin is en nie net ‘n truuk van die lig op jou sneeublinde oë nie. Dat, wanneer die mis skielik voor jou oopvou jou voet nie rots sal vind nie, maar die afgrond wat al ‘n leeftyd lank vir jou lê en wag het. Dat swaar banke sneeu hulself nie bokant jou sal loswoel nie, dat dit jou nie sal wegsleur en toepak in tien meter ys nie. Dat jy nie sal verdwyn in die kraak van ‘n gletser nie, dat niks jou terugkeer tot steenkool so sonder seremonie sal bespoedig nie. Ja, dalk is die lewe die moeite werd. Kom ons probeer in elk geval.”

“So, jy glo in geluk, in die een-in-‘n-miljoen kans?”

“Jy’t dieselfde kans om geluk te tref as die ongeluk. As jy in geluk bly glo, beteken dit dat jy ten volle bewus is van die gevolge van mislukking, dat jy die omvang van die wagtende ongeluk goed verstaan en dat jy bereid is om die kans te waag. Dis seker hoe ons opwindende lewens kan lei. As jy nie in geluk glo nie, glo jy ook nie in die ongeluk nie. Om die waarheid te sê, jy kannie onderskeid tref tussen die twee nie, en die lewe is bloot ‘n deurskynende stad waar jou veiligheid nooit bedreig word nie, jou bestaan nooit in twyfel getrek word nie, jou verstand nooit verlate agtergelaat word op ‘n natgedoude tuinbank nie. Ek glo in die ongeluk van geluk.”

“Jy glo in geluk by die ongeluk?”

“Presies.”

Ek kyk na haar en haar oë blink met die silwer van die lug wat nou definitief begin lig raak bokant ons. Om ons is mense besig om huis toe te gaan, motors word aangeskakel en kinders word oor skouers aangedra na waar moeders ongeduldig laaste sigarette in die grond doodtrap met kotsbespatte hoëhakke. Ander is te besig met lang messe, te besig om kele af te sny en die plesierige gespuit van bloed te bewonder. So natuurlik, so eenvoudig. Tussen die rook van klein vure, hand-tot-hand gevegte, die gebreek van vensters en vertrapte vingerhappies sien ek Die Braai in my rigting aangestap kom.

“Ek moet gaan. My vriend is hier. Wanneer kan ons mekaar weer sien?”
“Enige tyd. Hier’s my nommer. Bel my een of ander tyd die week, sommer by die bottelstoor tydens werksure, dan kyk ons. Dit sal goed wees.”
“Ek’s so bly ek’t jou gekry.”

Ek groet haar en stap Die Braai tegemoet.

“Kom”, sê hy, “dit het begin. Ons moet Johannesburg toe gaan.”
“Hoekom?”
“Dis waar alles eindig. Dis waar dinge die hardste klop. Dis die rou hart van die land en om te dink dat selfs dit soos ‘n bosluis hang aan die lyf van die kontinent is om behoorlik die prentjie te sien.”
“Waar’s Charelize?”, vra ek sonder om werklik te begryp waarvan hy praat. Moegheid sit skielik in my oë soos olierige skaapwol.
“Ek weet nie. Het orals in die huis gesoek.”
“Ek sal gou hier agter deur die tuin kyk, ons kan haar nie net so los nie, dis tog ons wat haar hiernatoe gebring het. Bob ook.”
“Bob sal OK wees. Ek’t netnou gesien hoe van die skoonmaakpersoneel hom op ‘n kruiwa laai. Hy was so dronk daar was geen sprake van verset nie. Ek dink hy sal voor die son sak vandag deel uitgemaak het van ‘n smaaklike Sondag-maal. Kyk, ons kan nie sentimenteel raak oor almal nie en een minder buite-beheer despoot sonder die nodige agting vir selfs sy eie mense is nie ‘n ramp nie. Inteendeel. Watwou, dis selfs ‘n edele manier om tot ‘n einde te kom, ‘n voltrekking van dinge. Niks is so natuurlik soos om die ekosisteem deur die kanale van maagsappe en ontlasting binne te dring nie. Ek dink hy sou dit so verkies.”

Ek gooi die karsleutels vir Die Braai sodat hy solank ons goed kan gaan oppak by die dam en baan dan my weg deur die puin om vir Charelize te gaan soek. Toe ek haar uiteindelik kry, uitgepass op ‘n tuinbank langs die tennisbaan – waar die tennis nog onverpoos voortduur – begin die son al harde strale gooi teen dun skuimpieswolke ver weg na die noordweste.

(einde Deel 1)