ek weet byna presies wat’s fout met ons
ek lees my nuwe uitgawe van de kat en ek weet
ek kyk tv en ek weet
ek luister radio en ek weet
ons is deur die kak
storie van sonde by monde van die kombuiskasradio wat ewe grys
en sedig en novilon-geel jou lewe se hande beperk tot ketels en wasgoed en stofsuiers
groot-uier koei jou moeisame mens jou grensende stuk lap jou sagging borste
jou parow vriendinne jou gek gek obsessie met steve hofmeyr en huisgenoot-heroes
en bondgenootlose naweke vol popcorn en pap en braaivleis en buurmanne vol grappe
trippe trappe trone die volk is in die kak
die belofte van môre word gister se misgissing visvang by die vaaldam
vakansie by b&b’s en kos by bp express en excessive nagte vol geslagte
wat lank in die donker vir jou sit en lag lag lag
bedags daai selfde stuk grond verpand vir selfone en die c-reeks en reukwater
en www.yahooooo.com
so slinks is hy met sy cufflinks en gholfstokke en winternagjagtogte na bokke
met rokke met nog woord nog styl net kwyl geen kwellings die swellings dig toegetrek
agter blomrokke en donkerbril skokke en bybelversies en kersfees met die kinders
verhinder jou siklus vol siektes met rooklonge en ou tande en ‘n ingeboude
bar vol
sfw kwv en sab
jou onbenydenswaardige rassehaat agter paraatheid en vrate vir vreugde sonder
deugde in ‘n land van besittings en versetlose ontsetting hth pools van
hoofpynpille en skrille lug wat draai en kantel soos ‘n mantel horison
wat die son gryp en die donker giet deur hierdie son hierdie son
van uv factors en fabriekrook
klokke sonder bokke vir die skape sonder skade berokken jouself oortrokke deurtrek
met tradisie en maniere en straatname en vervolgverhale en maagkwale en god
weet wat wie het meer te sê as die besitter die ontbieder die verspieders
is dood en die ontkennings te koop by boekwinkels apteke regerings stuttafords
en steers
trippe trappe trone die volk is in die kak