die ou man en die ou vrou
kyk sommer net hoe traan hierdie lug vannaand, met visnette, ghetto luv, greyhound-busse
en rimpelringe om die maan, die naweek se nasmaak van gebreekte bottels en wynvlekke,
vlenters plastiek betas die lug , snelweg en hawe snuif ligweg die lyne en rye,
liggies en olie, fossilfuels en food parcels, die grendels wat die kontinent oopdraai,
die wind wat ons worries wegwaai, die gehoes-hoes-hoes wat ons babas afmaai, die
kieme wat die pangas rondswaai, die spense wat ons mense oplaai, die gehoes-hoes-hoes
wat ons babas afmaai. skurwe vingers saai gladde sade die grond in, toegevou onder
die kluite en kuiwe van die rookmis en torings, rante en skylines, waar kinders
omrol onder sinkplaatdakke (waar die wind deur suis), draf straathonde om ‘n
draai aan’t blaf (met twee slaapkamers en een kombuis), stamp koffie die
lyf in, brom girlfriends onder duvets, gryp stywer aan kussingslope, gly duiwe
in nou formasie, al om die hok, al om die hok. wie’s bang dat die linies
gaan vou? wie vrees die derde wêreld-oorlog? wie gooi klippe teen die bullet-proof
ruite van die karre daarbuite? wie gee geheime fluite, wie laai snags perlemoen
in skuite? dis die marknavorser, die narkotiseerder, die geheimsinnige loseerder,
die pasaangeër, die nommerpas hoëhakskoen, die pasgetroude hakkelaar,
die ou man, en die ou vrou, wat stamel en sterwe, ons vir jou… dis die ou
man en die ou vrou wat stamel en sterwe, ons vir jou ...